
Omslag: Naledi; foto van Pieter Mulder: verskaf
Parlementpraatjies
Pieter Mulder
Naledi
ISBN: 9781997476078
Carla van der Spuy praat met Pieter Mulder oor sy boek Parlementpraatjies wat onlangs by Naledi verskyn het.
Pieter, jy was 30 jaar lank lid van die parlement na ’n indrukwekkende akademiese loopbaan aan die Noordwes-Universiteit. Hoekom het die politiek jou gelok? Dit het seker maar iets te doen met die feit dat jy uit ’n bekende politieke familie kom?
My pa se standpunt was dat jy nie ’n politieke loopbaan kies nie. Sy advies: Maak eers ’n sukses van ’n ander loopbaan. As jy dan genader word vir die politiek, kan jy op daardie tydstip oordeel of jy dit wil aanvaar of nie.
’n Politieke loopbaan is ’n baie onseker loopbaan. Elke vyf jaar is daar ’n verkiesing wat jou politieke loopbaan kan beëindig. Dan moet jy kan terugval op ’n vorige beroep. As jy nie op ’n alternatiewe beroep kan terugval nie, word jy die tipe professionele politikus wat van party tot party moet spring, omdat jy geen alternatiewe het nie.
........
’n Politieke loopbaan is ’n baie onseker loopbaan. Elke vyf jaar is daar ’n verkiesing wat jou politieke loopbaan kan beëindig. Dan moet jy kan terugval op ’n vorige beroep. As jy nie op ’n alternatiewe beroep kan terugval nie, word jy die tipe professionele politikus wat van party tot party moet spring, omdat jy geen alternatiewe het nie.
.........
By die universiteit is ek na 15 jaar tot mede-professor en departementshoof bevorder. Dit het beteken dat ek die meeste van my klasse moes los ten einde die administratiewe werk van die departement te doen. Ek het van klasgee en die interaksie met die studente gehou, maar al die administrasie, begrotings, bevorderings en tugsake het my nie opgewonde gemaak nie. Toe ek ’n afvaardiging van kiesers kry wat vra of ek in die verkiesing as hulle kandidaat sal staan, het ek geoordeel ek is nou reg daarvoor.
Dit lyk asof jy baie parlemente wêreldwyd besoek het, maar dat ons parlement nog baie op die Britse parlementêre tradisies geskool is. Moes jy baie navorsing vir hierdie boek doen? Baie van die inligting is seker te danke aan jou eie ervarings ook?
Ja, ek het heelwat navorsing gedoen. Ek stel nog altyd in geskiedenis belang en het daarom outomaties in die geskiedenis van die parlement begin belangstel na ek daar beland het. Waar kom die woord speaker vandaan, terwyl die persoon min praat? Hoe kan die begrip sweep uit die Britse stelsel kom en nie uit ou Afrikaner-Voortrekkergeskiedenis nie? Dit was van die sake wat my laat navorsing doen het en wat ek in die boek behandel. In my 30 jaar het ek ook baie parlemente oor die wêreld besoek wat verder beslis gehelp het.
Wat is die grootste mite oor die Suid-Afrikaanse parlement?
Die persoon in die straat sien op televisie die 400 parlementslede wat in die groot raadsaal bymekaarkom, ’n saak bespreek en dan daaroor stem. Die mite is dat goeie toesprake daar die lede oortuig om vir of teen ’n saak te stem.
........
Ek het nog nooit gesien dat enige parlementslid tydens daardie bespreking van standpunt verander het of dat daar groot wysigings aan ’n saak aangebring is nie. Dit wat die publiek sien, is die boonste tiende van die parlementêre ysberg. Dit is die laaste stap in ’n lang parlementêre proses.
........
Ek het nog nooit gesien dat enige parlementslid tydens daardie bespreking van standpunt verander het of dat daar groot wysigings aan ’n saak aangebring is nie. Dit wat die publiek sien, is die boonste tiende van die parlementêre ysberg. Dit is die laaste stap in ’n lang parlementêre proses. As jy ’n saak wil verander, is dit die beste as jy dit by die kabinet as die eerste stap kan doen. Daarna kan jy met die minister en dan die voorsitter van die betrokke portefeuljekomitee gaan praat en hulle probeer oortuig. Die werklike oorreding en wysigings vind in my ervaring meestal in die portefeuljekomitees plaas, waar 12 lede bymekaarkom, mekaar ken en die saak artikel vir artikel bespreek. As die saak daarna in die groot raadsaal bespreek word, is dit die laaste stap en praat die lede meestal net vir die media en die TV-publiek, omdat alle oorreding en wysigings reeds afgehandel is.
