
Grafika: Canva
Gesprekke rondom die kerk (spesifiek die NG Kerk), gesprekke binne die kerk en kerktwis duur jare lank al voort en is steeds in die nuus. (Lees ’n berig oor kerktwis hier. Hier is ’n LitNet-artikel oor gays en die kerk. Lees ook hierdie berig van ’n paar jaar gelede oor dolerende gemeentes. Onderaan hierdie artikel verskyn enkele LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikels wat oor kerklike werksaamhede en beleid handel.)
Daar was jare gelede ’n lang debat hier op LitNet tussen gelowiges en ongelowiges wat heeltemal gewillig was om rasioneel oor geloof te argumenteer. (Die debat is selfs in ’n boek opgeneem.) [Lees artikels oor Die omstrede God hier en hier en hier - LitNet-redaksie]
Hierdie is nie ’n poging om daardie debat te laat herleef nie.
My fokus is heel anders: op die beeld van die kerk in al sy gedaantes in die media. En bepaald in die Afrikaanse media. Want dit bepaal heel moontlik tot ’n mate wat baie mense van die kerk dink.
..........
My fokus is heel anders: op die beeld van die kerk in al sy gedaantes in die media. En bepaald in die Afrikaanse media. Want dit bepaal heel moontlik tot ’n mate wat baie mense van die kerk dink.
............
Sommige kritici was immers 40 jaar laas in ’n kerkgebou en grond hul menings meer dikwels op baie ou waarnemings of fragmente van die voortgaande gesprek oor sake soos die plek van homoseksuele in die kerk – en dan bepaald soos dit in die media voorgestel word.
Die ander belangrike sake waarmee kerke hul besig hou, word meer dikwels geïgnoreer. Dit haal selde die nuus.
Maar wat van dié wat wel gelowiges is én kerk toe gaan om te aanbid? Hulle is dalk veel minder oor die “beeld van die kerk” gepla. Hulle beoefen hul geloof binne kleiner, gemeentelike konteks. Die kerkverband (oftewel denominasie) is vir talle van mindere belang. Daarom is daar soveel onafhanklike kerke (gemeentes). Ook NG gemeentes waarin die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk (of NG Kerk) nie meer voorkom nie.
Die afkeer van ’n pouslike topstruktuur loop dik. Elkeen wil sy eie pad loop – fundamentaliste met Bybel in die hand, vrydenkers met ’n hand vol vere en ’n vermoedelik groot middelgroep “gewone lidmate” met ’n mengsel van desondanks-geloof. En ’n oop hand vir die naaste wat nie dieselfde publisiteit kry as Gift of the Givers nie.
Hierdie inleidende note vertel reeds iets van hoe die Christelike kerk dramaties in styl en inhoud verander het. Hoe vat jy so ’n veelkantige verskynsel in enkele woorde vas? En hoeveel daarvan word in die media weerspieël?
Om dit hanteerbaar te maak, konsentreer ek op die grootste kerk onder wit mense, die Nederduitse Gereformeerde Kerk of NG Kerk. Onder die breë bevolking (waarvan sowat 80% hulself as Christene beskou) is daar natuurlik vele ander strominge en kerke: Katolieke, Anglikane, Metodiste, Baptiste, charismate, en letterlik duisende onafhanklike Afrika-kerke. Ook die ander protestantse Afrikaanse kerke: die (Nederduitsch) Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerke (let op die meervoud) en die Afrikaanse Protestantse Kerk. Oor elkeen kan jy ’n boek skryf. Die media ignoreer meestal wat in selfs die Afrikaanse protestantse kerke gebeur.
Die Hervormde Kerk is effektief in twee geskeur, met ’n konserwatiewe groepering wat polities by die APK hoort, maar op allerlei ander punte nie gemaklik by die Gereformeerde Kerke of die APK inpas nie. En daar is sowat 100 gemeentes van die NG Kerk wat protesteer teen wat hulle as liberale (dus afwykende) teologie beskou en ook ooreenkomste (en verskille) met bogenoemde konserwatiewe kerkverbande het.
As ek woorde soos kerkverband (ipv denominasie) of kerke (ipv kerk) gebruik, of Nederduitse en Nederduitsch, is dit omdat kerke hulle eie terminologie het. Dit is belangrik as jy nuanses wil snap, maar klink vir buitestanders sommer na haarklowery.
Al hierdie sake vir eers kant toe.
