Kerke dop die gaytoets

  • 32
Jean Oosthuizen

Jean Oosthuizen

Terwyl kerkleiers mekaar in die voortslepende gaydebat oor en weer in die hare vlieg en met Bybeltekste dié kant toe of daardie kant toe probeer troef, word gay jongmense se hartseerverhale dikwels op die agtergrond geskuif.

Toe die NG Kerk se moderator, Nelus Niemandt, nou die dag sê die kerk moet sy standpunt oor gayverhoudings drasties verander en gay paartjies toelaat om te trou, was die vet in die vuur. Hy is gou deur kollegas en senior kerkleiers oor die vingers getik.

Hulle het hom erg verkwalik omdat hy sy persoonlike standpunt oor hierdie "sensitiewe" saak in die media bekendmaak en nie via die "kerklike kanale" nie. Die vernederende en onsensitiewe wyse waarop baie van hulle self teenoor die gaygemeenskap optree, pla hulle skynbaar nie.

Lees ook oor homoseksualiteit en die Bybel in dié LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel: Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?

Die warm en onsmaaklike debatte hieroor in die media bevestig dat kerklike kanale nie daarin slaag om sinvolle antwoorde te verskaf nie. Geen noemenswaardige bydrae is die afgelope aantal jare deur Afrikaanse kerke gelewer om gay mense se menswaardigheid regtig ten volle te erken nie. Sommige kerkleiers kom nog selfs in die jaar 2015 met die verstommendste argumente vorendag waarom daar teen gays gediskrimineer moet word.

Selfs gay ouerpare se kinders moet volgens hulle by die doop uitgesluit word. Dit alles in weerwil van die kerk se besluit dat gay lidmate volwaardige lidmate van die kerk is. “Daarom doop ons ook nie gay pare se babas nie, tensy dit geskied met 'n erkenning dat sodanige kind buite die huwelik verwek is en dat dit strydig met die Bybelse voorskrifte vir ouerskap is,” verklaar een van die NG Kerk se leiersfigure op Facebook.

En soos dikwels in die kerk word gays by implikasie met “deernis” warmplek toe gestuur. “God het almal ewe lief, dit is mos nie onder dispuut nie! En tog red hy sommige en ander nie,” verduidelik een van die heel senior dominees in die kerk sy antigay standpunt op Facebook.

En diegene in die kerk wat so ’n paar jaar gelede ’n hofsaak verloor het omdat hulle ’n gay orrelis, Johan Strydom, onregmatig afgedank het omdat hy gay is, sing natuurlik luidkeels saam in die homofobiese koor.

Dit alles te midde van die NG Kerk se seisoen van menswaardigheid.

Dit help nie meer om Bybeltekste los en vas rond te gooi om die gaydebat te probeer wen nie. Dit oortuig niemand meer nie. Die kerklike kanale waar sommige kerkleiers graag die saak volgens hulle eie vooroordele wil bewimpel, het die land se gaygemeenskap tot dusver jammerlik gefaal. My voorspelling is dat dit nie veel anders sal wees wanneer die NG Kerk se algemene sinode in Oktober weer daaroor moet besluit nie.

Wêreldwyd is dit howe soos ons eie grondwetlike hof en onlangs weer in Amerika wat die pas aangee en vir die kerke wys hoe deernis regtig lyk. Kerklike uitsprake is dikwels niks anders as homofobie met ’n toga nie.

Skrywers, digters en sangers slaag baie beter as die kerk daarin om homofobiese vooroordele te ontmasker en mense anders te laat dink.

uit’n Onlangse voorbeeld is Fanie Viljoen se jeugroman Uit wat deur LAPA uitgegee is. Uit gaan oor ’n hoërskoolrugbyspeler met ’n meisie en ’n groot geheim. Die seun besef hy is gay, maar weet nie hoe hy dit moet sê nie.

Brent is in graad 10. Hy's gewild. Hy speel rugby. Hy het soort van 'n meisie. En hy is gay. Nog nooit tevore is daar so openlik, eerlik, sensitief en op die man af in 'n Afrikaanse tienerboek geskryf oor 'n seun se stryd om vrede te maak met sy homoseksualiteit nie, het een van die resensente opgemerk.

Dit is lankal nie meer die Bybelboelies of die kerk se vroom ooms wat gay jongmense met uitgediende kerktaal en teksversies boelie wat ’n sinvolle bydrae tot die gesprek lewer nie. Dit is mense soos Fanie Viljoen en ander wat ’n spieël van die regte lewe vir mense wys wat gay jongmense help om hulle selfrespek en menswaardigheid te behou.

Selfs die nuwe HAT verwys in ’n positiewe sin na gays en gayhuwelike.

gay (uitspr. ghei) (uit Engels)

◙ s.nw. [~s]

veral ’n manlike persoon, maar soms ook ’n vrou, met ’n homoseksuele oriëntasie; homoseksueel: Die appèlhof het verklaar dat huwelike tussen gays gewettig moet word.

