
Wannie Carstens skryf op Facebook:
Die 49 “vlugtelinge” na die VSA het elkeen ’n eie verhaal te vertel – ons kan van hulle verskil oor hulle hoe die geleentheid gebruik het. Ons weet nie wat in elkeen se lewe gebeur het dat daar besluit is om sover te gaan nie – om alles (ook familie) agter te laat en op so ’n omstrede wyse die land te verlaat, was beslis nie maklik nie.
Dit sal wel beslis misdaad (aanvalle op ’n plaas, gesins- of familielede wat vermoor is, kapings, huisinbrake, ens.) en ’n moedeloosheid wees met die wêreld waarin hulle in SA ’n bestaan moes maak, wat tot so iets moes laat oorgaan het. Die ANC het SA in 30 jaar verniel om dit ligweg te stel.
Maar vir die president om te kom en die betrokkenes as “lafaards” te etiketteer, is ’n stap te ver. Dit is bedenklik. Dat hy nie die vermoë het om na binne te kyk oor sy party se aandeel aan die skep van so ’n onrustige klimaat nie, getuig van iemand wat die skuld vir sy eie gebreke op ander verplaas.
En is die bykans 1 miljoen SA burgers wat sedert 1994 gemigreer het om beter geleenthede elders te ontgin, ook almal lafaards en anti-transformasie?
Dit was die man wat ons in 2018 beskou het as die “redder” na die Zuma-jare, maar die teleurstelling in hom is enorm. Maar nog te meer dat hy so laag daal, is bewys van ’n gebrekkige karakter (ons almal weet hy is met ’n groot mond en sonder ’n ruggraat gebore). Dit is ook bewys van ’n gebrekkige oordeel. Van ’n president verwag ’n mens beter.
Lees en kyk ook:
Die 49 wit Afrikaanssprekendes in die VSA: "vlugtelinge" of vlugtelinge?
Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe


Kommentaar
Wannie, ek sekondeer. Dink net: 'n staatshoof wat van sy burgers verwag om "dapper" te wees in die onveilige toestande wat deur sy regering geskep en geduld word.
Die president met al sy lyfwagte en privaatsekuriteit, is natuurlik glad nie 'n lafaard nie ...
Stem absoluut saam! Was ek 30jr jonger het ek voor in die tou gestaan! Albei my seuns met messe helderoordag aangeval en besteel. My man en een seun 'hostage' gehou; my broer en sy dogter beroof en ernstig beseer. Huisinbrake té veel om te onthou ens ens! Ramaphosa en sy gevolg praat en praat en geen werklike aksies of verbetering in ons lewensomstandighede vind plaas nie! As Trump sy aanbod tot alle Suid-Afrikaners gerig het, sou daar baie meer swart mense as wittes aansoek gedoen het.