Die omvang van kerklike gesag en die toelaatbaarheid van debat

  • 10

Die internasionaal-bekroonde Katolieke weekblad America dra die naam van ’n land waar vryheid van spraak tradisioneel een van die hoekstene is. So ‘n paar jaar gelede het die gedwonge bedanking van die kerkblad se hoofredakteur, vader Thomas Reese, skokgolwe deur die kerk gestuur. 

Vader Reese se bedanking as hoofredakteur van die invloedryke weekblad was die gevolg van langdurige druk deur die kerkhiërargie op ’n redakteur wat geglo het aan redaksionele vryheid binne die raamwerk van sy mandaat. Sy afdanking was ’n sprekende voorbeeld hoe sommige Amerikaanse teoloë in die Katolieke Kerk daarin geslaag het om oop debat onder Rooms-Katolieke in die kiem te probeer smoor.

Hierdie stuk van my het jare gelede in sy oorspronklike vorm in Kerkbode verskyn toe Johann Symington nog redakteur was. In die redaksie het ons destyds dikwels die vraag gevra wat die kerk nou eintlik van sy koerant wil hê – ‘n skoothond of ‘n waghond? Dit is ‘n vraag wat al hoe dringender geword het en vandag steeds gevra word met die aanstelling van Kerkbode se nuwe redakteur. Daarom is hierdie artikel van my (met enkele aanpassings) vandag meer relevant as ooit.

Die outoritêre optrede van die Vatikaan kon nie daarin slaag om eenheid in die Katolieke Kerk te bevorder nie. Dit het eerder uiteenlopende denkrigtings in die kerk verder van mekaar verwyder. Net soos in Amerika en elders in die wêreld is daar ook in die NG Kerk mense wat die belangrikheid van eerlike openhartige debat besef en dit verwelkom. Teenoor hulle is daar ’n groep wat byna ’n blinde lojaliteit opeis vir die kerklike owerhede en almal wat in gesagsposisies geplaas is. Laasgenoemde het op die oomblik die oorhand.

Vir byna sewe jaar het vader Rees van die Katolieke Kerk ’n forum deur middel van sy koerant geskep waar verskillende standpunte gestel kon word oor sake wat vir Rooms- Katolieke regoor Amerika van groot belang is, ofskoon sommige kwessies dikwels kontroversieel was. Selfs al het die koerant deurgaans albei kante van die saak belig, was almal nie ewe in hulle noppies met die gedagte van ’n oop debat nie. 

Sy eie gemeente en talle ander meningsvormers het bankvas agter vader Reese gestaan. Algaande het die druk uit die Vatikaan toegeneem. Die geveg teen Rome was ’n oorlog wat hy nie kon wen nie. Uiteindelik moes hy die handdoek ingooi. Die keuse was eenvoudig: óf ’n nuwe redakteur wat na die Vatikaan se pype dans óf die koerant temper sy beleid van oop gesprek en val in by die kerkvaders se denkpatrone. Vader Reese wou nie besgee nie en was ’n doring in die kerkbase se vlees. Toe hy nie wou maak soos die Romeine as jy in Rome is nie, moes hy sy goed vat en loop. 

Sy oortreding was nie dislojaliteit teenoor die Katolieke Kerk of die kerk se leer nie. Die kerklike owerhede kon of wou nie aandui presies wat hulle besware was nie. Nie die redakteur óf die koerant se medewerkers kon dus hulle saak stel nie, selfs al sou hulle ’n teologiese basis gehad het waarop hulle argumente berus. 

Onderliggend aan die afdanking van vader Reese was die feit dat sy koerant nie die kerklike gesag en die stem van die pous klakkeloos wou navolg nie. Van die kerkleiers het ook die kritiek in die koerant - wat deur die kerk besit en bestuur word - persoonlik opgeneem. Hulle was eenvoudig nie vatbaar vir kritiek nie en allermins deur hulle eie koerant. Vader Reese se toegeeflikheid teenoor die res van die media en sy progressiewe denke was boonop vir baie kerkvaders ’n steen des aanstoots. Met hom uit die pad, het die Vatikaan gehoop om ontslae te raak van die talle ongemaklike vrae wat hy in sy koerant belig het. 

Die verskille in die kerk en die talle onbeantwoorde vrae het egter nie met vader Reese se vertrek verdwyn nie.

Debat en gesprek, wat ’n noodsaaklike element vir geloofsgroei is, het wel met sy vertrek gekwyn. Die grense waarbinne daar in die kerk gedebatteer kon word, is selfs nouer getrek as voorheen. Dit het nie net die progressiewe denkers in die kerk nadelig geraak nie, want die behoudendes kon ook nie langer hulle oortuigings teenoor dié van andersdenkendes meet nie. Daar was selfs konserwatiewes wat gemeen het dit was ’n ernstige gebrek aan vertroue op die Heilige Gees om die debat op dié wyse te demp. Om gewone lidmate te vervreem van die kerk se denkprosesse maak van die hele kerk uiteindelik ’n armer en leër plek. 

