
Foto deur Silviu on the street van Pixabay
...
Die ANC, wat opleiding ontvang het in hierdie tipe oorlogvoering, het vir lank die morele hoë grond in die oë van die wêreld beklee, ten spyte van dikwels brutale optrede teenoor die bevolking vir wie hulle geveg het.
...
Met versnellende tegnologiese vernuwing en toenemende militêre oppermagtigheid aan die kant van die VSA, het dit baie mense verbaas dat die oorlog in Iran nie vinnig verby was nie. Die rede hiervoor, sowel as met die aanverwante konflik tussen Israel en Hamas, is dat die asimmetriese konflik nie tot die slagveld alleen beperk bly nie, maar ook op ons skerms afspeel.
Ons leef in ’n tyd waarin persepsie ’n toenemend belangrike rol speel. Maatskappye spandeer ’n aansienlike deel van hulle begrotings aan bemarking. Ook by regerings is die persepsie belangrik, en volgens sommige leiers selfs meer wesenlik as die werk wat hulle op grondvlak verrig. In die woorde van die propagandaminister van Nazi-Duitsland, Joseph Goebbels, beklee propaganda selfs “first rank among the arts with which one leads a nation”. Hierdie tipe leiers laat hulle nie deur die werklikheid lei nie, maar beskou hulleself as gode wat die werklikheid na hulle wil kan manipuleer. By oorlog kan propaganda nog kragtiger wees as die wapens wat gebruik word om die rigting van ’n konflik te bepaal. Die Nazi’s se propaganda was hoofsaaklik daarop toegespits om hulle eie bevolking te oortuig dat die Duitsers as die kulturele erfgename en opvolgers van die Ryke van Athene en Rome beskou moet word.
Die propaganda van regerings het uitgebrei buite die domein van die plaaslike bevolking met die uitbreiding van kommunikasie in die tweede helfte van die 20ste eeu. In die huidige eeu is daar selfs die bekommernis van eksterne inmenging by nasionale verkiesings. Die strategie van die Koue Oorlog-insurgensie was, namate militêre kapasiteit proporsioneel tot hulle teenstanders afgeneem het, om situasies te skep waarin onskuldige burgerlikes aan die kant van die insurgente bevolking in vyandige spervuur beland, soos Anthea Jefferey in haar boek People’s war uitwys. Onskuldige lyding dien die doelwitte van die insurgente en kan selfs daartoe bydra om die insurgente op die morele hoë grond te plaas in die oë van die wêreld.
Die ANC, wat opleiding ontvang het in hierdie tipe oorlogvoering, het vir lank die morele hoë grond in die oë van die wêreld beklee, ten spyte van dikwels brutale optrede teenoor die bevolking vir wie hulle geveg het. Die indoktrinasie waarbinne jou eie mense se veiligheid en welstand ondergeskik gestel word aan ’n klein elite se doelwitte, kan dalk verklaar waarom die ANC (steeds) meer op hulle eie politieke oorlewing as op die welstand van die bevolking ingestel is.
Volgens David Galula, ’n kenner oor teeninsurgensie-oorlogvoering, is goedgesindheid van die opponerende bevolking die beste strategie vir hierdie tipe konflikte. Daarbenewens moet die bevolking ook beskerm en bemagtig voel om self teenkanting teen die onderdrukking te bied. In watter mate Israel en die VSA daarin slaag om die bevolkings van Iran en Palestina eerstens aan hulle kant te kry en tweedens om beskerming aan die bevolkings te bied, is ’n ope vraag. Uit die aksies en uitsprake van die onderskeie leiers van die VSA en Israel lyk dit nie of hulle soveel op die sentiment van die plaaslike bevolkings in Iran en Palestina ingestel is as op die vertoon van brute militêre mag nie.
’n Verdere punt oor dit waarop die insurgensiestrategie spesifiek sinspeel, is belangrik om te verreken. Dit is oorvereenvoudig en onakkuraat om die huidige konflikte slegs in terme van sekulêre teenoor teokratiese state te beskryf. Die simpatie wat gewek word vir slagoffers is immers ’n simpatie wat grootliks beroep doen op die Christelike begrip van medemenslikheid.
