'n LitNet-leser skryf hierdie brief na aanleiding van 'n onlangse bydrae op LitNet: Kerke dop die gaytoets.
Geagte Leser
Dis met moedeloosheid en ook ‘n diepe teleurstelling dat ek weer die afgelope paar weke die media dophou en oor en oor lees oor die sogenaamde “sensitiewe” vraagstuk oor gay mense in die kerk en binne die Christelike geloof. Party brawe persone staan op vir gay mense en word dan uitgekryt as valse leraars wat die Woord verdraai en wat ‘n sogenaamde sonde wil goedpraat. “Dit kan nie!” is die reaksies van baie.
Die kerk en in die besonder die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK) is traag en sleep voete om hierdie “sensitiewe” kwessie aan te pak en eens en vir altyd ‘n finale besluit daaroor te neem. In die proses is hulle besig om al hoe meer irrelevant te word in die samelewing en duisende mense diep te verwond – nie net gay persone nie maar ook hul families en vriende.
Ek is gebore, gedoop, gekatkiseer en is ook opgelei as predikant binne die NHK. Dis die kerk van my geboorte, die kerk vir wie ek lief is en was. Dis egter ook die kerk wat my verwerp en “uitgegooi” het om “saam met die semels deur die varke opgevreet te word”. Die hartseer is dat hierdie varke, wat die lekkerste smul, mede-Christene en -kerklidmate is.
Dis ook verbysterend dat soveel niegay mense so ‘n vrye sê het oor gay mense se lewens en uitdagings. Mense wat nie gay is nie, het geen benul wat gay persone elke dag moet verduur in hierdie “Christelike” gemeenskap wat ons die kerk noem nie.
Ek was ‘n uiters suksesvolle predikant in ‘n gemeente van die NHK in die vroeë negentigs. Sondae was die kerk stampvol en ons lidmaattal het met rasse skrede toegeneem. Ons het die kerk uit sy jare lange skuldlas gelig en die gemeente was suksesvol. Die mate van geloofsgroei en verandering wat by talle lidmate te bespeur was, was verblydend en dit was die belangrikste aspek van my bediening. In daardie jare was dit nog teen die landswette om gay te wees en kon jy jou in die tronk bevind as iemand sou uitvind. Na ‘n hartseer verloop van omstandighede het my kollegas in die ring ‘n klag teen my gelê by die Algemene Kommissie. As 26-jarige jong dominee het ek myself dood geskrik en bedank en wou vlug … die berge in. Tog het ek die moed bymekaargeskraap en op die “rooi tapyt” gaan verskyn. Ek het die Algemene Kommissie-vergadering gaan bywoon waar die grootste vraag nou eintlik was of ek myself dan as gay, biseksueel of deurmekaar sou beskryf. Die kommissie wat moes help met die versorging van predikante, het my summier uitgegooi en nooit weer enige navraag gedoen of ek “oorleef” en of ek as medegelowige oukei was nie. Dit was die slegste ervaring van enige kerklike instelling wat ek nog ooit beleef het.
My drome het aan skerwe gelê. Alles waarvoor ek my lewe lank gewerk het, het tot ‘n einde gekom en die kerklike bestuur was net bekommerd oor hoe ek dan my studieskuld gaan delg, nou dat ek nie meer ‘n werk het nie.
Om ‘n lang storie kort te maak: ek het ander heenkomes gevind en uiteindelik ook twee jaar diens gedoen in Kanada in die United Church of Canada (UCC), die grootste Protestantse kerk in Kanada. Hierdie enorme kerk, wat die Suid-Afrikaanse kerke na ‘n Sondagskoolpiekniek laat lyk, het alreeds in 1989 hul deur oopgegooi vir gay mense; al die ampte in die kerk is ook oop en die huidige moderator van die UCC is ‘n getroude gay predikant van Vancouver. Ek is ‘n volwaardige predikant van die UCC ten spyte van my seksuele oriëntasie. Die kerk trou gay pare net soos enige heteroseksuele paartjies, doop die kinders en omarm hul gay lidmate soos enige ander lidmate. Die UCC het ook sy probleme, soos enige ander kerke, met die lidmaatgetalle wat kwyn in ‘n al groter wordende sekulêre wêreld. Die Presbiteriaanse Kerk van Kanada het egter besluit om nie gay mense te aanvaar nie en hulle is besig om die een gemeente na die ander te sluit as gevolg van gemeentes wat leegloop.
