
...
Om snedige kommentaar op die internet te plaas vanuit die veilige anonimiteit van ’n rekenaar werk net tot op ’n punt. Iewers gaan daai uitlaatklep onvoldoende raak. Wat gebeur dan?
...
Ons leef in ’n samelewing wat van woede aanmekaar geslaan is, voel dit baie dae.
Daar is padwoede, beurtkragwoede, slaggatwoede. Die lys hou net aan. Ons is kwaad omdat Eskom nie die ligte kan aanhou nie, maar steeds hoër en hoër tariewe eis. En kry. Ons is woedend omdat kospryse en algemene lewenskoste net styg en styg. Ons is briesend omdat ons regering ’n veer voel om enigiets te probeer maak werk. Ons kan nie meer byhou nie. Ons moet sny totdat daar nêrens meer is om te sny nie, en dan saamlewe met die besef dat ons nog steeds nie uitkom met ons geld nie.
Mense is kwaad. Soms betrap ek my dat ek op my tande kners sonder enige ooglopende rede. Dis ’n teken van die algemene spanning waarin my liggaam is. Ek weet ek is nie alleen nie. Elke dag sien ek in hul optrede hoe kortgebaker mense is. Dis selde meer opsigtelik as wanneer ek die kommentaar op my rubrieke lees. Maak nie saak hoe menslik, niekonfronterend of omarmend my woorde mag wees nie, die ad hominem-aanvalle volg so seker soos wat dag en nag op mekaar volg.
...
Maar terwyl daar oor en weer skuld gegee word, neem niemand verantwoordelikheid om goed reg te maak nie. Slaggate bly onopgevul. Beurtkrag neem in intensiteit toe. Petrolpryse en voedselpryse hou aan styg. Vrese oor onteiening van eiendom neem toe.
...
Dit kan ontstellend wees, totdat ek begin nadink het oor waar die woede vandaan kom. Van ons beste filosowe, soos Martha Nussbaum en Hannah Ahrendt, het natuurlik lank voor my hieroor besin.
Woede is ’n komplekse emosie, een wat ons meesal as negatief ervaar, maar beide Nussbaum en Ahrendt argumenteer dat dit tog ook positief kan wees. Woede is ’n teken dat een of ander wandaad teen die woedende party of hul naaste gepleeg was. Nussbaum teoretiseer dat woede egter misplaas kan wees, want terwyl dit gewoonlik ’n daad is wat die woede veroorsaak, is die fokus van die woede selde die daad. Veel eerder word die woede gefokus op die doener. Die verontregte party voel dat die doener een of ander kontrak verbreek het of iemand in die rug gesteek het.
Maar dan beteken dit die woede se oorsaak is eintlik pyn of een of ander verlies – verlies aan vertroue, verlies aan ’n manier van dink of doen, verlies aan die geloof oor hoe dinge veronderstel is om te wees. Mense is kwaad omdat hulle voel iets wat aan hulle verskuldig is, is hulle op een of ander manier ontneem. Die “iets” wat ontneem is, kan so ontasbaar wees soos status en waardigheid of so tasbaar soos ’n besitting.
Dit veroorsaak ’n gevoel van hulpeloosheid, en woede is ’n manier waarop ons die illusie terugkry dat ons in beheer is.
...
Daarom die buitensporige woede rondom Slim Wim se nepotisme-bewerings. Die beweringe breek die illusie dat net swart mense baantjies vir boeties en nefies maak.
...
Ahrendt neem hierdie gedagte verder en kyk spesifiek na die magteloosheid wat ons in die aangesig van burokrasie ervaar. Vra enigeen oor hulle ervaring met, sê nou maar, Binnelandse Sake of verkeersdepartemente, en nege uit tien keer is woede die eerste reaksie op ’n ervaring waar niemand ons help nie, waar vorms in duplikaat en triplikaat voltooi word maar niks gebeur nie, waar mense ure lank in lang toue staan en wag om gehelp te word, en dan net ’n onhulpvaardige beampte teëkom. Niemand neem in ag dat die beampte waarskynlik net so magteloos voel en vasgevang is in die bose kringloop van eindelose papierwerk nie. Dit, meen Ahrendt, kan tot ’n uitbarsting van geweld lei.
“The greater the bureaucratisation of public life, the greater will be the attraction of violence. In a fully developed bureaucracy there is nobody left with whom one could argue, to whom one could present grievances, on whom the pressures of power could be exerted.”
Enigeen wat al ’n persoon by ’n bank of versekeringsmaatskappy op die telefoon in die hande probeer kry het, weet presies waarvan Ahrendt praat. Wag lank genoeg, en die besef van die sinisme agter “Your call is important to us, please hold” kan gewelddadige uitbarstings veroorsaak.
Dit bring my terug by ons hier. Niemand aanvaar verantwoordelikheid vir alles wat verkeerd loop in ons land nie. Die regering blameer apartheid. Baie wit mense lê die blaam voor die deur van inherente onbekwaamheid en korrupsie van swart liggame. Daarom die buitensporige woede rondom Slim Wim se nepotisme-bewerings. Die beweringe breek die illusie dat net swart mense baantjies vir boeties en nefies maak.
Maar terwyl daar oor en weer skuld gegee word, neem niemand verantwoordelikheid om goed reg te maak nie. Slaggate bly onopgevul. Beurtkrag neem in intensiteit toe. Petrolpryse en voedselpryse hou aan styg. Vrese oor onteiening van eiendom neem toe. Kommer oor werkloosheid word groter. Die temperatuur binne mense word hoër.
Om snedige kommentaar op die internet te plaas vanuit die veilige anonimiteit van ’n rekenaar werk net tot op ’n punt. Iewers gaan daai uitlaatklep onvoldoende raak. Wat gebeur dan?
Wat gebeur met die persoon wat nie die uitlaatklep van ’n woede-uitbarsting op die internet het nie, maar wat gehoor gee aan oproepe deur megalomaniese politici met een oog op die komende verkiesing in 2024?
Burokrasie, magtelose woede, ekstreme ongelykheid en armoede is ’n lont wat ryp is om ontsteek te word. Is dit te veel gevra dat ons leiers die tekens sal herken en iets anders as net nóg leë beloftes sal bied?

