Pluk vir my ’n ster

  • 4

’n Storie van twee verskillende harte wat aanmekaar vasgeknoop is, maar wat nie weer kan loskom nie

My mens, dis nou al drie jaar wat ek by die Smaailie-kind werk. Hy is seker al so in sy dertigs, maar vir ’n vrou van 63 jaar oud, is dit mos maar ’n kind. Sien? Ek kan nog so goed onthou hoe ek hier by hom beland het, soos gister sit dit nog in my gedagtes vas.

Daai dag, in Dorothy se winkeltjie wat aan die onderpunt van die stofpad staan, toe hierdie snaakse mannetjie by die winkel ingekom het om nogal garing-goed te koop, was die dag toe die Here Homself vir ons twee, onwetend, aanmekaar kom vasknoop het.

Ek het hom maar Smaailie begin noem. Hy het daardie dag sy regte naam vir my gegee, maar ek kon nie daai naam onthou nie. Een of ander Engelse naam en ons hier op die Namakwalandse Weskus kan mos glad nie Engels praat nie. Ons ken net van yes en no. Ons is gewoond daaraan om mense byname te gee. Koos Vis, Langpiet-lekkerlag. Dis omdat hier so baie Kose en Piete is dat mens maar aanlasname of byname gee.

Toe vat ek maar die naam Smaailie en so sal dit wees. Hy het mos daai manier van smile wat mens se hart sommer saf maak. Saf soos ’n ma se hart.

Soos dit die Here se wil is, het ek by hom begin werk. Maar net skottelgoed, bietjie huis regtrek en klere opvou. Dit was darem ’n ekstra geldjie in die blik.

Ek het hom op ’n keer gevra, toe ons in die kombuis gesit het, wat hy nou juis hier op die vissersdorpie kom doen het. Dis dan so alleen en afgesonder hier. Die naaste groot dorp is omtrent twee ure se ry hiervandaan, en dit nogal grondpad. Hy het stoksielalleen hier opgedaag. Geen ander asem saam met hom nie.

Ek onthou dat ek hom sommer so reguit in sy gesig gevra het, want die nuuskierigheid het my klaar. Dit het aan my bly klou, soos wanneer mens aan ’n sopbeen sal sit en suig.

“Kyk hier Smaailie, sê nou vir my hoekom het jy nou juis hier in die baai kom bly?” het ek versigtig gevra. Sommer daar in die kombuis. Ek het my hande met my voorskoot en kopdoek besig gehou om die senuwees stil te kry. Mens vra mos nie ’n vraag sommer so uit die bloute nie. Jy vat hom stukkie vir stukkie.

Mens, het ek die kind jammer gekry toe dit lyk of sy oge vol trane wil skiet.

“Ag my liewe engel, ek het sommer kom sterre pluk,” was sy antwoord, toe smile hy.

“Nou wat maak jy nadat jy daardie ster gepluk het?” wou ek weet en ek sou aanhou karring met die ding totdat ek die antwoord kry wat ek wil hê.

“Ek vryf hom blink, dan bêre ek hom onder my kussing,” het hy gesê.

Dis asof die kind ’n antwoord vir alles het. En daai antwoorde kom so sonder dat hy eers dink. Ek verwonder my daaraan.

“En dan as die ster onder my kussing lê, droom ek soete, blink drome. Drome van jou,” het hy gesê voordat ek nog verder kon vra.

Mens, ek het op die kombuisstoel gaan sit en hom aangekyk soos mens vir ’n spooksel in die donker sal aankyk.

Ek het my hande so in my voorskoot gevou en toe my kopdoek dieper oor my voorkop getrek.

“Maak daar vir ons ’n koppie rooibostee, toe man Smaailie,” het ek toe maar gevra. Dis asof ek klaar die antwoord gekry het op die vraag van hoekom hy hier kom bly het. Sien, ek het geweet wanneer om te praat en wanneer om nou maar die ding te los.

“Maak jy vir ons tee, toe my ou engel. Jou tee proe moes so lekker soos wyn.”

“Sal jy nou ’n duiwelsding oor my kom uitspreek?” het ek kamma geraas met hom. Mens kan nie vir die kind kwaad word of raas nie.

“Watse duiwelsding?” het hy gevra met oë wat soos pierings lyk. Ag vadertjie tog, dis asof ek my eie tong kan afbyt as ek ’n ding aanpraat wat liewer kon bly. Ek weet mos dat Smaailie-kind altyd agter ’n storie aan is.

“Ag nee, Boerkind, ek praat sommer. Sit daar die ketel aan, dan maak ek die tee. Kyk hoe mooi lê die see daar agter. Vandag kom die skuite weer leeg in,” het ek die ding anderpad toe gepraat.