◙ b.nw., bw. [~]

gekenmerk deur seksuele aangetrokkenheid tot persone van dieselfde geslag: Verskeie historiese figure was vermoedelik gay. • Sy gee nie om of haar kinders gay of straight is nie, solank hulle net gesond en gelukkig is.

Fanie sê ’n onderwyseres het hom vroeër vanjaar vertel dat sy sy boek vir een gay outjie by die skool gegee het om te lees. Dit word nou van een gay ou en meisie na die volgende aangegee. Hy vertel hoe een van die seuns op 'n dag na die onderwyseres in die biblioteek gegaan het en gesê het hy wil haar asseblief net iets vertel. Hy kan dit vir niemand anders vertel nie, nie eens sy ouers nie, maar iemand moet dit weet. Hy vertel haar toe hy is gay. Later het hy tog vir sy ma vertel, maar sy maak glo asof die gesprek nooit plaasgevind het nie, sê Fanie.

Dit is maar een van talle hartseer stories onder jongmense wat gay is.

Desmond Tutu het lankal reeds gesê net omdat iets in die Bybel staan is dit nie noodwendig waar nie. Wel, dis tyd dat die kerk vir sy lidmate sê alles wat in die Bybel staan is ook nie moreel regverdigbaar nie. Dit help nie meer om die gaydebat met Bybelversies te probeer wen deur die homofobiese teksverse daaroor met ander versies te probeer troef nie. Dit gaan niemand oortuig nie, want wat in die Bybel geskryf is, staan daar geskryf.

Die kerk moet liewer reguit vir sy lidmate sê die Bybel is 'n versameling antieke boeke met goeie én slegte raad wat deur mense geskryf is. Dit is nié onfeilbaar nie. Dit is nié God se woorde in mensetaal nie, want wat beteken dit nou eintlik as die Bybel homself op talle plekke weerspreek? Dit is hoe mense in hulle tyd oor God gedink het. Vandag dink ons oor die huwelik en verskeie ander sake nie meer soos wat die mense in antieke tye gedink het nie. Ons dink ook nie dis cool dat een of ander god mense opdrag gegee het om vroue en kinders dood te maak nie.

Solank mense dit nie verstaan nie, sal hulle die Bybel aanhou misbruik om ander mense se menswaardigheid aan te tas.

Diegene wat die Bybel wil gebruik om klippe mee te gooi, sal wys wees as hulle liewer die hele Bybel deeglik lees en nie net selektiewe dele wat hulle pas nie. Mense haal graag gou net enkele verse uit Levitikus aan, maar vergeet maklik wat staan daar alles in die Bybel geskryf. Wie van hulle eet nie skulpvis, het nog nooit geld teen rente van iemand geleen of aan hulle uitgeleen of dra nie klere van verskillende weefstowwe nie?

Selfs die mees homofobiese mense in die kerk gooi nie meer homoseksuele mense met klippe in die stadspoort dood soos wat die Bybel beveel nie. Meisies wat met hulle troudag nie meer maagde is nie, word ook nie met klippe doodgegooi soos wat die Bybel sê moet gebeur nie.

Tog vind baie mense in die kerk dit steeds in orde om mense spreekwoordelik met Bybelversies dood te gooi.

As alles wat in die Bybel staan, waar is, dan het God volksmoord ook geïnspireer. Dan moet mense ook nie 'n vinger wys na Moslem-ekstremiste nie, want die Bybel self is propvol onaanvaarbare opdragte. “Ek het gehoor die Here sê vir die ander manne: ‘Gaan agter hom aan deur die stad en slaan dood! Moenie verskoon nie, moenie jammer kry nie! Maak dood en roei uit die oumense, die jongmanne en jong vroue, die kinders en vrouens; moet net nie raak aan dié wat die merk het nie’” (Esegiël 9:5 en 6).

Is dit hoe mense vandag nog die Bybelse opdragte wil verstaan en uitvoer?

 

Lees ook oor homoseksualiteit en die Bybel in dié LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel: Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?

