
Ons is verby die 30ste jaar van ons demokrasie. 40 jaar gelede het die bangheid moontlik gelyk. Die afgrond van burgeroorlog was alreeds onder ons gekrulde tone. Daar was amper geen ander storielyn nie. Die skrif was aan die muur, en dit was nie in Afrikaans nie. Dit was vol vivas en amandlas!. Hier is ’n klein verhaaltjie wat ek in 1986 vir ’n revue geskryf het. Die skets se titel was “Los Afrikanos Paraguayos”.
Die uitgestrekte vlaktes. So bekend, maar ook so vêr van die huis. Pampas goud en fyn teen die rooi grond. ’n Sagte wind wat soos fluweel oor die donskombers van gras streel. In die doerte, ’n koekerasie heuwels en koppies. Nie so blou soos by ons nie, maar nogtans bekend. Die son is hoog en skerp, amper eina op die kaalte van jou nek. Jy mag nie hoed dra nie; deel van die kontrak. Ook g’n kakie of sis. Blou krimpelien dra almal hier buitendien; dis nie Afrikaner se kopiereg nie. Maar vandag is anders.
Ons mag dinge vandag doen wat die res van die jaar verbode is. Vandag is dit toelaatbaar om ’n ware Afrikaner te wees, met braaivleis soos net ’n boer dit kan voorberei. Potjiekos is te moeilik, want die ysterpotjies is verbied; maak maar aan in ’n soortgelyke plastiekskottel, al is dit nie dieselfde nie.
Die mense is op pad na die skuur. Hulle kom van orals in ou motors, bakkies en busse. Almal nog vreemd met die stuurwiel aan die verkeerde kant. Maar hier in die oop veld is daar nie reëls vir bestuur nie; daar’s skaars ’n pad. Niemand ry in mekaar vas nie, want almal is op pad na dieselfde plek. Die ou skuur is nie meer woonplek vir perde of koeie nie. Nuwe geboue en komputers doen daardie werk saggies duskant die horison.
Die gebou kraak in die wind. Daar’s gate in die dak. Die son skyn deur elke opening en maak strale van goud tot onder op die vloer. In die donker binnekant lyk dit soos silwer tralies. Almal probeer kalm bly. Dis moeilik. So baie het gebeur; soveel om van te praat. Baie opinies en meer as net gesonde woede. Maar vandag is spesiaal.
Die mans dra oopnekhemde en ou hoede, vandag agter die kaste uitgehaal en afgestof en met trots gedra. Die vroue vleg versigtig ou kleure van oranje, blanje, blou saam in hul hare en om nekke en middels. Daar is nêrens ’n teken van daardie ou vlag nie; te gevaarlik. Ook te onnodig om so ’n rooi laken voor die bul te waai. Hier is hulle alleen in die middel van ’n wêreld. G’n teken van die ander wat gewoonlik rondstaan en vir hulle kyk nie. Maar almal weet die soldate sal kom om dop te hou, met gewere altyd gelaai.
Skielik lyk die skuur vol. Vir die eerste keer sedert hulle almal laas jaar op 16 Desember toegelaat is om saam te kom. Die gebrom van gesels word stiller. Bekendes sien mekaar soos vir die eerste keer. Daar is trane; hande oor mekaar se ou gesigte. Sagte afvee van pyn en die verlede se bitterheid. Die salige geur van boerewors heel nog alle wonde. Stroperige koeksisters drup op verbleikte Voortrekkerrokkies. Stukke biltong en droëwors bly maar lê. Niemand is seker wat hulle destyds in lewende lywe was nie (lank voordat hulle die boere-ikone kon namaak).
Dan begin almal gelyk babbel. Dit word harder; bekender. Na ’n jaar van sukkel in Spaans en Frans, Duits en Ingels is hier vir die eerste keer in maande die mooiste, mooiste taal! Die verkleinwoordjies en liefdesgeluide van -tjie en -kie meng saam met die growwe keelkonsonante en glottale ploffings.
Afrikaans!
