Oudword is nie vir sissies nie

  • 0

Prent: Pixabay

My eerste grys haar het reeds tydens my hoërskooldae verskyn, en is blitsvinnig uitgepluk.

Toe ontdek ek mahoniebruin kleursel - donker genoeg om die grys te kleur, maar subtiel genoeg dat dit darem nie lyk of ek my hare kleur nie. In elk geval, donker hare is maar moeilik om te kleur. Van my twintigs tot my veertigs het ek hare gekleur, tot ek op een dag net besluit het genoeg is genoeg. Ek wil nie een van daai vroue word wat met ’n nek vol plooie en ’n jonger mens se haarkleur deur die lewe gaan nie. Ek het ophou kleur. My natuurlike kleur was nie te erg nie. Gelukkig het ek lank voor die pandemie opgehou kleur. Ek was daai trauma gespaar.

Maar oor die laaste twee tot drie jaar het ek skielik baie grys hare bygekry. Baie. Dis nie so erg nie; ek dink ek kan daarmee saamleef.

Maar skielik word ek nou “antie” genoem. Soms “tannie”, maar meesal “antie”. In die stede is ek “mevrou”, ’n titel wat skynbaar niks te doen het met die ringlose vinger aan my linkerhand nie. Maar in die dorpies, waar ek die meeste van my tyd deurbring, is ek “antie”.

Ek was nie gereed daarvoor nie. Is nie gereed daarvoor nie. Dis veral erg wanneer volwassenes my begin Antie noem.

........
Ek probeer agterkom wanneer presies ek antie geword het. My broer se kinders het my altyd antie genoem – ek verwys nie daarna nie. Ek probeer uitwerk wanneer ek antie geword het vir die buitewêreld.
........

Ek was onlangs by die WAT-tafel, besig om te besluit watter woorde ek wil borg. Die man wat langs my staan en sy beurt afwag, merk so ewe op: “Kyk net, die antie gaan drie woorde borg.” “Die antie” is nou ek. En daar is nie eens meer peper in sy baard nie – dis spierwit! Ek het sommer amper die woord “antie” geborg, maar my toe bedink.

Dalk moet ek dit koop, maar eers sal hierdie antie ’n bank moet beroof.

Ek probeer agterkom wanneer presies ek antie geword het. My broer se kinders het my altyd antie genoem – ek verwys nie daarna nie. Ek probeer uitwerk wanneer ek antie geword het vir die buitewêreld. Dis definitief nadat ek en mahoniebruin kleursel mekaar vaarwel toegeroep het, maar nie onmiddellik nie. Die gly af na “antie”-status was geleidelik, so ongemerk dat ek die eerste keer seker daaroor gelag het.

En dit is beslis ’n afwaartse beweging. Ons dink maar dat mense in Afrika minder obsessief is om jeugdig te lyk. Ons hoop maar dat ouderdom en wysheid met mekaar verbind word en dat dit geëer word hier. Maar al meer en meer word ouderdom, veral vir vroue, verbind met onsigbaarheid. Mense kyk vas teen die grys hare en sien nie meer die hoop, die aspirasies, die vrese en die bydraes wat ek en my medegryses nog het om te lewer nie.

........
Mense kyk vas teen die grys hare en sien nie meer die hoop, die aspirasies, die vrese en die bydraes wat ek en my medegryses nog het om te lewer nie.
........

Mans, dink ek – vermoed ek – het dit effens makliker. Daar word gesag en senioriteit aangeneem wanneer ’n man grys is, terwyl vroue net anties word. Maar ek sien ook hoe ouer mans hul magies subtiel intrek wanneer jonger, fikser mans in die geselskap is.

Laat ek nou maar soos ’n antie klink. In my jonger dae het jongmense nog respek getoon vir ouer mense. Iemand sou opstaan en hulle sitplek prysgee wanneer iemand ouer instap, of dit nou in privaat of in die openbaar was, ongeag of die persone mekaar ken of nie. Ouer mense is beskou as ’n bron van raad.

Vanoggend stuur iemand ’n TikTok-video van ’n jong seun, seker so agt of nege, wat in die vieslikste skeldtaal dreig om sy onderwyser en nog ’n volwasse man aan te rand. Hy is kwaad genoeg dat hy sommer reg is om die daad by die woord te voeg. Die twee mans bly albei kalm, maar al wat ek kan dink, is dat daai kindjie vorentoe groot probleme gaan veroorsaak. Daar is geen respek vir volwassenes nie; daar is geen respek vir die skoolgrond nie; daar is geen poging om sy emosies te reguleer nie; en geen aanduiding dat hy omgee vir die gevolge van sy uitbarsting nie. Hy word groter en sterker, en die mense teen wie hy nou al in opstand wil kom, word ouer en meer weerloos. Wat gebeur oor tien jaar, of twintig jaar, as hy nie leer om in te pas by die samelewing nie?

Ek wonder of daai twee mans daaraan dink dat hulle ouer word, en dat daar ’n dag gaan kom dat hulle nie meer sulke seuns in die oë kan kyk met die sekerheid dat hulle ’n aanval kan afweer nie.

........
Oudword is nie vir sissies nie, maar dit hoef ook nie ’n vonnis van onsigbaarheid te wees nie.
........

Daar word op papier allerhande akkommodasies gemaak vir ouer mense, maar wat gebeur in die praktyk? Oumense word as irritasies afgemaak. Hulle beweeg te stadig, hulle praat te lank, hulle mors tyd. Hulle put hulpbronne uit, behalwe wanneer hulle geld kan uitgee. Dan is hulle goed genoeg, en gewoonlik desperaat genoeg vir aandag. Daar is ’n eensaamheid onder ouer mense. In armer gemeenskappe is dit nie so erg nie, want nood dwing verskillende generasies om onder een dak te bly.

Oudword is nie vir sissies nie.

Net jammer dat die ervaring, die lewenskennis en die wysheid wat gepaard gaan met ’n paar dekades op hierdie planeet, nie genoeg na waarde geskat word nie.

Ek is nog aan die begin van die afwaartse kurwe van antie-wees, en later ma-wees en ouma-wees. Dis die stadia van oudword in my gemeenskap. Dalk moet ’n ouma ons kom leer hoe om dit as ’n positiewe eienskap aan te wend. Of beter, dalk moet ons as gemeenskap leer dat ouderdom ’n bate is en nie ’n las of verlies nie.

Oudword is nie vir sissies nie, maar dit hoef ook nie ’n vonnis van onsigbaarheid te wees nie.

Lees ook:

Om ’n ma te verloor

Die middeljarige metroman en ander manewales

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top