  • 32

Kommentaar

    • Jean Oosthuizen

      Johannes die skulpvis-argument soos wat jy dit noem is maar net een van talle voorbeelde. Vir verdere inligting raai ek jou aan om die akademiese artikel daaroor op LitNet saam te lees. Die skakel daarheen verskyn ook in die artikel hier bo. Jy is welkom om op daardie artikel kommentaar te lewer en die kwessies wat daar geopper word te beredeneer.
      Hier is 'n kort aanhaling daaruit:
      In die praktyk gaan gelowiges met bogenoemde voorskrifte op een van drie wyses om. Van hierdie voorskrifte word as bindend aanvaar (bv Lev 18:22 en 20:13), sommiges word geïgnoreer (bv Eks 21:15, 17), en ander word eenkant toe geskuif terwyl reglynig teenoorstaande voorskrifte gehandhaaf word (bv die tekste oor poligamie). Is dit ’n verantwoordelike en eerlike Skrifhantering om sekere tekste as bindend te beskou en ander doodeenvoudig te ignoreer – veral as daar aangevoer word dat die hele Bybel (elke vers) deur God geïnspireer is en daarom ernstig opgeneem moet word? Indien die oortuiging is dat die Skrif op hierdie wyse hanteer kan word – wat neerkom op ’n eklektiese gebruik van tekste – op watter gronde word dit gedoen? Watter hermeneutiek word ingespan? Kom hierdie hantering van die Skrif nie neer op die beginsel van ’n “kanon in die kanon” (eensydige uitkiesende gebruik van tekste) nie? Wie besluit op grond van watter verstaansleutel watter tekste nog geldig vir vandag is en watter nie meer is nie?

      • Die antwoord in kort op hierdie kunsmatige probleemstelling is as volg : Christene lees die Bybel van agter af dws vanuit die hoogtepunt van die openbaring naamlik Jesus Christus se Persoon en werk. (vgl Hebr 1:1) Om dit prakties te stel, as ek bv in die OT lees oor die besnydenis of diere-offers, dan gryp ek nie na die eerste naaste mes nie, maar ek verstaan hoedat die rykdom in Jesus vervul is deur sy offer aan die kruis. Dieselfde geld vir etiese eise. Ek beoordeel dit in terme van die Nuwe Testamentiese etiek wat nie meer die eet van varkvleis verbied nie, maar wel duidelike uitsprake oor huwelik, homoseksualiteit ens maak. Ons besluit dus nie sommer lukraak oor wat geld en wat nie, maar werk volgens 'n duidelike Bybelse teologiese hermeneutiese beginsel. 'n Baie duidelike en verantwoordbare nugtere beskrywing hiervan vind mens in Graeme Goldsworthy se "According to Plan".

        • Jean Oosthuizen

          Jesus het geen uitspraak gemaak oor homoseksualiteit nie en ons weet darem ook al teen die tyd dat die huwelike van die Bybelse tyd soos oos en wes verskil met dit wat ons vandag as 'n huwelik beskou.

        • Schalk van Wyk

          Niemand weet werklik wat Jesus in elk geval sou gesê het nie. Baie daarvan is aan hom toegedig wat hulle blatant oorgekopieer het uit sogenaamde "pagan" gelowe. Nietemin word aanvaar dat liefde, vergifnis en deernis met die armes deel van die kernboodskap is. Natuurlik strook dit weereens nie met sy uitspraak nie dat hy gekom het om die Wet (OT) te volbring.

  • Ek sien duidelik dat beide christene en gays verstaan nie regtig die argument nie. Almal gooi klippe en redeneer, maar niemand verstaan regtig waaroor hulle klippe gooi nie. Christene voel hulle word aangeval en voel hulle moet verdedig en gays voel weer hulle word verder op getrap en verneder soos dit reeds lankal gedoen word. So, hier is my 10c oor die kwessie. Die heteroseksuele huwelik is vir christene 'n geweldige belangrike simbool. Toe Jesus op aarde was het HY gesê hy kom haal sy BRUID! Dit is DIE simbool waarmee Jesus sy verhouding met die kerk beskryf het. Vir my as christen gaan dit inderdaad amper nie eers oor gays of nie gays nie. Dit gaan oor iets waarmee ek my geloof demonstreer en illustreer. Dit gaan oor 'n simbool wat vir my NB is. Soos die vlag of volkslied vir enige land NB is, so is die heteroseksuele huwelik NB vir my vir wat dit vir my as christen verteenwoordig. Soos 'n nuwe regime die simbole van 'n land (vlag en volkslied) verander as hulle dit oorneem, so glo ek, die Duiwel wil graag hierdie simbool van christene vernietig. Ek verstaan nie lekker hoekom dit "noble" en waardig is vir Moslems of Hindus of wie ook al as hulle geloofsimbole wil beskerm nie, maar sodra christene dit wil doen, dan is dit homofobies. Dit gaan natuurlik HOE christene dit doen. Gays is en moet ALTYD welkom wees in enige christenkerk. Dis bitter jammer dat dit dikwels juis christene is wat gays verneder of afkraak. Dit mag nie gebeur nie. Gays ervaar genoeg verwerping in die "wêreld". Hulle moet JUIS 'n tuiste in die kerk vind. MAAR van gays wil ek vra, he groot asseblief begrip, dat die heteroseksuele huwelik vir ons as christene geweldige waarde het. Dis vir ons belangrik. Dis 'n simbool, dit verduidelik ons verhouding met die God wat vir ons lief is en vir wie ons lief is.

