Bazil en die bazaar

  • 0

Dit was ’n winteragtermiddag toe my ouma en oupa in die sonkamer sit om die laaste stukkie warm son te vang wat skaamgesig by die vertrek inkom.

Die sonkamer het groot vensters wat op die tuin uitkyk en dan die laaste middagson vang. In die somer dalk bietjie te warm, maar in die winter is dit behaaglik, knus, jy sien.

Die huis ruik na vars brood en sop. 

Ouma is besig om ’n lappie uit te werk met die fynste garing en die mooiste gekleurde blommotief. Daar is nou al heelwat van die lappies klaar. Mooi lappies. Elke keer as sy so ’n lappie klaar het en verkoop, of vir ’n dogter of skoondogter gee, is dit asof sy ’n kind afstaan. Na’and het sy maar die goeters tussen ’n handvol motbolle in die troesoukis gesit.

“Die lap groei aan ’n mens,” het Ouma vir Oupa gesê toe hulle in die sonkamer sit.

“Hoe nou ou vrou? Wat groei aan jou?” het Oupa verbaas gevra. 

Jy weet, Ouma kon ’n ding sommer so uit die lug vat en dan praat. Geen mens weet waarvandaan die praat dan kom nie.

“Die lappies wat ek uitwerk. Dis soos kinders, jy weet?”

Aai, mens, ek het al so by Ouma geskimp vir ’n lappie, maar niks nie, dink ek so by myself.

Anyway.

As Ouma sulke lappies uitwerk, dra sy gewoonlik “die arm Jood se bril”. Dis daai bril wat net ’n halwe lens in het, sodat wanneer jy afkyk jy beter kan sien en dan kan opkyk oor die lens. Die mense daar in die Karoo waar ek grootgeword het, praat tot vandag toe nog van “die arm Jood se bril”.

Sy verkies hierdie bril, omdat die onderste lens ’n bietjie meer vergroot as haar gewone bril, want die steek-werkies is maar baie fyntjies.

So teen vieruur staan sy op om koffie vir haar en Oupa te maak, met ’n dadelballetjie daarby, wat sy gewoonlik by die tuisnywerheid koop, dis nou te sê as daar is, en nie een of ander ding waar alles uitverkoop word nie. Soos daardie dag met die inwag vir die dominee.

Die ketel begin so sing op die stoof en ouma skink baie stadig. Dis toe dat sy die tuinhekkie hoor en uitloer. Sy sit die ketel vinnig terug op die warm stoof en haal nog ’n koppie uit die rak.

“Nou vir wat sal dominee nóú hier aankom?”

My mens, ek kan met eerlikheid sê dat Dominee sowaar nie by Ouma kon wegbly nie. Dis oor die storiemakery. Ouma is ’n regte storielorrie.

Ouma sê vir my, dat Oupa sê, dis al haar stories wat vir Dominee lok. 

“Sien, ek het mos gesê dis oor die storie,” wou ek vir Ouma sê toe sy die storie vertel, maar ek het geleer om ’n wag voor my mond te hou as dit by my ouma en haar stories kom. Ek los toe maar dat sy verder vertel.

Oupa het blykbaar op ’n keer vir Ouma gesê om end te kry met die storiemaak. Dit kan net ’n ingewikkeldheid veroorsaak.

Sien, Ouma kon ’n klomp halwe sinne in een asem praat, veral as sy opgewonde raak. Soos hierdie dag toe die dominee kom inloer het.

“...kom in Dominee, dis oop...” sê Ouma toe sommer so alles in een asem.

Ouma praat sommer uit die kombuis uit en nooi die dominee om solank te sit, sy kom … wil hy ook koffie hê … en ’n dadelballetjie … dis heerlik … sit in die sonkamer … die oom is daar voor … alles in een sin sonder asemhaal en haar wange wat bewe van vinnig praat. Alles so op een slag.

Ouma vertel toe vir my dat sy so vaagweg kan hoor hoe Oupa en Dominee in die sonkamer gesels, wel … as mens dit gesels kan noem.