Die vrees wat baie geopper word dat die NHK te veel lidmate sal verloor indien hulle gay mense volwaardig sou aanvaar, het geen gronde nie. Die teendeel is eintlik meer waar, soos in die geval van die Kanadese Protestantse kerke. Die kerk gaan al meer irrelevant word in die wêreld as die kerk nie uitreik na alle mense in die geloofsgemeenskap nie.
Ek wil nie skryf oor of gay-wees sonde is of nie – daar word genoeg daaroor gekibbel in die pers. Ek is egter van oortuiging dat enige werklike ernstige teoloog, wat goed onderlê is in die antieke tale waarin die Bybel tot stand gekom het, dit eens is dat die tekste niks oor homoseksualiteit as ‘n seksuele oriëntasie en lewenstyl te sê het nie. Ek verwys graag na die LitNet Akademies-artikel van Ernest van Eck en Ralph Barnard in dié verband.
Iemand soos Gerrit van der Walt wat in die media reageer en wil voorgee dat gay persone nie gay gebore word nie, maak dit net duidelik hoe onverantwoordelik persone in gesagsposisies kan optree as hulle nie die nodige kennis en agtergrond het nie. Grondige studies in dié verband wat oor jare gedoen is in die VSA het nou al male sonder tal die teendeel wetenskaplik bewys. Daarmee saam kan ek as ‘n gay persoon en predikant dit ook onomwonde stel dat ek definitief nie “gekies” het om gay te wees nie. Geen regdenkende mens sal of kan so ‘n keuse in hul opgroeijare maak en dan die hele wêreld trotseer in ‘n poging om ‘n normale lewe te lei as ‘n gay mens nie. Enigiemand wat nog dink dat dit ‘n keuse is, moet hulself die vraag afvra op watter ouderdom hulle dan gekies het om heteroseksueel te wees. Wat ook deesdae veral in die VSA duidelik na vore kom, is dat baie van hierdie homofobiese teoloë self in die spreekwoordelike kas is en eintlik maar self antwoorde soek.
My pleidooi aan die kerk, en dan veral die NHK, waarvan ek nog steeds ten spyte van alles ‘n lidmaat is, is dat die kerk eerlik moet reageer op herhaaldelike teologiese bevindings dat gay mense nie teen gediskrimineer kan word deur die Christelike gemeenskap van gelowiges nie. Die kerk sal gay mense oor dieselfde kam moet skeer as dit kom by volwaardige lidmaatskap van die kerk, met alle voordele en regte. Dit berus immers nie by die kerk se topstrukture om predikante te beroep na gemeentes nie. Elke gemeente het die bevoegdheid om hul eie predikante te beroep en as sodanige gemeente nie gemaklik voel om ‘n gay persoon te beroep nie, dan is dit hul keuse en nie die Algemene Kommissie of ring s’n nie. Die hoogste menslike gesag in die kerk sentreer binne die gemeentevergadering en hulle moet hul eie keuses kan maak.
Toe ek op laerskool was, het hulle ‘n vriend van my verplig om regs te skryf, want linkshandigheid is nie toegelaat of geduld nie. In die Bybel het ek die verhaal van Ehud oor en oor gelees. Ek kon nie verstaan hoe die skool dan so kon optree as Ehud, wat ‘n rigter was, juis danksy sy linkshandigheid vet koning Eglon kon vermoor en so die Israeliete verlos van verdrukking nie. My arme vriend moes jare later weer leer skryf, dié keer met sy linkerhand toe die skoolbesture besluit het dis nou oukei om linkshandig te wees.
Daar sal altyd mense wees wat anders is as jy of ek. Wie gee my die reg om daardie andersheid as sonde af te maak en teen sulke mense te diskrimineer as ek self nie eens verstaan wat dit eintlik behels nie en ook geen bevoegdheid het om die oorspronklike tekste van die Bybel daaroor te raadpleeg nie.
God is so gans anders dat ek dink al ons gedagtes saam oor God is nie eens die tippie van die ysberg nie en tog wil ons onsself as kenners uitgee as dit kom by God se gedagtes oor die gay-gesprek in die kerk. Elke gay persoon sal getuig van sy of haar innerlike stryd oor jare om in ‘n vyandige samelewing eerstens vrede met jouself en dan vrede met God te maak. Geen heteroseksuele persoon het enige benul van hierdie stryd nie, maar talle van hulle voer ‘n verbete stryd om ons gay mense uit die kerk te hou en uit die ampte te verban. Ons het so baie om te bied. So baie lewenservaring en geloofservaring om te gebruik in die amp van predikant.
