
- Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
In Suid-Afrika het 35,5% van alle vroue van 18 jaar of ouer al fisieke en/of seksuele geweld in hulle lewe ervaar. 42% van kinders het een of ander vorm van mishandeling – seksuele, fisieke, emosionele mishandeling of verwaarlosing – ervaar deur ’n volwassene wat veronderstel was om vir hulle te sorg.
Dalk weet jy dit en gee ’n diep sug. Dis net syfers. Maar kom ons kyk ’n bietjie dieper na dit waaraan ons al “gewoond geraak het”.
Daardie 35,5% vroue is soveel: 7 847 438.
Ma’s, susters, oumas, tantes.
Die syfers is geen duimsuig nie; dit is van die eerste Suid-Afrikaanse Geslagsgebaseerde Geweldsopname, gedoen in 2022 en verlede jaar gepubliseer.
Die kinders: min of meer 8 400 000 uit die Optimus-studie van 2016.
Hierdie syfers verteenwoordig ook generasies se vroue en kinders. Want die geweld teen ons is nié nuut nie. Dit het ook nie skielik ná 1994 gebeur nie. Dit was vir dekades reeds daar.
Dit is sistemies, uiters kompleks en gebeur nié in isolasie nie.
Een voorbeeld, wat ek gesien het wanneer mense kommentaar lewer op sosiale media, is totale onbegrip vir dié bewese (en tragiese) verwantskap: Wanneer jy seksueel mishandel word, is daar ’n duidelike assosiasie met seksuele riskante gedrag en verhoog die misbruik van middels. Dit maak jou weer kwesbaar vir seksueel oordraagbare infeksies. Wat met jou gebeur het, is nié jou skuld nie. Begryp dat dit met miljoene vroue en kinders gebeur.
Dit is hoekom ons land die gesondheidsbefondsing van Amerika wat gekanselleer is, bitternodig gehad het. Dit was bykomend tot wat ons reeds spandeer.
In Suid-Afrika word daar baie goeie navorsing gedoen, maar seker een van die skitterende uitsette is dié van die South African Child Gauge wat gereeld verskyn. Dit word onder leiding van die Universiteit van Kaapstad (UK) se Kinderinstituut gedoen, saam met talle kenners.
Vanjaar is dit 20 jaar sedert hulle eerste lywige verslag. Elke keer met ’n ander tema oor ons land, en ek volg dit nog al die jare.
Vroue en kinders se ervarings van geweld is selde geïsoleerde gebeurtenisse. Om geweld in die vroeë kinderjare te ervaar – insluitend om dit te aanskou – verhoog die risiko dat meisies slagoffers word en seuns later in die lewe plegers van geweld. Dit verhoog ook die risiko dat kinders lyfstraf gebruik wanneer hulle ouers word, wat ’n intergenerasionele siklus van geweld dryf.
Die verslag wys duidelik dat die algemene risikofaktore wat beide geweld teen vroue en kinders dryf, sluit in geslagsongelykheid, manlike oorheersing, verhoudingskonflikte, ’n gebrek aan responsiewe instellings, swak wetlike sanksies teen geweld en die skadelike gebruik van alkohol en dwelms.
Skadelike patriargie
Dit is nodig om te erken dat geweld teen vroue en kinders onderling verbind is, en die patriargale stelsel van ongelykheid waarin ons leef is betrokke.
Gemeenskappe speel ’n rol in die aanspreek van die kruispunte van geweld teen vroue en kinders deur skadelike maatskaplike norme uit te daag.
“Patriargie is ’n sosiale stelsel waarin mans mag en gesag het, ondersteun deur maatskaplike norme en gedrag wat mans bevoordeel, die gebruik van geweld normaliseer en vroue en kinders marginaliseer,” het Machisa, senior spesialiswetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, in ’n verklaring verduidelik.
“Om blywende verandering in skadelike sosiale norme te bereik, vereis voortdurende deelnemende gemeenskapsbetrokkenheid met alle lede – insluitend geloofsleiers, tradisionele leiers, mans en seuns – met ’n prioriteit gegee aan die versterking van vroue en kinders se stemme. Gemeenskappe kan skadelike sosiale norme uitdaag deur veiliger ruimtes vir dialoog te skep en strategieë te ontwikkel wat sosiale samehorigheid en ondersteuning vir geaffekteerde vroue en kinders versterk.”
Apartheid het ook ’n diepgaande uitwerking op die gesinslewe van vroue en kinders gehad. Die migrerende arbeidsstelsel het ’n omgewing geskep waar groot getalle mans vir groot dele van die jaar weg van hul landelike huis en gesinne gewerk het. Baie pa’s was dus afwesig in die lewens van hul kinders en het nie ’n betekenisvolle ouerskapsrol vervul nie.
