
Ek soek na ’n geskikte titel vir hierdie bulletin, en twee bekende filmtitels duik op: One flew over the cuckoo’s nest (1975) en High noon at the OK Corral (1957), maar toe hou ek maar by ’n meer generiese opskrif. Die besoek van president Ramaphosa aan president Trump van 19 tot 22 Mei 2025 kon nie op ’n meer geleë tyd gekom het nie, want die verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika is waarskynlik nou op die laagste punt sedert 1994. Die eerste 49 Afrikanervlugtelinge (ingevolge ’n Amerikaanse beleidsbesluit) wat op 14 Mei 2025 op die Dulles-lughawe by Washington, DC aangekom het, is simbolies van die slegte stand van sake.
Daar is baie vrae oor die voorgenome besoek. Wat sal op die agenda wees? Wie gaan deel van die afvaardiging wees? Gaan daar ’n Zelenski-oomblik wees? Is dit moontlik om Trump se persepsie oor gebeure in Suid-Afrika in een ontmoeting te verander terwyl hy op soek is na ’n moeisame vrede tussen Rusland en Oekraïne en ’n ontwykende oplossing tussen Israel en Hamas, verkennende gesprekke met Iran, en komplekse handelsooreenkomste met China?
Donald Trump het reeds sedert 2013 blyke gegee van sy siening oor Suid-Afrika toe hy verklaar het dat hy Mandela bewonder het, maar dat misdaad Suid-Afrika in chaos gelaat het. Die tema van ’n gevaarlike Suid-Afrika word in 2015 herhaal, en in Augustus 2018 versoek hy Mike Pompeo om verhoudinge met Suid-Afrika te ondersoek. In dieselfde jaar spreek hy ook sy skeptisisme uit oor internasionale hulpverlening en verklaar in Julie 2019: “South Afrika is ripping us off”, ’n stelling wat telkens in 2025 herhaal is ten opsigte van die res van die wêreld. Ander temas wat in Trump se uitsprake oor Suid-Afrika blyk, is die voorkoms van misdaad, die negatiewe impak van grondhervorming, onteieningspraktyke en swak politieke leierskap. Meer onlangs het die posisie waarin wit Afrikaners hulle bevind ten opsigte van grondonteiening en persoonlike veiligheid deel van die temas geword. Verwysings na volksmoord (“genocide”) is ook in die Trump-dampkring gebruik en op 12 Mei word spesifiek na volksmoord verwys in ’n perskonferensie in die Withuis met betrekking tot wit boere en Afrikaners.
Donald Trump is ’n transaksionele leier en ’n swak luisteraar, veral as ander leiers aan hom wil voorskryf – dit het Zelenski reeds aan ons uitgewys. Gelukkig is Cyril Ramaphosa die volkome diplomaat, en ek twyfel of hy ’n Zelenski-oomblik in die Withuis voor die wêreldmedia sal veroorsaak, veral nie as hy ’n span met hom saamneem bestaande uit John Steenhuisen, Ronald Lamola, Parks Tau en Mcibisi Jonas nie. Vir Suid-Afrika is die ontmoeting ’n regeringsgesprek (lees regering van nasionale eenheid), en nie ’n politieke ontmoeting nie, maar daar kan verwag word dat Trump sy persepsie oor Suid-Afrika duidelik sal maak. Vir plaaslike verbruik het die ANC verklaar dat Suid-Afrika nie deur die VSA geboelie sal word nie, maar die konteks in die Withuis gaan bepaald anders wees. Die sukses van die besoek sal bepaal word deur die konkrete voorstelle wat Suid-Afrika aan die Trump-administrasie sal maak. Dalk is Simonstad regtig op die lys van strategiese voorstelle!
Die agenda van die besoek aan die Withuis word, soos gewoonlik, deur spanne aan beide kante beplan, maar ons weet nou al dat Trump en JD Vance, sy jeugdige visepresident, met geen aanmoediging nie uit die heup skiet, ten spyte van die agenda! Die belangrikste agendapunt behoort die VSA-RSA-handelsbande te wees, en ’n bilaterale ooreenkoms oor tariewe in die lig van die oënskynlik vroeë dood van Agoa. Tweede op die agenda behoort die G20-beraad en Trump se deelname daaraan in Suid-Afrika te wees. Dán eers behoort die vraagstukke oor onteiening en vlugtelingstatus aan wit Afrikaners te figureer.
Hierdie besoek aan die Withuis is waarskynlik Ramaphosa se belangrikste besoek van sy tweede termyn as staatshoof, en saakmakend vir Suid-Afrika se voortgesette verhouding met die VSA. Dit is insgelyks ook nóg ’n toets vir die samewerking binne die RNE.
- Withuisfoto: Nils Wende | Pixabay


Kommentaar
“In his 2020 memoir Disloyal, Trump’s former personal lawyer Michael Cohen alleged that Trump disparaged Mandela, reportedly saying, “Mandela f—ed the whole country up,” and calling him “no leader.” Cohen also claimed that Trump referred to South Africa as a “s—hole” country”.
Ons moet by die oorsprong begin van die probleem. Ons sit met 'n ANC- korrupte, krimenele regering wat geen voeling het met wat op grondvlak gebeur nie. Misdaad, werkloosheid en onbevoegdheid is aan die orde van die dag. As daar in 'n hofuitspraak die skreeu van kill the boer as reg aanvaar word, hoe anders kan ek as voltydse boer nie bedreig voel nie? 'n Kleinkind van 5 jaar wat die chant hoor, hoe ervaar hy dit? En wat gaan deur sy kop. Ek dink dat dit tyd geword het dat die ANC in die bek geruk word en pa staan vir hulle vrot regering.