Vader Reese se gedwonge bedanking laat noodwendig die vraag ontstaan of ander kerke, soos die NG Kerk, nie dieselfde gevaar as die Rooms-Katolieke Kerk in die gesig staar wanneer kerklike gesag ter sprake kom nie.

Lank voor vader Reese se dilemma en die latere openbare herrie rondom Kerkbode se Woordfees-debakel het André Bartlett ’n insiggewende artikel oor kerklike gesag op Julian Müller van Tukkies se webblad geskryf. Hoewel Bartlett se artikel nie regstreeks verband hou met bogenoemde nie, wys hy in sy artikel op die groeiende onrustigheid in die 17de en 18de eeu by Rooms-Katolieke in die Noorde van Europa dat alle kerklike gesag toenemend vanuit Rome uitgeoefen is. Bartlett waarsku toe reeds teen sekere ontwikkelinge in die NG Kerk wat die vermoede mag skep dat kerklike gesag soms ook in die NG Kerk deur ’n kleinerige groepie uitgesoekte mense uitgeoefen word. 

Gereformeerdes was nog altyd skrikkerig vir enige vorm van amptelike of nie-amptelike pouslikheid, waarsku Bartlett. 

“Dalk het dit tyd geword dat ons vir onsself ’n paar kritiese vrae begin stel oor wat besig is om (ook) in die NG Kerk te ontwikkel. Dalk is dit veral belangrik om vas te hou aan die werklikheid dat die plaaslike kerk volledig kerk is en dat die meerdere kerkvergaderings daar is om die plaaslike kerk te help om volledig kerk te wees. Dalk is dit ook nodig om seker te maak dat die eie gesag van elke meerdere vergadering beskerm word teen ’n neiging om al meer seggenskap te laat oorgaan in die hande van klein groepies vertrouelinge. 

“As ons nie betyds begin om kritiese vrae te vra nie, mag dit dalk vorentoe nodig wees dat iemand, soos ’n Hans Küng in die Katolieke kerk, ’n hele boek skryf om te sê: die pous is nie onfeilbaar nie en dis nie gesond dat kerklike gesag op een plek gesentraliseer word nie,” sluit Bartlett sy artikel destyds af. 

In sy reaksie op Bartlett se kommentaar skryf Müller, wat hoof was van die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria, hy het al dikwels gewonder oor die verskil en/of ooreenkomste tussen kerksisteme wat mag openlik toelaat en dié wat dit openlik teenstaan, maar dan heimlik en subtiel huisves. 

“Soms lyk dit my amper beter om maar ’n openlike hiërargiese sisteem te hê sodat almal kan weet en sien hoe die mag setel. Ons gereformeerde en spesifiek die presbiteriale sisteem, wat mag eintlik ontken, veroorsaak net meer gesofistikeerde magspeletjies. Aan die ander kant wil ek nie sommer die ideaal wat in die gereformeerde kerkreg gekoester word laat vaar nie. Maar dan is dit so bitter nodig dat binne ons sisteem, sulke kritiese stemme wat magsdiskoerse dekonstrueer, gehoor moet word,” skryf Muller. 

Oordrewe kerklike gesag het al male sonder tal in die geskiedenis tot groot onreg gelei. Daarom is dit noodsaaklik dat daar ook in die kerk ruimte moet wees vir lojale verset en kritiek. ’n Waghond is in dié geval veel beter as ’n skoothond.

Nou skuif Kerkbode vanaf Wellington Pretoria toe, waar al die NG Kerk se gesag tussen sinodes in die kantoor van die algemene sekretaris gesetel is. Rome toe. So herhaal die geskiedenis homself op verskillende plekke in verskillende tye. Of dalk nie? 

(Met erkenning aan Kerkbode, waarin die grootste deel van die artikel enkele jare gelede verskyn het.)

 

  • 10

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Die opskrif van hierdie artkel,  nl. "...die toelaatbaarheid van debat",  gee reeds rede tot amusante nadenke oor die geaardheid van die Christelike Kerk self, en van die magsbedeling daarbinne. In geen ander institusie  deur mense gestig in die verloop van die wêreld geskiedenis, was tweestryd  tussen  groepe en elemente binne die Kerk  so maligne en bloedig as juis in hierdie organisasie nie. Mens wonder of die tweespalt en geweld waarmee hierdie diskoersie gevoer is nie sy inspirasie het in juis die godsdiens wat die Kerk propageer nie. Die geskiedenis van die Christelike Kerk is so blatant gru dat nêrens in die Ooste derglike vergrype in die naam van godsdiens gevind kan word nie.

     

    Dit is mos die eeuoue tradisie van die Kerk (Roomse Katoliek en Protestant) om debat (die moderne ekwivalent van kettery en godslaster)  te versmoor, en te danke aan sekulêre denke met sy oorsprong in die " Age of Reason and Enllghtenment"  dat die Kerk se beweegruimte om anderdenkendes te straf deur na die brandstapels te stuur, aan bande gelê is.