“Middag,” groet my oupa. Effens bot.

“Middag Oom, hoe gaan dit hier?” vra Dominee.

“Goed, ja. Goed. Sit. Die tannie kom,” en dit lyk nie of Oupa  verder gaan gesels maak nie.

“Dit ruik darem maar lekker hier, so warm en huislik,” sê Dominee.

Oupa gee net so ’n lastige hoes-hoesklankie.

Dominee staan ongemaklik rond, eers met sy gewig op die regterbeen, dan verskuif hy na die linkerbeen, dan draai hy effens na die vensters en staan wydsbeen geplant en kyk by die venster uit.

“Die tannie kom met koffie, sit maar op daardie stoel in die son,” sê Oupa en wys na ’n riempiestoel waarop ’n kussing lê wat Ouma gebrei het.

Ouma kom by die sonkamer in, houtskinkbord, koppies met pierings en dadelballetjies.

Dominee staan vinnig op en vat die skinkbord by haar.

Dominee hou eerste vir Ouma en sy gooi in en gaan sit.

Dan vir Oupa.

Oupa vat so bietjie langer met die ingooi, ook maar ’n moedswillige ding.

“Ag nee man Danie, jy is nou moedswillig man,” en sy maak haar keel skoon. Dis meer ’n “brul” as ’n keelskoonmaak.

“ … en die kuiertjie, Dominee, of is dit ook maar net ’n heen-en-weertjie?” vra Ouma en sit weer mooi regop.

“Nee, Tannie, ek het net kom hoor, of liewer raad vra. Julle is nou al lank hier op die dorp en binnekort is daar weer ’n bazaar. Ek is nie heeltemal seker hoe die reëlings werk en wat my te doen staan nie?”

Ouma sê mens kon die kommer in Dominee se oë sien. Siestog.

Ek sien sommer in my gees hoe ouma daar sit, ewe belangrik.

Sy het mos daardie gewoonte om haar “jersietjie” so mooi styf om haar lyf te trek, dat die twee voorpante so oorkruis en dan kruis sy haar bene.

Dan, as sy daardie regterskouer so bietjie gelig het, dan moet jy weet sy is reg vir ’n ding.

“Ja, Dominee, dis maar ’n nare ding. Elkeen op die dorp begin mos weer bak, inlê, uitdroog en naaldwerk doen, slag, soutvleis maak, tuisgemaakte lekkers en speelgoed vir die kinders. Dit is ’n gedoente. Ons woon dit altyd by,” vertel Ouma.

Toe Ouma my vertel van die soutvleis-gedeelte, onthou ek tog te goed hoe ons as kinders daar in die Karoo daai soutvleis geeët het saam met kool en baie aartappels. Skoon honger word ek nou.

“Ek vat maar altyd my lappies en hekelwerk daarheen. Dominee sien, ek wil dit nou nie self sê nie, maar ek kry baie komplimente oor hoe netjies my handwerk is en my tafel is altyd eerste uitverkoop,” praat Ouma haarself groot.

Weet jy, ek kan daarvan getuig. Ouma se naaldwerk, veral die lappies se uitwerk, is baie netjies.

“Dan weet ons natuurlik Ella Verwey bak en haar niggie lê in. Van perskes tot guavas. Dan was daar die outjie hier buite die dorp op ’n plaas wat konfyt kook,” en Ouma kry nie eers hierdie sin klaar gepraat nie voor Oupa proes van die lag.

Ek wou nog vir Ouma vra, nou wat is dan so snaaks aan konfytkook dat Oupa lag, maar Ouma praat bo-oor my en vertel verder.

Dis net rookbolle om Oupa en ’n lag wat so uit sy maag uit kom. Dis min dat ek gesien het hoe Oupa lag, so ek kon my net indink hoe hy gelag het. As ek dit tog maar net kon aanskou. In elk geval.

“A-nee-a, Danie, moenie nou kom staan en lag nie, hou jou in, ons het belowe om die storie nooit te herhaal nie en ek is nie ’n vrou wat praat nie,” beginne Ouma.

Ouma vertel my dat Oupa so gelag het, dat dit smaak hy kry ’n aanval. Ouma probeer hom tot bedaring bring en Dominee sit gereed om van hierdie storie te hoor.

Siestog, Ouma vertel my dat daardie Bazil-vent hom lelik styfgeloop het met sy konfyt. Seker gedink omdat sy pa ’n ryk boer hier buite die dorp is, hy met sy streke kon wegkom.

Ouma vertel dat Oupa net so roggelgeluidjie maak en elke keer bolle rook uitblaas van lekkerkry.

Oupa was ’n man van min woorde en het hom nie veel aan stories gesteur nie, maar hierdie storie kon hy nie los nie. En almal weet dat dit sy gunstelingstorie is.

“Sien Dominee, Bazil was ’n snaakse outjie. Dra broeke wat dalk bietjie te styf sit, rangskik blomme en hy kook soos ’n droom. Die lekkerste kos. Nie boerekos nie, nee, al hierdie nuwerwetse goeters wat uit die stad uit kom.

Sy pa het vir hom ’n afslaandak-kar gekoop en so ry hy die dorp vol met die kar. Ek het op ’n tyd gehoop hy sou vir my vra of ek nie bietjie wou saamry nie. Dominee weet, Bazil was maar bietjie anders en het gesukkel om vriende te maak, maar vir een of ander rede het hy nogal van my gehou, en ek van hom,” en Ouma vou haar arms voor haar bors, en dan vat sy met haar hand aan haar wang.

Toe dat Oupa intjirp en sê, dis omdat sy so stories maak en Bazil van die stories hou. Dit lok hom blykbaar soos ’n magneet.

Maar Ouma sê toe vir my, dis nie waar nie. Sy het altyd vir Bazil, toe hy nog ’n kind was, popklere gemaak. Sy ma wou nie en het vir hom karretjies, ’n kettie en kakieklere gekoop.

Ek kan al sien hoe Ouma haar vir Oupa vererg. Ouma ruk haar kop na Oupa se kant toe, sak haar ken effens en gluur vir hom bo-oor haar brilraam. Haar lippe pers saam.

Ek sê altyd dat sy soos ’n tuisgemaakte jaffle lyk as sy haar lippe so saampers van vererg. Maar as Ouma dit moet hoor, jaag sy vir my.

“Dominee, so vra die pastoriemoeder van daardie tyd dat Bazil kan kies of hy pannekoek wil bak of konfyt wil kook vir die kerkbazaar.Hy kies toe nou die konfyt. Mevrou Dominee wou toe weet watse konfyt gaan hy maak en hy sê toe appelkooskonfyt.

Hulle stem toe in daarop en die reëlings vir die bazaar begin.

Mense kom saans bymekaar om alles te bespreek. Dominee gaan van huis tot huis om net deel te wees van die reëlings en die dorp is behoorlik aan die woel.

So breek die bazaardag toe aan. Mens, dit was ’n gedoente.

Hulle hou die bazaar gewoonlik net hier buite die dorp in ’n ou gebou wat die heel eerste klaskamer in die distrik was. Mooi gebou.

Dik mure, houtvloere, hoë plafonne en opskuifvensters.

Die dames het dan tafels ingedra en al teen die mure gepak. Dan begin hulle uitpak. Van brood tot koek en tertjies. Die boere het vleis gebring en in sakkies gepak. Skaaptjops, wors, vetdermpies en skaapboude, voorkwarte, agterkwarte, beesstert, afval, skaapstertjies. Dis ’n gedoente, Dominee.

Bazil bring toe vir sy tafel appelkooskonfyt in die mooiste botteltjies. Strikkies en lappies. Krale en linte met blinkers. Sy tafel was kleurvol en versier met al die kleure onder die son se linte, blinkers, diamantjies, satyn en organza. Te mooi.”