Wat is, wat jou betref, die grootste verskil tussen die parlement voor en na 1994?
Die grootste verskil is dat die parlement voor 1994 net ses maande ’n jaar gesit het. Na 1994 sit die parlement nou die hele jaar. Dit ontwrig jou gesinslewe en politieke aktiwiteite. Die gevolg is dat ek 30 jaar alleen in die suide in Kaapstad by die parlement was, met my gesin in die noorde waar die kinders skoolgaan.
Waar ons voor 1994 alle kongresse, fondsinsameling en verslagvergaderings in die tweede helfte van die jaar gehou het, is dit nie meer moontlik nie. Hierdie politieke aktiwiteite skuif nou na die naweke, wat jou gesinslewe verder befoeter.
Die parlement na 1994 is wel meer informeel en oop. Dit maak dit beslis meer toeganklik vir die gewone publiek. Voor 1994 moes jy byvoorbeeld ’n das en baadjie aangehad het om in die galery te kon sit om na ’n debat te luister. Dit geld nie meer nie. By die parlement se ingang was daar voor 1994 baadjies en dasse wat aan besoekers geleen is, as hulle nie so aangetrek was nie. Ek het my dikwels verkyk aan persone in die galery wat met ’n te groot baadjie en ’n das wat soos ’n serp om sy nek gebind is, na die debat luister!
Solank tradisies nie die funksionering van ’n instelling benadeel nie, glo ek dit maak ’n belangrike bydrae. Dit gee statuur aan ’n instelling en laat jou voel jy word deel van iets wat baie groter en ouer as jyself is. Baie van hierdie parlementêre tradisies, wat oor baie jare gevestig is en van ander parlemente oorgeneem is, het die ANC afgeskaf. Ek vind dit jammer en behandel ’n paar daarvan in die boek.
Jy gee baie lof aan jou vrou, Triena, wat na vyf kinders omgesien en hulle mooi grootgemaak het, terwyl jou werk jou wyd en syd geneem het. Hoe het sy dit reggekry? Was daar ’n ondersteuningstelsel, soos ’n ouma, wat kon help?
In die begin was daar ’n ouma, maar later jare het sy alles maar op haar eie moes doen. Ek bewonder haar daarvoor. Voor 1994 was jy die eerste deel van elke jaar in die parlement in Kaapstad. Die tweede ses maande het jy vanuit jou kiesafdeling en naby die huis en jou gesin gewerk. Na 1994 sit die parlement nou die hele jaar. Dit beteken groot opoffering so verwyderd van jou gesin.
My vrou spog dat sy oor die 30 jaar wat ek in die parlement was, meer suksesvol as ek was. In daardie tyd het sy vyf mooi gebalanseerde en suksesvolle kinders grootgemaak, terwyl ek in dieselfde tyd nie die ANC uit die regering kon kry nie!
Was jy nie dalk een van die langs sittende parlementslede nie? Jy het immers sewe presidente beleef, vyf verkiesings geveg en aan twee referendums deelgeneem.
Toe ek vrywillig bedank het, was ek die langsdienende sittende parlementslid. My broer en ’n paar ander het my intussen wel verbygesteek.
Jou uitstraling is een van outydse hoflikheid. Daar was natuurlik parlementslede van wie jy op politieke vlak skerp verskil het. Wie was jou gunstelingpresident en gunsteling-opposisielid met wie jy ondanks politieke verskille op persoonlike vlak goed oor die weg gekom het?
Elke president het sy goeie en slegte eienskappe gehad. Ek kan lank uitwei oor hoe ek elke president ervaar het. As gunsteling sal ek oud-president Kgalema Motlanthe kies wat wys en gebalanseerd was. Ek het baie goed met hom oor die weg gekom. Jammer hy was so kort president.
Wat opposisie-parlementslede betref, het ek ernstig met Jeremy Cronin, ANC- en SA Kommunistiese Party-lid, verskil maar goed met hom as persoon oor die weg gekom. In die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party kry jy baie “Gucci-kommuniste”. Hulle verkondig met entoesiasme kommunisme as die antwoord vir Suid-Afrika se ekonomiese probleme, maar het self ’n uitspattige, kapitalistiese leefstyl met die duurste klere, motors en huise. Jeremy Cronin was nie so nie. Hy het my dikwels ondersteun as ek oor arm landbouers en plaasmoorde, of oor afgedankte Afrikaners weens regstellende aksie gepraat het. Sy argumente was wel uit ’n klassehoek, teenoor myne uit ’n Afrikaner- of minderheidsregte-hoek.
........
Suid-Afrikaners kom in die algemeen van persoon tot persoon goed met mekaar oor die weg, ongeag ras, taal of kultuur. Dit was voor 1994 my ervaring, asook daarna. Dit is ook hoe ek verhoudinge tussen individue van verskillende partye buite die parlementêre raadsale en komitees ervaar het.
.........
Suid-Afrikaners kom in die algemeen van persoon tot persoon goed met mekaar oor die weg, ongeag ras, taal of kultuur. Dit was voor 1994 my ervaring, asook daarna. Dit is ook hoe ek verhoudinge tussen individue van verskillende partye buite die parlementêre raadsale en komitees ervaar het.
As leser het ek die staaltjies en droë humor baie geniet. (Dit bied seker welkome afwisseling vir die lang ure wat julle daar moet sit.) Soos iemand se onderrok wat afgeval het, en ’n opmerking deur iemand wat gesê het dat dit lyk asof ’n predikant wat oor die draad geloer het, net bo die belt bekeer was. Ek onthou ook die bekende foto van Zuma se drie slapende vroue.
Ek het berekend politieke humor of staaltjies uit die parlement in elke hoofstuk geplaas. Dit maak die inhoud ligter en oorkom die weerstand wat baie mense tans het om enigiets oor die Suid-Afrikaanse politiek te lees. Daar is ook 51 foto’s in die boek wat van die sake wat bespreek word, duideliker maak.
Dit lyk asof Afrikatyd ’n groot probleem is? Jy skryf dat die belangrikste werk van die parlement is om wette te maak en om toesig oor die uitvoerende gesag te hou. Mondelinge vrae word in die parlement gevra wat daar beantwoord word, en skriftelike vrae word skriftelik beantwoord – indien wel. Was dit altyd so?
Afrikatyd is grootliks deel van die parlement na 1994. Waar die parlement en portefeuljekomitees se werksaamhede voor 1994 baie stiptelik begin het, is dit nie meer die geval nie. Komitees begin dikwels tot 35 minute laat. Jy moet maar net leer om geduldig te wees en daarby aan te pas.
Vrae aan ministers was altyd deel van die parlement se manier om toesig oor die kabinet en staatsdepartemente te hou. In die Britse parlement is daar elke Woensdag “Prime Minister’s questions time”, waar die eerste minister onvoorbereid enige vrae van lede moet beantwoord.
In Suid-Afrika is dit tans anders. Die president antwoord net een keer ’n kwartaal vyf vrae wat ses weke voor die tyd skriftelik ingehandig moet word.
Dit lyk asof die speaker ’n baie belangrike werk het; hy/sy het immers die verantwoordelikheid van die administrasiebesteding van miljarde rande en dieselfde status as ’n hoofregter. Was daar al ’n paar speakers, soos Baleka Mbete, wat nie aan die vereistes voldoen het nie? Hoe gemaak met hulle? Hulle moet mos ook onpartydig wees?
In die meeste parlemente is die tradisie dat die speaker uit alle politieke poste bedank, sodra hy of sy verkies is. Dit word gedoen as ’n gebaar om die onpartydigheid van die speaker te bevestig.
Die ANC het geleidelik hiervan afgewyk tot op die punt waar speaker Baleka Mbete gelyktydig voorsitter van die ANC was, terwyl sy ook speaker was. Dit het beteken dat sy deel van die ANC se Maandag-leiersvergadering was, waar die week se ANC- politieke strategie beplan is, en dan het sy in die speakerstoel gesit as dit uitgevoer word. Die gevolg was dat, vir een van die min kere, al die opposisiepartye eendragtig saamgewerk het en ’n mosie van wantroue in haar as speaker ingestel het.
