Oom Boek Joons

  • 1

Die Joons-familie in die dorp is maar, soos my ouma van my ma se kant af sal sê, bietjie aan die eenvoudige kant. Met eenvoudig het sy nie bedoel van plein en simpel nie, maar platvloers-eenvoudig. Sommige van die kindertjies is dom-eenvoudig.

Maar Gideon Joons het ’n neef, Boek Joons, wat die klein boekwinkeltjie in Kortstraat het. Die oom het die boekwinkel nou al vandat ek verstand gekry het en dis nou al seker 46 jaar lank. Die boekwinkel het nie ’n naam gehad nie. Dis doodeenvoudig net Boek Joons se winkel. Dis al. Niks fieterjasies en dinge met stertjies bygelas nie.

Tot vandag toe nog koop ek boeke by oom Boek Joons. Hy ken sy winkel, hy ken sy boekrakke, boeke en skrywers uit sy kop uit. So asof hy met hierdie kennis gebore is. Sonder om nog op ’n masjien of elektroniese gedoente rond te tik. Hierdie boekwinkel ken nie sinne soos “Jammer, ons sisteem is af” nie, ook nie “Jammer, die krag is af” of “Die netwerk is af” nie. Nee, in Boek Joons se winkel koop jy boeke, op die ou manier.

Die boekwinkel het ’n spesiale reuk aan hom. As ek dit in eenvoudige taal kan stel, dis die reuk van ou boeke, potlode gemeng met die reuk van ’n kromsteelpyp en jare se Springboktabak. Oom Boek se kromsteelpyp het heeldag so slapperig in die hoek van sy mond gehang en hy kon praat met die pyp in sy mond. As hy die pyp aan die stook sit, het die steel na die middelkant van die mond toe beweeg en dan blaas hy regte egte tabakrook die winkel vol. Blou wolkbolle sê ek vir jou.

Daar is dae wat ek sommer net ’n boek gekoop het, net om die reuk saam met my te vat. Die reuke het in elke boek se blaaie, hoofstukke, voorblaaie en agterblaaie ingetrek. Oral, sê ek vir jou.

Die boekwinkel se rakke was vol van liefdesstories, opmaakstories, Afrikaanse gedigte, kinderstories, “grootmensboeke” soos hy dit genoem het en dan was daar nog Adoons-hulle, Bollie en inkleurboeke.

Op ’n dag vra ek vir oom Boek hoe het hy al die boeke se name, skrywers en stories so in sy kop in gekry? Hoe weet hy waar is die boeke op die rakke? Hoe weet hy wat in die boek aangaan, so asof hy elke boek in daai rakke al 4 keer deurgelees het? Praat die boeke dan met hom? Het ek sommer so in een asem gevra.

“Kind, oorlat boeke nog boeke in my hande is.”

“Hoe meen Oom dan nou?” Hy glimlag met die een kant van sy mond en die pyp wip in die ander hoek van die mond. Ek vra toe maar nog ʼn vraag: “Hoekom ruik boeke soos hulle ruik?”

“Oorlat boeke ’n mens se reuk aanvat.” Oom Boek sê vir my dat daar in die linkerkantste hoek, heel onder, baie mooi boeke is. Ek moet daardeur kyk. Ek stap deur die rakke tot agter in die hoek, gaan sit op ’n baie ou houtkissie en blaai deur die boeke. Ek verkyk my aan die woorde. Ek vryf oor die voorblad, bekyk die agterblad tot die nek van die boek.

Ek hoor hoe oom Boek ’n vierietjie trek om sy pyp brand te maak. Ek sien die rookbolle bo die rakke soos donnerwolke hang en tussen die klomp boeke in die hoek kry ek ’n skryfblok. In die houtkissie waarop ek sit, is ’n paar potlode, ’n skerpmaker en ekstra tabak. Ek maak die dekseltjie van die kissie oop en haal ’n potlood uit. Dit ruik na hout, lood, boek en tabak. Ek gaan sit plat op die vloer en gebruik die houtkissie as ’n tafeltjie en begin skryf.

Toe ek ’n paar blaaie vol geskryf het, maak ek die houtkissie se deksel oop, sit die potlood terug, trek ’n paar boeke uit die rak en steek die skryfblok agter al die ander boeke weg. Net vir in case.

“Kom jy reg?” vra oom Boek.

“Ja, dankie Oom.”

“Gaan jy iets koop?”

“Nie vandag nie, Oom.”

“Nou maar goed, kom môre weer.”

Ek groet en drentel sleepvoet by die winkel uit. My ma was altyd tog so aan oor die sleepvoet gelopery. Net om die draai is daar ’n koffiekêffie. Dis maar in my natuur om by ʼn kêffie in te stap, al lus ek nie koffie nie. Mens gaan mos maar net in. Maar die boekwinkel se reuk sit in my neus. As ʼn reuk eers in jou neus kom nesskop het, bly hy daar. Reuk het mos maar ’n manier om aan ’n mens vas te klou soos ʼn klein apie aan sy ma. Die waiter wys vir my ’n sitplek waar ek moet sit en bring vir my koffie in ’n mooi koppie. Met koue melk.

