Oor Sizzlers deur Nicole Engelbrecht, "oerwonde" en heling

  • 0

https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9781990973826

Sizzlers
Nicole Engelbrecht
NB Publishers — Melinda Ferguson Books
ISBN: 9781990973826

............
In ’n poging om sin te maak uit die voortslepende Israel-Gaza-oorlog en die skokgolwe wat dit aanhou stuur, ook wat intergeloofsverhoudinge betref, woon ek ’n lesing by Pumla Gobodo-Madikizela se Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ) op Stellenbosch by. Anthony Collins is uit Australië aan die woord en vertel dat die Weste en Globale Suide vanuit verskillende “foundational traumas” reageer: die Weste vanuit die Holocaust as “oerwond” en die Globale Suide vanuit koloniale geweld. Omdat dit verskillende verwysingsraamwerke is wat mense as vertrekpunte trigger, praat hulle voortdurend in gesprekke by mekaar verby.
.................

In ’n poging om sin te maak uit die voortslepende Israel-Gaza-oorlog en die skokgolwe wat dit aanhou stuur, ook wat intergeloofsverhoudinge betref, woon ek ’n lesing by Pumla Gobodo-Madikizela se Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ) op Stellenbosch by. Anthony Collins is uit Australië aan die woord en vertel dat die Weste en Globale Suide vanuit verskillende “foundational traumas” reageer: die Weste vanuit die Holocaust as “oerwond” en die Globale Suide vanuit koloniale geweld. Omdat dit verskillende verwysingsraamwerke is wat mense as vertrekpunte trigger, praat hulle voortdurend in gesprekke by mekaar verby.

Indien (wit) gay, manlike Suid-Afrikaners ’n oerwond het, is dit beslis die Sizzlers-bloedbad begin 2003 in Seepunt. Nicole Engelbrecht sit hierdie massamoord op nege mans, met een oorlewende, by ’n masseersalon stelselmatig uiteen en hou die spanningslyn om by haar uiteindelike gevolgtrekkings uit te kom. Sy kies vir ’n slagofferfokus terwyl sy verskillende betrokkenes in die verhaal naspoor: die polisie-ondersoekers, forensiese patoloë, joernaliste Elsabé Brits en Herman Lategan wat die opspraakwekkende saak dek en self daardeur geraak voel, en die verdagtes wat beskuldigdes word, uiteindelik gevangenes. Die los drade in die ontvouende verhaal word netjies uiteengesit.

Willemien Brümmer vra my in ’n onderhoud in 2016 ná die massaskietery in die Pulse-nagklub in Orlando, Florida, of so iets ooit in Suid-Afrika kan gebeur. My antwoord het haar ’n bietjie onkant gevang: dat dit reeds gebeur in die plaag van LGBTIQ+-haatmoorde wat ons spesifiek onder swart lesbiërs in townships aantref, saam met die verskynsel met die tragiese benaming corrective rape. 49 mense is in Pulse dood en 53 gewond, maar op die skaal van Sizzlers het dit nog nooit in Suid-Afrika voorgekom nie, alhoewel ’n paar bomaanvalle teen oënskynlik gayteikens in Kaapstad, genoem word. Duidelikheid oor die motief by die twee moordenaars benewens roof bly ’n tergende vraag.

Dit bring my by die interessante verkennings van Engelbrecht omtrent die helingsproses van die diep verwonding wat as gevolg van die massamoord plaasgevind het. Hoe vind heling vir die oorblywende oorlewende slagoffer en die families van vermoordes plaas? “In all types of grief, whether caused by violent crime or not, many of those left behind express disdain for the word ’closure’,” sê Engelbrecht. Sy eggo hier waarna die sielkundige en skrywer Pauline Boss as “ambiguous loss” verwys. Boss bestudeer spesifiek hoe agtergeblewenes die verlies van vermistes hanteer, byvoorbeeld in vliegongelukke. Hulle wil meer sekerheid hê oor wat gebeur het, en dis ook waar duidelikheid oor motief in die Sizzlers-moorde meer bevredigende antwoorde vir die slagoffers sou bring, maar “closure” is nie ter sprake nie.

.............
Regstellende geregtigheid as deel van die rehabilitasieproses in die gevangenisstelsel kom dus aan bod. Dit laat my dink aan Thuli Madonsela se woorde: “Without remedying the legacy of past injustices, justice in the present tends to be elusive and the same applies to social cohesion and peace.” Dit het natuurlik groot implikasies vir prosesse van regstelling (restitusie), wat nie in die Sizzlers-geval so direk van toepassing is nie, maar die klaarheid kry oor gebeure wat diep wonde gelaat het en só genesing aanhelp, is beslis relevant.
................

Regstellende geregtigheid as deel van die rehabilitasieproses in die gevangenisstelsel kom dus aan bod. Dit laat my dink aan Thuli Madonsela se woorde: “Without remedying the legacy of past injustices, justice in the present tends to be elusive and the same applies to social cohesion and peace.” Dit het natuurlik groot implikasies vir prosesse van regstelling (restitusie), wat nie in die Sizzlers-geval so direk van toepassing is nie, maar die klaarheid kry oor gebeure wat diep wonde gelaat het en só genesing aanhelp, is beslis relevant. Met Suid-Afrika se Waarheid-en-versoeningskommissie is amnestie verleen in ruil vir die waarheid oor wat gedoen is, en in Sizzlers se geval is die indruk dat die waarskynlike brein agter die massamoord nie die volle waarheid vertel het nie.

Bostaande vrae laat mens terugkeer na die moordmotief. Was daar ’n homofobiese ondertoon wat vanselfsprekend lyk uit die profiel van die slagoffers, wat daarvan dus ’n haatmisdaad maak? Terwyl ek by ’n 90-jarige gay vriend kuier, dwaal hierdie vrae deur my kop, sowel as dié na die genesingsproses van die queerpsige. Die ou vriend het geluister na die kerk se veroordeling van gay-wees in die verlede en was dus nooit in ’n selfdegeslagverhouding nie. Nou gee dit hom ergernis dat die kerk skielik van standpunt verander het, want watse verskil maak dit op 90 aan sy lewe?

Hy het gelukkig tuisgekom by ’n jonger gay paartjie wat na hom omsien en kameraderie gee op sy ouderdom. Maar Madonsela se woorde kom by my op wat betref die regstelling wat nodig is omtrent sulke ongeregtigheid wat nie alleen in die verlede lê nie, maar wat diskriminasie betref, steeds in baie gevalle voortgaan. Wat is die koste daarvan in terme van die wrywing en wrewel wat steeds in die kerk en gemeenskappe aan die gang is? En hoe groot is die noodsaak nie om prosesse te fasiliteer waar mense heling vind, mekaar beter leer ken, en saam ’n pad leer stap.

Lees ook:

Kerke dop die gaytoets

Ek is gay en was 'n predikant

Weerlose weerstand – Die gaydebat in die NG Kerk deur André Bartlett: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top