Meer as vier-en-veertig, Charlize

  • 21

Foto van Charlize Theron: https://pixabay.com/photos/charlize-theron-entertainer-actress-79562/

Awê masekin, Charlize.

Ek voel ek moet jou gelukwens. Jy het eiehandig, met een enkele potgooi, meer gedoen om Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika te verenig as elke ander inisiatief waarvan ek weet. Jy maak nuwe gesprekke oor ons taal oop en jy dwing mense om hul affiliasie met die taal te verklaar. En dit is ons taal, myne en joune. Dit wys net jou star power. Want sien, Charlie, maak nie saak ons politieke oortuigings, kultuur, ras, klas, oriëntasie en elke ander merker wat ons verskillend maak nie, ons stem saam oor een ding: Jy praat onverdunde snert oor Afrikaans. My destydse filosofiedosent sou dit noem nonsense on stilts.

Jy’s ’n ekspat, en dit beteken nou maar eenmaal dat jy nie in voeling is met wat in die land aan die gang is nie, nie oor taal nie, anyway. Ek aanvaar dit. Wat jy doen met jou CTAOP Foundation is wonderlik, en elke keer as jy Afrikaners opklits met jou donasies aan die ANC, is ek jou grootste cheerleader. Ek het jou ondersteun met jou “Real men don’t rape”-veldtog. Ek hou duim vas vir The Old Guard 2. En ek hoop jy maak werk van Mindhunter seisoen 3.

Maar ek twyfel of jy enige grondige kennis het van die stand van Afrikaans.

Ek vermoed jy het ’n lelieblanke gehoor van Afrikaanssprekendes in gedagte gehad toe jy jou uitsprake gemaak het. Dis immers die beeld van Afrikaans waarmee jy grootgeword het, en let’s face facts, jy is ’n produk van apartheidera-Afrikaner-Nasionalistiese opvoeding. Dis nie kritiek of beskuldiging nie, dis ’n blote feit. Intussen het dinge egter baie verander.

Amper sewe miljoen mense praat Afrikaans, ‘n bietjie meer as die 44 wat jy beweer. Van daai klomp is amper 60% bruin, swart en Indiërs. So, Charlie, as jy Afrikaanssprekendes in die gesig vat, weet ten minste met wie en van wie jy praat.

.............
Amper sewe miljoen mense praat Afrikaans, ‘n bietjie meer as die 44 wat jy beweer. Van daai klomp is amper 60% bruin, swart en Indiërs. So, Charlie, as jy Afrikaanssprekendes in die gesig vat, weet ten minste met wie en van wie jy praat.
.............

Het jy al ooit gesien hoe bruin kinders uitbundig in Afrikaans rieldans? Of op Tweede Nuwejaar gesien hoe die Klopse dans en hulle herkoms celebrate – baie van hulle, dalk die meeste, Afrikaanssprekend? Het jy al gehoor hoe sing hulle “Daar kom die Alibama?” Het jy al gehoor hoe Diana Ferrus haar gedig “Afrikaans die versoeningstaal” voordra? Of hoe mooi Frazer Barry en sy Tribal Echo, of Churchil Naudé in Afrikaans rymklets? Of hoe Les Javan sy huilmooi musiek in Afrikaans komponeer?  

Gaan maak ’n draai in die Bo-Kaap, staan op straat en luister na die taal. Maak oop jou oë en kyk wie dit praat. Neem ’n kookles met Cas Abrahams of Fatima Sydow. Dalk leer jy dat pampoentjie nie jou gunsteling- Afrikaanse woord is soos jy eenkeer beweer het nie.

En anyway, Charlie, kom ons wees nou maar eerlik met mekaar. As iemand jou bloedig kwaad maak, daai kwaad wat maak dat jy rooi sien en nie omgee om tronk toe te gaan vir wat jy wil doen nie, in watter taal gaan jy daai persoon uitskel? Engels? Hahaha, mooi grappie. Nope, jy gaan jou beste Benoni-Afrikaans uithaal. Sharlene Surtie-Richards het eenkeer gesê, toe sy gevra is oor ’n Engelse opvoering van Fiela se kind, “Hoe sê mens ‘magistraat se m**r’ in Engels?” En jy is Afrikaans genoeg dat jy nie sit en wonder watter twee letters in daai woord kortkom nie.

Ons Afrikaanses baklei maar lekker onder mekaar, moenie ’n fout maak nie. Daar is nog heelwat om reg te maak. Die taal is onder beleg in universiteite en in die besigheidswêreld, maar in ons huise praat ons nog lekker Afrikaans.

...........
In plaas van doer van ver af wilde stellings maak, kom check wat ons doen. Lees ’n Afrikaanse boek, borg ’n Afrikaanse woord, al is dit dan nou pampoentjie, luister na ’n Afrikaanse musikant, dans saam aan die riel. Kom vra my vir ’n lys. Kom leer oor die vibrante variante van Afrikaans waarin ons skep.
................

In plaas van doer van ver af wilde stellings maak, kom check wat ons doen. Lees ’n Afrikaanse boek, borg ’n Afrikaanse woord, al is dit dan nou pampoentjie, luister na ’n Afrikaanse musikant, dans saam aan die riel. Kom vra my vir ’n lys. Kom leer oor die vibrante variante van Afrikaans waarin ons skep.

Maar om hemelsnaam, moenie die werk wat soveel bruin en swart Afrikaanssprekendes doen, in jou onkunde afbreek nie.

Ek vra jou mooi, kanalla.