Die son is nou op sy hoogste. Die goue straal deur die gat en die vervalle dak skyn direk af op die stuk lap, geborduur en met fyn lettertjies uitgehekel: “Uit die blou van ons hemel, uit die diepte van ons see ...” Die son se vinger lees die woorde van daardie vervloekte lied. Niemand durf dit hardop sing nie. Bang hulle’t die woorde vergeet in die emosie van die oomblik.
Almal dink net aan daardie groot onderstebo suikerblik op die koppie buite die stad nou genoem Mamelodi. Almal wonder of die son van die Hoëveld daardie opening bo-op die monument sal vind en sal loer, af tot onder waar die vlam van Afrikanerdom destyds geflikker het. Miskien is dit nie meer daar nie. Platgetrek? Met dinamiet die blou lug van onse hemele ingeskiet? Versink in die diepte van die geel grond van ’n vreemde plek nou genoem Gauteng. Die geluid van militêre masjiene buite bring almal terug met ’n skok. Paraguay se leër staan stil maar broeiend in ’n sirkel om die skuur.
Die kontrak met die Afrikaners was baie spesifiek. Politiese asiel, grond, mediese hulp en sielkundige behandeling? Ja. Maar die Afrikaanse taal is verban; die simbole is verbied; die kultuur is taboe. Behalwe op hierdie een dag: 16 Desember – ’n dag van onthou en verwerk. Die oomblik van saamtrek om te wonder: Wat het so verkeerd gegaan? Die kort tyd om hande te hou, en dan speel-speel te dink: Alles is nog soos dit was. Maar dit is nie, kan nie, sal nooit weer so wees nie.
Iemand het ’n pensorreltjie en begin met die note van die lied, ’n FAK-musiekie wat almal nog ken, so bekend dis amper afgesaag. Maar hier op die vlakte van Paraguay? Duisende kilometer van die huis? Vergete en verlate in die verste hoekie van ’n wêreld wat niks meer wil weet van daardie destydse uitverkore volk van Malan en Verwoerd en Vorster en die ander nie? Maar soos die liedjie se wysie kliphard laat uitsing oor die geboë hoofde van die verlangendes, en begin sy woorde met spanning verlig: “My Sarie Marais ... is so vêr van my af ... ek hoop om haar weer te sien ...”
Maar kyk! Ek was verkeerd. Ons is nie in Paraguay nie; boerebannelinge was ons nie! Ons liedjies is nog singbaar; ons stories is steeds hoorbaar. Ons kultuur het Goddank nie meer ’n Broederbond-hoofletter nie, net ’n gesonde klein “k” soos dit hoort. En oor die lengte en breedte van die geknelde land met sy nuwe skelname en chaotiese provinsies, etniese gesigte en politieke verwarrings word daardie eeu oue taaltjie nog gepraat, met die lekkerte en losbandigheid van ’n liefdesverhouding, saam met somaar 11 ander maatjies in die demokratiese speelkamer van kommunikasie. Maar tjoe, dit was so amper-amper!
Of hoe, ou Afrikaans?
Ek kyk nou in Meimaand 2025 na die woelinge by die groot Johannesburgse lughawe. Hulle sê 70 Afrikaners altesaam in die tou; heelwat kinders. Ook pappas in kortbroeke, oorgewig en ook bekend as ooms en broeders. Tannies en skatties probeer glimlag, elk met koffers volgepak vir die nuwe lewe. Die kameras vreet die verligte grynslagte op, want hier is wit Suid-Afrikaners wat voor die rassemoorde vlug. Gelukkig, soos ’n pous, gee die Withuis-heer vir almal ’n groen kaart van omhelsing.
Nooit gedink ek sou daardie 1986-storie afstof nie.
- Foto’s: Koeksisters deur Arnold Goodway, CC BY-SA 2.0 via WikiMedia; soldaat deur Maab Hasan, Pixabay
Lees ook:
Die 49 wit Afrikaanssprekendes in die VSA: "vlugtelinge" of vlugtelinge?
Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe

