Van woede in die hart kom oorlog in smart. Dit is ’n les wat ek swaar moes leer, van ’n jong ouderdom af. As jou ouers jou op ’n vreemde plek verlaat, wat doen jy anders as om teleurstelling en haat in jou hart te ontwikkel? Die mense vir wie jy die liefste is, los jou alleen tussen vreemde, onnatuurlike en onwerklike kreature. Hoe sal hulle dit ooit weer kan regmaak? Nee, hoe sal ek ooit weer vir hulle kan lief wees? My naam is Lea Michelle, ’n 17-jarige meisie wat reeds amper agt jaar vasgevang is in ’n dimensie wat nie haar eie is nie.
Van kleins af kan ek onthou dat my ouers altyd baie tyd bestee het in hulle laboratoriums. Ek het dit nooit vreemd gevind nie, omdat hulle albei beroemde wetenskaplikes is. Vriendelike mense, nooit iets slegs gesê van enigiemand nie, maar ek dink hulle was so gefokus op hulle eksperimente dat hulle vergeet het dat ek nie ’n konyn was waarop hulle als kon toets nie. Ek was minstens vyf keer ’n dag in en uit hulle laboratoriums en nie een keer was dit vir minder as twee ure nie. Die laaste keer wat ek my voete binne daai kamer gesit het, het ek nooit weer uitgekom nie.
Ek is altyd na so ’n klein, bedompige en donker kamer gevat. Daar is ek neergelê op ’n langwerpige tafel met my hande en voete daaraan vasgemaak. Hulle het my ingeënt met ’n tipe vloeistof en dan uitgeloop en die deur gesluit. Dit vat ’n paar minute voor dié stof begin werk, maar sodra dit inskop, voel dit as of ek na ’n totaal ander wêreld geneem word. Nie figuurlik nie, maar letterlik.
My ouers stuur my in ’n ander wêreld in, nie omdat hulle kreature van ’n ander planeet probeer ontdek nie, maar eerder om toegang te kry tot ander ryke en te ontdek hoe om veilig daardeur te beweeg en kontak te maak met wat ook al daarbinne is. As jy gedink het my ouers was van hulle sinne beroof, dan is albei van ons op dieselfde bladsy. Wie stuur hulle kind in ’n geestelike gebied in sonder enige hulp of idee hoe om terug te kom? Myne.
Altyd in flieks en storieboeke lees jy van spoke wat rondsweef en deur jou vlieg, maar die waarheid is dat dit glad nie in dié werklikheid gebeur nie. Jy loop rond en sukkel om te sien aan die begin, maar hoe langer jy daar is, hoe meer pas jou oë aan by jou omgewing. Ek wou my oë uitkrap toe ek reg kon sien – dis definitief die teenoorgestelde van ’n feëverhaal. Jy sien pyn en wraak in ander kreature se oë, haat en gebrokenheid in hulle harte en bloed oral op hulle lywe.
Net soos die mens, het hierdie kreature ook ’n taal waarmee hulle kommunikeer en maniere waarop hulle sekere dinge doen. Om ’n vreemdeling aan te val, by die nek op te tel en te versmoor met jou oë, is een van hulle "maniere". Ek is aan my hare gesleep in ’n lang, donker gang deur iets wat ek nie heeltemal kan definieer nie. Al wat ek wel kan sê is, wat dit ook al was, sy hande was yskoud en sy oë was met haat gevul. Weereens was ek aan ’n tafel vasgemaak, maar hierdie keer begin alles meer realisties voel. Ek voel hoe my hart in my keel klop en hoe die pyn deur my liggaam skiet soos ’n dwelm wat oorneem. Om gebruik te word deur jou ouers as ’n eksperiment is een ding, maar om as eksperiment gebruik te word deur onnatuurlike en onwerklike geeste, is ’n ander.
Al wat ek rondom my sien, is donkerte en al wat ek hoor, is die stilte wat oorverdowend hard is. Ek voel nie soos myself nie, maar as of my siel in iets vasgevang is. Ek probeer my mond oopmaak om te skree toe ek besef wat aangaan, maar hoe kan ’n geluid by iets uitkom wat nie meer daar is nie? My lippe kan ek nie voel nie en my vingerpunte wil nie beweeg nie. Daar gaan ’n lig aan en ek kan sien.
Die pyn begin deur my skiet toe ek reg kon sien. Die rede hoekom ek my vingers nie voel nie, is omdat ek nie meer het nie. My organe lê buite my liggaam op ’n aparte tafel en my hart funksioneer as gevolg van een of ander masjien wat gekoppel is aan ’n onwerklike kreatuur. Hierdie monster is besig om my van binne na buite te ontleed en my liggaam oor te neem.
Van woede in die hart kom oorlog in smart. Daai sin maak vir my meer sin as ooit tevore. My woede vir my ouers en die lewe het my so erg ontstel dat dit my tot selfmoord gedryf het. Die onwerklike kreatuur was my innerlike pyn wat te veel geraak het om te hanteer. My ouers stuur my in my eie gedagtes in en daarin het ek verdwaal en myself vir agt jaar lank verloor. Ek besef dat dit waar is wat hulle sê: spyt kom altyd te laat.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