’n Opsomming van die NG Kerk se ontwikkeling die afgelope meer as ’n eeu verg die voorbarigheid om met ’n dikkerige kwas ’n paar impressionistiese hale te trek, hier en daar aangevul met detail. Hou maar in gedagte dat impressioniste dieselfde toneel heel verskillend verf.
My prent lyk min of meer so: Die NG Kerk het in enkele dekades van ’n verstokte bastion van blanke Afrikanerdom tot ’n diverse klomp ontwikkel wat enersyds stil retreats en medidatiewe dienste hou, wat duur koffiemasjiene in “kuierruimtes” het wat soos die foyers van ’n skouburg lyk, wat stilweg op ’n baie wye terrein hulp aan die gemeenskappe om hulle verleen, wat harde banke jare gelede uitgegooi het en waar mans net by uitsondering nog by eredienste ’n das dra.
Die kerk, die NG Kerk, het op soveel vlakke ingrypend verander – die liturgie, kleredrag, musiek én teologie. Noem maar op.
Vraag is: Hoeveel daarvan is deur die jare in die media weerspieël? En wie is dié “media” waarop ons staatmaak om ’n billike beeld van “die kerk” aan lesers, luisteraars en kykers oor te dra?
In ’n poging om ’n greep op hierdie steeds veranderende kerk te kry, deel ek die afgelope 120 jaar in rofweg drie fases op:
- die era van oorlewing en teologiese konserwatisme (1902–1959)
- die tyd van vrae, ideologiese teenreaksie en uiteindelike erkenning van die dwaasheid van apartheid (1960–1990)
- die jare van individualisering, vernuwing en verdere sekularisering (1990–).
Dit gaan nog ’n paar honderd woorde verg, maar dit is nodig om die Afrikaner en sy band met sy kerk(e) te verstaan, want dit is bepalend as oor die beeld van die kerk gepraat word.
In die eerste fase, ná die Anglo-Boereoorlog, het die Afrikaner en sy kerk ’n bitter moeilike tyd beleef. Polities was hulle verskeurd, veral gegewe die breuk tussen joiners en dié wat teen groot persoonlike koste vir hul vryheid geveg het. Die Afrikaner is nogmaals weens die Rebellie van 1914 kerklik verskeur.
Oorlewing het voorop gestaan. Daarom was daar pogings tot kerklike eenheid tussen die NG Kerk en die Hervormde Kerk.
Toe maai die 1918-griepepidemie onder lidmate, dog ’n kombinasie van oorlewingsdrang, idealisme en geloof dryf die Afrikanerkern voort. Die jonges wou Afrikaans in kerke hoor; die ouer garde het Hollands verkies. Elk het goeie redes gehad. Niks was eenvoudig nie.
Die Nasionale Party wen die 1924-verkiesing en dit gaan ekonomies effe beter. Toe kom die Du Plessis-saak in 1929, wat beklemtoon dat die NG Kerk teologies erg verdeel was tussen fundamentaliste en die teologies meer progressiewe denkers van die tyd. Du Plessis is deur die Kaapse sinode skuldig bevind aan dwaling, waarna hy hom tot die hof gewend het.
Die Burger se beriggewing oor die opspraakwekkende hofsaak is nogal insiggewend, veral aangesien daar nog geen omvangryke studie gedoen is oor (Afrikaanse) koerante se dekking van geloof-en-kerk-sake in dié vroeë tyd nie.
Op 22 April 1931 verskyn ’n prominente tweekolomberig in die blad met die neutrale opskrif “Verdere stadium in kerksaak”.
Die berig is, soos die opskrif, besonder formeel en sober, moontlik vanweë die ernstige meningsverskille wat in die NG Kerk oor die saak bestaan het en die koerant se versigtigheid om nie te lyk of hy kant kies nie. Of alle beriggewing het dalk maar destyds so gelyk.
Buiten Die Burger se versigtige hantering van die voortslepende saak het die blad ook oor ander kerklike sake berig, soos dié oor die jeug wat nie meer gereeld kerk toe sou gaan nie en ’n beswaar teen “pornografiese literatuur”. Dit was in 1931!
In Januarie 1932 het Du Plessis sy appèlsaak gewen, maar is tog later die jaar deur die sinode as dosent verwyder.
