Die Joons-kinners

  • 1

Die apteek en die haarsalon, waar ek die shampooist is, is net so skuins langs mekaar. As ek mooi staan, kan ek by die apteek se vensters inkyk. Daar, so tussen die apteekrakke, sien ek Ouma, Dominee en die Joons-man met sy vier kinners wat soos orrelpypies staan.

Almal is maar hierdie tyd van die jaar in die apteek vir die verkoue, hoes en snotneusies. Ek praat nou nie hier van die snotneusies nie, want die Joons-kinners se loopneuse is maar permanent. Haal met sulke oop bekkies asem. Laat my skoon aardig voel.

My mens, toe ek later met tjaailatyd vir Ouma sommer so terloops uitvra oor die apteekstorie met Dominee en Gideon Joons, kon ek my maar gereedmaak vir lank staan by die hekkie.

“Maar kom ek begin heel voor,” sê Ouma toe vir my. En die storie beginne toe sommer soos die boeke van die Bybel, tot by amen verby.

Dis daar voor die allerlei-rak wat Ouma toe die dominee raakloop. Ouma vertel sy het sommer so versigtig in Dominee se mandjie geloer, vir incase daar persoonlike goetjies is. Jy weet, ’n apteek kan ’n persoonlike plek wees en mens wil nie iemand onnodig in die oë sit nie. Daar is mos party mense wat sommer vra wat jy koop en hoekom jy dit koop en sommer vir wie dit is ook. Ons sal nou nie name noem nie.

Ouma stap nader en groet Dominee. “Middag, Dominee. Dit is ’n verrassing om vir Dominee hier raak te loop.” Ouma het nooit, soos die ander mense, ’n aansitterigheid gehad as sy met die Godsman praat nie. Sy praat haar praat soos wat sy praat. Die paar kere wat ek die Godsman by Ouma se huis raakgeloop het, het ek darem my stem so bietjie verander vir die respekte, verstaan? Maar ieder geval …

“Middag, Tannie. Hoe gaan dit?” groet Dominee.

“Goed Dominee. Ek het net ’n paar goedjies kom kry en die Oom se voorskrif. Hy het so bietjie suiker en as hy nie sy pille vat nie dan hang sy een oog so effens, en dit maak hom vreeslik onbekommerd. Siestog, dis ’n ding wat nou so die laaste jaar of wat sy kop uitgesteek het. Oudword is nie jou speelmaat nie.”

“Siestog Tannie, ek hoop nie dis te ernstig nie. Is alles reg met die oom?”

Mmmmm, ja … ja … hum … ja … nee … alles reg met die oom … en soos Ouma oor die dominee se regterskouer kyk, staan Gideon Joons en sy vier kinners by die rak wat Lennon se doepas verkoop.

Ouma hakkel so dat sy nie ’n woord uitkry nie. Dis soos ’n brommer wat teen ’n venster vasgekeer is. Sy spartel, maar geen woord wil uitkom nie. Ouma kyk oor Dominee se regterskouer, dan vir Dominee, dan weer oor die skouer, vir Gideon Joons en sy kinners wat staan en die Lennon-medisynebotteltjies bekyk. Seker om pryse te vergelyk. Arm was hulle nie, maar o wee … suinig.

“Is alles reg, Tannie? Tannie is mos nie iemand wat met woorde sukkel nie. Hoe dan nou? Het Tannie koors of iets?” vra Dominee.

Ouma vertel sy het so effentjies nader aan die dominee gaan staan, haar oë op skrefies getrek en saggies gepraat. Ouma wou nog sê “moenie kyk nie” en daar draai Dominee sy kop om, en kyk.

“Daardie man met die velhoed op en die vier kaalvoet kinders?” vra Dominee.

“Sjuut, nie so hard nie, Dominee. As hulle eers aandag kry, vat hulle alles. Dis soos hulle sê, jy gee die pinkie dan gryp hulle die hele arm,” en sy pomp hom met die elmboog so in die ribbekas. Ouma leun nog ’n bietjie vorentoe om by Dominee se oor uit te kom en hy buk laer af om by Ouma se mond uit te kom. Hier kom ’n storie.

“Maar ek wil nie hier staan en praat nie, netnou sê die mense dat ek ’n kwaadsteker en skinderbek is, en ek praat nie oor ander mense nie. Dis nie in my aard nie,” sê Ouma inkennig. Sy laat sak haar kop so effens sodat haar ken in haar nek gaan sit.

Sien, Ouma het soms so manier om haar onderlip styf te trek en die ken te laat sak tot amper op die bors. Mens, ek het al Ouma se maniere goed leer ken. Ek weet wat sy dink as sy ’n manier van staan en gesigtrek het.

“Ja, dis reg so Tannie. Ek sal later ’n draai kom maak dan praat ons. Ek verstaan,” fluister-praat Dominee terug en knipoog vir Ouma.

Ouma stap by dominee verby, reguit na die Lennonrak toe, groet net so bolangs vir Gideon Joons en die kinners. Sy stap na die toonbank toe en betaal vir haar goed. Toe sy by die deur uitstap, tieng-tong daai klokkie en almal kyk op om te sien wie in- of uitgaan. Ouma verpes die bleddie ding. Vir wat het Mister Heyns die ding ingesit?

My mens, daai klokkie tingeling so hard dat mens hom tot binne in die hairsalon kan hoor, dis nou te sê, as die hairdryers nie aan is nie.

Ouma druk haar bril met die middelvinger op en stap ergelik by die apteek uit, reguit na die geel veertienhonderdbakkie toe. Ouma het mos daardie, soos ek dit nou sal sê, uit-die-knieg-stap. Dis ’n stap waar sy haar voet net so effentjies meer uitskiet as ’n gewone stap en dit gebeur so by die knieg se buig.

By die huis aangekom, sit sy die gas-heatertjie aan en trek die sunfilters wawyd oop in ’n poging om nog son in te kry. Sy maak ’n groot pot tee, sit die radio aan, en gaan sit so voor die heatertjie met die son wat op haar blaaie skyn. Lekker warm. Sy luister na ’n melkkosresep op die radio en skryf dit af, voordat die dominee kom. Sy soek die resep vir as Oupa se neef en sy vrou kom kuier.

Dis asof die batterye van die radiotjie in die wintermaande gouer pap word, want sy moet hom bietjie harder draai as laasweek. Sy merk die knoppie met cutex dat sy kan weet as iemand aan haar radio lol. Dit is haar radio en klaar. Dis net Saterdae wat Oupa dit nader kan trek vir die landbou-uur of die rugby. Dis al.

Dis die einde van die resep toe sy die dominee by die tuinhekkie hoor. “Aai, dat hierdie dominee nou so vasgeraak het aan my en so agter ’n storie aan is,” sê Ouma met ’n tikkie trots later vir my.

Sy stap voordeur toe en sien hoe Dominee aangestap kom. Sy weet nie of sy haarself verbeel nie, maar hy stap bietjie vinniger as gewoonlik.

“Ja, dit was net om die Joons se storie te kom haal,” sê Ouma vir my. Sy het die ding in die apteek so aangedik om seker te maak die dominee kom vir die storie.

Sy maak eers die groot houtdeur oop, dan stoot sy die sifdeur oop en loer half-lyf uit. “Kom in Dominee, dis koud. Kom sit sommer daar in die sonkamer. Die tee is klaar gemaak.”

“Dankie Tannie, hierdie wêreld is darem maar baie koud. Ek weet nie of ek daaraan gewoond sal kan raak nie.”

“Nee wat, Dominee, jy sal gou gou gewoond raak. ’n Mens raak vinnig aan dinge gewoond.” Ouma gooi vir Dominee tee in, sommer melk en suiker ook en roer dit vir hom.

“Dankie Tannie.”

“Jammer Dominee, hier is ongelukkig nie koekies of iets nie. Wintermaande is ek maar traag om te bak.”

“Dis reg Tannie, ek moet in elk geval bietjie briek aandraai met die etery. My broeke begin al effens knap sit … maar vertel my van die Joons-mense, asseblief Tannie. Ek het nog so ’n rukkie in die apteek gestaan en na die kindertjies gekyk. Kry hulle swaar?” vra Dominee en loop die ding vooruit.

Dominee skuif agtertoe op sy stoel, kruis sy bene en Ouma kan sien dat hy sy sit goed kry. ’n Sit om te bly sit en te wag totdat die storie klaar is, vertel Ouma my. Sy’t sommer gedemonstreer ook.

Nou moet ék ook bysê dat dominee ’n paar keer na my toe gekom het om ’n storie te kry, maar dan maak ek asof ek niks weet nie. In die Karoo is ek geleer jy speel nie met ’n Godsman nie. Dan sê ek maar, “Ag, Dominee moet maar die stories by Ouma gaan kry.” Dis al.

Anyway, dis maar ’n droewigheid daar by die Joonse se huis. 

“Die Joonse bly doer onder naby die Gallopkerk in ’n rooibaksteen-huis,” beginne Ouma die storie.

“Ekskuus Tannie, wat is die Gallopkerk?” vra Dominee.

“Dominee, dis mos die AGS se kerk. Waar ’n orkes speel en gespring en gedans word. Dis die Galloppers.”

