Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"

  • 21

So, ’n klompie mense wat hulleself “Afrikaners” noem, ruk op na die Voortrekkermonument om ’n verklaring uit te reik.

Suid-Afrika is ’n demokratiese land en mense het die reg om hulle standpunt te stel, maar juis daarom is dit noodsaaklik om in die openbaar te verklaar dat ek nie deel is van hierdie groep nie. Hulle praat beslis nie namens my nie.

Is Afrikaners skielik wit?

Afrikaans is nie deur wit mense geskep nie.

Christo van Rensburg het baie jare lank navorsing gedoen oor Afrikaans se komvandaan. Dit het gelê in die monde van die inheemse bevolkings wat ’n taal ontwikkel het om met die Europeërs handel te dryf, en later in die monde van die slawe wat ook die taal van hulle base moes aanleer. Lees gerus sy goed nagevorste, maar baie toeganklike Van Afrikaans gepraat.

Afrikaans is ook nie vir die eerste keer deur wit omies geskryf nie. Achmat Davids se navorsing het getoon dat dit Moslems was wat Afrikaans geskryf het in Arabiese skrif lank voor daar onder die wit elite moeite gedoen is om in Afrikaans te skryf. The Arabic-Afrikaans writing tradition, 1815–1915, wat deur Hein Willemse en Silemane E Dangor geredigeer is, is ’n goeie boek om meer hiervan te leer.

Nou wil hierdie klein groepie wit mense by die Voortrekkermonument skynbaar Afrikaans terugeis vir wit mense.

Die eerste aanduiding in hulle verklaring dat ons in groot moeilikheid is, kom uit die aanhef van die dokument:

Daar was in die geskiedenis ernstige konflikte tussen gemeenskappe, en Afrikaners bejeën swart mense se ervaring van die verlede met erns.

Is swart mense dus nie Afrikaners nie? Wat van die swart sprekers van Afrikaans?

Dit word egter erger.

Onder die hofie “Afrikaners is ’n inheemse kultuurgemeenskap verbind aan Afrika” staan daar die volgende:

Afrikaners is ’n self-gedefinieerde kultuurgemeenskap – ’n volk – en nie bloot ’n taalgroep of ’n rassegroepering is nie.

Volgens wie? Wie het hierdie “self-gedefinieerde” status van volk toegeken aan mense wat Afrikaans praat?

Nie ek nie.

Want dit raak nóg erger; die verklaring lui:

Ons beklemtoon dat ons deur Afrikaans ook ’n taalverbintenis het met die meerderheid bruin Suid-Afrikaners, asook met ’n beduidende aantal mense uit ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe.

“Ons” is dus nie “bruin” nie? En wie is die “beduidende aantal mense uit ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe” met wie ons skielik ’n taalverbintenis het? Is dit nou daardie “swart mense”? Beteken dit dat ons voorouers wat ons taal in Afrika gevorm en begin skryf het, uitgesluit is?

Dit raak nóg erger. Hierdie “ons” wat so lustig almal wil bevolk, sê:

Ons respekteer hierdie ander Afrikaanse kulturele gemeenskappe en werk graag in alle toepaslike gevalle en sake met hulle saam.

Wanneer “ons” frases soos “hierdie ander” en “hulle” oor land- en taalgenote begin gebruik, dan is ons in die moeilikheid.

Wie se God gaan die arbiter van hier lukrake “volk” wees?

Die Moslemgemeenskap, wat die eerste tekste in Afrikaans geskryf het, is outomaties uitgesluit. Kyk hier:

Ons kom uit ’n Christelik-Westerse tradisie en vertrou op God se beloftes van hoop vir die toekoms, veral in tye van nood. Die republikeinse ideaal het nog altyd sterk steun onder Afrikaners geniet, wat in die praktyk beteken het dat ons ons eie besluite oor onsself wil neem en uitvoer.

Wie bepaal wat “Christelik” beteken? Sal gay mense “Christelik” genoeg wees? Sal trans vroue en mans gelyke regte hê in hierdie “republikeinse ideaal”?

Waar pas die agnostici en die diegene sonder enige godsbegrip in?

Sal Afrikaanssprekende Rooms-Katolieke darem deel mag wees van hierdie “republikeinse ideaal”, of sal hulle, soos die Moslems en Boeddhiste, buite moet bly? Gaan “ons” die Jode ook verjaag in die naam van Afrikaans?