    • "Beide Christene en gays"? Is die konsep van gay christene vir jou so ondenkbaar dat jy hulle in jou argument as twee partye in opposisie sien? Dit gaan hier on christenmense wat gay is wat soos enige ander lidmaat van die kerk behandel wil word. Glo vir my, die gay mense wat nie Christene is nie, het regtig nie 'n saak of hulle die toestemming of goedkeuring van die kerk geniet nie. En verduidelik asseblief vir my hoe die heteroseksuele huwelik bedreig word. Heteroseksuele mense het nog al die tyd die toestemming en goedkeuring om links en regs te trou, kinders te hê en te skei. Daardie regte is hoegenaamd nie onder bedreiging nie.

  • Ek is glad nie verbaas dat die NG kerk al meer lidmate verloor nie. In die verlede het die NG kerk apartheid uit die Bybel uit ondersteun en na 1994 het hulle verskoning gevra en uit dieselfde Bybel uit apartheid veroordeel ... hulle propageer liefde en naasteliefde solank hulle naaste net nie gay is nie ... dan word die oordeel gevel en word hulle voorwaardes gestel voor hulle as volwaardige lidmate aanvaar word. Heteroseksuele mense wat baie erger dinge doen soos owerspel pleeg word oorgesien ... as die NG kerk vir my kan oortuig dat 'n monogame verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag Bybels verkeerd is, sal ek dit waardeer.

    • hendrik de waal

      Die Bybel hanteer slegs een huwelik naamlik die huwelik tussen een man en een vrou. Punt.

    • hendrik de waal

      APARTHEID: Wat is Bybels die waarheid: vandag se "Alle rasse is gelyk" (nie-rassisme) of "Alle rasse is gelyk, maar alle rasse is nie dieselfde nie" (Apartheid)? Die mensdom is nie een ras nie! Elke ras op aarde verskil biologies van mekaar. "Alle rasse is gelyk" het foutiewelik "Alle rasse is gelyk, maar alle rasse is nie dieselfde nie" vervang. Alle rasse hoort dus nie bymekaar nie. Vra maar vir die natuurverskynsel van natuurlike seleksie waar die leeu en die lam nie saam lê nie.

      • Jy sê: "Alle rasse hoort dus nie bymekaar nie". Rasse dwarsdeur die wêreld is vinnig besig om oor 'n groot deel van die aardbol verstrengel te raak. Daar is geen manier, SA inkluis, dat dit ooit omkeerbaar gemaak sal kan word nie.
        Die Bybel sê alle mense (alle rasse) is van Adam en Eva afkomstig. Indien nie, Adam en Eva nie, wie was dan elke afsonderlike ras se eerste ouers?

  • Om iets te wettig is beslis nie om dit goed te keur nie. Dit mag dalk wettig wees vir ons gay mense om in die huwelik te tree, maar niemand verseker jou in dieselfde asem van die vryheid om jouself te wees in die openbaar nie. Ja, daar is inderdaad n handjie vol skrywers wat die weg probeer baan. Ek het self 'n roman gepubliseer, maar daar was maar nog weinig mense wat gewoond is aan die kollig, soos sangers en akteurs, wat die moed gehad het om dieselfde te doen.

    • Jean Oosthuizen

      Johan ek is bewus van die goeie werk wat Marietjie in die verband doen. Dit is inderdaad goeie raad om haar self te vra. Ek het dit ook al meermale gedoen en onlangs daaroor in Rapport berig. Dit is wat sy gesê het toe ek met haar gesels het:
      "Volgens Van Loggerenberg het die NG Kerk sedert 1986 verskeie progressiewe stappe geneem om gay lidmate welkom te laat voel. Sy sê hulle word egter steeds as tweedeklas-lidmate behandel omdat hulle nie soos heteroseksuele paartjies toegelaat word om permanente verbintenisse aan te gaan nie.
      “By elke sinode ná 1986 sê die NG Kerk aan sy gay lidmate jammer vir die seer en pyn wat hulle aangedoen word, maar die verskonings is sonder enige konteks.
      “Baie gays en hul ouers leef steeds met vrees en verwerping.
      “Hulle word met die hel bang gemaak of word nie as volwaardige lidmate in die kerk aanvaar nie.”

  • Sanchen Lambrecht

    Lees asb Joe Dallas se boeke vir 'n gebalanseerde insig. Die eerste boek om te koop is Desires in conflict.
    Groete

  • Baie dankie vir 'n sinvolle artikel, Jean. Ek, as heteroseksuele vrou, omarm ek my gay vriende met liefde en deernis. Ek staan verstom oor die venyn van Bybelboelies en versiegooiers, die veroordelende "christene". Dis eintlik hartseer, skreiend.

