Die gays kos die NG Kerk nou al byna R30 000

  • 1

(Hierdie storie is min of meer die waarheid.)

Hierdie hele besigheid het begin toe die dominee se vrou na ’n troue toe was en ’n groot, bruin koevert uit haar Nissan Skyline uitval. 

Maar mens, laat ek nie hierdie storie vooruitloop nie.

Die dominee het sy voet neergesit en gesê: “Nee wat my Duifie, na daardie troue gaan ek nie en ek gaan hulle ook NIE trou NIE.”

“Ag toe, Pappa, hulle is sulke wonderlike en goedhartige mense.” En dominee se vrou sit duisende stamps op om die lof van hierdie tweetjies te besing, maar dominee bly by sy NEE.

“Nee wat, ek het vir die tweetjies gesê dat hulle nie in my kerkgebou sal trou nie. Bid jou aan. Wie is die bruid en wie is die bruidegom? Voor my kansel!” gaan die dominee aan en aan.

“Moenie eers praat van mekaar die regterhand gee nie en die soen na die tyd. Ek sak my KOP in SKAAMTE. Hoe kan ek twee mannetjies trou wat soos rooibekkalkoentjies voor my preekstoel staan? Nee Mamma, dis laster.”

My mens, maar die predikant se vrou wil troue hou, moffie of te not.

Na weke se gespook, stel die predikant se vrou voor dat die tweetjies nou maar in ’n mooi tuin moet trou. Hier af in Patrysstraat is ’n mooi tuin. Sy sê toe vir die paartjie dat sy alles sal reël, maar hulle moet dit tog maar stil hou.

Die dag van die troue breek aan.

My, mens, maar was dit ’n gedoente.  Ek lag nou nog by myselwers as ek net daaraan dink.

Die troue

Sommer so in ’n baie mooi tuin met baie stokrose, Agapanthus Africanus en ’n paar varings.

Hulle het sommer draadstoele en ʾn draadtafel geleen, die huis se heining is van draad gemaak (so die bure kon sommer bruilof so deur hulle vensters hou) … en daar met al die DRAAD-gedoentes, TREK die twee mannetjies weg met hulle troue.

Die predikant se vrou is ook daar, wit aangetrek, maar neig na pienk toe.

“Hier is nou nie ’n predikant om hierdie storie te wettig nie” sê een van die gaste.

“Moet jy nie worry nie, skattie, ek organize gou,” sê predikant se vrou.

Sy trippel na haar Skyline toe (maar kyk, sy beweeg flink en vinnig), ruk die deur oop, klim in en klap die deur weer toe. Daar ry sy na die Galloppers-Kerk se pastoor, wat onder in die pad besig is om ’n worsbraai-KOMpetisie te beoordeel.

“Seblief, Pastoor, kom trou net die tweetjies, dan kan julle weer met julle worse aangaan,” soebat sy.

“Ja, toe, ek kom,” sê hy.

So kom hulle aan by die huis met al die draadmeubels waar die twee rooibekkalkoentjies tussen die stokrose staan.

“Hierdie ding moet vinnig gaan. My wors is op die kole en as dit te lank braai, breek die velletjie. Ek verklaar julle man en vrou,” rammel die pastoor dit af.

“Nee man, dis verkeerd!” skree een van die rooibekkalkoentjies.

“O, ek sien, ek verklaar julle dan getroud,” sê hy. “My wors se vel gaan bars van die kole, ek kan nie hier staan en troue maak nie,” gaan pastoor aan.

“Ons is twee mans wat trou,” sê die een kalkoentjie.

“Ek verklaar julle dan nou man en man … ek moet gaan, my wors gaan oopbars,” skreeu pastoor.

“Ek vat jou terug,” sê predikant se vrou.

Man, so gaan die troue toe aan en die predikant se vrou vra of sy daardie CD van Celine Dion kan leen wat die paartjie gespeel het met die opening van die baan.

Mens, hoekom hulle nou vir Celine Dion gekies het weet ek nie, maar volgens een van die buurmense wat deur die venster staan en bruilof hou het, is dit omdat Celine Dion en compact disc (CD) dieselfde initials het. Een van die kalkoentjies is mos vreeslik oor dinge wat pas en rym, ens.

Die predikant se vrou is toe weer vinnig daar weg, maar nooit het sy agtergekom dat daar ’n groot, bruin koevert uit die kantsakkie van die kar geval het nie. Een van die kalkoentjies het die koevert opgetel en oopgemaak.

Dis ’n rekening van die hospitaal.

Dertig duisend rand, sê die totaal onderaan.

“Vir wat?” vra die ander kalkoentjie.

Hulle bekyk die faktuur en daar kom hulle met ’n skok agter dat dit die predikant se vrou is wat die hospitaal so baie skuld, in rooi letters bygesê.

“Liefie, ek het jou mos gesê die vrou lyk bekend. Sy was hoofseun in 1972 by Hoërskool Helpmekaar …”

Mens, wat van daai koevert geword het, weet ons nie, maar ’n geheim tussen twee kalkoentjies bly nie ’n geheim nie ... die ding is nou koerante toe.

Lees ook

Tannie Hessie en die koorsblare

Almal van ons is op soek na iets

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top