Ouma Hester en die Getaway-kar: ’n onderhoud met Janie Oosthuysen

  • 0

Ouma Hester en die Getaway-kar
Janie Oosthuysen, Alex van Houwelingen, Alistair Ackermann
Human & Rousseau
ISBN: 9780798180726

Janie Oosthuysen praat met Naomi Meyer oor Ouma Hester en die Getaway-kar – en oor die volgende Ouma Hester-boeke in die reeks.

Hallo Janie, baie geluk met jou baie geslaagde Ouma Hester-reeks! My tienjarige dogtertjie lees lekker aan Ouma Hester en die Getaway-kar. Waar het jou idee vir die storie begin?

Hallo Naomi, baie dankie vir die goeie wense en bly om te hoor die storie werk vir jou dogter en dat sy dit geniet – dis heerlik om dit te hoor. Sê asseblief vir haar sy is boaan my lys van gunstelinglesers! Maar ek hoop sy deel daardie plek gou met duisende ander lesers.

Ouma Hester is so min of meer op my eie ouma gebaseer. Sy was ’n Karookind wat bloots perdgery en graag boerseep gekook het. Die ouma in die boeke is natuurlik nie so outyds nie. Sy is modern, maar nie spoggerig nie, effens dik, maar tog lekker lewendig, iemand wat kan wip en spring. En sy is glad nie prekerig nie.

Die stories speel af binne ’n moderne wêreld waarin vreeslike dinge gebeur waarby Tian, Lisa en Ouma kop oor stert betrokke raak. Ek geniet dit om lekker lawwe, maar ook spannende stories te skryf wat bang maak én laat lag. Verder het die skryf van fiksie my geleer om nie alles net te aanvaar nie, maar die slang in die gras te soek. In elke boek kry Tian, Lisa en Ouma dus met gemene skurke te doen wat onderduimse planne het. En dit lei tot wilde, lewensbedreigende avonture. Maar wees gerus, ’n ware kinderboek het altyd ’n gelukkige einde, dus so ook die vyf Ouma Hester-stories. Dis nou mits ek die stories reg onthou …

Kinders wat gedwing word om rekenaarspeletjies uit te dink ... Maar dit klink dan soos groot pret! En tog word die kinders in hierdie verhaal vasgeketting om sulke speletjies te ontwerp. Wil jy dalk nog 'n paar aspekte van die storie uitlig, sodat ouers en kinders weet wat op hulle wag as hulle hierdie storie sou lees?

Ja, dit klink dalk heerlik – maar nie wanneer jy gedwing word nie. Kinders wil baie graag hulle eie baas wees en die idee dat jy aangehou word, sekere dinge oor en oor móét doen en heeltyd verskree en met ’n tamaai groot versapper gedreig word, is enige kind se nagmerrie. Gelukkig vir die arme kinders by Veri Happi Kidz is redding op pad, naamlik Tian, Lisa, Ouma Hester en die Getaway-kar – want die bou van wonderbaarlike voertuie met talle geheime wapens en ander verrassings is waarin ouma Hester uitblink.

Die gevaar bestaan natuurlik dat so ’n ouma kan oorneem en die verhaal oorheers – wat iets is wat jong lesers nie sal geniet nie. Maar Ouma Hester is nie perfek nie en maak kort-kort ’n gruwelike fout Gelukkig is Tian en Lisa daar om in te gryp en almal uit die penarie te red. Nie dat dit ooit maklik is nie.

Ek het die humor baie geniet: Die kind wie se naaldwerkspeletjie afgekeur word (watter aksie kan daar immers wees ten opsigte van naaldwerk en 'n videospeletjie?) en die ouma wat die kinders wat van die bus afklim, nie as haar kleinkinders eien nie! Hoe doen jy navorsing en waar kry jy jou idees?

