KI-miniseminaar: KI en die karakter van oorlog

  • 0

...
Wees daarom versigtig in debatte en visioene oor die impak van KI op oorlog, want die vyandelike opposisie, soos nou weer bewys in die oorloë in Gaza, Oekraïne en Iran, het altyd ’n sê as dit kom by die impak en strategiese effek van realiteite soos KI.
...

Daar word deesdae baie gespekuleer oor die impak van KI op die toekoms van menswees. Oorlog is ’n diep menslike verskynsel, en daar blyk spesifiek baie spekulasie te wees oor die impak van KI op die toekoms van konflik, geweld en oorlog.

Die intellektuele peetpa van moderne militêre denke, veral in die Westerse wêreld, is die Duitser Carl von Clausewitz. As ’n veteraan van die Napoleontiese oorloë het dié Pruisiese intellektueel die essensie van oorlog beskryf as ’n situasie wat deur onsekerheid vertroebel deur wrywing ontwrig, en dikwels deur toeval beheer word. Sedert die postume publikasie van Clausewitz se belangrikste werk, Vom Kriege (Oor oorlog) in 1831, het militêre instellings regoor die wêreld enorme pogings aangewend om die onsekerheid van oorlog op te klaar, die wrywing in oorlog te verminder en die belangrikheid van toeval op die uitkoms van konflik te minimaliseer. Op hul beste het hierdie pogings slegs marginale sukses behaal. Onlangse tegnologiese ontwikkelings, veral wat KI betref, skyn die belofte in te hou om miskien die onsekerheid in en van oorlog op te klaar, en om die impak van wrywing en toeval te verminder. Op ’n paradoksale wyse kan dieselfde ontwikkelings egter hierdie problematiek in oorlog eerder verhoog as verlig.

Die vertroebeling van onsekerheid was die Clausewitz-metafoor vir die voortdurend onvolledige en alte dikwels onakkurate beskikbaarheid van inligting. Die verkryging van perfekte inligting oor die vyand was en bly steeds ’n byna onmoontlike realiteit in oorlog, juis omdat inligting ’n soeke is na die verstaan van vermoëns en intensies. Nie net is inligting nie altyd beskikbaar nie (dikwels as gevolg van doelbewuste misleiding en die slim optrede van die vyand), maar beskikbare inligting kan onvolledig, onakkuraat en/of teenstrydig wees – dikwels en weer eens as gevolg van die doelgerigte optrede van die vyand. Inligtingoorlogvoering is ’n groeiende en ontwikkelende deel van oorlog wat veral deur die koms van die kuberruimte en sosiale media nuwe stukrag aan die wolk van onsekerheid in oorlogvoering verleen het, beide in die beskikbaarheid en die akkuraatheid van inligting.

In die verlede was die beskikbaarheid van inligting en die prosessering daarvan na om dit akkuraat en bruikbaar te maak onderhewig aan menslike wanvertolking. KI en dergelike tegnologiese ontwikkelings hou egter die belofte in van die vermindering, selfs die uitskakeling, van die menslike faktor in die onsekerheid in oorlog, beide in die beplanning en die uitvoering van militêre operasies. Gesofistikeerde lug- en ruimtegebaseerde verkennings- en toesigstelsels, gekombineer met insette van ’n magdom ander bronne, wat wissel van hoëtegnologie- elektroniese sensors tot laetegnologie- menslike operateurs, wat almal inligting in werklike tyd aan hul kliënte oordra, hou die belofte in van byna foutlose en intydse inligting en besluitneming. Daar is selfs spekulasie van KI-gesteunde besluitneming wat menslike kapasiteit oortref – wapens wat byvoorbeeld sal kan sien dat daar vrouens en kinders op ’n bepaalde teikenarea is en daarom self kan besluit om die aanval te beëindig.

Miskien is dit nodig om die fokus hier van faktorinligting na faktortegnologie te verplaas. Eliot Cohen wys daarop dat krygskundiges, en soms ook soldate, dit menigmaal moeilik vind om die impak van tegnologie op oorlog te verreken. Verdedigingsdebatte fokus dikwels eksklusief op begrotings en tegnologie – hoeveel vliegtuie om te koop, watter tipes, oor watter tydperk, en wat die beskikbaarheid van fondse is vir sodanige aankope. Die algemene publiek is geneig om die merkwaardige – soms selfs magiese – eienskappe van moderne militêre tegnologie aan te hang en te bewonder – en dikwels ook totaal die impak van tegnologie in oorlog te oorskat.