Belangrik is ds André Olivier se opmerking in die gedenkboek NG Kerk 350 oor die gevolge van die Du Plessis-saak: “Deur Du Plessis te stuit het die kerk die ontwikkeling van ’n kritiese teologie benadeel. ’n Vakuum het ontstaan wat plek gemaak het vir ’n onkritiese en selfs meganiese verstaan van die Bybel. Die onkritiese aanvaarding van kerkleiers se interpretasie van die Bybel deur lidmate het die weg gebaan vir die kerklike ondersteuning van die beleid van apartheid.”
In dieselfde tyd ruk die Depressie duisende lidmate terug in erge armoede. Die kerk help op ’n wye front. Trouens, sonder die Afrikaanse susterkerke het die Afrikaner nie oorleef nie, en die NG Kerk het trouens die inisiatief geneem met die reël van die volkskongres oor die armblankevraagstuk in 1934.
1938 breek aan en die simboliese ossewatrek, wat die Voortrekkers se wel en wee van ’n eeu vantevore herdenk het, bring nuwe lewe in Afrikanergeledere. Die geloof van die voorouers staan voorop en die media (koerante en die nuutgestigte SAUK) gee maksimum aandag aan die ontvouende drama – totdat die hoeksteen van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1938 gelê word. Kerkdienste was deurgaans ’n belangrike komponent van die viering.
Kerk, volk en koerante was een in hul aanvaarding van die mite van geroepenheid: God het Afrikaners met ’n doel hier geplaas. Hy het hulle by Bloedrivier van nederlaag gered. Hy het hulle die oorlog teen die Britte laat oorleef en hulle help opstaan. Hy het die volk by Monumentkoppie laat verenig.
Maar die Tweede Wêreldoorlog ruk die nuutgevonde eenheid (nogmaals) aan flarde. Sommige lidmate steun Smuts en die regering se oorlogspoging; ander is bitter daarteen gekant. Die Burger is een van die koerante wat Malan se neutraliteitstandpunt kies; Die Suiderstem is ’n Smutskoerant en steun die oorlogspoging.
In die strate van Kaapstad raak (wit) soldate en studente van Stellenbosch handgemeen. Die volk is verdeel. Dit lei selfs tot gemeentes wat skeur.
1948 bring ’n verkiesingsoorwinning vir die Nasionaliste, maar dit neem tyd vir die wrewel tussen Natte en Sappe om af te neem. Hulle sit wel saam op die kerkbanke. Apartheid word die amptelike beleid. In die Bloedriviergebeure het hulle ’n mite gevind wat hulle saamgebind en ’n regverdiging vir die apartheidsbeleid verskaf het. Hierin het die kerk bankvas agter die politieke leierskap gestaan.
Dit was nie ’n tyd waarin die kerk op wye front aan ernstige kritiek van binne onderwerp is nie. Ja, daar was kritiese enkelinge, soos prof Bennie Keet, maar in die kerk-party-pers-alliansie was daar geen tweespalt nie.
Boonop het die referendum van 1960 Afrikaners saamgesnoer soos nie in dekades nie. Oor dié saak het hulle saamgestem: Ons moet ’n republiek kry. Dit het in 1961 gerealiseer.
............
Die tweede fase breek dan aan met die Cottesloe-kerkeberaad wat laat in 1960 plaasvind. Nou is die kerk miskien vir die eerste keer ernstig in die nuus. Apartheid is dringend deur ’n kerkeberaad bevraagteken en Afrikaanse koerante het heftig gereageer.
............
Die tweede fase breek dan aan met die Cottesloe-kerkeberaad wat laat in 1960 plaasvind. Nou is die kerk miskien vir die eerste keer ernstig in die nuus. Apartheid is dringend deur ’n kerkeberaad bevraagteken en Afrikaanse koerante het heftig gereageer. So skryf Die Transvaler dat die “konsekwente toepassing [van die Cottesloe-verklaring] tot die volledige ineenstorting en verdwyning van die Christendom self hier aan die suidpunt van Afrika moet lei”.
Die Burger was nie so afwysend nie en het selfs ’n debat daaroor aangemoedig. Maar sinodes van die NG Kerk het ’n streep deur die verklaring getrek. Olivier sê: “Die NG Kerk het met goeie bedoelings en al, finaal ’n etiket as apartheidsvennoot en apartheidskerk gekry.”
Uit hierdie gebeure tree Beyers Naudé na vore as die leidende Afrikaner-kerkman wat hom teen apartheid verset. Vir sy moeite is hy van sy amp gestroop en deur die regering tot sy huis ingeperk. Uit eie geledere het hy weinig steun ontvang, allermins van enige van die Afrikaanse koerante.