Soos Ouma hierdie storie vir my vertel, raak ek skoon lus vir bazaar hou, moenie eers praat van daai skaapstertjies en tuisgebakte brood nie. Maar anyway, Ouma vertel toe verder.

“Buite langs die gebou het al die mans bymekaargekom en ’n groot vuur gemaak. Die jonger boere het die braairoosters met ’n oopgesnyde rou ui afgevee en die teiken gaan opsit vir die skyfskiet.

Die ouer boere het oopbeen op stompe gesit en ietsie gevat so uit die fles. Hulle het gesê dis koffie, maar hoe later dit word, hoe lekkerder het daardie koffie kop toe gegaan en dit sonder dat enige iemand ’n galaanval gekry het. Dis net jagstories en wie die grootste vis gevang het.

Dis net sulke groot bakke vol vleis wat gebraai gaan word vir middagete.

Mens kon ’n lootjie koop vir die skyfskiet, R2 en dan het mens so paar skote gekry om te skiet na ’n bok wat op ’n stuk karton geverf is en op die bultjie staangemaak is.”

Haai siestog, Ouma vertel dat Dominee teen hierdie tyd die ene ore is en sy kon sien dat hy hierdie storie geniet. Ek het, met alle respek, mos vir Ouma gesê dit klink of hierdie dominee ’n regte storielorrie is.

Maar anyway …

“Soos dit toe moes wees, koop Bazil ’n skyfskietkaartjie. 

Hy gaan staan toe op die streep wat in die sand getrek is en ’n welgeskape, mooi jong boer staan so agter hom, om te wys hoe Bazil daai geweer moet vashou, aanlê en skiet.

Bazil, die ene konsentrasie, met een toe-oog en ’n mooi boer agter hom.

Bazil tree so met die een been, net ’n voet terug en verskuif sy gewig na die agterbeen toe, sodat hy effens agteroor staan. Die hand wat die sneller moet trek se elmboog stoot hy effens terug, sodat dit net-net teen die boer se bors raak.”

Ouma vertel toe dat Bazil vir haar gesê het dat hy die boer kon hoor asemhaal, so naby aan hom het hy gestaan.

“Haal nou stadig asem, sê die boer saggies, eers inasem, dan stadig uit en as jy uitasem, trek die sneller liggies, gee die boer instruksies.”

Aai, my mens, hoekom Ouma nou so in die fynste besonderhede oor die ou Bazil moes ingaan voor die dominee, weet ek ook nie.

Ouma vertel my dat Oupa ook ’n straaltjie wil by-piepie en hy sê: “Ja, ek het die boer so bekyk, sy skiettegnieke is goed. ’n Man wat kan skiet,” was Oupa se woorde, dis nou volgens Ouma se storie.

Ouma sê dat sy en Dominee maar net so vir mekaar geloer het.

Ek vat maar moeilik aan dié dat Oupa intjirp. Ek ken hom, dis nie sy aard nie.

“Danie, nee man, hou terug. Wat gaan Dominee dink?” het Ouma gesê en haar bene oormekaar gekruis.

“Ag nee wat Tannie, vertel verder. Dis mos pure onskuldige pret. Ek verstaan mos heeltemal.”

Aai, weer wens ek tog ek was ’n vlieg in daardie sonkamer, net om die drietjies te bekyk.

Soos Bazil nou een oog toe daar staan met die mooi boer agter hom, praat ’n ander boer bietjie hard hier langs hulle oor hoe hulle die dag ’n koedoebul gekwes het wat die bosse ingestorm het.

Bazil draai toe daar om, met die geweer nog so teen sy skouer en een oog toe. Jy sien net hoe die klomp boere met velhoedens soos een man grond toe sak en die mooi boer agter Bazil skreeu dat hierdie ’n gelaaide geweer is. Hy kan mos nie die ding sommer so swaai en slinger nie.

