
Prent: Canva
- Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Kan jy beelde in jou geestesoog sien? Die maklikste om dít te ervaar is wanneer jy ’n boek lees en die tonele soos ’n film sien afspeel. Of jy moet ’n beeld van die verlede of toekoms in jou gedagtes oproep.
Die vermoë om ’n geestesbeeld op te roep is op ’n spektrum. Sommige mense ervaar hoëdefinisie-, filmagtige visualisasies, terwyl ander vae, statiese beelde het, of glad nie – ’n toestand bekend as afantasie.
Die meeste van ons kan sulke prentjies in ons gedagtes oproep. Ons kan die verlede visualiseer en beelde van die toekoms oproep.
Maar vir ’n geraamde 4% van mense is hierdie geestelike beeldspraak swak of afwesig. Wanneer navorsers hulle vra om iets bekends voor te stel, het hulle dalk ’n konsep van wat dit is, en woorde en assosiasies mag dalk by hulle opkom, maar hulle beskryf hul geestesoog as donker of selfs heeltemal leeg.
Sommige mense ervaar weer hiperfantasie, wat die vermoë is om in hul gedagtes beelde te skep wat uiters lewendig is, amper so eg soos om dit in persoon te sien.
Adam Zeman, neurowetenskaplike van die Exeter-Universiteit, het die term afantasie in 2015 vir die eerste keer geskep. (Hy het om ’n -a vooraan fantasie geplaas. Phatasma was Aristoteles se term vir die geestesoog.) Die effek om ’n verbeeldingsvlug te neem, of nie, is natuurlik vir eeue al bekend.
Sedertdien het tienduisende mense wêreldwyd met die beskrywing vereenselwig. Baie sê hulle het geweet dat hulle inligting anders as ander verwerk, maar kon nie beskryf hoe nie. Sommige van hulle het hul skok uitgespreek toe hulle ontdek het dat ander mense ’n beeld in hul geestesoog kan oproep.
In ’n onlangse artikel in Nature blyk dit dat mense met afantasie het dikwels, maar nie altyd nie, nie die vermoë om hulle op sensoriese modaliteite behalwe visie te verbeel nie – byvoorbeeld, hulle het geen “geestesoor” nie. Sommige mense met afantasie rapporteer dat hulle in prente droom, maar ander nie.
Navorsers het ook bevind dat afantasie ’n genetiese komponent blyk te hê, met die waarskynlikheid om afantasie te hê wat tienvoudig toeneem as jy ’n broer of suster het wat ’n swak of afwesige geestesoog het. En afantasie kan meer algemeen voorkom by mense in wetenskaplike en tegniese beroepe as by mense met loopbane in die kunste.
Binne-in die brein
Toe wetenskaplikes begin soek het na die breinkenmerke van afantasie, het hulle verwag om verskille in die visuele korteks te sien. Dit is die area wat visuele inligting ontvang en verwerk tydens persepsie, en dit is bekend dat dit aktief is wanneer ’n persoon iets in hul gedagtes visualiseer.
Die meeste navorsers het aan geestesbeelde gedink as omgekeerde visie, met hoërvlakbreinareas wat seine na laer visuele areas stuur om ’n bewuste beeld te genereer.
Maar studies het voorgestel dat wanneer mense met afantasie probeer om iets te verbeel, hulle die visuele korteks aktiveer op maniere soortgelyk aan dié wat by kontrole-individue gesien word.
...
Miskien, sê sommige navorsers, volgens die vakjoernaal Nature, vorm daardie breinarea visuele voorstellings by mense met afantasie, maar die bewuste verstand kan nie toegang kry tot wat daar is nie.
...
Miskien, sê sommige navorsers, volgens die vakjoernaal Nature, vorm daardie breinarea visuele voorstellings by mense met afantasie, maar die bewuste verstand kan nie toegang kry tot wat daar is nie.