’n Gesprek oor die “republikeinse ideaal”

Die verskrikking van hierdie soort verklarings, waar ’n klein groepie hulleself aanmatig om namens Afrikaanses te praat, is dat alle Afrikaanse ruimtes en inisiatiewe skielik verdag word.

Die MOS-inisiatief is onlangs van stapel gestuur (lees meer hier). MOS se doel is om R100 m in te samel vir die stig van Afrikaanse privaatskole. Daar is geen aanduiding dat MOS eksklusief wit wil wees nie, en die direksie is inderdaad veelrassig. Hulle bemarking op hulle tuisblad is redelik wit, maar daar is foto’s van diegene wat deur die “volk” beskou sou word as “ander Afrikaanse kulturele gemeenskappe”.

Die probleem is dat die Voortrekkermonumentgroepie verklaar:

Daarom bou ons aan ’n kulturele infrastruktuur, leefruimtes, tuistes en instellings om hier in Suid-Afrika te kan bly. Die doel van hierdie kulturele huishouding is nie om onsself te isoleer nie, maar juis om dit moontlik te maak om saam met ander in suidelike Afrika te bly.

Die vraag is: Gaan die “ander” mag deel wees van die “kulturele infrastruktuur” wat deur die “volk” geskep gaan word?

Sal die skynbaar wit “volk” tevrede wees as MOS alle Afrikaanssprekendes sou verwelkom, of gaan die “volk” nou afstig en eie skole bou waar die “ander” nie welkom is nie? Of gaan die “volk” stilletjies inisiatiewe soos MOS en ander kaap om seker te maak die “volk” se kinders hoef nie met “ander” te meng nie?

Dit is interessant om die verklaring van 22 April 2024 te vergelyk met ’n dokument van 16 Septemner 2022, wat skynbaar aan die Afrikanerbond voorgelê is vir bespreking.

Die 2022-dokument, waarvan ek nie die status kon verifieer nie, toon ooreenkomste met die verklaring wat op 22 April 2024 uitgereik is. Die 2024-verklaring is duidelik hersien, maar ’n mens sou wens dat dit op 1 April uitgereik sou gewees het, met ’n skadeloosstelling dat dit eintlik ’n siek grap was.

Die hartseer realiteit is dat alle inklusiewe Afrikaanse inisiatiewe nou nie anders sal kan nie as om duidelik en openlik te verklaar dat ons beslis nie hierdie “volk” toestemming gegee het om namens ons te praat nie, en dat ons dus nie deel van hulle verklaring wil wees nie.

Ek is betrokke by talle Afrikaanse inisiatiewe en ek is trots daarop. Ek is ook trots daarop dat dié waarby ek betrokke is, radikaal inklusief is.

Kry die feite

Daar is ’n aantal boeke wat ’n belangstellende sal help om die geskiedenis van Afrikaans te verstaan.

Die veelrassige verhaal van Afrikaans

Christo van Rensburg was ’n geleerde wat sy lewe spandeer het om die leuen te ontmasker dat Afrikaans ’n wit taal is. Lees gerus:

  • Van Rensburg, Christo. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: LAPA
  • Van Rensburg, Christo. 2018. Van Afrikaans gepraat. Pretoria: LAPA
  • Van Rensburg, Christo. 2018. Finding Afrikaans. Pretoria: LAPA.

’n Deeglike “biografie” van Afrikaans

Halala Afrikaans deur Daniel Hugo begin by die begin – toe die Khoi begin handel dryf het in die taal wat later tot Afrikaans sou groei. Dit neem die leser ook deur jare van Nasionale Party-onderdrukking en die opposisie teen apartheid vanuit die Afrikaanssprekende gemeenskap, ook diegene wat deur apartheid as “ander” beskou is.

  • Hugo, Daniel. 2009. Halala Afrikaans. Pretoria: Protea.

Die Moslem-oorsprong van Afrikaanse skryfwerk

’n Akademiese studie oor die eerste Afrikaanse tekste is deur Achmat Davids onderneem. Sy proefskrif is deur Hein Willemse en Silemane E Dangor geredigeer en is gepubliseer.

  • Davids, Achmat. 2011. The Afrikaans of the Cape Muslims. Pretoria: Protea.

Hierdie boek het moeilik geword om te vind, dus is die teks herverpak en onder ’n ander titel uitgegee.

  • Davids, Achmat. 2023. The Arabic-Afrikaans writing tradition, 1815–1915. Jacana Media: Pretoria.

Davids (1939–1998) is postuum met die Nasionale Orde van Ikhamanga in Silwer in 2019 deur president Cyril Ramaphosa vereer vir sy werk oor vroeë Afrikaanse skryfwerk.

