Elders gesien: "Die woede is heilig"

  • 0

Pieter GR de Villiers skryf op Facebook:

Voorgangers in eredienste dra in hierdie tyd van die kerklike jaar helderrooi liturgiese kleredrag. Dit val my op toe ek Sondag na ’n erediens kyk. Dit is die kleur vir Pinkster, van vuur. Dit simboliseer die vuur wat destyds die beteuterde groepie in die bokamer oorrompel het.

Die vuur brand die ou dinge weg, die geweld: die kruisweg kom tot ’n einde. Dit word tyd vir ’n nuwe beweging met as hart geregtigheid wat kwaad vuriglik bestry, en versoening wat mense se waardigheid bevestig en vier. Eeue tevore sou Moses ook op so ’n “heilige” plek voor ’n vlammende bos staan. Die sukkelende stamelaar word daar omvorm tot die vurige kampvegter wat mense uit die geweld van slawerny bring tot die nuwe land van melk en heuning, tot oorvloedige waardigheid in vryheid vir almal.

Pinkster, baie eeue later, is ’n tyd waarin die ervaring van geregtigheid en versoening intenser as ooit beleef word, vuriglik in mense se innerlike insak. Die ingehoktes wat in hul bokamer wegkruip, besef meteens, in ’n oomblik van helder herkenning waaroor die regverdige een so dikwels met hulle gesels het en wat hy toe, vir hulle deur sy eie lewensweg uitgewys het: Onreg se houvas is gewelddadig, versmorend, is lewensbedreigend, maar daar is iets Groters. Nou dat hy weg is, begryp hulle, is dit húlle beurt om vuriglik hierdie ideale ver buite die grense van hul klein groep, uit te dra. Die knie van die geweldenaar op die strot maak dood, die kruis spil kosbare bloed, maar die boodskap van reg en versoening word nie gestuit nie.

In hierdie dae sien ’n mens dit so helder wanneer miljoene mense oor die wêreld heen verontwaardig en woedend is oor onreg, selfs as dit “maar net” gepleeg word teen ’n onbekende, ongerekende mens iewers onder miljoene mense in ’n groot stad. Die woede, vurig, is heilig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top