Omdat die Christendom indirek betrek word in hierdie konflik, kan dit van waarde wees om die geskiedenis van nabetragting oor die misbruik van beelde binne die Christendom te oorweeg, ook ter wille van die beeldoorvloed waarmee ons vandag trotseer word in die digitale tyd.
Eerstens is daar die bekende beeldverbod in die boek van Eksodus. Wat minder bekend is, is dat daar gedurende die eerste twee eeue van die Christendom bykans geen beelde van Christus bestaan het nie. Daar was ’n bewustelike poging om die beeld van Christus in optrede eerder as in eksterne objekte gestalte te gee. Die kerk het later die idee ontwikkel dat die mens deur sy sintuie mislei word en daarom met sy sintuie en deur kuns na God gerig moet word (nie volgens kerkleiers deur begrip nie, aangesien die Bybel slegs in Latyn beskikbaar gestel is). Dit het daartoe aanleiding gegee dat die kerk haar vir ’n tyd lank skuldig gemaak het aan ’n oorversadiging van sensoriese stimulering. Pierre d’Ailly het reeds in 1411 ’n werk met die profetiese titel De reformatione bestempel as ’n “oorvloed van beelde en skilderye”, wat daarnaas die bevolking gedwing het om deel te neem aan allerlei nuwe “vigiliën, gebeden, vasten, onthoudingen”, soos Johan Huizinga dit in sy bekende boek Herfsttij der Middeleeuwen opsom. Mense moes aan hierdie geleenthede deelneem en hulle voor die beelde van heiliges verootmoedig om van hulle erfsonde en skuld ontslae te raak, en moes natuurlik ook daarvoor betaal.
Martin Luther het teenoor hierdie boetedoeningspraktyke beklemtoon dat die Christenmens vry is, en niemand se slaaf nie. In daardie konteks het dit ook beteken vry om nie deur beelde gemanipuleer te word nie. Luther was nie gekant teen die gebruik van beelde nie, maar wel teen die misbruik daarvan deur heiligheid toe te skryf aan eksterne objekte wat aanbid word.
Die hedendaagse boetedoeningspolitiek van die sekulêre bestel gebruik ’n soortgelyke logika as die Laat-Middeleeuse kerk. Eerstens word selfveragting by die hedendaagse Westerse mens aangemoedig, gekoppel met inherente skuld vir sy voorgangers se dade, en tweedens word onnadenkende outomatiese reaksie en partydigheid by die vertoon van beelde geprikkel. (Ons sou kon byvoeg dat ons huidige bestel Engelse eentaligheid inkleur as die ware weg na emansipering, soos die kerk met Latyn gemaak het.) Calvyn skryf in sy werk Die Institute oor die begrip van erfsonde: “Hoe nuttiger ’n leerstelling is, soveel naarstiger moet ons oppas om dit nie te misbruik nie.” Hoewel geen positiewe uitkoms bereik word deur die ontkenning van die vergrype in die geskiedenis nie, word ewe min bereik wanneer die nuwe aflaatpolitiek voorts burgers se talente misken, wanneer die produktiewe potensiaal van burgers met blote nabootsende boetedoening vervang word.
Die grootskaalse hedendaagse terugkeer na meer tradisionele Christelike praktyke in die Weste en in ander lande, behoort enersyds nie gebruik te word om ’n eng Christelike nasionalisme op te stel wat ’n binêre opposisie opstel tussen die Christendom en die wêreld nie, maar moet ook nie misbruik word om misdadige regimes te sterk in hulle kwaad deur hulle oënskynlike beroepdoening op medemenslikheid nie. Solidariteit met die burgers wat onder hierdie regimes en groeperings ly, is van wesenlike belang. Net so belangrik is dat leiers aanspreeklik gehou word en hulle weerhou van optrede, hetsy militêr of by wyse van ondeurdagte en arrogante uitsprake, waardeur die bevolking aan die ander kant verder vervreem raak. Sodoende word ’n wêreld van oortuiging bevorder oor een van hardhandige optrede.
Lees ook:
Amerika, moenie julle militêre hoenders tel voordat hulle uitbroei nie