  • Kobus de Klerk

    Veel, veel eerder die sogenaamde 'gaytoets' dop as God se toets vir gehoorsaamheid.
    Al die kunsmatige argumente om iets te probeer goedpraat wat deur God as 'n gruwel, 'n abominasie, beskou en beskryf word, doen aan die feit van God se afkeur daaraan, absoluut geen afbreuk nie. Die mens het nie die reg of bevoegdheid om homself (met sy sogenaamde menseregte en al) bo die Wil van God te stel nie. God se Wil is nie deur menslike weerstand daarteen, veranderbaar nie. Om so iets te doen, onder watter voorwendsel of verskoning ook al, is rebellie teen die Wil van God. God het ook nie nodig om aan die mens of enigiemand te verduidelik waarom homoseksualisme vir Hom 'n abominasie is nie - HY is na alles God en HY trek die streep.
    Die kunsmatige interpretasies en gekerm oor die rondvallery van die kerke is totaal nutteloos. Die saak is eenvoudig. God is lief vir ons almal, maar nie vir die mens se abominasie nie. God verwag dat die mens sal afsien daarvan.
    Homoseksualisme is so 'n abominasie vir God. So ook losbandige heteroseksuele seks en dies meer. Dit help nie om homoseksualisme uit te sonder maar die ander te verswyg nie. Almal word oor dieselfde kam geskeer. Die een is nie beter of slegter as die ander nie.
    Waar Oosthuizen beweer dat Jesus Hom nie oor homoseksualisme (die ou gruwelpraktyk wat hedendaags onder daardie titel geken word) uitgelaat het nie, is dit nie die Waarheid nie. Jesus Christus die HERE het Homself (indirek) daaroor uitgelaat, want HY het dit duidelik gemaak dat HY al daardie Goddelike wette (ook soos in die Mosaïese wette vervat) bevestig en dat niemand dit moet probeer wegmaak, afmaak of afwater nie (Mattheus 5:17-19) en dit sluit inderdaad ook die Levitiese wette oor die praktyk van homoseksualisme in, asook die uitsprake van die profete daarteen net soos met al die ander gruwels. Diegene wat dit dus probeer weg 'interpreteer' met allerlei kunsmatige en vergesogte interpretasies onder die voorwendsel van moderne interpretasie probeer goed praat of wegredeneer, is juis self aan die verbod/waarskuwing van die HERE in Mattheus 5:19.
    Niemand het egter die reg om 'n ander weens sy sonde (of dit nou homoseksualisme of 'n ander is), toegang tot die bediening van God's Woord te belet of te ontsê nie, en daarom mag homoseksuele mense nie toegang tot die kerk verbied word nie, maar eerder ontvang word in liefde as mede-sondaar met die oogmerk om almal, in die Krag en Liefde van die HERE, van hul sondelas ontslae te raak - die homoseksueel van syne en die ander van eie. Dit is die doel van die Kerk. Nie om God's Woord te probeer verdraai totdat dit 'pas' nie, want dit vervreem en verwar mense en verdryf hulle, maar om die lewensuitkyk en -wyse aan te pas om by God's Woord te pas, want uiteindelik is dit waar mense Spiritueel ook veilig is en voel.
    Kobus de Klerk

  • As God en die Bybel nie meer relevant of modern genoeg is vir vandag se mense nie, wat is volgende in die wêreldlinge se visier?

  • Jean Oosthuizen

    In die gesprek oor homoseksualiteit is hier interessante kommentaar gelewer. Mens raak soms moeg vir die gesprek maar dit is goed om te sien hoe die gety tog stadig maar seker besig is om in die rigting van groter verdraagsaamheid draai.
    Tien jaar gelede sou dit ondenkbaar wees vir ʼn NG Kerk se moderator om te sê gay mense moet toegelaat word om te trou. Vandag is dit heel normaal.
    Daar is duidelik twee uiteenlopende standpunte wat in baie gevalle onversoenbaar is. Ernstige deelnemers aan die gesprek sal hulle self ʼn guns doen as hulle ook die skakel lees waarna daar in die artikel hierbo verwys word.
    Verskeie kerke wêreldwyd erken reeds permanente verhoudings tussen mense van dieselfde geslag en dit is net ʼn kwessie van tyd voordat dit in ander kerke ook erken sal word net soos die reg van vroue deesdae (met uitsonderings) feitlik algemeen erken word om predikante te word.
    Wat die NG Kerk betref is daar reeds besluit homoseksuele mense is volwaardige lidmate van die kerk. Die teenstrydigheid in die kerk se eie besluit is dat dit nie in die praktyk die geval is nie omdat permanente verbintenisse tussen mense van die selfde geslag (nog) nie erken word nie.
    Die NG Kerk en baie ander kerke beskou ʼn homoseksuele oriëntasie lankal nie meer as sonde of ʼn gruwel voor God nie. Hulle moet net die volgende logiese stap neem en soos die moderator van die NG Kerk en talle ander teoloë ook gays se reg erken om permanente verhoudings te sluit.
    Hoewel daar geen sprake in die Bybel is van permanente verhoudings van liefde en trou tussen mense van dieselfde geslag nie word dit ook nêrens afgewys nie. Die Bybel swyg daaroor en Jesus het ook nie ʼn woord daaroor gerep nie. Ook nie oor evolusie, aardverwarming en baie ander sake nie. Maar dit is nie die punt nie. Die punt is dat daar talle en talle verse in die Bybel is wat nie meer vandag van toepassing is nie. Mens moet regtig blind wees om dit nie raak te lees in die Bybel nie.
    Uiteindelik sal dit maar met die gaykwessie gaan soos met diskriminasie teen vroue en mense van kleur. Die kerk sal sulke diskriminasie ook as verkeerd uitwys namate die samelewing normaliseer en dit aanvaar. Die emosies in die gesprek sal op die lange duur nie die veranderende gety keer nie. Hoewel homofobe, rassiste en seksiste nog lank met ons sal wees sal die gematigde deel van die samelewing hulle al hoe minder daaraan steur. Die howe sal diegene teen wie daar gediskrimineer word eenvoudig beskerm in die gevalle waar die kerke nie daarin slaag nie.
    Mens kan maar net die kop skud by die lees van sommige kommentaar hieroor op sosiale media maar mens moet dit nie te ernstig opneem nie. Die onkunde van sommige deelnemers spreek vanself. Mens kan maar net sê Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle sê nie. Dit maak egter geen verskil aan die feit dat die breë samelewing lankal besig is om met sagter oë daarna te kyk. Selfs die ouer geslag is nie meer so begaan daaroor nie en vir die meeste jongmense is dit glad nie meer ʼn issue of iemand gay of straight is nie. Dus kan homofobiese mense maar raas en blaas soos hulle wil, die karavaan gaan voort. Net soos heteroseksualiteit is homoseksualiteit nie aansteeklik nie. Niemand word daardeur bedreig nie.
    Die grootste uitdaging is dalk nie om die onversoenbares anders te probeer oortuig nie maar om ruimte te skep vir mense om self te besluit. En veral om op te hou met die persoonlike aanvalle op mense van wie jy verskil.