Dit lyk asof die EFF baie moedswillig is, omdat hulle nie die kopknik na die speaker toe gehoorsaam as hulle die saal in- en uitgaan nie. Hoe kom hulle daarmee weg?
Die EFF het met hulle verkiesing tot die parlement gesê dat hulle die rewolusie na die parlement bring. Daarom gaan hulle nie by die reëls van die parlement hou nie en dit berekend breek. Lede wat so oortree, kan na die parlement se etiekkomitee verwys word wat teen hulle kan optree. Die speaker en ANC het egter baie lank gehuiwer om dit te doen – tot nadeel van die funksionering en beeld van die parlement.
Die sweep moet die reëls van die Nasionale Vergadering goed ken. Dit bestaan uit ’n dik boek van nagenoeg 240 bladsye met tans 370 reëls van die Nasionale Vergadering. Ken alle parlementslede hierdie reëls? Dit lyk nie asof Winnie Mandela dit gelees het nie, want sy het blykbaar vir maande lank as parlementslid geen sitting bygewoon nie. Jou gedagtes daaroor?
Dit help baie om die reëls te ken as jy ’n goeie en doeltreffende parlementslid wil wees. Dan kan jy in die hitte van ’n debat ’n suksesvolle punt van orde maak of uitwys dat ’n ander lid die reëls oortree. Die meeste lede ken egter nie al die reëls nie. Hulle maak staat op hulle party se sweep wat namens die party punte van orde moet maak en sy lede moet beskerm.
Uit ’n ANC-oogpunt gesien, was Winnie Mandela, as sogenaamde “mother of the nation”, vir lank onaantasbaar. Later is sekere reëls van die parlement juis gewysig om haar te kon akkommodeer.
Die sitplekrangskikking is interessant. En dan kom daar die kulturele onkunde, soos dat dit Zoeloe-protokol is dat die koning of ander in sy bloedlyn voorkeur moet kry. Het dit darem redelik vreedsaam afgeloop?
Suid-Afrika is ’n baie diverse land met baie tale en kulture. Waar die Zoeloe-protokol gebots het met die parlement se sitplekrangskikking-protokol, is die parlement gedwing om die diversiteit te erken en daarby aan te pas. Daarna was alles vreedsaam.
........
Suid-Afrika is ’n baie diverse land met baie tale en kulture. Waar die Zoeloe-protokol gebots het met die parlement se sitplekrangskikking-protokol, is die parlement gedwing om die diversiteit te erken en daarby aan te pas. Daarna was alles vreedsaam.
........
Dit lyk asof die parlement nie verhewe bo geldmors is nie, soos met die koepelvormige tent wat na die brand voor die parlement opgerig is en weens die Kaapse wind gou aan flarde geskeur het. Jy skryf dat die tent miljoene rande gekos het. Sjoe, wie se idee was dit?
Na die parlement weens nalatigheid afgebrand het, was daar geen plek waar 400 parlementslede kon vergader nie. Buiteplekke is vir sekere geleenthede soos die opening van die parlement en die begroting gehuur, maar dit is baie duur.
Die speaker se kantoor, in samewerking met die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur, het toe met die voorstel van die tent gekom, wat vir ’n tydjie gewerk het. Die koepelstruktuur wat tans gebruik word, is meer stewig, maar het ongeveer R30 miljoen gekos. Dit bevestig dat die parlement nog nooit vir geldmors geskrik het nie.
Jy skryf dat jy die Chinese parlement in Beijing besoek het, wat 2 977 lede het, en net een keer per jaar vir 10 tot 14 dae bymekaargekom het. Dit sal seker nooit in Suid-Afrika werk nie? Soos jy self skryf is ons “’n ingewikkelde samelewing met verskillende waardes en maniere van doen”.
Die Chinese parlement kan wegkom met net 10 tot 14 dae se sitting per jaar, omdat dit ’n baie outoritêre stelsel is waarin gewone burgers en selfs lede van die parlement geen werklike seggenskap in besluitneming het nie. Hierdie feit word deur die sitplekrangskikking geïllustreer. Die Chinese leiers sit voor op ’n verhoog en die parlementslede sit voor en onder hulle in rye soos skoolkinders in ’n skoolsaal. Die parlementslede is daar om hande te klap en nie om saam te praat nie. Jy kry hierdie sitplekrangskikking ook in Noord-Korea, met hulle leier Kim Jong-oen se diktatuur.
