Omtrent taalberegtiging in hoëronderwys

  • 0

 

Lees ook:
Stigtingstoespraak van die Afrikaanse Alumni-vereniging: Afrikaans en universiteite
US-Raadsbesluit: US verbind tot meertaligheid sonder uitsluiting

Die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) van die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad neem kennis van die taaldebatte wat die afgelope jaar op universiteitskampusse plaasgevind het, en steeds plaasvind.

In die lig van die Grondwetbepalings ten gunste van meertaligheid, het tersiêre inrigtings in Suid Afrika almal meer as een amptelike taal as beleid. Hierdie institusionele beleide bestaan volgens alle aanduidings net in teoretiese terme - implementering vind gewoon nie plaas nie, onder meer omdat daar nie genoeg fondse van die regering ontvang word nie. 

Die direkte implikasie is dat Engels om  pragmatiese redes die groeiende dominante taal op alle kampusse word.

In die geval van Stellenbosch het die Universiteitsraad besluit ten gunste van drie amptelike tale, en dat geen student uitgesluit sal word op grond van taalvoorkeur nie. Hierdie besluit kan ondersteun  word. Die toets is egter die implimentering hiervan, terwyl die praktyk van die groeiende verengelsing, soos op alle universiteitskampusse die geval is, op die korttermyn die norm word. 

Die praktyk dat Engels die hooftaal op alle kampusse word, gedrewe deur pragmatiese oorwegings, is 'n groot bron van kommer.  Hiermee word die taalregte van ander tale geskend, en die NTLA vertrou dat dit ook die bekommernis is van al die Taalrade van PANSAT.

Die NTLA doen 'n beroep op besluitnemers om taalberegtiging in hoëronderwys met die grootste verantwoordelikheid vir die nageslag te bestuur en te monitor. 

Ons doen 'n beroep op besluitnemers om hierdie grondwetlike ideaal met erns en op tasbare wyses te verwerklik, en in die openbaar landsburgers daaroor gerus te stel.

Met hierdie verklaring wil die NTLA die gedeelde verantwoordelikheid van landsburgers om die regte van alle tale te beskerm, ondersteun en opnuut bevestig.  In die meertalige Suid Afrika is dit 'n noodsaaklikheid vir die voortbestaan en uitbouing van ons jong demokrasie dat elkeen van die amptelike tale ruim geleentheid kry om te groei as tale van kennisontwikkeling, binne sowel as buite universiteite.

Gert van der Westhuizen

Namens die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans

Pan Suid-Afrikaanse Taalraad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top