Hein Willemse, ’n swart, Afrikaanssprekende akademikus oor die marges

Om Hein Willemse, ’n swart, Afrikaanssprekende akademikus, oor sy eie navorsing te hoor praat oor Afrikaanssprekendes op die rande, beveel ek hierdie video aan.

Om van skaam te wees

Dit is nodig om te verklaar dat hierdie klein Voortrekkermonumentgroepie nie namens my praat nie.

Ek is skaam oor sulke gekke uitsprake in die naam van Afrikaans.

Ons is nie almal so nie.

 

Hierdie dokument is uit eie beweging deur die skrywer voorgelê. Dit verteenwoordig nie noodwendig die siening van enige instansie waarby hy betrokke is nie.

Lees en kyk ook:

Dink óók swart op pad stembus toe

Oor die "Afrikaner-deklarasie": Ons hou van partytjies

Die Derde Afrikaner – ’n reaksie op die "Afrikaner Verklaring"

Persverklaring: Die Afrikaner Verklaring

Die Afrikaner Verklaring: Saambou of laertrek?

  • 21

Kommentaar

  • Barend Boerkint (dolerend)

    "My standpunt het nou helder geword: Los die groepdenke of groepsidentiteit. Bewerk die klein erfie wat jou toebedeel is, en alles sal daarmee saamkom." - Elsa Joubert, Spertyd, bl. 128 (Tafelberg, 2017).

    Ja, wat 'n vreemde, vreemde verklaring. Mens neem aan dit spreek van 'n Boereidentiteitskrisis in die kleine. Niks nuut of ernstig nie. Per slot van sake net maar die volgende item op die spyskaart van die lewe.

    Hier sit en dag ek dat Eloff hou hom maar grootliks besig om vir ons 'n mooi konsert te reël vir volgende jaar se groot bash by die Taalmonument. En nou die. Groter was my skok egter, toe ek verlede naweek moes verneem dat Akademia, wat ook ruim in hierdie verklaring verteenwoordig word, glo al hulle klasse met Skriflesing en gebed open. Ek prouses nogsteeds daai, meer as 'n week later.

    Die Boere het darem wel ook hulle rol gespeel in die ontwikkeling van Afrikaans glo ek. Afrikaans is nie 'n enkele konsep nie, soos ek verstaan uit Du Plessis se vertellinge elders. En dit skep wel veel verwarring.

    'n Mens se kultuur en etnisiteit is 'n belangrike aspek van wie jy is, maar dit definieer jou nie as mens nie. Nie eens jou geloof (of in my geval ongeloof) vertel vir die wêreld wie jy is of nie is nie. Al is so baie so passievol oor hulle gelowe. En, ons is ook nie ons voorgeslagte nie. Ons stam net van hulle af. Soos wat hulle deur die lewe omvorm was, so word die nuwe geslagte tot ander identiteite omvorm. Is dit nie bevrydend om te weet jy is nie deel van 'n uitverkore volk nie? Ek is, na alles, eintlik maar net nog 'n eksemplaar van homo sapien sapien. Die primaat wat homself tot die "wyse" een benoem het, maar ongelukkig gladnie aldag so wys is nie.

    Die verklaring het my reeds verloor met die klem wat dit plaas op God. Nietemin, is daar seker goeie kritiek ook in die verklaring op die regerende party se nasiebouprojek (nasiebou is ook eintlik gladnie belyn met die beste, este Grondwet op aarde, waarop daar so graag geroem word nie, maar wat vir baie mense, de facto, te veel van 'n liberale smakie in die mond laat om behoorlik daaraan te kou).

    Hulle sê mos mens moet die positiewe probeer raaksien in die lewe. Ek traai my bes. Maar dit sukkel maar.

  • Izak (Sakkie) Spangenberg

    Die Voortrekkermonument se simboliese aansien het sedert die bewindsoorname in 1994 geweldig toegeneem. Die bywoningsgetalle van die Versoeningsdagviering op 16 Desember 2023 was glo van die grootste tot hede. Deesdae het dit werklik die Afrikaner se Groot Katedraal geword. Ek weet dat “ex cathedra” nie beteken “vanuit die katedraal” nie, maar “vanuit die stoel” en dat dit saamhang met ’n amptelike standpunt geformuleer deur ’n Katolieke pous – tog kan ek nie help om te wonder oor die simboliek agter die uitreik van die verklaring nie. Het ons nie tog hier met ’n verklaring “ex cathedra” (nou vertaan as “vanuit die katedraal”) van ’n groep wit Afrikaanse organisasies te doen nie. Hier vanuit die Groot Katedraal word die Afrikaner gedefinieer as wit en Christelik en as diegene in wie se harte die “republikeinse ideaal” steeds warm klop. Ek voel my ook nie tuis binne hierdie definisie nie - daarom dankie vir jou skrywe Izak.

