
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
|
Onder ’n bloedrooi hemel |
Die oorkant |
Die formidabele memoir, Onder ’n bloedrooi hemel (Tafelberg, 2023) se Nederlandse weergawe, Om het hart terug te brengen (2021), is met die gesogte Henriëtte Roland Holstprys bekroon. Tog is dit nie ’n tradisionele memoir wat bloot ’n uittreksel uit die skrywer se lewe vergestalt nie; dis tegelykertyd ’n reisverhaal, polities-historiese kritiek, selfondersoek, sosiale kommentaar, die praktiese uitvoering van narratiewe terapie, ’n bildungsroman, en ’n verbeelde werklikheid.
Tegnies is dit verteenwoordigend van ’n hibriede genre waar feite en fiksie nie net vermeng nie, maar mekaar ook aanvul en komplementeer sodat ’n onverdeelbare eenheid geskep word wat ten beste as outofiksie beskryf kan word. In die klassieke Romeinse Reg verloor geld sy individuele kenmerke in ’n proses wat as confusio bekendstaan, so ook wanneer noodsaaklike fiktiewe invoegings die gapings tussen die gegewe feite in ’n teks soos hierdie moet vul.
Soos die memoir, is die roman in beide Afrikaans en Nederlands gepubliseer. By beide is die titels nie vertalings van mekaar nie, maar elkeen fokus eerder op ’n ander aspek van die teks. In Nederlands heet Die oorkant dan ook De strafstoel. In beide gevalle is ’n vroulike perspektief die essensie van die vertelstem; in die memoir die skrywer self, en in die roman, die protagonis, Ada. Die aanbieding is in verskillende genres; Die oorkant word pertinent as fiksie aangedui, maar ’n voorbehoud bestaan tog: “Die roman is fiksie, deels gebaseer op ware gebeurtenisse wat hier ingrypend verwerk is.” (bladsy 4) Die ooreenkoms is natuurlik onmiskenbaar; beide vermeng feite en fiksie, alhoewel dit uiteraard nie in gelyke dele geskied nie.
Die sentrale tema in beide is ’n herbesoek aan ’n omgewing wat uit die verlede dateer, gewapen met die kennis en terugbeskouings van die hede. Ada keer, kort voor haar veertigste jaar, terug na die omgewing wat haar kinderjare gedefinieer het: die Overberg, die Breëriviervallei, en die Sondereindberge, waar haar vriendin, Mel, nou ’n nederige rietdakhuisie langs die rivier bewoon.
“Soos ’n kwiksilwer spieël lê die rivier tussen sy oewers... Presies so onthou ek dit uit my kinderdae... Dis my derde dag hier.” (7) Oorkant die rivier lê die plaas. Ook die spore van hom wie se naam sy nie van haar eie kan onderskei nie . Sy is Ada. Van Esias. Van Bloukoeniekraal.
Narratiewe terapie is ’n leitmotief wat soos ’n silwer draad deur beide die tekste loop, met die eerste verwysing daarna reeds vooraf in die roman, “I thought if I could keep formulating it correctly, if I could keep finding the right words to house it, maybe I could change it...” – Maggie Nelson (6). En later, “Dis of alles besig is om in my los te kom, alles wat ek tot nou toe bymekaar probeer hou het... Gister het ek selfs die eerste paar sinne getik, moeisaam maar tog – die eerste sinne in ’n poging om die verhaal na my toe te skryf.” (Ada, 8)
Die grondlegging van storievertelling is deur Janna, die Hessequa wat geweet het van die verskil tussen leeswoorde en praatwoorde, gelê toe sy, met die latere wysheid van Bessel van der Kolk, aan jong Ada bevestig het dat stories in die bloed gedra word; dat die kop vergeet, maar die liggaam nooit, en is bevestig deur die vervalle kerkie wat as spreekwoordelike posklip gedien het, selfs toe dit bloot die herhaling van die letter M as skrif teen die muur gedra het.
Die skrywer, self bekend met die joernalistiek en woordkuns, is vertroud met die waarde van die geskrewe woord, al is dit deur ’n ander party neergepen. Die bestudering van die hofrekords na die moorde op Ruben en sy ma was eweneens ’n belangrike stap in haar afsluitingsproses.