My mens, ek en my suster was so paar keer daar gewees. Maar daai is darem maar te erg vir ons. Dis so asof mens spot met die Woord. Maar in elk geval, die storie gaan nou nie oor die kerk nie … dis oor die Joons-kinners.

“Dominee sien, Vinkie is maar ’n snaakse vrou. Sy het sulke gelaatstrekke soos ’n tuinmol, siestog, glad nie mooi nie en sy stap so asof sy aan die roei is. Sy is so half van die menssku-tipe en gaan nooit uit die huis uit nie. Sy stuur altyd haar man, Gideon Joons, om inkopies te doen, of om die kinders skool toe te vat en so aan. As Gideon nie kan nie, moet die middelste seun, Rudolph, dit doen. Hy’s soort van die enigste enetjie wat nog ordentlik kan praat, sonder om te blaas soos ’n gans. Maar Vinkie bly in haar huis.

“Die kinners lyk almal so ietwat simpel en stadig van begrip, veral Rudolph. Hulle lippe is almal droog en gebars, winter in, somer uit.  Ek het al vir Vinkie gesê sy moet die kinders leer om deur hulle neuse asem te haal en nie so uit die mond uit nie. Dis dit wat hulle lippe so laat bars. Dan trek Vinkie haar skouers op en sê dis maar hulle manier. Sy kan nie help daarvoor nie.

“Dominee, dan praat die kinders nog so deur die neus, so asof hulle pal ellenoids het. Ek het al op ’n keer, toe ek nie ’n woord kon hoor wat die Rudolph-kind vir my sê nie, sy neus met soutwater gespoel. Maar niks nie. Die kind het bly blaas soos ’n gans. Maar toe Rudolph so, ek skat, in standerd 4 of wat was, gebeur daardie ding in die skool. Te vreeslik gewees. Almal het daarvan gepraat.

“Hierdie storie hoor ek by die vrou van die tuisnywerheid. Sy het dit blykbaar gehoor by haar neef wat by die koöperasie werk. In elk geval, so net na die wintervakansie word die standerd 4-juffrou siek en hulle kry ’n ander juffrou in om waar te neem. ’n Vreeslike aangename juffroutjie, jonk, mooi en bedeeld.”

Ekself onthou daardie juffrou. Sy het so paar keer haar hare hier kom doen en altyd ’n ietsie ekstra in my hand gedruk as ek haar kopvel so bietjie ingevryf het met die conditioner. Ouma vertel sy het ’n slag met Rudolph gehad en die kind se punte raak toe sommer beter.

“Gideon Joons wou toe verneem na die juffrou wat so ’n wonderwerk met Rudolph verrig, en dat hy haar wil ontmoet. So gaan ontmoet hy toe die juffrou. Toe hy haar sien, val sy onderkaak tot amper op sy bors, want die juffrou is sag op die oog. Hy het breed geglimlag, so asof daar nuwe lewe in hom was. Sy Rudolph-kind kon skielik al die moeilike woorde spel wat hy nooit kon doen nie, en Vinkie het agter slot en grendel net by die huis gebly.”

Ouma skuif-skuif nader na die heatertjie en vat ’n slukkie tee.

“Moenie vir my sê Gidoen Joons het ogies begin maak vir die Juffrou nie,” vra Dominee versigtig.

“Nee, Dominee, glad nie. Hy was te dankbaar dat daar iemand is wat met Rudolph kan werk. Vinkie was ook bly en het nogal gesê die kind se slimgeit kom van haar kant af. Slim, maar vreeslik onaansienlik.”

Ouma vertel dominee het sommer aan die lag gegaan. “Haai Tannie, moenie so sê nie, kan dit so erg wees?”

“Ja, Dominee, dis vreeslik, maar nietemin. Die nuwe juffrou het haar maar min aan die skinnertonge op die dorp gesteur, omdat sy so netjies is, knap en nogal vriendelik. Sommiges het gereken sy het hierheen gekom net om man te kom vat, ’n ryk boer of ’n ding, Dominee weet?

“Maar so raak Rudolfie vreeslik lief en geheg aan die juffrou, en hulle sê vir my die juffrou was baie besorg oor Rudolph. Selfs vir hom skoene gekoop en salfies vir die gebarste lippe. Blykbaar, na skool, lank met die kind gesit en spel-lesse gedoen.

“Toe begin Rudolph pakkies met neute vir die juffrou aandra. So een of twee keer ’n week. Nogal toegedraai in ’n mooi sakkie en toegebind met ’n gekleurde lint. Die juffrou kon sien dit was ou linte wat seker van laasjaar se kersgeskenkies af kom, maar sy het nie omgegee nie. Dis die gedagte wat tel.

“Sy het die neute dan sommer in die klas geëet. As die skoolklok lui en die klas is verby, is die neute klaar op. Sommige kinders het gesê sy staan en knaag soos ’n hings wat mieliepitte eet.