In Westerse demokrasieë sit die lede berekend almal op dieselfde vlak en oorkant mekaar, sodat die mees junior lid die president in ’n debat op ’n gelyke vlak kan aanvat. Om sake afgehandel te kry neem dan baie langer as net 10 tot 14 dae soos in China.
Die storie van gebed voor die opening het ook in baie lande verander. Tog het regter Mogoeng Mogoeng, ’n uitgesproke Christen, verduidelik hoe elkeen ’n stil gebed kan voer. Was daar enige besware daarteen?
Hoofregter Mogoeng Mogoeng het nie net aan die parlement verduidelik hoe elkeen ’n stil gebed kan doen nie, maar het self vir drie minute by die speakerstoel gekniel en gebid. Daar was ernstige kritiek daaroor, maar ook groot ondersteuning uit christelike geledere daarvoor. Hy kon hom egter op artikel 15(2) van die Grondwet beroep wat godsdiensvryheid by ’n staatsinstelling beskerm.
Dis verblydend om te lees dat ons voormoeders nie net stilswyend diskriminasie teenoor vrouestemreg verduur het nie en dat jou ouma, Maria Mulder, een van 6 000 vroue was wat in 1915 ’n petisie oor die saak by die Uniegebou oorhandig het om amnestie vir die rebelle te vra. Onthou jy nog jou ouma? Het sy nog in jou leeftyd geleef?
Ek onthou my ouma baie goed en het in my studentedae met haar ’n onderhoud op band gevoer oor haar ervarings in die Britse konsentrasiekampe tydens die “Engelse Oorlog”. Sy het daarop aangedring om die oorlog so te noem, “omdat die Engelse die oorlog begin het”. Ek het onlangs die volle onderhoud met haar oorgetik en in ’n boekie uitgegee. Daarin vertel sy hoe hulle deur die reën in oop treintrokke na die konsentrasiekamp vervoer is. Dan voeg sy spottend by: “Na die vrede gesluit was, was ons mos nou teen ons sin Britse burgers wat toe in ’n toe trein teruggeneem is.” Sy vertel ook hoe haar ma en haar een boetie dood is. As 15-jarige jong meisie moes sy die boetie begrawe en na die ander boeties in die konsentrasiekamp omsien. Toe ’n jong man in die konsentrasiekamp wat “gehensop” het, aanbied om haar te help houtkap, het sy geantwoord: “Nee, dankie. As jy nie ’n geweer kon vashou nie, hoe sal jy ’n byl kan vashou!” Die boekie se titel is Kind met ’n grootmens se las.
Wat beskou jy as jou grootste sukses in die parlement? Jy het onder meer daarin geslaag om die EFF se voorstel dat alle staatsgeld aan die Taalmonument onttrek word, om te swaai van ’n “evil monument” tot “an honest monument”, nadat jy daarop gewys het dat alle kulture se bydrae tot Afrikaans daarin verteenwoordig word.
Daar is talle klein suksesse, soos jy hierbo aantoon. Die probleem is dat dit meestal agter die skerms gebeur waar jy die ANC-lede oortuig om iets te verander. Dikwels steel hulle dan jou voorstel en maak ’n verklaring dat “the ANC had a rethink on article 3”. Hulle kondig dan aan dat hulle die betrokke artikel in die wet gaan wysig. Jy kan dit sekondeer, maar jou ondersteuners weet nie dit is jou sukses tot die kiesers se voordeel nie.
Van die optogte en swier van wat “die Britse politieke teater” genoem is, is nie na Suid-Afrika toe oorgedra nie, maar dit word steeds baie seremonieel gevier. Maar wat dink jy van die uitrustings wat sommige vroue dra? Die mode-ontwerpers en koerante put mos groot genot daaruit? (Dis soms erger as by die Oscars!)
Daar was pogings om, anders as die Britte, met die opening van die parlement tradisionele drag te dra. Net enkele parlementslede het hulle tradisionele Zoeloe- of Xhosa-drag aangetrek. Die ander het steeds die geleentheid benut om uitspattige en unieke uitrustings aan te trek. Die geleentheid word baie soos die July-perdewedren benut. Waarskynlik is ’n sterk bydraende faktor die feit dat die koerante gewoonlik ’n bladsy met foto’s aan die mees opvallende uitrustings afstaan. Dit word dus ’n kompetisie om die koerant te haal.