Daarbenewens bepaal patriargale geslagsnorme dat kinderopvoeding wyd beskou word as ’n vrouedomein, wat mans toelaat om onbetrokke te wees by kinderversorging, selfs wanneer hulle in die huishouding teenwoordig is.
In plaas daarvan word vaderskap hoofsaaklik geassosieer met die rol van voorsiener, en selfs in hul afwesigheid behou mans die rol van besluitnemer en dissiplinêr.
Enkelouergesinne is wydverspreid in Suid-Afrika, wat vroue ’n dubbele las van sorg laat dra, en die gepaardgaande spanning van versorging en voorsiening vir hul kinders lei dikwels tot strawwe en inkonsekwente ouerskapspraktyke. Seuns kry dus meer vryheid en daar is nie ’n ewewig in die ouers se verhouding nie – dit lei tot konflik en geweld.
........
’n Lewensloopperspektief is van kritieke belang om die kruispunte van geweld teen vroue en kinders te verstaan, aangesien dit die voorkoms van verskillende vorme van geweld in verskillende stadiums van die lewe beklemtoon en hoe hierdie tipes geweld mekaar oor die leeftyd versterk.
........
’n Lewensloopperspektief is van kritieke belang om die kruispunte van geweld teen vroue en kinders te verstaan, aangesien dit die voorkoms van verskillende vorme van geweld in verskillende stadiums van die lewe beklemtoon en hoe hierdie tipes geweld mekaar oor die leeftyd versterk.
Byvoorbeeld, wanneer ’n vrou intieme lewensmaatgeweld tydens swangerskap ervaar, verhoog dit die risiko van depressie, angs en stres, sowel as selfdoodpogings, en die swak psigiese gesondheid kan voortduur nadat haar kind gebore is en dan die band tussen moeder en baba in gevaar stel. Dit is dus van kritieke belang om vroeg in te gryp om die siklus te breek.
Volgens die navorsing van die South African Child Gauge 2025 kan die regering wel help om geslagstransformerende programme daar te stel wat die skadelike oortuigings uitdaag wat gebruik word om geweld te regverdig.
Diepgewortelde beheer
Maar dit gaan ook oor meer. Dit gaan om diepgewortelde idees oor hoe vroue “veronderstel” is om op te tree, wat hulle sogenaamde rolle is en hoe hul liggame van kop tot tone gepolisieer word.
Maar wat van?
........
Daardie tipiese “whataboutism” word altyd gebruik om die kern van ál die probleme te probeer wegpraat. Maar wat van die vroue wat mans slaan? Maar wat van die vroue wat kinders mishandel? Maar wat van dit en dat? Maar wat van mans wat nié so is nie?
........
Daardie tipiese “whataboutism” word altyd gebruik om die kern van ál die probleme te probeer wegpraat. Maar wat van die vroue wat mans slaan? Maar wat van die vroue wat kinders mishandel? Maar wat van dit en dat? Maar wat van mans wat nié so is nie?
Dit is nie die punt nie. Al dié verdraaiings en pogings om weg te kom van die reuse- sistemiese probleem wat neig om nou ’n kultuur in ons land te word, erodeer die verhale van vroue en kinders se lyding. Dit is ontkenning van wat elke dag, elke minuut besig is om te gebeur.
Die “wat van” word gebruik om die ongemak te vermy; dit deflekteer net.
Om sosiale norme wat skadelik is vir vroue, en dus ook vir hulle kinders, uit die weg te ruim; voorspraak te maak vir gelyke regte – nié spesiale regte nie – ook voor die reg; en alle besluite oor jou eie liggaam te maak, ook rakende seks en voortplanting, is vroue se reg. Om te veg teen teistering en geweld, om ekonomies gelyk te wees, om dieselfde geleenthede te kry, om gehoor te word en inklusief te wees. Dit is feminisme.
Dit bedreig jou nie. Jy verloor niks daardeur nie, want uiteindelik is dit tot voordeel van ons almal.
Lees ook:
Op dees aarde: ’n Blitsige besoeker uit die buitenste ruimte
Op dees aarde: Tylenol en ander aanslae op vroue se besluite oor hul eie liggame


Kommentaar
Skokkende feite. Gaan hierdie siklus ooit gebreek word?! Ek het 'n klompie jaar terug toegang verkry tot notules van die Kinderhof van die vyftigerjare daar in Kroonstad. Klipharde skokkende getuienis van vernielde vrouens en kinders. Dit laat jou met trane en dikwels het ek gewonder oor die emosionele toestand van diegene wat die tikwerk moes doen. Dankie vir 'n goed deurdagte artikel. Elke bietjie help seker.