Ek het hom begin Boerkind roep. Die hele gemeenskap het al begin prate en sê dat ek hom soos my eie kind behandel, en hy vir my soos ’n ma. Amper soos daai Fiela se kind-storie.

“Hoe weet mens wanneer die snoek loop en wanneer nie, Lydia?” het hy aan die ander ding begin krap. Ek het toe maar besluit om die vraag oor die see en snoek te los en te vertel van my vervalling in die wynbottel.

“Nee man, lank terug toe my man nog geleef het, het ek mos verval in die bottel,” het ek begin vertel. Mens, ek praat mos nie eintlik oor hierdie ding nie, maar ek praat voor Smaailie asof dit die regte ding is. So sonder om skaam te wees. Sien, soms weet ’n mens net dinge.

“Haai, Lydia my engel. Hoe bedoel jy dan nou?”

“Ja, ek was diep in die bottel gewees,” het ek so in die tee-maak vertel.

“Haai, my liewe engel. Gelukkig is dit verby. Dis gister-dinge.” Het hy gesê en my hand gevat. Op daai dag was dit asof daar ’n ketting aan ons harte vasgemaak is. ’n Ketting wat nie losgemaak wil word nie. Dis ’n vir-altyd-ding.

 “Jy weet, my oorlede ou man het al baie keer sy klere gevat, weggeloop net om later weer terug te kom. Maar ek het in die bottel gebly.”

“Wanneer het jy toe die bottel gelos?”

“So paar jaar nou. Dalk so ag jaar wat ek hom nie meer vat nie. Dis nou net die rook wat my nog vashou, maar hy is bietjie beter as die wyn.”

Smaailie het toe by die kombuistafel langs my kom sit. Hy het ’n slukkie van sy tee gevat, by die venster uitgekyk en die beskuitblik nader getrek.

“Ag nee, Lydia, kyk, die blik is dolleeg. Wanneer het die beskuit dan opgeraak?” Net soos sy maniere maar was. Hande en arms in die lug met ’n stem wat te hoog is vir ’n man van sy ouderdom.

“Dis jy wat die beskuit so eet. Ek weet mos dat jy in die nag opstaan en die beskuit saam met melk eet,” het ek gesê.

“Hoe weet jy dit?”

“Dis wat die ‘wit-vergeet-bossie’ vir my gesê het,” het ek sommer so aspris gesê net om die aandag af te kry van die leë beskuitblik, want ’n leë beskuitblik beteken dat daar vandag geknie moet word en my elmboog is reeds nie lekker na laas nag se koue wat oor die baai kom lê het nie.

Ek kon sien dat hy die storie van die wit-vergeet-bossie soek.

“Lydia, my geliefde engelmens, wat vir ’n ding is die wit-vergeet-bossie?”

Jong, ek kon nog nooit verstaan hoekom hy altyd ge-engel en ge-darling het nie. Ek het mos ’n naam, maar sien, dis die eerste keer in die 64ste jaar van my lewe dat ’n witmens my so engel en darling. En om by te sê, die ander bruinmense in die baai was dik jaloers.

“Boerkind,” het ek begin en hy het geweet as ek eers “Boerkind” dan kom daar ’n storie. “Die ou mense het geglo dat as mens daardie spesifieke bossie in die veld pluk, hom fyn druk en dan kou, het mense geglo wat jy praat. Soos as jy moet hof toe gaan, kou jy die wit-vergeet-bossie sodat die smaak in jou mond sit. Of as jy stout was en jy moet ’n storie maak vir jou ma, kou jy vir wit-vergeet-bossie.”

“Maar my darling, dis mos klomp snert daai.”

“Dis die Godsewaarheid. Daai bossie groei hier agter in die veld as jy Doppieskraal se kant toe stap. Hy het sulke fyn blommetjies wat lyk soos katoenklossies. Ons het hom dan gepluk en gekou. Daar was die tyd toe ek en my broer van daai geel appelkosies by ou Cohen se winkel gesteel het en ons gevang is. Daar was nie tyd om nog Doppieskraal toe te hardloop om die bossie te pluk nie, toe sê my broer dat hy nog ’n takkie van gister se pluk in sy sak het. Ons het sommer so kop onderstebo op pad kafee toe aan die ding gekou. Ou meneer Cohen was streng en ons was so bang dat hy vir onse ma en pa sou vertel. Dan wag daar ’n helse pak by die huis vir ons. Meneer Cohen vra toe of ons die appelkosies gesteel het en ons sê uit een mond nee. Toe sê hy ons lieg mos nou dik. Hy het hulle getel en toe ons by die deur uit is was daar vier weg. Waar is hulle heen?” vertel ek die storie, maar ek las maar stukkies by om die storie dikker te maak.

“Haai nee, my darling, het hy toe vir jou ma vertel?”

“Wag eers, moenie die storie daar voor loop haal nie. Ons sê toe vir hom dat ons regtig nie die appelkosies gevat het nie, toe sê hy vir ons dat ons maar daardie bossies kan uitspoeg, dit werk tog nie.”

“En toe? Vertel nog.”

“Ek kyk toe vir my broer en sien hoe hy daai bossie afsluk. Ek sluk toe ook maar. Ons was skoon bewe-bang. En daar gaan meneer Cohen aan die lag en sê dat as mens die wit-vergeet-bossie insluk, jou derms gaan knoop.”

“Het jou derms toe geknoop, Lydia?”

“Nee wat, maar meneer Cohen het gesê dat net kasterolie ons derms weer gaan loskry. Toe jaag hy vir ons drie groot poedinglepels vol van die bittergal in.”

Toe ek weer sien, is Smaailie van die stoel af, staan op sy knieë voor die kombuiskas. Ek dog eers dat hy van die stoel afgeval het van lag, maar nee, hy grou in die kas rond.

“Wat maak jy nou?”

“Ek soek die meel en suurdeeg. Ons moet knie. Hier is nie brood in die huis nie,” het die kind die ding sommer so in die lug loop vang.

“Jy gaan knie, nie ek nie. Ek het ’n elmboog aan my.”

“Ek sal knie, maar dan gaan jy die oond dophou as ek middagslapie gaan vat.”

“Ek sal die oond dophou.” Man, die kind het mos die manier om in die middae te slaap. So van twaalfuur se kant af tot drieuur. Hoe hy nog slaap oorhou vir die nag, verstaan ek glad nie. 

Daar sit ek toe en kyk hoe Boerkind die meel beginne meng en dit toe knie, net soos wat ek hom geleer het. Dit smaak my sy knieëry maak die trane in my los.

“Jy knie daai deeg te droog en te styf,” het ek sommer gesê om die trane te keer.

“Issie, Lydia my darling, jy het vir my geleer dat ek hierdie deeg so moet oorvou en hom dan uitknie sodat dit soos ’n bul se kop met horings lyk. Kyk, so ...”

Genade, mens, ek het sommer hartseer gevoel. Dis mos die einste hoe ek vir hom geleer het. Dit smaak my dat die broodbakkery nog ’n ketting was wat ons aanmekaar vasgeknoop het. Ek vat toe maar die broodpannetjie en beginne hom met botter uit te smeer. Stadig van hoek tot kant, veral in die hoekies. My hande het geblink van die botter. Ek vat toe die bak waarin die brood moet swel en spoel hom uit. Ek droog hom goed af. Ek skud toe die plastieksakkie uit waarmee ons hom gaan toedraai. Toe vat ek die kombers, stap tot by die kombuisdeur en skud hom uit.

My mens, toe die kind die deeg klaar geknie het, vou hy hom in. Hy gee dit vir my aan en ek sit dit mooi netjies in die skottel om te rys. Ek bind die plastieksakkie om hom vas en vou hom in die kombers toe.

“So, nou kan hy maar op sy tyd rys,” het ek gesê. So vat Smaailie die toegevoude deeg en stap kamer toe.

“Wat gaan jy met die deeg maak?” het ek verbaas gevra.

“Ek gaan hom in die bed sit sodat hy sommer lekker kan rys. Dis mos warm so onder die komberse van ’n kooi.”

Ek het darem wonderlike goete by Boerkind gesien. Iets wat ek gedink het ek nooit in my hele lewe sou sien nie. Hy het by my kom sit. Sy voete in die son wat deur die kombuisdeur val. Ons het vir die see gesit en kyk, maar in onse gedagtes was daar baie prate wat gepraat is. 

“Lydia, my darling, daai blinkgevryfde ster wat ek onder my kussing sit, is ’n ster vir die wynbottel waarin jy verval het, maar uitgekom het. Dis ’n ster vir die wit-vergeet-bossie toe jy die appelkosies gesteel het. ’n Ster vir die deeg in die kooi, ’n ster vir die brood wat jy my leer bak het. En ’n ster, net vir jou ...”

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Mari Hartzenberg

    Met hierdie kortverhaal knoop jy 'n derde hart vas aan die storie ... myne! Welgedaan, Stanley. Dit was 'n heerlike leeservaring.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top