Ek het baie navorsing gedoen vir die volgende drie stories – hulle handel onderskeidelik oor renosterstropery, mediese eksperimente en aliens. Die Getaway-kar kom egter alles uit my kop – dis net ’n mal avontuur waaruit die ander boeke gegroei het. Boek 5, die laaste een in die reeks, is ook meer van ’n mal fantasie.

My dogtertjie wou weet hoe oud is die karakters, en waar kom hulle vandaan? Dit klink of Ouma Hester op die platteland woon (in Soutpanshoop). Waar kom die kinders vandaan? Dit moes hulle seker baie verbaas het om hulle ouma se wêreld te leer ken toe sy hulle moes oppas net omdat hulle ma Mauritius toe wou gaan?

Die kinders is min of meer so oud soos die lesers. Vir my is Lisa so agt of nege en Tian so 10 of 11. Daar rond, dalk selfs ’n bietjie ouer as dit. Hulle is stadsjapies en hulle ma is vol aanstellings. Hulle pa is sagter, en sy vrou oorheers hom. En ja, Ouma is ’n plattelander en ook ’n entrepreneur met ’n sterk aanvoeling vir ingenieurswese en IT-goeters.

Vertel ons ‘n bietjie van Zany Zack, die sanger wat die kinders so goed in die storie ken?

Zany Zack is ’n suksesvolle popster, maar die geld wat hy daaruit verdien, is nie vir hom genoeg nie. Hy begin dus ’n videospeletjiefabriek wat hy Veri Happi Kidz noem. Want wie anders as kinders sal die beste speletjies uitdink?

Vir wie skryf jy jou stories? Het jy 'n spesifieke leser in gedagte?

Seker maar vir die kind binne-in myself. En dan vir almal wat uit die alledaagse wil ontsnap en bereid is om die realiteit ’n bietjie op te skort en saam met ons drie helde op ’n wilde avontuur te vertrek.

Watter boeke het jy geniet om te lees toe jy 'n kind was?

Ek was ’n boekvraat, ek het alles gelees wat te lese was. My pa was in die onderwys en het ’n enorme versameling boeke gehad – alle genres – en my oupa het gehou van moordstories, wat ek almal verslind het. Alles in Afrikaans. Ek het op Swellendam grootgeword en Engels was vir ons klomp maats ’n vreemde taal. Ek het eers op hoërskool begin om Engels te lees. Ek kan nie enige spesifieke gunstelinge uitsonder nie – alle boeke was vir my soos kos. Daardie wye blootstelling aan Afrikaans in allerhande gedaantes het die grondslag gelê van my taalbeheersing.

Ouma Hester en die arnosterfant is nog 'n boek in die reeks. Kan jy iets hiervan ook vertel?

Boek 2 (met die Arnosterfant-lugskip) is ontsettend aksiebelaai met talle wendings – nes die leser dink alles is oor, dan gebeur daar nog iets vreesliks en dan is almal weer gespanne.

In boek 3 (met die amfibiese Dreadnought) word Tian en Lisa ontvoer (ná ’n vreesaanjaende jaagtog op kamele) en na ’n laboratorium geneem waar doktor Lewendkerwen en suster Hokus en suster Pokus op hulle wag.

Boek 4 (met die ruimtewesens en die Superkomeet) is baie snaaks, maar ook lekker skrikwekkend. Die driestuks word aangehou binne-in ’n kunsduin en moet twee grillerige aliens terugkry op Planeet Molluskië – of ánders ...

Boek 5 (Ouma Hester en die Exxo-skelet) is nogal iets anders. Dubbelgangers is betrokke en Tian, Lisa en Ouma word geframe en die tronk wag op hulle … Maar ek wil nie te veel geheime verklap nie, behalwe dat dit ook antwoorde op ’n paar vrae verskaf, soos hoekom die kinders nie hulle ouma ken nie en waarom dit altyd so moeilik was om haar in die hande te kry.

Lees ook

Ouma Hester en die Arnosterfant deur Janie Oosthuysen: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top