  • Louis Oosthuizen

    Die artikel lewer niks nuut nie. Hy gooi dieselfde argumente oor die Ou Testament en Jean verstaan glad nie hoekom dit gedoen is en die redes daaragter nie, en die feit dat hy dit self gestop en al die pyn op sy seun uitgestort het.
    Ek is verdraagsaam teenoor gay mense, maar dit beteken nie dat ek met als gaan saamstem nie.
    Die skrywer het die kat aan die stert beet. Die feit dat ek nie met gay mense saamstem nie maak my nie n "homophobe" nie, maar wat kan mens sê van liberale mense wat argumenteer? ’n Kapitalis kan ’n kommunis verdra en oor die weg kom omdat hulle mekaar se standpunt in ag neem maar nie bevorder nie, hence is hulle "tolerant." Die nuwe tipe "tolerance" gaan net oor een standpunt en as dit nie gevolg word nie dan moet jy uit, praat van "intolerant"?!

  • Ek is 'n mens wat in hedendaagse terme beskryf en ge-label kan word as 'n gay man. Die konteks, kultuur, en samelewing waarin ek grootgeword het se boodskap aan my was dat om te voel wat ek voel verkeerd en 'n sonde is wat in die hel gaan opeindig.
    Ek was vrek benoud. Ek het dit probeer verstaan deur te dink dit moet seker die doring in my vlees wees waarvan Paulus praat. Ten minste kon ek dit wat ek voel so verklaar.
    Ek het begin bid dat God asseblief hierdie lydensbeker by my moet laat verbygaan. Ek was in die gewoonte om my gebede neer te skryf en kry ek vandag nostalgiese heimwee wanneer ek weer deur my gebede lees.
    Ek is vele aande bed toe met baie skuldgevoelens. Ek het verstaan dit is seker hoe God my op my knieë wil hou.
    Ek het later, omrede die gevoel nie weggegaan het nie begin dink dat daar met my fout is. Ek het toe begin om my seksualiteit te onderdruk, weg te bêre, te maak of dit nie bestaan nie. Ek is deur my tienerjare, twintigerjare, vroeë dertigerjare sonder om iemand te soen, te bevat, te druk en of mee seks te hê.
    Ek kon later nie meer nie, en ek het verstaan, deur selfkennis, opleeswerk, selfaanvaarding dat wat ek voel dalk 'ok' is en deel is van my fisiologiese samestel.
    Die geheim van baie jare het begin woel in my. Dit was te swaar. Ek wou nie meer daaraan dra nie. Iets diep binne my wou vry wees, wou lag, wou wees.
    Ek is uit die kas op 35. 'n Nuwe lewe het begin. Ek kon weer asemhaal. Ek was ok.
    My Godsverstaan het my ook nou ingesluit. Ek was meer sensitief vir ander. Ek het meer empatie begin toon vir ander wat anders as ek is. Ons gesin het die nuwe openbarings aangegryp deur te groei. Ons harte is groter en oper.
    Ek was vry.
    Vandag beywer ek my om die euwel van homofobie te beperk en waar moontlik te bekamp sodat die seuns en dogters wat vandag gay gebore word sal grootword in gesinne, families, kontekste en in die 'n samelewing waarin hulle "is" en "wees" 'confirm' kan word, gerespekteer kan word en hulle met dieselfde regte en voorregte as enige ander kind kan groei en die samelewing met hulle gawes kan dien.
    Ek is vandag 46 jaar oud. Ek is n proponent in die NG Kerk. Ek mag nie preek nie want ek wil nie aan die voorwaarde wat die kerk aan my stel voldoen nie.
    Ek het ’n Meestersgraad in Kliniese Pastorale Terapie en ek help vandag enige persoon wat hulp nodig het om ten volle hulle eie menswees te kan wees. Die mense kan gelowiges, anders-gelowig en of nie-gelowig wees. Almal is welkom sonder enige diskriminasie.
    Enige kinders en jong volwassenes in die LGBTI gemeenskap tot en met die ouderdom van 21 bied ek gratis konsultasie, advies en terapie. Indien hulle ver is gebruik on Skype of epos. Indien ek hulle nie kan sien nie verwys ek hulle na veilige indiwidue wat kan help.
    Ek help ook graag enige persoon van enige ouderdom gratis wat homofobies is en daaroor wil kom. Ek lig ouers van gay kinders in en gee advies en hulp, ook gratis. Ek is bereid om gratis dominees en gemeentelede te help wat oor hul eie homofobie en vrese en wan-idees te kom.
    Ek verstaan wat dit beteken om te leef en te laat leef.
    Ek is vandag ’n gelukkig mens wat weet dat enige persoon wat ander uitsluit en veroordeel hulself van juwelende geluk beroof.
    ’n Laaste woord. Jean Oosthuizen, jy is ’n hedendaagse profeet. Dankie vir wat jy doen om mense te help om hul eie en die vooroordele van ander krities in aanskou te neem.

