Ouma Hester en die Arnosterfant deur Janie Oosthuysen: ’n resensie

  • 0

Ouma Hester en die Arnosterfant
Janie Oosthuysen
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798180733

Ouma Hester is nie ’n ouma wat haar toespits op die "slow life" nie. Sy gee om vir die natuur, en haar lugskip, die Arnosterfant, bevestig dit. Ouma Hester en die Arnosterfant (2020) is die eerste boek in die Ouma Hester-reeks wat onlangs heruitgegee is, maar Ouma Hester is nog net so cool en byderwets soos in die oorspronklike boeke van die 1990’s.

Skrywer

Janie Oosthuysen is ʼn bekende naam as dit kom by kinder- en jeugboeke. Van haar vernaamste werk is die vertaling van die eerste vyf Harry Potter-boeke en vier van die boeke in die bekende Narnia-reeks deur CS Lewis.

Sy het ook toekennings vir verskeie van haar eie boeke ontvang, waarvan twee titels uit die Ouma Hester-reeks kom, en daarby bied sy nog skryfkursusse ook aan.

Uit die naam van Ouma Hester se lugskip, die Arnosterfant (in die vorige uitgawe was dit haar Zeplin) kan ons aflei dat ons te doen het met die bewaring van olifante en renosters. Boonop word die Arnosterfant aangedryf met brandstof wat olifantbemesting as grondstof gebruik.

Ouma Hester en die Arnosterfant kan baie goed benut word in die klaskamer, omdat dit ’n goeie boek is vir lesers wat nog hulp nodig het met groot woorde, maar dit sal ook nie ’n beginnerleser oorweldig nie. Die gebruik van vergrote skrif, vetdruk en visueel beklemtoonde teks maak dit toeganklik vir jonger lesers. Dit dra verder by tot al die aksie om Wang Mang en die wildstropers te vang.

Daarom is dit ’n opwindende storie, terwyl dit al die ingeboude "leeshulpmiddels" het, asook die potensiaal om as ’n ekoteks te funksioneer.

Omgewings- en ekodiskoers in kinderboeke

Omgewings- en ekodiskoers verwys na die gesprekke wat ʼn teks of verhaal gebruik om aandag te vestig op omgewingskwessies en ekologiese vraagstukke. Ouma Hester en die Arnosterfant is die ideale boek om kinders bewus te maak van hulle omgewing, wildbewaring en klimaatsverandering.

Henriëtte Loubser ondersoek juis die potensiaal wat kinder- en jeugboeke boeke het om omgewingskwessies onder die loep te neem. Sy maak ook voorstelle vir hoe sulke tekste in die klaskamer benut kan word met verwysing na die Anna Atoom-reeks deur Elizabeth Wasserman.

Fiksietekste het die potensiaal om omgewingskwessies onder jong lesers se aandag te bring en bied ook moontlike oplossings.

Verhale soos dié van Ouma Hester bied ʼn potensiale inkoopgeleentheid vir jong lesers wat ontgin kan word om by hulle ʼn bewustheid van die omgewing, diere, plante en klimaatsverandering te skep. Kinders leef vandag in ʼn tegnologiese wêreld, waar die fokus op die omgewing soms agterweë bly.

Dit is dalk te optimisties om te dink dat kinderboeke of fiksie vir ons oplossings sal gee vir hedendaagse probleme. Tog kan dit ʼn beduidende impak maak deur ʼn bewustheid te kweek by jong lesers aangaande hulle omgewing en die bewaring daarvan.

Loubser (2017:565) sonder die genres van fiksie en wetenskapfiksie uit:

Fantasieverhale, dus ook wetenskapfiksie, kan ’n oordenking van en nabetragting deur die skrywer oor die reële werklikheid wees. Wetenskapfiksie beskik oor die potensiaal om aan die leser te wys wat verborge is, maar wat tog terselfdertyd eintlik heel bekend is.

So van fantasie en fiksie gepraat – Ouma Hester is soos geen ander ouma nie. Sy is ʼn bietjie fiksie, ʼn bietjie werklikheid en met die regte hoeveelheid fantasie wat die waarheid rek om die verbeelding te ondersteun en die hele verhaal as geloofwaardig aan te bied.

Loubser wys daarop dat kinderboeke ’n mikrokosmos van die ideologieë, waardes en oortuigings van die dominante, heersende kultuur is (2019:681). Ouma Hester en die Arnosterfant bring spesifieke waardes en oortuigings onder die leser se aandag sonder om "omgewingsbewaring" te skree. Daarom is Loubser korrek as sy sê: "Gemeenskappe se ingesteldheid teenoor natuurlike ruimtes en ander bestaansvorme op die planeet word in fiksietekste, en daarom ook in kinder- en jeugliteratuur, uitgebeeld."

Die gebruik van kinder- en jeugverhale is dus ʼn goeie werktuig om kinders bewus te maak van dinge waaraan hulle nie voorheen sou gedink het nie. Veral as dit buite hul eie belewenisveld lê. Dit is dalk verregaande en snaaks om te dink aan ʼn lugskip wat aangedryf word deur olifantmis, maar sê nou maar iemand kan dit ʼn werklikheid maak?

Dit raak beslis meer gewild om boeke oor die bewaring van diere te skryf wat op jonger lesers gemik is. Ander boeke vir jonger lesers is dié oor Speurhond Willem, ’n reeks deur Elizabeth Wasserman, waar Willem met wilddiewe afreken. Loubser baseer ook haar artikel oor ekodiskoers op die Anna Atoom-reeks deur dieselfde skrywer. Dan is daar ook nog die Lea-lief-reeks deur Cecilia Steyn wat fokus op die welsyn van diere, wat op ’n selfs jonger lesers fokus.

In die tye van inperking wat ons die afgelope maande beleef, is dit belangrik om kinders te herinner aan die bewaring van diere en die gesondheid van ons omgewing.

 

Verwysings

De Villiers, L. 2019. Die groot koelte. Pretoria: LAPA.

Loubser, H. 2017. Omgewingsdiskoers in wetenskapfiksie vir kinders met verwysing na die Anna Atoom-reeks. LitNet Akademies. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/10/LitNet_Akademies_14-2_Loubser_565-608.pdf.

—. 2019. Die ekoteks in die klaskamer. LitNet. https://www.litnet.co.za/die-ekoteks-in-die-klaskamer.

Storiewerf. 2009. https://storiewerf.co.za/cv%27s/cv_janieoosthuysen.htm.

NB-webtuiste. Geen datum. Ouma Hester en die Arnosterfant. https://www.nb.co.za/af/view-book?id=9780798180733.

Wasserman, E. 2018. Die avonture van Anna Atoom.  Kaapstad: NB-Uitgewers.

—. 2020. Die avonture van Speurhond Willem 3-in-1. Kaapstad: NB-Uitgewers.

Lees ook: 

Ouma Hester en die Getaway-kar: ’n onderhoud met Janie Oosthuysen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top