  • Vanwaar die heftige reaksie, Stellenbosse nonkonfirmis? Los tog die mense in vrede dat hulle ‘n nuwe normaal kan skep. Hoe lank wonder ek nie al wat “normaal” is nie. Dalk net, met die genade van bo, beleef ek só iets. Nou kom krap jy in my slaai. Uiteraard moet mens hulle 30 jaar gun en as almal hul kant bring, glip die alternatiewes by die sytent in om normaliteit in die kiem te smoor. Wat anders is daar om te doen? Ja, lekker, man lekker. Raak net vir my rustig.

  • Martin Lombaard

    Goeie more Izak, Fanie, Sakkie en al die ander wat 'n mening gedeel het,

    Magtig, wat 'n kakofonie van menings. Kon 'n mens iets anders verwag?

    Miskien kan ek die saak so effe verder aanroer. Die "Verklaring" gee 'n standpunt en julle volg elkeen met 'n eie standpunt en baie geleerde kritiek. Vir my, die gewone outjie, is die saak nou erg verwarrend.

    Ek wil dus vra dat al die wat sulke deurdagte kritiek op die "Verklaring" gelewer het sal opvolg met hulle eie Verklaring oor wie en wat die Afrikaner dan is. Hou tog maar ingedagte dat hoe wyer die grense raak hoe meer vaag raak jou definisie en uiteindelik is dit 'n niks.

    Groete uit die Bosveld.

    Martin

  • U vraag: Wat is die bosveld nou eintlik? is maklik om te antwoord. Daar is bos en daar is veld en plek-plek die afwesigheid van oseaan. Tog is daar water, en die see weet hy is elke druppel water en elke druppel water weet ek is die see. Dit is teen hierdie agtergrond dat mens ander fenomene soos die Afrikaner kan verklaar want elke ding het sy tyd en sy plek en aan die einde van die dag is als verbeeld en kan elkeen glo wat hy wil. Ten slotte sê William: All the world’s a stage, and all the men and women merely players. Amen.

  • Dit is soos Henning daar, sê Martin. Die antwoord is baie eenvoudig. Die mens is mos maar altyd op 'n spektrum.

    Die gesaghebbende Wikipedia verskaf byvoorbeeld die volgende definisie (soos gevind kan word by Wikipedia, Afrikaners):

    "Die Afrikaners is die grootste en oudste van Suid-Afrika se twee inheemse blanke bevolkings. Hulle verskil van Engelssprekende Suid-Afrikaners deur hul taalkundige en religieuse agtergrond. So is hulle merendeels van Nederlandse, Duitse en Franse afkoms, met kleiner invloede van onder meer Switsers, Skandinawiërs en Portugese, en is tradisioneel aanhangers van Calvinisme, 'n vorm van Protestantisme." [en die Protestantisme is weer 'n vorm van die Christenisme, die dinge van die Here is al van toeka se dae af heavy kompliekyted en gelaai met baie -ismes]

    Ek verbeel my egter dat gewilde woordeboeke soos die bekende HAT dikwels 'n veel meer eenvoudiger definisie van 'Afrikaner' bevat. Iets soos: Afrikaners is mense wat Afrikaans praat. Of so iets.

    Gevolglik vind mens dus altoos konflik tussen inklussiewes en die ekslussiewes (gedurende die vorige eeu was hulle weer bekend as die verligtes en die verkramptes). Die inklussiewes aanvaar Belhar, Kaaps en LGBTQI. Die eksklussiewes doleer en vermaan teen al die dinge.

    Almal wil graag saam erediens hou. Maar dit sukkel maar altyd so bietjie.

  • Is net jammer Shakespeare was ongelukkig nog vasgevang binne die uitgediende binêre paradigma van genderonderskeid. Vandag weet ons van beter.

  • Tielman Kotzé

    Baie dankie, Izak. Ek gaan akkoord met die sentimente verwoord in hierdie artikel.

    Dit is erg aanmatigend van hierdie indiwidue om my Afrikaansheid sonder meer by hul verklaring te wil insluit sonder om my opinie hieroor te bevestig.