Dis interessant hoe sekere dinge soos koningin Victoria se standbeeld (met die “spanspekkie” in die hand) nie verwyder is nie, maar daar tog op ander fasette van ons geskiedenis gefokus is wat “nie daar hoort nie” en wat die opposisie wou verwyder. Kommentaar daarop?
In die meeste lande is die parlement nie net ’n vergaderplek nie, maar ook ’n tipe museum waarin die land se geskiedenis met standbeelde en skilderye uitgestal word. In die Britse parlement is daar meer as 7 000 skilderye en 700 standbeelde wat hulle geskiedenis oor meer as agt eeue uitbeeld. So is daar ’n standbeeld van Oliver Cromwell voor die Britse parlement, al het hy die parlement ontbind en koning Charles I se kop afgekap. Oorkant Cromwell is daar natuurlik ook ’n borsbeeld van koning Charles I wie se kop hy afgekap het. Toe ek die gids vra waarom albei hier is, was sy verbaasde antwoord: “Because it is our history.” Dit dui op ’n gemeenskap wat in staat is om op ’n volwasse en gebalanseerde wyse met hulle geskiedenis om te gaan. Ons is ongelukkig nog nie daar nie en al die historiese skilderye en standbeelde binne die parlement is in 1994 verwyder en in die kelder en ander plekke weggeplaas.
Die stryd om ’n gebalanseerde en volledige geskiedenis in die parlement uit te stal is nog steeds nie verby nie. Ek bespreek enkele voorbeelde daarvan in die boek. Telkens is daar weer voorstelle dat iets verwyder moet word.
Een voorbeeld: Onder die trappe is daar ’n mosaïek-muurpaneel van die ou landswapen van Suid-Afrika. Die paneel bestaan uit 9 000 mosaïekstukkies in 80 kleure. Op ons voorstel is ’n bordjie langs die paneel aangebring wat aandui dat hierdie die landswapen was van 1910 tot 1999, toe Suid-Afrika ’n nuwe wapen gekry het. Hierdie oplossing was na ’n paar maande nie goed genoeg nie. Omdat die mosaïekpaneel nie verwyder kon word nie, is ’n houtpaneel voor dit aangebring sodat dit nie meer sigbaar is nie.
Ek onthou nog die dag op hoërskool toe Verwoerd met ’n dolk in die parlement doodgesteek is. Jou ma, Suzanne, het op die galery gesit en dit gesien. Dit moes skrikwekkend gewees het.
My ma, wat vanjaar 99 jaar oud en nog baie helder is, vertel in detail wat sy die betrokke dag gesien het. Ek verwys na haar vertelling in die boek. Sy is waarskynlik een van die min mense wat nog lewe wat die dag daar teenwoordig was. Ek skryf wel in die boek hoe Hansard, wat alle parlementêre verrigtinge neerskryf, in net twee sinne oor die moord verslag gedoen het. Dit is te lees in 6 September 1966 se Hansard, kolom 2087.
Op ’n ander noot, het jy ooit gesien dat mense in die parlement handgemeen geraak het?
Ja. Behalwe vir die EFF wat met geweld uitgegooi is, was ek daar toe Johnny de Lange van die ANC en Manie Schoeman van die NP mekaar met die vuis bygekom het na ’n warm debat. Dit was September 1998 en albei is as straf vir ’n paar dae geskors. Toe Manie Schoeman later by die ANC aangesluit het, is spottend gesê dat Johnny de Lange hom in die ANC ingeslaan het!
Die EFF-geweld was ook nie altyd toevallig nie, maar word voor die tyd beplan. Nadat die EFF gewaarsku is en steeds die verrigtinge ontwrig, vra die speaker die parlement se beskermingseenheid om die EFF-lede uit die raadsaal te verwyder. Ek hoor dan hoe die beskermingseenheid se lede aan die EFF-lede vra om sonder probleme saam met hulle te kom. Die EFF-agterbankers reageer deur te sê: “No, we need violence for the TV.” Dan word daar vuis geslaan en gestoei tot almal verwyder is.
