Nuwe redaksielid by LitNet se Nuwe Skryfwerk: ’n onderhoud met Didi Potgieter

  • 0

Foto van Didi Potgieter: verskaf

Die LitNet-redaksie is spyt om vir Cliffordene Norton as redaksielid by Nuwe Skryfwerk te verloor; sy gaan verder studeer.

Didi Potgieter neem LitNet se Nuwe Skryfwerk-leisels by haar oor. Naomi Meyer en Izak de Vries het Didi oor haar agtergrond uitgevra.

Didi, wil jy in ’n paar sinne iets van jouself vertel?

Ek is Didi Potgieter, vrou van een, ma van twee. Almal wat my ken, sal vir jou kan sê dat ek ’n koffiepot is en jy kan regtig baie met my uitrig vir ’n goeie koppie koffie. Ek is nie bang om nuwe dinge te leer of om ou vaardighede op te skerp nie, so ek is altyd met een of ander aanlyn kursus besig. Ek is mal oor lees, kuns en goeie musiek.

Jy skryf self – waar het jy die eerste keer gepubliseer en wat was jou pad na publikasie? Hoe het jy ’n skrywer met eie boeke geword?

Ek het skryfkuns aan die NWU studeer en my finalejaarprojek was ’n manuskrip in die genre van my keuse. Romanse was nog altyd my passie, alhoewel ons elke genre, van poësie tot kinder- en jeugliteratuur en drama bestudeer het. Deel van my opdrag was om my manuskrip na ’n uitgewer te stuur en ek is baie gelukkig dat LAPA die manuskrip aanvaar het en dat ek nog onder wyle Cecilia Brits se hand die fynere nuanses van die genre kon leer. Daarna kon ek net nie ophou skryf nie en met elke boek dink ek steeds: "Wow, ek kan dit nie glo nie."

Jy het ook al by die ATKV-skryfskool gehelp. En nou is jy die Nuwe Skryfwerk-redaksielid by LitNet. Is daar raad wat jy aan voornemende skryers kan gee om te verbeter?

Ja, beslis. Eerstens, lees, lees, lees in die genre waarin jy wil skryf, en as jy dink jy het genoeg gelees, lees nog. Kritiek is jou beste vriend. Iemand wat die moeite doen om vir jou terugvoer oor jou werk te gee, het beslis potensiaal daarin gesien. Nog ’n waardevolle stukkie advies is dat die skryfstuk baie maal homself "reghelp" nadat jy dit ’n tydjie in jou spreekwoordelike laai gelos het.

Praktiese vraag: Iemand kry inspirasie vir ’n gedig. Moet hulle dit gou neerskryf en dadelik stuur? Bietjie laat lê, weer daaraan werk? Wat dink jy werk die beste?

...........
Ek dink die inspirasie is belangrik – dit is soos die vonkie wat die vuur maak. Jy kan egter nie op die vlamme jou vleis braai nie. My raad sou wees om jou impuls neer te skryf, maar so ’n bietjie daaroor te gaan dink.
.............

Ek dink die inspirasie is belangrik – dit is soos die vonkie wat die vuur maak. Jy kan egter nie op die vlamme jou vleis braai nie. My raad sou wees om jou impuls neer te skryf, maar so ’n bietjie daaroor te gaan dink. Wat wil jy met jou gedig of skryfstuk sê? Watter gevoel wil jy by jou leser wek of watter stukkie van jouself wil jy op papier vasvang? Moet egter nie te lank wag nie of te veel aan jou gedig karring nie. Vertrou die stem wat uit jou hart met jou praat.

Hoe gemaak as jou skryfwerk afgekeur word?

Destyds, net na my derde boek verskyn het, het ek my hand gewaag aan ’n kortverhaal en dit in ’n dapper oomblik aan Rooi Rose gestuur ... Toe ek die "Jammer, ons kan dit nie tans plaas nie"-e-pos kry, het my moed tot in my skoene gesak.

.........
Ek het egter tydens my studies geleer dat kritiek (of in dié geval ’n afkeuring) my beste leermeester is.
..........

Ek het egter tydens my studies geleer dat kritiek (of in dié geval ’n afkeuring) my beste leermeester is. Ek het ’n klomp tydskrifverhale gaan lees en ’n paar maande later het ek ’n kortverhaal in die Vrouekeur gehad. ’n Nee was nog nooit vir my ’n eindpunt nie, maar eerder ’n begin om my kennis te verbreed of my sienswyse te verander.

Stuur gerus voorleggings vir LitNet se Nuwe Skryfwerk-afdeling na hierdie adres: skryfwerk@litnet.co.za. Neem asseblief kennis dat geen korrespondensie ten opsigte van redes waarom jou voorlegging afgekeur is, agterna gevoer sal word nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top