    Ek sien my nie deel daarvan nie.

    Tielman Kotzé

  • Snottie, anders as met die meeste ander meningsvormers ter plaatse, styg jou mening die vereiste 15 desibel bo die wit gedruis uit, wat beteken 'n mens kan met jou 'n sinvolle gesprek voer. Ek lees in Beeld: “Navorsers is van mening dat wit geraas die geluid is wat jy as fetus in die baarmoeder gehoor het.” Dink jy swart geraas is 'n aanvaarbare term? [Ek nooi jou graag om my VWB-vriend te wees, waar ek al vantevore vir Azazel Poggenpoel bevriend het.]

    Jy weet seker dat ‘jou’ liggaam eintlik soos 'n perd is wat ‘jy’ deur 'n uitdagende roete probeer maneuvreer. Party perde is swart, ander wit en party wilde hingste se hanteerders van die sagter gender. Sommige hanteerders verander selfs tydelik (verbeeld) in 'n perd. Ek weet al dié dinge en nog meer omdat ek nie deel van die wit bevoorregte Afrikaner-adelstand is nie, maar 'n taai roete uitgestippel het, al is my ou perdjie half dooierig en steeks.

    Aai, Snottie, dis vir niemand maklik nie, hè.

  • Mauritz Moolman

    Hoor hoor, De Vries. Hulle kamp duidelik vir hulself 'n terrein af en ek praat nie eens van die simboliek nie. Alle loslopendes wat nie by die grense inval nie, moet klaarblyklik gerusgestel voel deur die naamlys en aanvaar hulle het ten minste voldoende erkenning en simpatie om die beplande ooreenkoms te wil ondersteun - en dan stel die spulletjie onder die leiding van Theuns Eloff se dopperskap dit ook duidelik dat dit 'n geloofsvereiste is om vir hierdie nuutverklaarde Afrikanerkultuurskap te kwalifiseer. Ek vind die behoefte aan 'n heilige, goddelike toesig oor enige blikke, hede toekoms of verlede, vir die land belaglik en is dus terstond van enige bydraes en ook medepligtigheid in die verband uitgesluit.

  • Ai die spul. Laat hulle maar hulle kringe en hulle poepe in die warm lug geniet. Dink darem hulle gee hulle gastehuise en restaurante orals mooi Afrikaanse name.

    Dit is maar erg: die probleem van dood en dat al wat van ons almal oorbly ons beendere is.

    En ons werk miskien. Vir so ruk dalk.

    Laat hulle nie ander volkere wat Afrikaners is toe by dat monument nie?

  • Martin Lombaard

    Goeie naand,

    Met die lees van die artikels en reaksie op die Verklaring moet ek sommer begin met die erkenning dat julle ver bo my vuurmaakplek dink en skryf. Ek is dalk die tipiese gewone mens en Afrikaner.

    Ek glo dat ons as Afrikaners deel is van 'n komplekse dinamiese sisteem van volke en beskawings. Die weefsel van mense, volke en die groter wêreld is nooit staties nie en vereis voortdurende aanpassing. Ook ons as blankes en Afrikaners in Afrika is deel van 'n ontwikkelende verhaal. Daarom hou ek van die volgende sin in die skrywe van Wynand Boshoff:

    “As die eerste Afrikaner dié van die Boererepublieke was, en die Tweede Afrikaner dié van die Republiek van Suid-Afrika, dan is die Derde Afrikaner besig om sigself te konstitueer.”

    Ek verwelkom al die plasings en reaksies. Dit is dra by om die gedagte van wie ons is en hoe ons gaan oorleef te ontwikkel. Dit beteken dat ons ou spulletjie bleeksiele nog lewendig is en op gewillige en onwillige wyse deelneem aan die konstitusie van die volgende geslag Afrikaner.

    Miskien vind ons deur ons interaksie die waarheid iewers in die middel.

    Groete

    Martin

  • Ek wil my ook nie by die Afrikaner-definisie skaar nie, maar..
    Die holruggeryde storie dat Afrikaans deur die slawe geskep is om hulle Nederlandse (en Portugese) eienaars te verstaan, het tog twee kante? Ook die eienaars het woorde begin gebruik wat nie Nederlands was nie. Dit was beslis nie 'n eensydige ontwikkeling nie.
    Jy kan ook nie die Afrikaanse literatuur verwerp omdat daar een Afrikaanse gebed in Arabiese skrif was nie.
    Ons is beslis nie almal so nie. 'n Mens is nie reg omdat jy dink die ander opinie is verkeerd nie.