Maar die teerling was gewerp. Apartheid het as morele kwessie nou in die hart van die openbare debat gestaan, al het Afrikaanse koerante en die SAUK die apartheidsbeleid, onder verskillende name, tot 1990 ondersteun en opponente van die beleid as verraaiers behandel.
’n Waterskeiding het in 1965 gekom met die verskyning van die Sondagkoerant Die Beeld onder hoofredakteur Schalk Pienaar – dieselfde Pienaar wat jare vantevore teenoor ’n Kaapse moderator “bely” het dat hy mos sy kerk in die steek gelaat het deur nie volle feite oor ’n dominee se ontugsaak te publiseer nie. Die Beeld sou anders wees.
So verskyn die een berig na die ander oor die kerk en kerkmense. Die jagseisoen op die kerk – veral die NG Kerk – was nou oop. Berigte met opskrifte soos die volgende verskyn:
Glencoe se los dominees, met as bokop: Meisies knaend kerk toe (Die twee jong leraars was bloot ongetroud.)
Kerk wil hom weer aankla, met as bokop: Predikant wen saak oor “ander vrou”
Kerkmense is kwaad oor skoolsake.
Die Beeld se regstreekse mededinger, Dagbreek, het ook die grense van ordentlikheid getoets en die kerk se status uitgedaag. Dit alles lei selfs tot ’n sinodebesluit teen Sondagkoerante en ’n besoek van vier kerkleiers aan Dirk Richard, hoofredakteur van Dagbreek.
Ook die mees senior mense by Nasionale Pers, eienaar van Die Beeld, was ongelukkig oor die “kaalstert”-joernalistiek, maar spesifiek ook die berigte “oor NG predikante wat afgedwaal het”, soos wat Pienaar se biograaf, Alex Mouton, dit verwoord het. Die Volksblad was glo met afgryse vervul oor Die Beeld se oneerbiedige houding jeens die NG Kerk.
In ’n tyd van sekularisasie kon die negatiewe berigte oor kerklui die beeld van die kerk kwalik goed gedoen het. Maar die band tussen volk en kerk het nog vas gestaan, hoewel ’n nuutgevonde belangstelling in die aandelebeurs en ekonomiese groei misplaaste selfvertroue in die hand gewerk het.
Intussen het “kerkpolitiek” ’n belangrike nuustema geword met Rykie van Reenen as voorste eksponent. Die konserwatisme van bepaalde kerkleiers het nóg Pienaar nóg Richard aangestaan, en hulle het oor insidente en besluite wat mense van kleur verneder het, berig en dit skerp gekritiseer.
As kerklui die morele hoë grond oor die koerante se soms laevlaksensasie gehad het, het die volgehoue ondersteuning van apartheid – ook in kerke en sale – kerke wyd oop gelaat vir kritiek.
Deurentyd het teoloë soos Willie Jonker ’n fakkel binne die kerk brandend gehou – van lidmate wat geglo het hulle moet God meer gehoorsaam wees as mense. Jonker het onder druk Nederland toe uitgewyk, maar teruggekom Stellenbosch toe, waar hy as voorste teoloog erken is. Hy het later op Rustenburg namens die NG Kerk verskoning gevra vir hul ondersteuning van apartheid.
Ja, selfs die kerk kan verander, het hy deurentyd geglo én dit uiteindelik beleef – en dié waarheid later as titel vir sy outobiografie gekies. Die kerk kan ook verander. Het verander. Verander steeds.
Maar om die kerk, sy lidmate, se koppe te draai was ’n omvangryke taak waarby talle kerkleiers betrokke was. Onder hulle was Jonker se kollega op Stellenbosch, Willie Esterhuyse, wat in die 1970’s tot 1980’s voorbrand gedoen het vir ’n wegbeweeg van diskriminasie en, uiteindelik, apartheid. Afrikaanse koerante het hierdie filosoof-teoloog ruim dekking gegee. (Hy het toe ondergronds gegaan om voorbrand te maak vir samesprekinge tussen die regering en die ANC.)
Teen 1982 het ds Henno Cronjé ’n byeenkoms gereël waar kerklui en redakteurs mekaar in die oë kon kyk. Maar of dit veel goeds opgelewer het, is te betwyfel. Wat wel waar is, is dat ’n ondersoek oor die beeld van die kerk in die dagblad Beeld duidelik getoon het hoe die kerk in 1982 groot nuus geword het – miskien juis omdat die blad se redakteur, Ton Vosloo, saam met ander geglo het politieke verandering sal soveel makliker wees as die kerk – veral die NG Kerk – wegdraai van apartheid.