Elke gay mens kan getuig van die tye waar jy op die randjie van selfmoord gesit het. Die tye waar verwerping deur die kerk, familie en vriende jou verneder en vernietig het. Waar die een vernedering op die volgende vernedering op jou afgedwing is deur heteroseksuele mense oor ‘n oriëntasie in ons lewens waaroor ons geen sê of keuse gehad het nie.
Ek is gay en ek is gelukkig getroud. My seksuele oriëntasie kan en gaan nooit verander nie, want dis deel van my chromosome, deel van my DNS, deel van my roeping en doel hier op aarde. Ek sukkel self om aldag sin daaruit te maak. Ek sukkel ook met geloof, twyfel dikwels, wonder baie, soek antwoorde, en soek na God, soos enige ander persoon. Die kerk is nie myne nie, maar dis ook nie die heteroseksuele s’n nie, dis die liggaam van Christus met verskeie lede met verskillende funksies. Die rentmeesters van die kerk het nie die reg om my uit die kerk te ban en te verbied om ‘n amp daar te vervul nie; hulle is slegs rentmeesters en nie eienaars nie. Jesus het nóóit enige uitsprake gemaak oor homoseksualiteit nie. As dit so ‘n brandende kwessie moes wees, sou Hy sekerlik sy opinie daaroor gelug het. Hy het wel baie te sê gehad oor skynheiligheid, oor liefdeloosheid, oor diskriminasie en ander brandende kwessies in ons samelewing.
Die rentmeesters van die Liggaam van Christus – die sinodes, ringe, kommissies en vergaderings – julle het die taak om die liggaam die liggaam te laat wees – julle het nie die reg om ‘n been af te kap omdat julle dink die been pas nie by die liggaam nie. Dit is nie julle kerk nie, dis Christus se liggaam, dis elke lidmaat se gemeenskap, ook die gay lidmaat s’n.
Gert Janse van Rensburg
Kommentaar
Vir my is gay a non-issue. Mense met groen oë en rooi hare ook. Vir my is 'n issue onverdraagsaamheid en oordele vel. Skynheiligheid en duplisiteit is vir my 'n euwel. En ek kan praat want ek het 'n fantastiese getroude gay seun.
Gert Janse van Rensburg, ek stem volkome saam met u. Ek hou die gesprek op LitNet nou al 'n geruime rukkie dop. Elke keer neem ek myself voor om maar stil te bly, maar nie hierdie keer nie.
Gay mense is net dit, mense. Net omrede ek gay is, is nie te sê dat ek tot enige iets minder in staat is as 'n straight persoon nie. Ek beskou myself as gelowig, en ek weet dat my God 'n God van liefde is. Dit is al wat ek wou sê. Die God wat ek ken, is een van die ware liefde. En geen persoon het die reg om iemand anders te probeer weerhou daarvan nie. Ongeag ras, geslag, seksuele oriëntering, ouderdom en wie weet watter ander boksies ons mekaar so gemaklik in boender.
Weereens, my God is 'n God van liefde. Baie dankie aan almal wat hier en elders my weer die hoop gee om onder die vaandel van Jesus se liefde te lewe. Gay en al!
Baie dankie Gert vir jou opregtheid en eerlikheid. Ek bewonder jou moed en deursettingsvermoë asook die wonderlike boodskappe wat jy gereeld in Renaissance gemeente met ons deel!
Baie dankie Gert vir hierdie besondere skrywe. Ons waardeer die openheid en eerlikheid geweldig baie.
Ek kan net saamstem met Mercia, want ook ek is 'n mamma van 'n wonderlik gay seun wat ook vanjaar getroud is. Hy en sy lewensmaat is gelowige kinders van die Here en is nie skaam om dit uit te leef nie!
Gelukkig dat die mens nie hoef te oordeel wie na die hemel mag nie. Wat 'n verskrikking sou dit wees. Glo in jouself en God en nie in mense nie. Mense is net skape, loop die grootste skreeuwer agterna, te bang om anders te wees. Wees jouself. God hou van jou.