Hoe kry mens dit oor jou hart om iemand wat volgens jou alles behalwe eerbaar is, as “honourable member” (nog ’n Britse tradisie) aan te spreek?
“Honourable member” of “agbare lid” is juis in die Britse parlement as ’n aanspreekvorm ingestel toe lede honderde jare gelede te rof en beledigend van mekaar begin verskil het. Daarmee is gepoog om die debat op ’n sekere hoë vlak te hou. Wat “agbare lid” betref, kan jy wegkom deur jou toespraak tot die agbare speaker te rig, terwyl jy subtiel op die “oneerbare” lid antwoord.
Die ampstaf wat 10 kg weeg, klink regtig uitspattig en is 15 jaar gelede reeds op R2,1 miljoen gewaardeer. Hoe op aarde word dit opgepas en nie gesteel nie?
Daar is vaste reëls waarvolgens die ampstaf uitgehaal en dan weer gebêre word in ’n spesifieke kluis. Tot nou toe is dit nog nie gesteel nie, maar in Suid-Afrika is alles natuurlik moontlik.
Daar is die storie van die ampswag wat gedroom het dat as hy die ampstaf laat val, dan gaan die regering, waarvan hy nie gehou het nie, ook val. Hy het dit laat val, wat die ampstaf beskadig het, maar die regering het nie geval nie.
Daar is ook die voorbeeld van ’n parlementslid wat een keer die ampstaf gegryp en daarmee weggehardloop het, ten einde te probeer keer dat die raad sit en wette aanvaar wat vir hom onaanvaarbaar was.
Dit klink of die EFF behoorlik moleste in die parlement maak. Ons sien dit ook op TV, en hul rooi oorpakke lyk soos dié wat die jeugmisdadigers in die jeuggevangenisse dra, maar het die feit dat hulle salarisse vir hul oortredings verminder word, darem gehelp? Mens vat mos nie sommer aan ’n man se sak nie.
Vir baie lank was die ANC en die speaker baie versigtig om teen die EFF op te tree. Dit het beteken dat die EFF die raad totaal ontwrig en dan uitgejaag word. Sonder enige strafmaatreëls teen hulle, is hulle die volgende dag weer terug om hulle aksies te herhaal.
Na baie jare het die speaker op ons advies besluit om wel strawwe soos salarisvermindering in te stel. Vir ’n eerste oortreding verloor die lid ’n week se salaris. Vir ’n tweede oortreding twee weke se salaris, ensovoorts. Dit saam met Covid het die regte effek gehad. Met Covid het die raad deur die internet vergader. Waar ’n EFF-lid moeilik was, is hy net gemute met die gevolg dat ons vir ’n lang tydperk geen groot EFF-ontwrigtings gesien het nie.
Dankie tog dat mense se koppe nie meer afgekap word soos wat eeue gelede die geval in Brittanje was as die koning nie gehou het van wat hulle sê nie. Dis interessant dat mense nie vir laster gedagvaar kan word vir wat jy in die parlement sê nie. Dis mos “parlementêre privilegie”. Behalwe as jy iemand ’n “lafaard”, “verraaier”, of ”leuenaar” noem, maar met slim woordspeling kan jy kwytraak wat jy wil, soos Langenhoven se opmerking oor die esels. Maar is daar nie grense wat betref iemand persoonlik aanval nie? Mens sien dit veral met Jutte en Wilders in die Nederlandse parlement. Ek dink nie daar bestaan iets soos laster onder die Hollanders nie.
Parlementêre privilegie beteken dat ’n lid enigiets in die parlement kan sê sonder dat hy vir laster gedagvaar kan word. Die rede is om dit vir lede moontlik te maak om korrupsie en ander ongerymdhede bekend te kan maak sonder om vir vervolging bang te wees. Die parlement het wel sy eie reëls oor tyd ontwikkel wat wel sekere beperkinge op lede lê. Waar die speaker byvoorbeeld ’n uitspraak maak dat sekere woorde onparlementêr is, bly daardie uitspraak staan en moet alle toekomstige speakers daarby hou.
Lees ook:
PenAfrican: Grief made flesh – on Hamnet and the burden of adaptation
Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw – ’n resensie
Haunted selves and colonial shadows: Nadia Davids’s Cape fever – a book review