Mel is ’n sterk ondersteunende karakter van Ada se pogings tot ’n sinvolle narratief. Haar empatiese geskenke, soos die woorde uit Camões se Os Lusiadas, “En toe Adamastor klaar was met sy verhaal, het die wolke weggetrek, die water kalmer geword, en die monster verdwyn” (102) versterk Ada se begeerte na die uitskryf van die angel, en die vasvang van emosies in ’n veilige kapsule van woorde, ironies versterk deur die gewraakte woorde van Pa: “Hoe doen jy iets waarvoor jy bang is? Deur dit te doen.” (118)
In die geval van beide publikasies word die volgende bevestig: “Woorde wat neergeskryf is, besef sy nou, is anders as woorde wat gesê word; dit is iets waarnatoe jy kan terugkom, dis daar, jy hoef nie bang te wees dis jou verbeelding nie, of dat jy nie goed gehoor het nie.” (172)
Esias is, soos die skrywer se pa, ’n komplekse antagonis. Die gewelddadige aard van sy karakter kan nooit ontken word nie, maar ook hy dra die las van Bloukoeniekraal se groot stilbly in die persoon van sy kleinboet, Faan, gekombineer met die spoke van die Grensoorlog wat ’n tuiste gevind het in die koeël wat hy aan ’n riempie om sy nek dra. ’n Teensinnige begrip vir sy tekort aan medemenslikheid manifesteer toenemend, veral wanneer die selfsugtige gedrag van die onstabiele Vera, die een wat beloof het om hom lief te hê, ontbloot word.
Ada se terughoudendheid en onwilligheid om die verlede te konfronteer, “Ek moet terugswem, ek was te lank hier aan die oorkant” (160), word eweneens duideliker soos wat haar eie skuldgevoelens – selfs al is die regverdigbaarheid daarvan debatteerbaar – op die voorgrond tree. Haar insig in die teenstrydige aard van Esias, “Dis Pa van die skemer. Esias van die nag... Die skuur verwar soms die tyd, maak dit nag terwyl dit nog dag is, en bring Esias vóór Pa heeltemal weg is” (36), wat soos ribbokblomme saans verander, vind ook neerslag in haar eie selfontleding: “Lig en donker is vreemde dinge. Hulle weeg nie ewe swaar nie. En hulle verander mense.” (49) Dieselfde dualisme word ook in Onder ’n bloedrooi hemel gevind. Beide vaderfigure is uiteindelik produkte van hulle eie geskiedenis en agtergrond, nie noodwendig inherent boos nie.
Die meer volwasse Ada se bitterheid word teruggekaats deur die bitterheid van Janna wanneer die verwyt, “Wat moet ek en Des met julle jammerte maak? Wat met ons gebeur het, kan nie weggewas word nie, dit loop vir altyd deur ons bloed!” gevolg word deur die ewe magtelose, “Ek’s maar net ’n vrou. Nie eens ’n wit vrou nie. Ek het ’n dubbelte van magteloosheid.” (217). Die skrywer se intieme ervaring van diegene wat voor 1994 as nie wit geklassifiseer was nie, vind eweneens neerslag in die karakter van Denzel, asook haar eie onwilligheid om hom voor ’n apartheidshof te daag, selfs toe sy aan die ontvangkant van die onreg was.
Die betroubaarheid van Ada in die narratiewe hoofrol word ondersoek met verwysing na die berouvolle erkenning van haar leuenagtigheid as kind. Die tegniek om na die jong Ada in die derde persoon en na die volwasse Ada in die eerste persoon te verwys, word deurlopend gehandhaaf. Dieselfde stemverandering word by die skrywer gevind wanneer sy na die vonnisoplegging van Ruben en sy ma se moordenaars bykans klinies afstand verkry om sin van die gebeure te probeer maak. Die blootlegging van die donkerste dele van die verlede geskied geleidelik, maar die skeur tussen hierdie twee opponerende klowe word nooit ten volle oorbrug nie, net soos wat volledige vrymaking immer ontwykend bly.
Miskien is die aantrekkingskrag van narratiewe terapie, hetsy in die neerskryf van gebeure of in die orale oorvertelling daarvan, juis hierin geleë, dat die skrywer/verteller minstens klemverskuiwings gegun word, soms selfs die vryheid van alternatiewe werklikhede, die teruggryp van beheer in bepaalde situasies, en die tipe wraak wat deur ink moontlik gemaak word.
Daar is ook voordele vir die aanhoorders en lesers van hierdie narratiewe; as selfs net een enkele persoon die gruwels wat ons nagmerries teister kon oorleef het, of minstens net sin daarvan kon gemaak het, of skoonheid in afskuwelikheid kon vind, herleef die hoop dat ons, indien ons daarmee gekonfronteer sou word, dieselfde sal kan doen.
Lees ook:
Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk: ’n boekbespreking
Persverklaring: Annemarié van Niekerk wen enorme Nederlandse prys