Bazil laat sak toe maar die geweer en los die spul. Kom ons sê maar dit was die behoorlike afskop van die bazaar, want al wat mens is, het die stomme Bazil gespot.

“Nee man Bazil, sê die boer geduldig. Kom probeer weer. Moenie opgee nie. Bazil tel die geweer weer op, wydsbeen, gewig op die agterbeen, lê terug tot teen die boer en mik. Dis reg, sê die boer … inasem … uitasem … korrel … en daar trek hy die sneller en skiet. Mens sal nou nie weet of hy raakgeskiet het nie, maar hy het geskiet.

Die bazaar word toe geopen met gebed deur die dominee en tydens daardie gebed staan mense soos honger wildehonde wat net wil gryp, want as die dominee “amen” sê, gryp jy van ’n tafel af wat jy nou al vir ’n geruime tyd in die oog het, want as jy nie gryp nie, gryp iemand anders dit. Binne enkele tellings is die tafels leeg.

Bazil se konfyt is uitverkoop en almal is gaande oor die botteltjies en hoe mooi dit versier is en hoe pragtig die kleur van sy appelkooskonfyt uitgekom het. 

Mooi, donker en blink. Sommige mense het sommer die botteltjies oopgemaak en van die roosterbrode daarmee begin smeer.

Hy het soveel moeite gedoen; hy het kerswas bo-op gedrup sodat dit nie sandsuiker nie.

Die manne het van daardie konfyt gevat en sommer so op die wors gesit. Ook ’n nare gewoonte wat ek nie verstaan nie,” vertel Ouma.

“Teen laatmiddag word die bazaar afgesluit met ’n veiling van allerlei goeters. Van tuisgebakte brood tot ’n skaap, ’n bok en selfs boerseep is verkoop.

’n Klomp geld is ingesamel en die dominee lyk tevrede. En so kom die bazaar ook tot ’n einde, maar Bazil se storie bly voortleef.

Dis net wattepluisies in die ore en skietlessie voor en agter en al waaroor Bazil kan praat, is die jong boer wat hom so mooi met die skyfskiet gehelp het.

Dominee, sy konfyt het so gewild geword, dat die vrou by die tuisnywerheid dit begin koop het en die buurdorpe dit ook bestel het. Ek weet van bestellings wat tot Aliwal-Noord toe moes gaan.

Hy het so baie moeite gedoen om klein botteltjies konfyt te kook, net genoeg vir so twee snye boerbrood. Hy het dan ’n kaartjie opgesit, met ’n naam op wat dan na restaurante toe gaan. Tot die vakansie-oord buite Bethulie het botteltjies met hulle naam daarop bestel. Bazil het omtrent gewoeker en goed geld gemaak. 

So vra Ella Verwey die dag tydens ’n bybelstudie, hoe kook Bazil dan nou nog appelkooskonfyt al is dit winter? Hier is nie ’n appelkoos van ’n dag oud nie. Die bome is leeg en dit was ’n yskoue winter daardie jaar. Sneeu het geval.

So kry almal toe snuf in die neus en Ella besluit dat sy vrou-alleen die storie gaan oopkrap en op die lappe gaan bring.

Sy vind toe uit wanneer die tuisnywerheid weer ’n bestelling plaas en gaan ’n dag vooruit na Bazil se huis toe. Sy parkeer haar kar ver en stap so koes-koes onder die bome deur om seker te maak niemand sien haar nie. Ek kan my indink; sy moes soos daardie vaal voëltjies in die Karoo gelyk het wat altyd so koes-koes onder die bossies deur getrippel het. Ons het hulle sommer die Koes-Koesvinke genoem. Deur die onderste kombuisvenstertjie sien sy ’n ding wat haar warm onder die kraag maak.