 

  • 21

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Ek weet nie wat die konteks was waarin sy dit gesê het nie. Lyk my dit was een of ander ligsinnige program. Vreemd dat mense so emosioneel reageer op so iets. En ek wonder ook, hoekom is dit vir mense so 'n belangrike gedagte dat hulle taal nie sterwend is nie? Alle tale gaan uiteindelik verdwyn. En sommer ons hele spesie sal ook eendag ophou bestaan. Die wêreld waarin mens gebore word en die een waarin jy sterf is mos maar gewoonlik twee totaal verskillendes.

    Gelukkig is daar studies wat skynbaar bewys dat Afrikaans nog baie lank met ons gaan wees. Ten spyte daarvan dat die een funksie na die ander besig is om te verdwyn. Die regering se wiele draai in Engels.

  • Barend, jou stelling dat Afrikaans soos meeste ander tale uiteindelik gaan verdwyn, hou nie water nie. Hier in Namibië is die amptelike taal Engels. D.w.s. alle amptelike korrespondensie en besigheid met staatsinstansies is veronderstel om in Engels te geskied. Snaakste van alles is dat die kommunikasiemedium tussen die verskillende etniese groepe (behalwe in die verre noordelike gebiede) hoofsaaklik Afrikaans is. Nee, Afrikaans gaan nie sommer net so van die 'map' af verdwyn nie.

  • Charlize is reg. Met '44' bedoel sy 'min'; soort van 'n hiperbool, soos die gesegde: "Ek het jou al duisendmaal gesê ..." as jy dit net drie of vier keer gesê het.

    Sy is reg wat Afrikaans betref; hy is besig om te kwyn. Luister maar na die Afrikaanse radio en TV.

    Waar (meeste) van ons van Charlize verskil, is dat sy in haar noppies blyk te wees oor die agteruitgang van Afrikaans, terwyl ons hartseer en bekommerd is.

  • Dit is nou 'n geval van 'n krummel wat 'n koek geword het ... Ja, Afrikaans gaan nooit as te nimmer van die "map" af verdwyn nie ... Trots op my taal, AFRIKAANS.

  • Hoe lyk dit, Charlize! Wil jy nie 'n Afrikaanse fliek vir NETFLIX maak nie? Ons sal Engelse onderskrifte aanvaar!

  • Beste Jan Rap,
    My wêreld, Jan, lanklaas van jou gehoor! Bly om jou weer te sien, man. Nog steeds besig met Afrikaans wat verdwyn? Verander, ja, maar nie sommer verdwyn nie. Niemand praat ook meer die Afrikaans van 1871 nie. Kyk hoe lustig klets die mensdom in Engels, en ek sal jou wed net taalkundiges sal nog die ou Engels van die Anglo-Saksers verstaan.

  • Hoor, hoor! Ek wonder nogal watter skelwoord sou sy uit haar Benoni-Afrikaanse argief gaan haal... 😁

  • Sy het net die draakgesteek, been getrek, met haarself gespot. En skielik is almal in 'n laer opgeruk en super-suiwer-Afrikaans, selfs die Engelse saam met ons. Baie snaaks!

  • Ai, arme Charlize. Jy is soos onkundig. Wonder of jy dit dalk met opset doen. Hoop nie so nie, want hier krap jy aan Boere-Afrikanerbloed! En almal wat Afrikaans is, is trotse mense. In my dorp alleen praat die meerderheid Afrikaans en wil nie sommer syfers gooi nie, nou-nou beland ek in jou skoene, maar definitief meer as 10 000 sal voorstel kry jou feite reg voor jy uitlatings maak en dink jy is beter as ander.

  • Taylor Greyling Maria

    Onse charlie. Ja, soos jy sien, jou naam skryf ek in kleinletters. As jy weer so 'n grap vertel, dink dan aan iets anders waaroor ons almal kan lag.
    Jou Benoni-grap staan ons nie aan nie.
    Ek is en sal altyd trots op my taal wees.

  • Na alles het haar sienswyse Afrikaans 'n hupstoot gegee. Goed om te sien wie almal opstaan vir Afrikaans. Lankal enige respek vir haar verloor. Met haar charitys het sy maar het in ander se voetspore gevolg om nood te gebruik om haar nog higher power te gee.

  • Sonya van Schalkwyk

    'n Taal is 'n wêreld. Elke taal wat sterf, vat 'n wêreld met hom saam. Moenie die tragedie onderskat nie. En verstaan as mense verwoed en met passie baklei vir hulle tale en die wêrelde wat hulle verwoord.

  • Barend van der Merwe

    Johan Beyers, ek is bevrees jy het glad nie verstaan wat ek probeer sê het nie. Ek is baie bly dat julle so lekker Afrikaans praat daar in Namibië. Dit doen my hart goed om te hoor. Ek wil nog eendag bietjie julle land besoek.

    Ek geniet my taal ten spyte van die funksies wat afneem. Ek dink ook Afrikaans sal amper onherkenbaar verander in die toekoms. Dit is duidelik reeds aan die gebeur as ek sien hoe mense skryf en praat. Daar is ook 'n sterk sentiment teen die sogenaamde "standaard"-weergawe van die taal daarbuite. So dit sal voortdurend tot iets nuut hervorm word. Dit is glad nie uniek nie. Selfs Latyn het verdwyn, die Engels van die antieke wêreld. En besaaids, daar was 'n tyd wat daar geen mense op aarde was nie en dus geen menslike tale gepraat is nie. Dit gaan eendag weer so word. Mens kan jou taal koester, of dit groei en of dit stagneer en of dit krimp.

  • Elizabeth Williams

    Afrikaans gaan vir haar, Charlize, ook nog oorleef ... soos vir menigte van ons. Almal het gedink die Gaelic tale soos Wallies will not see the end of times ... en tog bly dit een van die gewildste national anthems of all times!!! So sal Charlize nog vir baie jare en verby haar jare Afrikaans hoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top