Met die wat ek so om my rondkyk, sien ek net mensekoppe onderstebo sit (ek dog eers hulle bid) besig met fone, rekenaars en goeters wat ek nog nooit eers gesien het nie. Sommige mense praat nie met mekaar nie, maar ruk en pluk en beitel behoorlik met die elektroniese ding.

Sommige mense sit en suig aan ’n ding wat soos ’n sigaret lyk, maar dit werk met ’n battery. Ek verkyk my aan die bolle rook wat dit maak, maar dit ruik nie na oom Boek se pyp nie. Die elektroniese goetertjies waarin die mense so staar, ruik ook nie soos oom Boek se boeke nie.

Ek roep die waiter nader en vra of ek gou kan uithol. Ek sal nou terug wees en sal hy sommer ʼn ogie oor my sak gooi? Hy knik sy kop toe heel ordentlik, maar hy sprak geen sprook nie. Ek sit die piering op my koppie sodat die koffie darm nog warm is teen die tyd wat ek terugkom.

Ek draf by oom Boek se winkel in en vra: “Kan ek asseblief ’n boek leen, Oom?”

“Jy kan. Watse boek?” en die pyp wip.

“Die een wat die meeste na Oom ruik.”

“Dis hierdie een wat ek nou lees, bring hom maar later terug.”

Ek vat die boek en hardloop terug koffiekêffie toe. Daar in die kêffie maak ek die boek oop, druk dit teen my neus vas, trek die reuk in tot diep in my longe, proe aan die koffie en vergeet van almal om my.

Die volgende dag gebeur alles weer dieselfde. Nadat ek ’n paar bladsye in die skryfblok geskryf het, leen ek weer die boek by oom Boek, kêffie toe, ruik, proe die koffie en gaan huistoe. So het dit aangehou vir maande en op ’n dag sê oom Boek Joons: “Jou gedigte is mooi. Jou gedigte ruik na tabak en potlood. Jou gedigte ruik na my winkel. Jou gedigte ruik na boek. Jou gedigte is mooi.”

Dis net die ene gedigte voor en gedigte agter. Nooit het ek geweet dat oom Boek Joons weet dat ek gedigte skryf nie, en nooit het ek geweet dat hy dit lees nie.

“Kind, vat maar hierdie boek wat jy altyd by my leen. Dis joune. Bêre hom mooi.”

Ek het daardie boek op die houttafeltjie langs my bed gesit en hom laat ooplê sodat die reuk nie verdwyn nie. Daardie aand toe ek die lig afsit en ek lê in die donker en ruik oom Boek Joons se boek, wonder ek of die mense wat so besig is met ander goetertjies ook nog boeke ruik? Dalk nie. Maar snags as die dorp stil word en almal gaan slaap, steek oom Boek eers ’n kers aan, dan sy pyp, en gaan sit in sy boekwinkel, in die agterste linkerhoek en lees my gedigte.

Op ’n dag toe ek weer by oom Boek wou gaan kuier, is die winkel toe. Meneer Adams wat die vis-en-tjips-winkel langs die boekwinkel bestuur, vertel my dat die engele vir oom Boek kom haal het. Hulle vermoed so in die oggend-ure. Sommer hier in sy winkel, agter in die linterkantste hoekie. My hoekie. Ek skrik.

“Mag ek ingaan?” vra ek.

“Ja, meester, ons kan by die agterdeur ingaan. Ek het nog ’n sleutel daarvan wat hy vir my gegee het vir in case.” Ons stap in en ek ruik vir oom Boek. Ek ruik sy pyp. Ek ruik sy boeke. Ek ruik hom. Agter in die linkerkantste hoek waar hulle hom dood gekry het, lê my skryfblok vol gedigte met ’n nota wat hy geskryf het. Die nota lees dat as die Engele hom die dag kom haal, dat ek maar die boekwinkel moet oorvat en daarmee voortgaan. Net so.

Nou rook ek maar ook kromsteelpyp en regte tabak. Ek skryf met regte potlood, net soos oom Boek Joons. En soms sien ek vir oom Boek so tussen die boekrakke deurslenter, wys met ʼn krom vinger na ʼn boek en sê, “Lees hierdie ene vandag.”

Ek haal die boek dan versigtig uit die rak, ruik daaraan en maak op ʼn bladsy oop en lees ʼn stukkie. Al is dit net twee lyntjies, maar in daai twee lyntjies praat oom Boek met my. Dan weet ek dat hy hier iewers is en soms sien ek hom tussen die “grootmensboeke.”

Lees ook

Die Joons-kinners

Bazil en die bazaar

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top