Lees Bettina Wyngaard se vorige rubriek oor Charlize Theron se uitlatings hier.
Verlede week het onse Charlize eiehandig gesorg dat Afrikaanssprekendes van dwarsoor die politiese spektrum skielik ’n gemeenskaplike vyand ontdek het en saam kon laer trek vir ’n slag.
..........
Verlede week het onse Charlize eiehandig gesorg dat Afrikaanssprekendes van dwarsoor die politiese spektrum skielik ’n gemeenskaplike vyand ontdek het en saam kon laer trek vir ’n slag.
...........
Ek kon my nog altyd verstom vir die manier waarop Suid-Afrikaners blitsvinnig die humor in ’n situasie kan raaksien en maniere vind om die draak te steek. Maar ’n mens kan ook net soveel keer memes wat speel met “44”, sien voordat dit afgesaag raak. Ek het my versadigingspunt ná omtrent drie dae bereik, maar nog is het einde niet. Met memes kan ek nog saamleef, maar die ad hominem-aanvalle wat nou op die arme vrou geloods word, is een te veel.
Ons het tog almal vroeg al geleer om die bal en nie die persoon nie te speel. Charlize se opmerkings oor Afrikaans was ondeurdag, oningelig en onsensitief. Die meeste mense sal daarmee kan saamstem. Natuurlik is daar die kritici wat sê dat sy maar net probeer snaaks wees het, op ’n komedie-potgooi gepraat het en dus nie ernstig opgeneem moet word nie. Die implisiete, onderliggende stelling is dan dat Afrikaanssprekendes wat ontsteld is, nie ’n sin vir humor het nie en nie slim genoeg is om die konteks te verstaan nie.
Ek het die potgooi geluister. Charlize kan soort van snaaks wees, soos gesien kan word op die Saturday Night Live-sketse wat sy al gedoen het. Natuurlik werk sy dan met ’n teks wat vir haar geskryf is, en al wat sy moet doen is om te interpreteer en haar komiese tydsberekening regkry. Dis haar werk, en sy doen dit goed. Maar Charlize is nie ’n stand up comic wat uit die vuis kan grappe maak nie. Bitter min mense is. Haar drie gashere op die potgooi is glad nie in daardie klas nie. Niks omtrent daai potgooi was snaaks nie. Toegegee, ek verkies die droë humor van Britse komedie, maar goeie slapstick laat my lag.
Hulle het my nie laat lag nie.
Objektief gesproke was die potgooi nie snaaks nie, en ek het nie die energie of tyd om te mors om na hul ander potgooie te gaan luister om uit te vind of hulle dalk elders snaaks is nie. Selfs binne die konteks van die potgooi was haar kommentaar oor Afrikaans nie snaaks nie, dit was nie ingelig nie, en dit was nie *nod-nod wink-wink* ’n grappie wat die binnekring sal laat grinnik nie.
Haar stellings is aanvegbaar. Die mense is dus met reg vies vir haar, en sover dit my aangaan, moet sy haar pak vat met die memes.
Wat my ongemaklik maak, is die aanvalle en kommentaar gemik op haar intelligensie, die wyse waarop sy haar kinders grootmaak, die traumatiese gebeure van haar kinderjare, asook die bewerings dat sy haar pad na sukses oopgeslaap het. Al hierdie goed het niks te doen met haar kommentaar op die potgooi nie en sê eintlik veel meer oor die aanvallers se kleingeestigheid as iets anders.
..............
Wat my ongemaklik maak, is die aanvalle en kommentaar gemik op haar intelligensie, die wyse waarop sy haar kinders grootmaak, die traumatiese gebeure van haar kinderjare, asook die bewerings dat sy haar pad na sukses oopgeslaap het. Al hierdie goed het niks te doen met haar kommentaar op die potgooi nie en sê eintlik veel meer oor die aanvallers se kleingeestigheid as iets anders.
...............