In 1982 het 694 berigte, briewe en artikels oor die kerk in Beeld verskyn. Daarvan het meer as 60% oor die NG Kerk gehandel, en rassesake is in bykans 60% van alle gevalle geopper. Die NG Kerk het veral oor rassesake kwaai kritiek gekry, hoewel ook steun.
As die “beeld van die kerk” ’n optelsom was, was dit maklik om te besluit dat dié kerk waarskynlik nie in die meeste lesers se goeie boekies was nie. Maar nou is dit nie so eenvoudig nie. Hoe beïnvloed berigte oor die kerk die lesers (lidmate) se idee van die kerk – as die kerk eintlik maar hulle is?
Johan Heyns het as kerkleier in 1986 die algemene sinode so ver gelei as wat hy kon, maar ’n finale breuk met apartheid was nog nie moontlik nie. Teen einde 1990 het die NG Kerk wel sy rug op apartheid gekeer, maar die trein het reeds op 2 Februarie vertrek.
Die derde fase is dié waar die kerk drastiese verlies aan status en invloed verloor het.
In 1994 is nuwe bewindhebbers verkies, Afrikaners is kant toe gestoot, en hul kerke was nie meer ter sake nie – altans nie in die groter landspolitiek nie. Die groot besluite was reeds geneem.
Meer nog: Lidmate het gevoel hulle is deur kerk en party mislei en in die steek gelaat. In hul duisende het dié wat kon, begin emigreer. Die NG Kerk het daardeur alleen duisende lidmate verloor. Daar was ook ander redes, want foute is gemaak.
..........
Meer nog: Lidmate het gevoel hulle is deur kerk en party mislei en in die steek gelaat. In hul duisende het dié wat kon, begin emigreer. Die NG Kerk het daardeur alleen duisende lidmate verloor. Daar was ook ander redes, want foute is gemaak.
............
Sou die kerk, veral die grootste Afrikaanse kerk, nou in die vergetelheid raak? Darem nie so gou nie.
Bevry van die juk van apartheid en allerlei inhiberende gebruike en tradisies, het die NG Kerk dramatiese veranderinge ondergaan wat nie altyd na waarde geskat word nie. Gelukkig het Neels Jackson as kerksakeverslaggewer van Beeld en later as redakteur van Kerkbode die talle bakens langs die pad meegemaak en aangeteken, ook in sy boek Drie dekades van verandering. Die NG Kerk se pad na verruiming.
Dit vertel van leidend figure wat die kerk op talle terreine vorentoe gehelp het. Mense wat die kerk help afskeid neem het van apartheid; wat die verhouding met ander kerke help herstel het; wat die vrou se plek in die kerk omgekeer het; wat verskillende tipes spiritualiteit bevorder het, onder meer ’n doen soort wat die dienende kerk bevorder het.
Vir al hierdie tipes uitlewing van hul Christelike geloof is daar plek in die NG Kerk, wat die kerk so divers maak dat daar doodeenvoudig nie stereotipies oor die NG Kerk gepraat kan word sonder om ’n strooipop te skep nie.
In hoe ’n mate word dit deur die gewone pers weerspieël? Kwalik, al sou daar van tyd tot tyd artikels verskyn wat die lig op die een of ander aspek laat val. Die een groot wins was dat die kerk, veral die NG Kerk, geleer het om nederiger te wees.
Die verkoop van die imposante sinodale sentrum in Kaapstad is simbolies hiervan. Die sinodale kantore is nou in amper middestadse Bellville gehuisves, Kerkbode en Bybel-Media in die landelike Wellington, neffens ’n lieflike nuwe kapel. Die sinodale gebou in Visagiestraat, Pretoria, is ook lank reeds verkoop nadat dit in 1982 met soveel trots ingewy is.
In al die sinodes is beskeie ruimtes betrek. En as jy wonder waar die sinodesittings nou plaasvind? By ATKV- en dergelike oorde, waar die sinodegangers in kortmouhemde en chino’s om tafels sit. Die pseudoparlementêre leerordes is lank reeds vergete.
Die gesukkel met die gay-kwessie – eintlik ’n diepgaande vraag oor die gesag van die Bybel – trek steeds aandag en gaan waarskynlik lei tot ’n skeuring in die kerk. Soos in 1931 word die Bybel verskillend gelees.