     

    Pieter Redelinghuys

  • Daar is nie so iets soos vryheid van spraak nie Jean; selfs SêNet wou al van my briewe nie plaas nie. 

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Jan,

     

    Dit verbaas my gladnie dat sekere van jou artikels nie deur SêNet geplaas is nie. Vryheid van spraak onder Afrikaners in die algemeen het 'n baie kort geskiedenis, en die redaksie van SêNet moet seker ook die sensitiwiteite van hierdie agtergeblewe slapende- en gapende-  middeldklas  Afrikaner in gedagte hou betreffende die inhoud van derglike artkels wat as aanvaarbaar deur hierdie leserskorps beskou kan word; hoewel is ek seker dat jou artikels weer weerhou is weens die moontlikheid dat hulle aan ander nie-Afrikaner-Suid-Afrikaners kan aanstoot gee.

     

    Ek het dit uit vertroulike bronne dat Melt Myburgh ook probleme met dreigemente van 'n sekere leser ervaar het wat nie behae in sekere artikels gehad het.

     

    Wat my betref, het ek ook ervaring in die verlede van artikels wat geignoreer was, en dan moet ek erken dat ek skoon verbaas is oor ander skrywes wat wel gepubliseer is. Daar is dus a sekere mate van sensuur maar ek is verbly dat Afrikaners nou artikels kan lees oor sensitiewe onderwerpe wat as allerdaags vir die Europese leserspubliek beskou word.

     

    Groete,

     

    Pieter Redelinghuys

     

  • Dan was en is daar nog altyd die verspotte gedagte dat armsalige mense gode moet beskerm want hulle kan dit nie self doen nie.

  • Jy's in 'n mate reg Pieter; in een geval was dit die noem van waarhede soos onder andere protesoptogte en 'n ander geval was die uitspreek van 'n mening omtrent hoofsaaklik Naspers.
    Jan Rap

  • Jean,

    Ek is bly dat daar mense soos Thomas Reese opstaan. Ek glo God gebruik hul vir suiweringswerk. Daar gaan nog baie Reese opstaan, oor alle kerke heen, vir 'n goeie doel.

     

    CM

    Jou woorde dra krag en ek stem saam. Dinge soos wette, dogma, rituele en eie sieninge deur magsbedeling is verwerplik voor Gods aangesig.

     

    Pieter,

    Om in die naam van Christus mense na die brandstapel te stuur of onder godsdienstige wette te moor, is nie die hart van Jesus Christus nie. Verstaan asb mooi: daar is Christelike kerke EN Christelike kerke. Eintlik is daar nie kerke nie: Daar is net een - die "ware, wedergebore, geesvervulde, vernuwe Kerk van God." Hulle word saamgestel uit ALLE kerk en nie-kerk mense op aarde wat die liefdeshart van God uitleef.

     

    Ekself voel tevrede indien SêNet nie briewe wil plaas. Twee van myne het ook weggeraak. Agterna was ek bitter bly. Ons kannie dinge sê en doen wat 'n hele gemeenskap skade doen. Kom ons haal die "self" uit die prentjie. Daar is iets soos regverdige beoordeling. Dan moet ons ook seker maak dat  "vryheid van spraak" nie "vryheid van haat" word nie. Daar is nie so iets soos 'n agtergeblewe slapende en gapende middelklas nie. Almal is 'n produk van hulle kultuur en verlede. Ek kon gebore gewees het vanuit 'n arm agtergeblewe omgewing. Sou dit my skuld wees? Goddank - voor Hom is ons almal gelyk. Inteendeel, Hy haat juis die hoogmoedige en verhewe aangestelde. 'n Brandstapel kan aangevuur word met haat-woorde ook, en het nie 'n vuurhoudjie of godsdiens nodig om te brand...

     

    Jy is dus reg Pieter, godsdiens maak dood - maar om die lewende God te dien wat hemel en aarde geskape het, bring lewe. Waarom sal Hy sy eie skepsele wou verbrand? Inteendeel, my bybel lees: "God is liefde". Klaar. Liefde en omgee moet ons rig, nie mensgemaakte wette of kleur nie.

     

    Dis goed dat daar mense soos jy is Pieter, asook Reese, julle hou die ware gelowiges op hul tone...

     

    Sterkte in jou doel.

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Trienie,

     

    Baie dankie vir jou terugvoer. Dit is ongelooflik om sulke mooi gedagtes van 'n Christen te hoor, en trouens is jy reg dat daar geen slapende-en-gapende Afrikaners is nie - trouens, hierdie neerhalende etiket van my het my veel nabedenkings besorg, en daaroor het ek later selfs skaam oor gevoel. Mense is wel 'n produk van geboorte, omgewing, en opvoeding, en volgens Christene is almal God se kinders - sonder uitsondering.

     

    Baie groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Die debat gaan glo oor weerkaatsings van raaisels,  maar geen lewende sal ooit weet wat die uitslag is nie.

     

    CM

  • Julle, ek moes lankal hieraan begin lees het!  Julle maak 'n nuwe wêreld  vir my oop! Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top