Gert, jy is die versinnebeelding en voorbeeld van God is Liefde. Mag jy vir baie jare mense aan jou lippe laat hang oor die wonderwerk van ware Liefde ... Ek waardeer jou en jy is vir my 'n inspirasie
Dankie Gert ... ek voel om uit te skree hallelujah, want gay is nie iets wat jy doen nie, maar is ... ’n genetiese ding. Want in die kerk, skryf iemand, "vooroordeel ons gay mense, maar tegerlykertyd verwelkom ons sonder ’n woord van teenspraak of murmurering, geweldenaars, wapenvervaardigers, korporatiewe diewe, korrupte amptenare en uitbuiters van werkers, vroueslaners, vernietigers van die skepping en van drome van kinders... "
Ek wil ook namens baie ander sê ek is jammer vir die manier waarop jy behandel is en dat jou Godgegewe identiteit asook menswaardigheid daardeur aangetas is ... Hoekom is die kerk bang om sy lidmate te leer dat die Bybel nie ons handboek kan wees as ons oor ingewikkelde biologiese probleme soos menslike seksualiteit praat nie?
Die rasionele ontwikkeling van regstelsels bevestig die primitiwiteit van sondes.
Ģert Jane van Rensburg, ek is baie "moved" met wat jy gekry het. Alhoewel ek Engelssprekend is, het ek hierdie artikel tot hart toe geniet. Jy is 'n ware inspirasie vir ALMAL. Mag God jou altyd troos en jou inspirasie wees. Dankie
Ek het geen probleem met gay mense,heteroseksuele of enige ander nie.Ook nie met enige kerk van watter aard ook al.Mens wonder net wat God se plan sou wees?Gaan gay mense oor 50 jaar in die meerderheid wees en indien wel,hoekom?
Alle kerkgenootskappe is soos klubs waar elkeen 'n eie vorm van beheer, administrasie en 'n eie unieke ethos, gedragskode en filosofie handhaaf. Waar daar 'n geskiedkundige geskil onderling ontstaan het, is afgestig en 'n nuwe genootskap (klub) gestig, die dat daar nou in die duisende van hulle wêreldwyd beloop. Die drie afsonderlike Afrikaner-susterkerke is 'n skreiende voorbeeld hiervan.
Indien gays hulle in kerke bevind waar hulle (seksuele) gedrag lynreg met die (seksuele) gedragskode van sodanige kerk bots, hoort hulle nie te kla en kerm nie. Afterall, in die sekulêre wêreld het elke sekulêre instansie sy eie gedragskode wat gehandhaaf word, en indien nie, word dissiplinêre stappe geneem.
Daar is genoegsame gayvriendelike kerke. In SA ook. Indien nie gelukkig nie, niks keer die gay om na sodanige kerk oor te gaan nie.
Die gay-selfbejammering met die gedurige gay-vervolgingswaansin staan my, as gay persoon, glad nie aan nie. Gay persone moet met trots selfbeheer van hul eie lewens en omstandighede oorneem en dit positief uitleef en propageer.
Liefste Gert, Ek kan nie anders as om AMEN te sê op jou artikel nie! Christus het nie gekom om te oordeel nie, maar om vry te spreek. Solank die geleerde ouens met die lang hare en dik brille vasklou aan hulle wettiese dogma en die Bybel nie in konteks wil lees nie, sal hule voortgaan om mense te (ver)oordeel en in die buitenste ruimte te werp. Geseënd is jy en jou en jou geliefde!
Omdat die bewyse nie bestaan of homoseksualiteit aangebore of aangeleer is nie die volgende vrae:
Waarom word gemeentes vir homoseksuele mense nie gestig nie?
Met so 'n homoseksuele leraar as herder ?
Dan is diskriminasie mos verby.
En weet almal wie is gay en wie nie!
Die waarheid maak vry.
En diskriminasie is verby.
Ons is almal so verskriklik bly om jou weer terug te hê! Dis waar jy hoort. Jy het so 'n ongelooflike talent om die dieper waarhede in die Bybel oor te dra. Dankie dat jy is wie jy is, ons het groot waardering en baie liefde.
Gert daar is raad vir baie dinge maar onkunde en ’n '' closed mind'' klaarblyklik nie. Ek was onder die indruk dat almal bewus is dat die brein differensieer tussen vroulik en manlik gedurende die 2e helfte in vitro . Dit is gedurende die tyd dat die gevoel van manlik of vroulik in die brein vasgelê word. Volgens navorsing is dit bewys, en ek kwoteer, “Die geen vir homoseksualiteit lê moontlik in die Q 28 merker op die X chromosoom.” Daar is ’n T shirt wat verwys na Dean Hamer se navorsing - Xq 28 - ''Thanks for the genes mom.''