Slotsom
Wanneer kritici vinger na “die kerk” wys, sal hulle meer moet doen as om strooipoppe af te skiet. Wanneer – veral in die media – oor die beeld van die kerk besin word, sal vrae gevra moet word soos: Watter kerk? Van watter era?
As die hier en nou ter sprake is, sal heel spesifieke vrae gevra moet word. Want selfs net die NG Kerk is ’n hoogs diverse kerkverband met meer as 1 000 gemeentes waar op verskillende wyses geglo en gedoen word.
Elkeen se blik sal ook deur eie geloof/ongeloof, standpunte, ervaring en dies meer beïnvloed word. Kortom, elkeen het ’n unieke idee van wat die kerk is. In die vorming daarvan speel die media sekerlik ’n rol, maar die dekking van wat in “die kerk” leef, is maar gebrekkig.
...........
Selfs wanneer ons alles lees, van gemeenteblad, gemeenskapskoerant, dagblad tot kerkblad, kry ons ten beste flitse van die volle werklikheid. Nuus is immers ’n fokus op die ongewone, die abnormale, terwyl die normale op soveel plekke die verkondiging van die evangelie is en die maak van duisende broodjies vir kinders wat met ’n leë maag skool toe gaan.
.............
Selfs wanneer ons alles lees, van gemeenteblad, gemeenskapskoerant, dagblad tot kerkblad, kry ons ten beste flitse van die volle werklikheid. Nuus is immers ’n fokus op die ongewone, die abnormale, terwyl die normale op soveel plekke die verkondiging van die evangelie is en die maak van duisende broodjies vir kinders wat met ’n leë maag skool toe gaan.
Lees ook:
Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?
LitNet Akademies Weerdink: ’n Perspektief op die Kairos Netwerk-NG Kerk-kontroversie
Die omvang van kerklike gesag en die toelaatbaarheid van debat
Die opkoms en ondergang van die NG Kerk deur Jean Oosthuizen: ’n lesersindruk
Kommentaar
Ek praat nou net namens myself, maar die media het weinig invloed op hoe ek oor die kerk dink. Jy is maar net besig om mooi broodjies te bak. Net soos Jackson in sy boek. As Jackson 'n historiese akkurate beeld wou skets, sou hy profiele van Koot Vorster en die ander stiksiennige moderators van die kerk ingesit het, in plaas van Christina Landman en Beyers Naude, wat self deur die NG kerk verstoot was en hulle heil elders gaan loop soek het. Jy moes sommer by jou oorsig oor die kerk se geskiedenis, dalk ook bygeskryf het hoe liefdeloos die NG kerk ongetroude moeders en hulle pap babatjies op strepe verstoot en verwerp het. Wie weet hoeveel van daai gevalle was boonop slagoffers van verkragtings? Die patriargale kultuur wat die kerke in stand gehou het, het eindelose vergrype onder die mat help invee. Die kerke het juis ook 'n lang tradisie van seksmisdadigers beskerm. Elke dorpie het so tannie of twee drie gehad wat verstoot was deur die kerk en die gemeenskap. Dan ook al die mense wat wou grootdoop en so uit die kerke verstoot was. As ek dink aan die kerke, dan dink ek aan die eindelose leuens. Mens kan 'n lang lys maak van die kerke se leuens. Baie van dit duur steeds voort. Dink maar aan die stereotipering van genderrolle, wat lewend gehou word deur die kerke. Maar daar was baie ander leuens. Oor die Bybel. Oor die onsterflike siel. Lewe na die dood. Die hemel en die hel. Die duiwel. Apartheid. Die huwelik. Gaymense. Seks. Vroue. Jesus. God. Apartheid. Swartmense. Triniteit. Erfsonde. Oor al daardie sake en nog vele meer het die kerk 'n konstante stroom van onwaarhede die wereld ingestuur. As 'n ateis, moet ek dikwels hoor ateiste druk hulle sienswyses op almal af. Maar die kerke is die eintlike organisasies (en ek wil-wil eintlik se kerke is maatskappye), wat hulle sienswyses orals verkondig. En baie Afrikaners behoort nie meer aan die NG kerk nie. Daar is nagenoeg 40 000 Christelike sektes. Die media berig soms oor ander kerke ook maar die NG kerk behoort nie meer 'n ereplekkie in die media te geniet nie. Die NG kerk is 'n volkskerk en nie 'n Christelike kerk nie. En Naspers was histories 'n Afrikanerinstelling. Dis nie meer die geval nie. Boonop het die kerk hulle eie koerant, waar hulle oor hulle eie sake kan verslag lewer. Dan spog jy boonop oor hoe nederig die kerk nou deesdae is.