  • Waar was julle huigelaars toe Theuns Eloff onder moeilike omstandighede met die ANC in gesprek getree het? Toe het julle ook seker gesê hy praat nie namens ons nie. Julle is met ander woorde die “nie namens ons” mense. Of histories meer bekend as draadsitters. Hy praat namens my, wat myself beskou as ń wit Afrikaner. Nie rassisties wit soos jy dit sal wil verkondig nie maar ń Afrikaanssprekende met ń wit vel wat myself beskou as ń Afrkaner! Ten minste probeer hulle iets doen in teenstelling met julle klagatte wat gewoonlik met niks saamstem nie.

  • Die Afro-Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell het 'n stelling gemaak dat as jy gelyke geleenthede in die ‘60’s voorgestaan het, was jy radikaal, doen jy dit in die ’80’s was jy liberaal, doen jy dit deesdae word jy as 'n rassis uitgekryt.

    Volgens my ondervinding is hièrdie gespreksforum meertalig, tale inklusief - glad nie in murg en been Afrikaans nie, nie Afrikaner as sulks geörienteerd nie en sou dus die verklaring, al is dit voorgelê (wat ek betwyfel), nie eens oorweeg het vir plasing nie.

    Kultuuroordrag word deur Afrikaanse instellings gemaak.

    Sodra gal gebraak word oor 'n kultuurverklaring wat boggerol te doen het met rasnasionaliteit, is dit welkom. Hier praat 'n ou selfs van "bastervolk – bastertaal". Ek het my "voorvadere", aan vader-en moederskant, almal het hier tussen 1825 en 1860 vanuit Wes-Europa geland, bestudeer en ek kan jou verseker ou, daar is nie iets soos wat jy beskryf nie... lyk my jy is ongelukkig oor iets, so ek beskou jou beskrywing van die Afrikaner as onvanpas en neerhalend.

    Ek is 'n Afrikaner, alhoewel geen van my voorsate Voortrekker nasate is nie.

    Watter huidige "Afrikanerskapontkenners" se ouers het hulself nie as 'n Afrikaner beskou nie – sal diegene sê hoekom hul in Afrikaans praat en skryf - algemeen erken en herken as die taal van die Afrikaner? Waar het hulle dit aangeleer, indien nie aan moederskoot nie, en hoekom nou daarteen baklei?

    Prof Gilomee in sy boek ‘Die Afrikaners’ – 'n biografie, stel dit duidelik dat Afrikaans sy oorsprong in Nederlands het.

    Anderskleurige denkers eien Afrikaans toe deur uit hul perspektief aan te voer dat Afrikaans eintlik uit Arabies stam. Ja, daar is woorde wat uit Arabies ontleen is maar, 'n woordjie hier en daar gee nie aan Afrikaans 'n Arabiese geboorte, of maak daarvan 'n Arabiese dialek nie.

    Enige anderskleurige, en/of Moedertaalengelssprekende persoon wat Afrikaanssprekende witheid teëkom, sal die spreker daarvan as 'n Afrikaner eien of aansien. Miskien moet die hanskakie 'n bordjie om sy nek dra met die woorde “ek is nie Afrikaner nie”. Sal so 'n wit Suid-Afrikaner dan ingenooi en ʼn ‘job’ aangebied word?

    Die huidige regeerdes predik voordurend dat die land aan al sy inwoners behoort – gelyke geleenthede het, maar is dit werklik so? Hoekom dan word al hoe meer werks-en bestaanbeperkinge op die wit Afrikaanssprekendes geplaas - geen wonder hul kinders sit oorsee nie, terloops, myne en kleinkinders is almal hier.

    Die mediamense, joernaliste, ens, ingelyks, moet die regeerders napraat of anders sit hulle sonder ‘job’. Laertrek? Dink hulle nie dis tyd daarvoor nie?

    'n Stewige Afrikanerhanddruk vir almal.

    Raed-na-Gael.

  • Die driede Boerkint

    Nee, Thinus, ek vermoed nogal jy sal vind dat die nee-stemmers (die eksklussiewes) desjare gemoun het oor Dakar en vandag is dit die ja-stemmers (die inklussiewes) wat moun oor die nuwe verklaring. Dis waarskynlik nie dieselfde crowd nie. Mense kan seker maar hulle besware lug. Ten minste chat hulle oor dinge, en dis tog seker nie so slegte ding nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top