So in werklikheid Gert ''Vergewe hulle want hul weet nie wat hulle doen of sê nie.”
Groete anna.
Volgens hierdie boek: Brain Sex: The Real Difference Between Men and Women; Paperback – August 1, 1992 by Anne Moir (Author), David Jessel (Author), word 'n persoon se geslagsvoorkeur deur die brein bepaal. Afgesien van die geslag van jou chromosome, word jou breinstruktuur bepaal deur die konsentrasie van die geslagshormone tydens die 6de week van swangerskap, en weer tydens die 12de week. Die moeder se hormoonkonsentrasies kan verander word deur hormoonbehandeling tydens swangerskap, wat die ongebore kind se geslagsvoorkeur kan verander. Verder kan besoedelstowwe, soos sommige plastiseerders in plastiekprodukte, ook 'n estrogene-uitwerking hê. Dit impliseer dat niemand kan kies om gay te wees nie, of andersom. Moet dus nie oordeel nie.
En wie wil jy hê moet jou gelukwens? Dis tyd vir die gefaalde geloof Christendom om sulke sondes te aanvaar en vertroetel, nes alle vals gelowe in die mensdom se geskiedenis.
Dit is niks nuut nie. Die vals profeet Jesus se tyd is amper verby.
Duitswester
Duitswester
Jy is vinnig om ander se gelowe, veral die Christendom te veroordeel, weereens soos met al jou skrywes, sonder enige feitlike stawing van jou stellings nie. Toe ek jou gevra het wat jou geloof was, wou jy dit nie weergee nie. Jy kom wel Joodsvriendelik voor, maar jou skrywes gee geen aanduiding dat jy wel 'n Jood is nie.
Sodra jy ons inlig watter geloofsgenootskap jy aanhang, kan die ook onder die vergrootglas geplaas word. Ek verseker jou dat ek dit vir die lesers uitmekaar sal skeur, soortgelyk wat jy met die Christendom probeer doen. Wil jy dit waag?
'n Lafaard val ander gelowe aan terwyl hy anoniem oor sy eie geloof wil bly, ooglopend bang dat die se tekortkominge uitgelig sal word.
Onthou jy nog toe jy die vroeë Christenkerk verkwalik het oor die vervolging van Jode, en ek op my beurt die vieslike optredes van Jode mbt slawerny in Europe uitgelig het, hoe jy skielik tjoepsil geword het. Probeer maar weereens!
Jaco,
Duidelik het jy verkeerde kommentaar by my skrywe geplaas.
'n Wanopvatting wat ek met vele sogenaamde "kenners" agtergekom het, is dat hulle manlike homoseksualiteit met die vroulike hormoon wil koppel, en dat daaraan voor geboorte met testosteroon aan getorring kan word om seksuele oriëntasie te verander. Kortweg gesê, dis stront!
Behalwe vir 'n minderheid verwyfdes onder gays, is die oorgrote meerderheid gays, sonder vooraf wete deur die publiek, nie van sy straight eweknie onderskeidbaar nie.
Die volwasse gay se testosteroon- en oestrogeenverhouding in die bloedstroom verskil geensins met die van 'n straight man s'n nie.
Ek as gay persoon skat daar is 'n ewetal gays wat getroud is as die wat nie getroud is nie. Meeste van die non-getroude gays is uit die kas, maar wees verseker die oorgrote meerderheid getroude gays met kinders bly in die kas vir ooglopende redes.
Die ongetroude gay vorm merendeels deel van die openbare gaykultuur, maar nie die getroude gay wat geensins daarin deelneem nie. Die getroude gay vind sy gay seksuele kontakte in openbare plekke soos parke, toilette en die internet. Indien hy ooit geskei of wewenaar word, is dit gewoonlik die tyd wanneer hy wel begin deelneem aan die openbare gaykultuur.
Hoekom 'n persoon gay is, nieteenstaande vele navorsing, bly tans steeds in die bespiegelingstadium van navorsing. Dat sekere gays wel ooglopend so is jare voor hulle puberteit jare is orals al waarneembaar. Wat wel met redelike kundigheid tot 'n gevolgtrekking bereik is, is dat 'n sameloop van omstandighede gedurende 'n seun se puberteitsjare kan veroorsaak dat hy gay word.