Selfs ’n bekende uitgewery het hulself skuldig gemaak hieraan. Hulle het 44 boeke gekies om aan haar voor te hou, die meeste nogal spitsvondig. Maar om Die laksman se dogter in te sluit, maak my ongemaklik. Nie oor die boek self nie, ek dink dis ’n uitstekende boek. Ek is ongemaklik daarmee dat daar met soveel gemak victim blaming gedoen word, en almal gaan heerlik onnadenkend en onbevraagtekenend daarmee saam. Haar ma het haar pa gedood, ’n hof het bevind sy het in selfverdediging opgetree en sy is onskuldig bevind. Getuienis was dat die man ’n alkoholis was, sy vrou op gereelde basis aangerand het, en dat sy met reg vir haar lewe gevrees het. Watter skade doen dit aan ’n jong kind om te sien hoedat die twee mense vir wie sy die liefste in die wêreld is, die mense op wie sy aangewese is om haar te beskerm, mekaar vernietig? Maak nie saak hoeveel miljoene jy in die bank het nie, daai emosionele letsels bly. En om dan te sien hoedat die setel van trauma gebruik word om goedkoop politiese punte te probeer maak, steek my dwars in die krop. Charlize en haar ma was die slagoffers hier. Die feit dat ’n vrou in hierdie land waar geslagsgebaseerde geweld so ’n ernstige probleem is, geboelie kan word omdat sy en haar ma die slagoffers van huishoudelike geweld was, is siek. Dit wys net weer eens hoeveel werk daar nog gedoen moet word om te verseker dat slagoffers beskerm word en nie verder geviktimiseer word nie.
Oor die naweek, op die vooraand van die nasionale Trans Day of Remembrance in Amerika, is vyf persone in ’n gaynagklub in Colorado Springs gedood en nog 25 gewond. Transgender mense word gereeld gedood oor hul genderidentiteit, en dan sien ons kans om Charlize aan te val omdat sy haar kind wil ondersteun en seker maak dat die kind hul huis as ’n veilige hawe sien waar sy aanvaar word, ongeag van haar genderidentiteit? Dis uitstekende ouerskap.
Dan is daar die vrae wat gevra word oor of sy ooit haar kinders Afrikaans leer. Hoeveel Afrikaanssprekendes binne Suid-Afrika kies om hulle kinders Engels groot te maak, vir watter rede ook al? Hoeveel Afrikaanssprekendes wat oorsee woon, maak eerder hulle kinders groot in die taal van die land waar hulle gevestig is? Hoekom moet een persoon nou uitgesonder word as public enemy number one omdat sy presies dieselfde doen?
Die nydige, venynige, persoonlike aanvalle wat Charlize se familie en haar verlede teiken, doen veel meer om Afrikaanssprekendes te skaad as enigiets wat sy kon kwytraak. As ek die kommentare lees wat uitgespreek word, is ek skaam om Afrikaans te praat. As ek die kommentaar lees, is dit baie duidelik dat Afrikaners nie plesierig is nie. Glad nie.
Sies.
Speel die bal mense, en los die persoon uit. Speel die bal op so ’n manier dat mense na afloop van als nog respek vir die taal en sy sprekers kan hê. Anders, soos Julius Malema so graag sê, score ons net ons own goals.
Lees ook:


Kommentaar
As jy jou uitgee vir ’n toffie, gaan jy gekou word ... as jy ’n balspel speel, gaan jy geskop word. Ek is net bly jy is een van die 44 Afrikaans-praters en skrywers. Ek is mal oor jou boeke.
As jy jou uitgee vir ’n toffie, moet jy maar verlief neem as jy gekou word, hoor.
Daar's mos altyd daai klompie wat heeltemal oorboord gaan en dinge te ver vat. Die hele storie het so bietjie by my verby gegaan. Ek is nie seker of sy presies reg oorgekom het nie. Dalk is sy ook maar bietjie oningelig. Who cares? Baie mense voel niks vir Afrikaans nie. Stem saam met wat jy skryf.
'n Uitstekende, rustige ontleding. Laat die wat ore het hoor. Aan die hierbo wat die "toffie"-oordeel kies: Charlize se oningeligtheid of onnadenkenheid regverdig op geen manier die aanstootlikhede wat gevolg het nie.
Jou skrywe is regtig ‘n klomp bollie. Charlize het haar bed gemaak.
Bravo, Bettina! Perfek verwoord.