Verskeie realiteite moet egter verreken word in die beskouing van die ontwikkeling en impak van tegnologie in die verdedigingsomgewing. Eerstens is die impak van tegnologie dikwels eerder evolusionêr as revolusionêr. Toegegee, daar is voorbeelde in die geskiedenis waar die impak van tegnologie op oorlog radikaal, onmiddellik en skouspelagtig was. Dink maar aan die koms van die stiebeuel, buskruit en lugkrag. Hierdie ontwikkelings is egter die uitsondering eerder as die reël; en die impak van tegnologie het ook eerder binne stelselverband as op skouspelagtige wyses ontvou. Lugkrag, soos nou weer in die Iran-oorlog duidelik sigbaar is, is selde op sigself strategies effektief. Die strategiese effektiwiteit van lugkrag is egter ’n integrale deel van waarna Stephen Biddle in sy boek Military power, explaining victory and defeat in modern war verwys as die moderne militêre metode van magsaanwending, en waar lugkrag se effektiwiteit saamhang met die effektiewe aanwending van veral grondmagte. As mense leef ons op land, nie in die see, lug of die kuberruimte nie, en dit is op land waar die strategiese impak van magsaanwending bewerkstellig moet word. Is dit nie nou weer duidelik gedemonstreer in die Iranse oorlog nie?

Tweedens, en soos Colin Gray dit uitwys in sy boek War, peace and international relations: an introduction to strategic history, is tegnologie, en by implikasie ook KI, slegs een van die sogenaamde kontekste van oorlog en strategie. Anders gestel, tegnologie is een van verskeie faktore wat hierdie diep menslike verskynsel, genaamd oorlog beïnvloed, vorm en rig. Die beskikbaarheid en impak van tegnologie – kom ons noem dit hier KI – moet altyd in samehang met die politieke, sosiokulturele, ekonomiese, geografiese, historiese en militêre dimensies van oorlog beskou en verreken word. In kort: Oorlog is ’n menslike verskynsel en daarom nie uitsluitlik tegnologies, ekonomies of geografies van aard nie. Die kanse dat ’n enkele veranderlike soos KI oorlog radikaal gaan verander, is skraal.

Dit is juis hierdie menslike realiteit van oorlog wat aanleiding gegee het tot ’n debat oor die impak van tegnologie en KI tussen waarna Gray verwys as die tegnofiele en die tegnofobe. Aan die een kant redeneer die tegnofobe dat die menslike wil altyd die oppermag sal hê as dit kom by die gebruik van tegnologie in oorlog. Hierdie siening van tegnologie en oorlog geniet aanhang veral onder die voorstanders van onkonvensionele oorlog in die ontwikkelende wêreld, en hulle het goeie historiese voorbeelde om hul argumente te staaf. In die onlangse verlede moes die magtige Amerikaanse informasiegebaseerde weermag die knie buig voor onkonvensionele teenstanders in plekke soos Irak en Afganistan. Die ironie is dat hierdie onkonvensionele magte baie keer self oor ’n tegnologiese voorsprong beskik. Dink maar aan die sogenaamde Geveg van Mogadisjoe in die laat 1990’s, toe Mohamed Farrah Aidid in die vroeë dae van selfone juis dit as kommunikasiemiddel gebruik het. Deur die fone te gebruik vir bevel-en-beheer-doeleindes en inligtingsverspreiding het hy 18 Amerikaanse soldate in ’n bloedige geveg gedood en ’n einde gemaak aan die gewilligheid van die Amerikaanse weermag om grondmagte in Afrika te ontplooi – tot vandag toe!