“Maar die kindjie was tog so bly dat juffrou die neute geniet, dat hy sommer twee keer ’n week neute aandgedra het. Juffrou eet neute en Rudolph vaar goed in die skool. Dis so asof die kind ’n nuwe lewe gekry het. Sy het selfs vir hom klere gekoop en ’n sweetpakkie vir die winter.

“Die juffroutjie het natuurlik gedink dat hulle arm is, omdat die kinners kaalvoet is, maar Dominee, dis van suinigheid. Dis tipies daai ding van, gee die pinkie en hulle gryp wat hulle kan.”

Ouma sê die tonge was behoorlik los in die dorp. Party mense het gesê die juffrou hunker na ’n kind van haar eie. Jy weet, dat sy broeis is. Dan was daar weer stories dat Gideon Joons agter die juffrou aan is. Maar Rudolph se rapporte lyk al hoe beter, sy lippies is nie meer so gebars nie en hy trek mooi aan. Tot ou Gideon lyk of ’n nuwe lig op hom skyn, en dit alles oor die mooi, knap nuwe juffrou.

Op ’n dag, toe Rudolph vir die derde dag agtermekaar neute vir die Juffrou skool toe bring, voel sy vreeslik skuldig en verleë.

“Rudolph,” sê sy voor die hele klas,“die neute is regtig heerlik en juffrou waardeer dit tog so, maar my kind, dis nie nodig om elke dag vir my neute te bring nie. Gee vir jou mammie ook daarvan.”

Hulle sê Rudolph se ore het rooi geword van die skaamte. Hy het nie ’n woord gesê nie, maar die volgende dag was hy weer daar met ’n sakkie neute.

Daar sit Juffrou toe met haar hande in haar hare. Nie omdat die neute sleg is of iets nie, maar omdat sy skuldig voel. Sy het aangeneem die Joonse is nie baie ryk nie. Nou besef sy eers dit is uit dankbaarheid dat die kind neute aandra. Dankbaar omdat hy goed doen en goed lyk.

Wat Ouma die dominee toe verder vertel, laat my skoon ’n lamte in die knieg kry. So asof ek ’n aanval of ’n toeval kry. Nie van skrik nie, maar van lag. Jy weet, as mens so diep lag dat dit in jou maag gaan vassit. Verstaan jy?

Ouma het sommer beginne lag soos sy vertel hoe Rudolph een oggend weer ’n sakkie neute, sommer ekstra vol, vir die juffrou bring.

“Nee, Rudolph, regtig. Juffrou sal hierdie ene vat en eet, maar dis  laaste, hoor. Juffrou waardeer dit regtig, maar ek dink dit moet ophou,” het sy gesê. Sy’t die pakkie oopgemaak en weer begin knaag soos ’n hings aan mieliepitte.

Sy wou dit eers vir die kind teruggee as teken dat dit regtig moet end kry, maar toe besluit sy om dit maar te eet. Sy wou nie die kind onnodig seermaak nie.

Aai, en dat die kind geweet het Juffrou is lief vir hierdie soort neute was ook ’n wonder. Hoe sou so jong kind van neute en goeters geweet het? Toe sê sy maar net: “Dankie Rudolph, maar dis die laaste. Jy bring nie weer vir my neute nie.”

En daar praat die kind voor die hele klas: “Juffrou, dis nie ek wat die neute koop nie. Dis my pappie,” begin die kind.

“Goed, Rudolf, sit nou maar. Ons kan later daaroor praat,” keer die juffrou, want sy sien regtig nie kans dat die hele klas verder hoor hoe Rudolph se pappie neute vir haar stuur nie. Dit kon mos net ’n ongemaklikheid word.

“Nee Juffrou, dis Pappie wat dit koop, Juffrou. Hy koop altyd vir Mammie tjoklits by die Jood se kafee. Mammie het nie meer tande nie en suig net die tjoklit af. Dan sit sy die neute in ’n pierinkie om vir die hoendertjies te gee. Net voor sy dit uitgooi, vat ek dit, dan sit ek dit in ’n sakkie en bring vir Juffrou,” het die kindjie in volkome onskuld homself verdedig.

Teen hierdie tyd moes ek gaan sit van die lag, toe Ouma vir my die storie vertel. Ek wou eers sê: “Ouma staan en lieg nou oop en bloot,” maar mens sê nie vir jou Ouma sy lieg nie. Jy vat net die storie.

Die kindjie het blykbaar, opgewonde soos ’n blasende gans, bygevoeg: “Ek kan môre weer vir Juffrou bring as Juffrou wil hê.”

Lees ook

Almal van ons is op soek na iets

Pluk vir my ’n ster

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top