  • Jacob Badenhorst

    Toe ek 'n vorige keer gesê het dat die "nuwe teologie" doodgewoon ONGELOOF is, het Jean gesê ek moenie so "aggressief" wees wees nie. In hierdie artikel kom hyself uit die ongeloofkas om te sê dat die Bybel 'n doodgewoon menslike boek is sonder enige goddelike inspirasie. Wat ek nie verstaan nie, is waarom hy nog steeds allerhande vertoë het van wat die Bybel sou goedkeur of nie goedkeur nie. Dus, wanneer die kerk afgekraak word - soos hy dit doen - is dit geen wonder nie ... en na hierdie opmerking gaan ek dus ook nie verder aan die sinnelose debat deelneem nie.

  • Christo Cilliers

    Dankie vir die artikel, en dit wat jy daarin skryf. Ek weet van duisende gay mense wat weg is uit die kerk omdat hul nie welkom voel in die kerk nie. Gelukkig is meeste gay mense wat ek ken nogal slim. Hul het hul eie verhouding met God en weet dat Hy hulle volmaak geskape het - daarom het ek en baie ander gays nie die kerk of enigiemand se goedkeuring nodig nie. God het ons baie lief en het ook vir ons gesterf. Ons leef ook vir God, en het seks met iemand van dieselfde geslag. Ek glo God het my gay gemaak met 'n rede - wat dit ook al mag wees. En wat die kerk ook al sê of doen maak regtig niks verskil aan my nie 🙂

  • Ons is in 2015, ek kan nie glo dat ons as mens nog so oud Suid-Afrikaans kan aangaan nie ... Jinne mense, julle is darem maar moeilik ... Wat pla dit julle bybelboelie-gemeenskap as ander gelukkig is? Hoe gaan julle as ouers voel as ons dieselfde wette gehad het as in die middel ooste waar die kinders so jonk soos 14 gehang word omdat hulle gay is ... http://www.queerty.com/14-year-old-hanged-from-tree-for-being-gay-at-iranian-boys-summer-camp-20150717
    Rêrig ek dink dit is tyd om groter vure te probeer doodslaan as wat ander mense se gelukkigheid die bybelboelies affekteer ...

  • Ek is baie lief vir die Here, ek as gay vrou. Maak my bitter ongelukkig as mense my wil oordeel of "reg" bid. Jesus het aan die kruis gesterf vir almal se sondes. God is liefde. Liefde is alles.