By dit alles is daar ook heelwat te se oor die NG kerk se geskiedenis. Die feit dat die NG kerk apartheid teologies gesteun het, het niks te make het Johannes du Plessis se teologie nie. Dit is algemeen bekend dat die NG kerk reeds in 1857 besluit het dat daar verskillende kerke vir verskillende rasse ontwikkel moet word. Lank voor 1948 dus. Die NG kerk het nie net met apartheid die regering nagepraat nie. Tydens die Groot Trek van die Boere in 1836, was die NG kerk ook aan die Britse owerhede se wense onderdanig en het die trek nie gesteun nie. Na 1994, het die NG kerk weer die ANC en die sekulere Grondwet begin napraat. Dit is hoekom hulle vandag so onder mekaar stry oor homoseksuele mense. Die ander denominasies waarheen baie Afrikaners uitgewyk het, soos die Charismatiese kerke, Christian Revival Church, Baptiste, huiskerke ens. ens., handhaaf steeds die tradisionele idees van die kerk oor mans en vroue en die huwelik. Du Plessis was juis ook groot vriende met DF Malan, en DF Malan was self 'n liberale teoloog, wat krities oor die Bybel was. Hy was toevallig ook die heel eerste redakteur van Die Burger. Maar Malan het later ook die heel eerste eerste minister van apartheid geword. Daar is dus geen verband tussen liberale teologie en apartheid nie. Baie behoudende teoloe soos Willie Jonker en Bennie Keet, en andere, was ook krities oor die Bybelse regvergdiging van apartheid. Die teoloe van Stellenbosch is lief daarvoor om vir 'Pienk Piet' te verromantiseer, maar dit is nie histories korrek nie.
Oor wit en swart het Du Plessis homself byvoorbeeld onder meer as volg uitgelaat:
"The white and black races both have their own volks ideals, which have roots in their different pasts. There is within each volk an inborn tendency to maintain the type to which it belongs and to protect itself against deterioration. It was perhaps the right instinct that possessed the Voortrekkers to countenance no mixing of the blood with the natives. With that they not only kept their race pure, but also carried away the respect of the natives"
Hier is die bron van hierdie aanhaling, 'n artikel deur ene Retief Muller:
https://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S1017-04992015000200006
Om saam te vat. Ek dink jy moet versigtig omgaan met die geskiedenis, en nie apologeties te werk gaan nie. Want daarmee verdraai en verromantiseer jy die verlede, en skep 'n valse beeld. Die kerk het maar altyd die regerings nagepraat. As Malema more president word, dan sal die NG kerk ook begin om onteiening sonder vergoeding uit die Bybel te preek.
Ek wens iemand wil weer 'n boek aanpak wat Johannes du Plessis se teologie ion die lig van die huidige in diepte bestudeer. Laat die apartheidskwessies maar daar. Du Plessis het probleme met apartheid gehad, maar aspekte daarvan wel aanvaar, hy was byvoorbeeld teen gemengde huwelike gekant. Maar ter sake is sy teologie rondom Skrifgesag wat tot die hofsaak aanleiding gegee het. Hy is in 1930 uit sy amp by die Stellenbosse kweekskool onthef omdat hy gemeen het sekere gedeeltes van die Bybel, veral die Ou Testament en veral die skeppingsverhaal in Genesis moenie letterlik opgeneem word nie. Hy is hof toe en die hof het hom gelyk gegee. Hy het toe sy ontslag in die hof betwis en weer gewen. Die stryd oor Skrifgesag woed voort in die NG kerk, hofsake en al, soos met die gay-kwessie gesien kan word. Kreasionisme woed plek-plek voort. Vir my voel dit of die kerk, die NG Kerk dan, nie herwaarts of derwaarts weet met die kwessie nie. So soek ons, die lidmate, dan soms ons eie nissies, waar ons in vrede nie hoef te glo wat ons nie glo nie.
Hierdie opsomming kom uit Wikipedia:
Du Plessis did not believe certain passages of the Bible should be taken "literally", particularly creation according to Genesis and the Old Testament. Du Plessis instead favored evolution, a controversial belief at the time. Du Plessis was accused of heresy, and dismissed from his position as professor of theology at Stellenbosch in 1930.