Kontrasteer dit met die tegnofiele siening dat daar altyd ’n tegnologiese oplossing vir probleme en uitdagings in oorlog is. Hierdie siening is veral aan die orde in die ontwikkelde wêreld, waar daar sterk gesteun word op die gebruik van die konvensionele oorlog as ’n instrument van voortgesette diplomasie tussen state – om Clausewitz te parafraseer. In die 1990’s het hierdie siening gelei tot debatte oor ’n sogenaamde revolusie in militêre aangeleenthede, en wat toenemend in die Weste ontvou het as presisie- en toeskouergebaseerde oorlog. Sommige verwys daarna as CNN-oorloë – oorloë wat onder mediadekking ontvou as ekspedisieoorloë deur ’n klein professionele weermag en waarin maritieme en lugkrag van deurslaggewende belang is. Dit is binne hierdie konteks dat daar sterk argumente rondom die toevoeging van die informasie en kuberruimtes is as nuwe geografiese domeine van oorlog. Net soos in die geval van maritieme en lugkrag, is kuber- en informasieoorloë afhanklik van tegnologie; daar is geen maritieme, lug en kubermagte sonder die bestaan van tegnologie nie. Dit is tegnologie wat oorlog op see, in die lug en in die kuberruimte moontlik maak. Waar landmagte met tegnologie toegerus word, beman personeel vloot-, lug- en kuberplatforms. Hoekom is dit belangrik?

Dit stel, eerstens, die menslike aard van oorlog op teenoor die noodsaaklike beskikbaarheid van tegnologie om oorlog te operasionaliseer in die maritieme, lug- en kuberruimtes; en dit maak by implikasie die deur oop vir die gedagtegang dat tegnologie die bepalende faktor in oorlog is. Dit is die belangrikste realiteit wat ’n kritieke omgang met die rol van KI in oorlog onderlê – om nie die menslike aard van oorlog te verwar met die belangrike bydrae van tegnologie tot die aard van oorlog nie. KI gaan inderdaad van groot waarde wees in die mens se operasionalisering van oorlog in die toekoms, veral wat akkurate besluitneming, die prosessering van massa-informasie, en die identifisering en akkurate aanval van teikens, betref. Uit die geskiedenis weet ons egter dat akkurate en presisie-aanvalle in samehang met presisiewapens, presisie inligting en presisielogistiek tot uitvoer gebring word. Vandag is KI, soos enige ander vorm van tegnologie, deel van ’n sisteem wat geoptimaliseer moet word om akkuraatheid van beplanning en aanwending daar te stel. Dit verander nie die werklikheid dat die optimalisering van beplanning en besluitneming in oorlog waarskynlik die terrein is waar KI deurslaggewend en van groot waarde gaan wees in die toekoms nie.

Tweedens is dit van kritieke belang om op ’n onderbekende bron van wrywing, die wil, vaardigheid en middele van ’n intelligente en kwaadwillige vyandelike opponent te wys. André Beaufre definieer strategie en oorlog as die kuns van die dialektiek van geweld of, meer presies, die kuns van die dialektiek van twee opponerende wilskragte wat geweld gebruik om hul geskil op te los. Clausewitz se siening van oorlog is belyn met dié van Beaufre – dat oorlog ’n daad van geweld is om ons vyand te dwing om ons wil te doen. In kort, dit is dikwels makliker om te teoretiseer oor nuwe maniere van oorwinning as om eerlik en verbeeldingryk te spekuleer oor moontlike vyandelike inisiatiewe en reaksies. Dit is egter die werklikheid van vyandelike opposisie wat deur die geskiedenis van oorlog die wisselwerking tussen die offensiewe en die defensiewe aan die orde gebring het; en dit is juis daardie wisselwerking tussen offensief en defensief wat die werklik impak van KI op oorlog gaan bepaal. Wees daarom versigtig in debatte en visioene oor die impak van KI op oorlog, want die vyandelike opposisie, soos nou weer bewys in die oorloë in Gaza, Oekraïne en Iran, het altyd ’n sê as dit kom by die impak en strategiese effek van realiteite soos KI. En soos nou weer bewys in beide die oorloë in die Oekraïne en Iran, sal KI nie vergoed vir die koste van impulsiewe menslike besluite nie; en daar bestaan nie so iets soos ’n vinnige oorlog nie.

Abel Esterhuyse
Departement Strategiese Studies
Universiteit Stellenbosch

Lees ook:

Amerika, moenie julle militêre hoenders tel voordat hulle uitbroei nie

Die Terminator-scenario: Is dit ons toekoms? (Deel 1: Terminators)

Die Terminator-scenario: Is dit ons toekoms? Deel 2: Skynet 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top