Dit is toe getoets deur mense se brein te skandeer – mense met en sonder afantasie – terwyl hulle na klanke luister wat spontaan ’n sensoriese voorstelling van wat ook al die klank gemaak het, moet veroorsaak. Blaf, byvoorbeeld, moet voorstellings van ’n hond in die primêre visuele korteks veroorsaak.
Om ’n hond te hoor blaf het wel breinaktiwiteit gegenereer wat ’n hond verteenwoordig in beide mense met en sonder afantasie. Maar ten spyte daarvan, kon mense met afantasie niks in hul geestesoog sien nie.
Die bevinding dui daarop dat hierdie sensoriese voorstellings – wat vermoedelik onderliggend is aan geestesbeelde – onbewustelik kan bly en dus nie voldoende is om beelde op hul eie te aktiveer nie. Daar is dus ’n duidelike verbintenis met die bewuste.
Dit is egter nie ’n defek nie.
Die verbeeldingsvlug en die negatiewe
In ’n artikel in Nature Reviews Neuroscience word die ander kant van die munt verduidelik. Wanneer ons dink aan die sensoriese eienskappe van iets soos ’n appel, het die meeste van ons ’n bewuste, visuele ervaring. Ons word letterlik bewus van ’n weergawe van die appel, al is dit ’n gedegradeerde, vae of swak ervaring.
Aan die ander kant van die spektrum speel sterk beeldspraak ’n kernrol in baie angsversteurings, depressie, skisofrenie en Parkinson se siekte.
Wanneer mense oor die geestesoog praat, verwys hulle tipies na die ervaring om ’n bewuste sensoriese ervaring na willekeur te skep.
...
Mense met afantasie het ’n verminderde vermoë gerapporteer om die verlede te onthou, die toekoms te verbeel en selfs te droom.
...
Daar is egter baie voorbeelde van onwillekeurige sensoriese ervarings wat ewe losgemaak is van direkte sensoriese insette. Byvoorbeeld, in sinestesie en in baie visuele illusies kan individue helder kleure ervaar sonder dat kleurinligting die retina stimuleer.
In posttraumatiese stresversteuring (PTSV) ervaar individue terugflitse of helder, indringende herinneringe aan trauma wat as onwillekeurige beelde ervaar word.
Afantasie daag sommige van ons mees basiese aannames oor die menslike brein en verstand uit.
Daar is gevind dat dit nie net geassosieer word met afwesige visuele beelde nie, maar ook met ’n wydverspreide patroon van veranderinge aan ander belangrike kognitiewe prosesse, soos geheue.
Die meeste van ons vind dit maklik om persoonlike oomblikke uit ons eie lewens te onthou. Hierdie herinneringe is gewoonlik gekoppel aan lewendige, innerlike beelde. Jy roep dit juis in jou geestesoog op en herleef dit weer.
Mense met afantasie het ’n verminderde vermoë gerapporteer om die verlede te onthou, die toekoms te verbeel en selfs te droom. Studies het gewys dat die hippokampus, wat ’n belangrike rol speel in die herroeping van lewendige, gedetailleerde, outobiografiese herinneringe, minder geaktiveer is by mense met afantasie.
Een van die eerste persone wat by Zeman se studiegroepe aangesluit het, is Tom Ebeyer van Kanada. Hy kan geen klank, tekstuur, smaak, reuk, emosie of enige ander tipe beeldspraak oproep nie. Wanneer sy vriend nie by hom is nie, kan hy haar nie verbeel nie.
Hy het in ’n persverklaring gesê: “Na die afsterwe van my moeder was ek uiters ontsteld, omdat ek nie die herinneringe wat ons saam gehad het, kon oproep nie. Ek kan die dinge wat ons saam gedoen het, feitelik onthou, maar nooit ’n beeld nie. Na sewe jaar onthou ek haar skaars.”
Lees ook:
Op dees aarde: Oorlogstrauma en die radikale Afrikaner-psige