The heresy charges were disputed in the Cape Town Supreme Court and much to the consternation of the church, the court agreed that the biblical chapter of Genesis is not literally true. He thereafter filed for wrongful dismissal and won again. He was reluctantly re-instated as professor at the seminary, but put on permanent administrative leave, to prevent him from teaching and distressing the seminarians with his scientific views.
Wat moet in so nuwe boek geskryf word wat nie reeds geskryf is nie? Daar is al berge oor die Du Plessis saak geskryf. En die saak is eintlik baie eenvoudig. Die kerk het totale gekke van hulleself gemaak in daardie saak. Net soos met Cottesloe en Beyers Naude. En net soos toe hulle nie hulle eie kerkorde gevolg het in die homoseksualiteit saak nie. En toe weer deur die howe in die bek geruk was. In Du Plessis se jare wou die kerk die historiese feite vervang met hulle eie fabels van 'n sesdag-skepping. Toe eindig dit in nog 'n hoofstuk van die kerk se liefdelose stiksiennigheid. En vandag wil die kerkmanne en -dames van Du Plessis 'n anti-apartheid-vryheidsvegter maak. Gelukkig kan veel meer mense vandag lees en vir hulleself dink.
Ek is in 2010 uitgewerp by die kleingroep, nadat ek vir jare der jare in die musiekgroepies was. Dit was nou oor ek een aand my mond oopgemaak het dat ek geskei het oor ek uitgekom het as lesbies. Ek was al amper vyftig en baie erg beseer in my lewe al, en het nog nooit 'n enkelte wese skade aan gedoen nie. Maar ek was bly, want ek was maar altyd net daar vir die musiek. En toe is ek bevry.
Toe daarna het ek so baie geleer en kon helderder begin sien.
Toe was ek net eenkeer in 2011 by my oom se begrafnis in Lindenparkkerk wat intussen tot in die grond in afgebreek is, want die gode het vergeet om te help met die kollekte tydens Covid, toe speel hulle bankrot amper en verkoop die kerk.
In Lynnwood in 1978 rond het ons 'n saggesproke, dog uitgesproke, poëtiese predikant gehad, Murray Janson, so ook by die varsity se kerk Universiteitsoord, was daar iemand wat van die gebreekte kruik wat oorloop, nee, dit was seker die vol kruik. Moenie my vra nie. Van hulle twee het ek gehou. Die ander? Nee wat. Die meeste dominees wat ek beleef het preek toe so outyds en dun en humorloos en onkreatief en eng en bang dat ek op my wolkie die venster uit is. Sulke mense verveel my van kleins af.
Dog ek toe in 2010 ek gaan met ope arms ontvang en warm omhels word en aanvaar word. Kan 'n lesbiese groepie stig. Almal welkom. Maar nee. So dit was diep seermakend gewees op 'n manier, maar toe het ek besef geloof versmoor, ek ondersteun hulle gin niks meer nie en sal nie weer my voete in kerkers sit nie, want hulle onderdruk mense, en toe het ek vry begin vlieg. Kettings gebreek en vrede in rede gevind in die nuwe ateïsme in my nog ontwikkelde aapbrein, en natuurlik sal ons nie die niks tot die iets kan verstaan nie. Ons breine is nie só wonderlik nie. Ek het dit aanvaar. Evolusie is groot, maar nie groots nie. Gelukkig is daar die ontsettende slim mense wat die wêreld en heelal vir ons so baie en so ontsettend interessant en sinvol oopgemaak het al. Die bewyse is oorweldigend daar: gebeentes en fossiele. Geen siele. Ons sterf.
Tja, die ou kleingroepies van die kerke. En dan ook hulle alewige kampe en seminare. Met al die voorskrifte en stipulasies. So lyk 'n Christenman, So lyk 'n Christenvrou. So lyk 'n Bybelse huwelik. So moet 'n gesin lyk volgens die Here. Ek was self ook by sulke dinge betrokke in my vorige lewe. Tot my ewige skaamte. Die laaste strooi het gekom toe ek by een so "selgroep" moes hoor die aarde is 6000 jaar oud en Adam en Eva is werklike historiese figure gewees. Net nog van die fabels wat die kerke skaamteloos lewend probeer hou.
Inderdaad, Barend.
"Tot my ewige skaamte".
Sê die jafel hierbo.
Tot dit spreek Christus aan in Luk.9:26.
Dis nie net die Jafel wat "ewig" skaam is nie.