Verder. Freud het bevind dat seksuele oriëntasie nie konklusief is nie. Hy het bevind dat 'n klein persentasie van die manlike bevolking is uitsluitlik gay, so ook 'n ewe klein persentasie van die manlike bevolking uitsluitlik heteroseksueel. Tussen-in, is die bi-seksueel wat in die middel is met diegene wat neig merendeels na heteroseksueel, en ander merendeels na homoseksueel.
Dit verklaar ook hoekom "situational" homoseksualiteit in tronke, die weermag en vloot, of waar vroue skaars is, plaasvind.
Vele pogings in die verlede, sonder sukses, is al aangewend om seksuele oriëntasie te probeer verander, tot so 'n mate dat die mediese wetenskap dit vandag glad nie meer toepas nie.
Verontskuldigings dat ek Afrikaans (nog) nie voldoende beheers nie om menings reg te verwoord. Ik ben een Vlaming en daarom geef ik hier mijn mening in het Nederlands wat voor Afrikaans sprekers allicht geen groot probleem van 'verstaan' zal zijn. Ik begrijp uit het verhaal van Gert Janse dat hij geen probleem had met de 'Hervormde Kerk' maar dat die HK wel een probleem had (en heeft?) met hem, als 'gay' en dus, per HK definitie, als 'onverbeterlijke zondaar', geboren 'zondebok' en 'eeuwige Hellebrander'. Tegen welk goddelijk gebod of verbod Gert Janse, als 'gay', dan wel ingaat is mij volstrekt onduidelijk. Heeft Christus, de zoon van God, dan ooit gezegd of geschreven 'Gij zult niet 'gay' zijn'? Dat Christus zelf van de mannelijke sekse was, is duidelijk. Dat hij niet getrouwd was en geen kinderen had is evenzeer duidelijk. De rest blijft in het Bijbelse Vage. Op wie en wat beroept die 'hervormde' Kerk zich dan wel om zo gestreng onmenselijk streng te oordelen en te veroordelen? Of is dit misschien een verdwaalde loot, een late valse noot van een roep naar 'apartheid' die heel Suid-Afrika en al haar gemeenschappen zo zwaar heeft getekend en verwond? 'Wit mense', 'Bruin mense', 'Swart mense' en nu ook nog 'Straight mense' versus 'Gay mense'? Die HK heeft in de eerste plaats een ernstig probleem met zichzelf, met haar Geloof-waardigheid, net zoals de katholieke Kerk hier in Europa gebukt en gekromd gaat onder aanhoudende schandalen van seksueel misbruik door haar mannelijke (celibataire?) geestelijke ambtsdragers, niet van vrouwen, niet van mannen maar van weerloze kinderen. Mea Culpa? Seksualiteit is des mensen, ja, en is een wezenlijk aspect van de individuele zingeving waar geen God, geen koning, geen heerser, geen regime en dus ook geen 'Kerk' vat op kan noch mag hebben, uiteraard voor zover het de 'andere' niet kwetst of schaadt. Heeft Gert Janse de 'andere' gekwetst of geschaad? Me dunkt van niet. Die HK dwaalt dus, is een dwalende 'Kerk', net als 'apartheid' een dwalende 'kerk' was. Hoog tijd dus om zich te bezinnen, het roer om te gooien, zo niet zal het roer zichzelf omgooien, zoals de geschiedenis (van Suid-Afrika) zo pijnlijk aantoont.
Noot: hier, in Vlaanderen, worden homoseksueel en homo/hetero seksueel gerichte mensen, onder één vlag "HOLEBI' genoemd (homoseksuele mannen, lesbische vrouwen en bi-seksuele mannen/vrouwen), een 'lekker woord' toch? De rest wordt verondersteld 'zuiver' heteroseksueel( = 'straight') te zijn. Het streefdoel is dat men het in Vlaanderen in de toekomst alleen nog over 'mensen' zal hebben en zo hoort het ook. Immers is ook Christus, zoon van God, niet als 'mens' geboren en voor ALLE 'mensen' gestorven, zonder onderscheid van 'kleur', 'ras', 'geslacht' en dus ook zonder onderscheid van 'seksuele oriëntasie'?