Bazil staan toe mooitjies daar en maak al wat winkel-appelkooskonfytblik is, mooi oop, skep dit uit in ’n bak en druk dit fyn met ’n vurk. Hy skep eers vier eetlepels uit, gooi dit in die bak, draai die bak dan skuins en met die agterkant van ’n vurk kap-kap hy die konfyt totdat dit fyn is. Dan weer vier lepels vol en dan kap-kap … net vier lepels op ’n slag sodat hy seker maak hy mis nie ’n deel nie.

Dan moet Hessie, wat in die huis werk, dit in die versierde botteltjies skep. Bazil gooi dan in elke botteltjie ’n naeltjie en so klein bietjie fyn naeltjiepoeier, net vir daardie “tuisgemaakte” smaak en reuk; die botteltjie word dan met ’n klam lappie afgevee.”

Ouma vertel my toe dat ou Ella soos ’n verskrikte haan die kombuis instorm toe haar oë hierdie skelmspul aanskou.

“Hessie, die bediende, gaan staan voor die stoof en maak of sy die groot pot roer, maar daar is nie ’n druppel konfyt in die pot nie en nie ’n vlam op die gasstoof nie. Sy roer daardie pot asof sy in ’n roeiboot sit.

Dis net elmboog in die lug en ’n lyf wat wieg. Bazil gooi ’n lap wat oor sy skouer hang, oor die bak met fyngekapte konfyt, sit die bak vinnig op ’n stoel en so met die kant van sy voet skop hy die stoel onder die tafel in.”

My mens, as ou Hessie nie aangetroude familie van my was nie, sou ek wragtag nie hierdie storie van my ouma geglo het nie, maar Hessie het dit presies oorvertel soos Ouma dit vertel het. Ek wens tog so dat ek dit kon sien.

Die volgende dag weet almal van Bazil en sy appelkooskonfyt. Die mense in die dorp was woedend. Die groothandelaar was woedend, soveel so dat sy vrou hom moes vashou, anders was daar ’n moord op daai dorp.

“Daai mannetjie het sowaar mý konfyt gekoop, dit verwerk en toe koop ek my eie konfyt by hom terug teen twee keer die prys, en al my kliënte koop eerder Bazil se konfyt. Ek gaan moor!” het die man geskreeu.

Ouma vertel dat die dominee so gelag het dat hy blykbaar sy koppie langs hom op die koffietafeltjie moes neersit. Tot Oupa het vreeslik gelag. Ouma het toe opgestaan om ’n botteltjie konfyt in die kombuis te gaan haal. Sy kom terug met die mooiste botteltjie appelkooskonfyt, versier met strikke, linte en blinkers. Op die botteljie is ’n kaartjie geplak wat sê, “Spesiaal vir Tannie Joey”.

Dominee se lagbui het nie bedaar nie, maar eerder vlamgevat, soveel so dat Ouma gedink het dat hy gaan verstik.

“Hierso Dominee, vat maar die konfyt. Gaan proe dit, dis nogal nie so sleg nie,” het Ouma laggend gesê.

“Jawragtie,” sê oupa, “so het slim ook sy baas gevang.”

“Ja, ek sal ook moet gaan,” sê Dominee en staan op.

“Kom, ek stap sommer saam met Dominee uit.” Hulle stap by die voordeur uit, nadat hy vir Oupa gegroet het. Dan by die rooi stoep uit, trappies af, sementpaadjie tot by die hekkie.

Dominee trek die gekrulde handvatsel van die hekkie en maak dit oop. Die hekkie skreeu. Hy stap deur en druk die hekkie weer stadig toe. Die hekkie skreeu weer. Hy kyk na die groot klip met die 63 daarop geverf en pluk ’n pronk-ertjie. Hy stap voor by die neus van die veertien-honderd bakkie verby, klim in sy “beeteltjie” en ruik aan die blommetjie … stroopsoet.

My mens, ek moet sê dat niemand hierdie storie soos Ouma kon oorvertel nie. Ek wou nogal daai dag vir haar sê dat mens ’n fliek van die storie kan maak.

Lees ook

Tannie Hessie en die koorsblare

Die gays kos die NG Kerk nou al byna R30 000

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top