  • Ek neem nie graag aan die tipe gesprek deel nie want die volgende is 'n aanhaling uit een van Esegiël se baie visioene:
    . “Ek het gehoor die Here sê vir die ander manne: ‘Gaan agter hom aan deur die stad en slaan dood! Moenie verskoon nie, moenie jammer kry nie! Maak dood en roei uit die oumense, die jongmanne en jong vroue, die kinders en vrouens; moet net nie raak aan dié wat die merk het nie’” (Esegiël 9:5 en 6).
    As alles wat in die Bybel staan waar is, dan het God volksmoord ook geïnspireer. Dan moet mense ook nie 'n vinger wys na Moslem-ekstremiste nie, want die Bybel self is propvol onaanvaarbare opdragte.
    Is dit hoe mense vandag nog die Bybelse opdragte wil verstaan en uitvoer?
    Esegiël is in ballingskap en keer eers later terug na sy tuisland. Hy sien dus in sy geestesoog wat met die ontroue volk wat hul rug op die Here gedraai het gaan gebeur.
    Sy visioene het later werklikheid geword. Israel is inderdaad verwoes en oor die
    aarde versprei. Beteken dit nou dat Christene nou soos Isis gays se hande en voete moet vasbind en kop eerste van geboue moet afgooi?
    Natuurlik nie. Esegiël spel dit duidelik uit 'n lewenspad sonder God gepaard met 'n onnatuurlike lewenswyse, ongeag van jou seksuele voorkeure, is 'n pad van selfvernietiging.
    In Johannes 8 lees 'n mens:
    3
    Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan.
    4
    Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het.
    5
    Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”
    6
    Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe.
    7
    Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi.”
    8
    Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe.
    9
    Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense.
    10
    Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
    11 “Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

  • Dit maak my so hartseer dat die veroordelende Christene hulself sien as iemand wat God ken. God is 'n God van liefde bo alles en God sal nooit verwag dat mens in 'n onatuurlike verhouding of alleen deur die wereld moet stap nie. Dat kinders en 'n gesin nie vir mens as 'n gay mens beskore mag wees nie. Die God van liefde wat ek ken sal nie verwag om in 'n verhouding met 'n man te wees, en mens se hele lewe onatuurlik en ongelukkig te voel nie, ook nie om dit op te offer nie. God sal nie die lewe wat Hy vir jou gee so vir jou gee nie. God gee jou nie 'n lewe en offer sy Seun om vir jou sondes te sterf en dan te verwag dat jy jou geluk en lewe wat Hy in liefde aan jou skenk so te lewe sonder liefde nie. Christene se veroordelende manier hou baie mense uit kerke uit, nie net Gay mense nie. God vra van jou om in Hom te glo en dankbaar te wees dat Hy Sy eie seun vir jou sondes geoffer en om lief te he want bo alles is God 'n God van liefde en Hy vra jou om eerste lief te he. Hoe sal Hy vra dat jy liefde moet opoffer vir die res van jou lewe. God vra van ons om nie te veroordeel en besluit wat volgens ons menslike denke ons toe laat om ander te veroordeel nie. Dus werklik hartseer dat Christine vergeet waaroor God gaan of vergeet dat God vra wees lief bo alles. Ek hoop werklik kerke in SA kom tot hul sinne soos baie kerke in Amerika, in die wereld en ook SA. Ek bid dat God hul sal help om ryker gelowig te wees en vergifnis vra vir wat hul doen aan kinders, gesinne wat hul uitmekaar dryf wat nie in die naam van liefde is nie. Ek het jare van my lewe opgeoffer en kon aan niemand erken wat ek is en wat natuurlik voel nie. Ek het vir jare geglo God verwag van my om net saam niemand te wees nie ek kon nie dit met my familie deel nie want ek wou wat ek toe geglo het nie teleurstel. Ek het vir jare oorsee gegaan om ek nie geweet het om dit te hanteer nie, maar God het die antwoorde aan my na jare van hell en soem vir antwoorde in Israel gegee. Sy boodskap was duidekik, dat Hy my 'n lewe gegee het nes Hy my geskape het en Hy verwag van my om die beste lewe met Hom in my te lewe. Level 4 mense glo hul mag net genoeg lewe in God se veroordelende reels. Sit liefde eerste en die prentjie lyk heeltemal anders as mens net liefde toe pas bo alles het mens nie eers die 10 gebooie nodig nie want uit liefde sal mens niks doen wat vasgevang is in die gebooie nie. Veroordelende Christene het my laat glo ek is sleg en ek verdien nie liefde soos ander nie. Christene het my uit Sy kerk gehou van tienderjare 'n 7 jaar pad van met ouens uit te gaan, ontuurlik en vuil gevoel het as 'n man my wou soen of sy hand moes vashou en baie trane saggies in die donker alleen. Dit het gevoel my God het my verlaat of ek was nie deur Hom gebore. Dus wat Christene verwag nie God nie. Ek bid uit die diepste van my hart dat God liefde na julle terug bring, want jul is arm in Sy liefde. As mens nie saamstem moet jy nog steeds lief he, vergewe en laat lewe, maar dit gaan my verstand te bowe dat Christene wat glo hul ken God nie God se liefde verstaan nie. Die ongelooflike God wat ek ken wat wil he jy moet jou lewe volheid lewe saam Hom, ken hul nie en dus hartseer dat van hul die kans gaan mis om God se lig en liefde te sien en die ware God van liefde werklik te leer ken.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top