Rom. 1:27; die bybel is baie duidelik dat sodomie die resultaat is daarvan dat ons nie kon onderskei tussen die skepsel en die skepper nie.
Kom ons kyk wat sê die bybel waarom ons sodomie het.
Rom. 1:22-28; terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword, en het die heerlikheid van die onverganklike God/die Woord verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens (skepsel) en van voëls en viervoetige en kruipende diere.
Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hul harte oorgegee aan onreinheid, om hul liggame onder mekaar te onteer –
Die woord Lucifer beteken ligdraer en môrester.
Jesus het gekom en gesê: Ek is die lig en ek is die môrester, hy sê dus vir ons hy is Lucifer wat uit die hemel gewerp is.
Ons weet dat Jesus soos ons dit verkondig neergedaal het.
Omdat die kerk nie die liggaam kan onderskei nie is daar gay mense.
Genesis 1: 27 sê uitdruklik dat God man en vrou is.
Verder moet ons dan onderskei tussen draer van die word en die Woord self.
Jesus is dus die skepsel en draer van die woord en nie die woord self nie.
Ons aanbid dus die skepsel soos Romeine 1 uitdruklik sê.
Die kerk moet dus pa staan vir Gay mense.
Gert
Nou watter een van my response was volgens jou duidelik verkeerd geplaas?
Die een waar ek gays verkwalik het wat gedurig oor hul lot kerm en kla, hulself bejammer en gedurig aan 'n gay vervolgingswaansin lei; of was dit toe ek Duitswester vasgevat het omrede hy Jesus, buite verband van die bespreking, 'n valse profeet genoem het, wat jy blykbaar nie as 'n verkeerde plaasing geag het nie; of was dit toe ek 'n moontlike alternatiewe siening mbt seksuele orientasie vergeleke met wat Anna en F van der Walt hierbo weergee het?
God het nooit gesê WIE en WIE NIE 'n CHRISTEN mag wees nie.
Punt.
Beste Johan
Jy is op 'n dwaalspoor met jou vergelyking oor Jesus.
In Openbaring 22 vers 16 lees 'n mens:
"Ek, Jesus, het 'n engel as boodskapper gestuur om al hierdie dinge aan die gemeentes van God te vertel. Ek is 'n afstammeling van Dawid; uit sy geslag is Ek gebore.Ek is SOOS die helder ster wat die nuwe dag aankondig."
Jesus is dus NIE die helder ster nie maar is SOOS 'n helder ster.
Soos Jeremiah 10:24 vir ons lees: Ek weet o Here, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie, nie aan 'n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
So laat God jou voetstappe rig en die standaarde stel. Lees wat hy in sy woord aan ons rig in die volgende skrifture:
Levitikus 18:22
1 Timoteus 1:10
Jakobus 1:14
Romeine 1:26,27
Kolossense 3:5
Wat God verwag is al wat tel, nie die mens nie. Net God kan vir ons die ewige lewe gee, niemand anders nie.
Met groot respek gesê.
As ’n gay dominee met sy mater trou, wie is dan die pastoriemoeder? Lidmate skrik wakker! Moenie laat ’n sinode vir julle besluit wat is reg of verkeerd nie. Jy sal al die REGTE antwoorde in die Bybel vind en NIE in die Bybel wat die NG Kerk verander soos dit hulle pas nie!
Johan,
Uit water vertaling het jy Gen 1:27 gelees?
Wat verstommend is, is dat alhoewel die Bybel heel duidelik is dat die beoefening van homoseksualiteit verkeerd is dat jy mense kry wat goed sê soos dit is oukei volgens die Bybel. Hulle sal iets sê in die lyn van “God is liefde” of “Jy mag nie oordeel nie” en dan dink hulle logies beteken dit dat die sonde wat die Bybel heel duidelik verbied sommer nou ok is.
As mense nie stem met wat in die Bybel staan nie, hoekom is hulle dan nog Christene? Kry dan iets ander om in te glo.
Wanneer mense hulle homoseksualiteit probeer regverdig deur te sê dat God dit goedkeur dan moet hulle maar die bybel weggooi. Dit is 'n gruwel in God se oë. Die valse leraars sal die grimmigheid van God ervaar net soos elke sondaar. Ek is nie heilig of sonder sonde nie, maar die skrif is duidelik oor hiedie saak. Almal wat dit goedkeur is ook skuldig.