
Prent: Canva
Naspers1 se 110 jaar – van pers tot Prosus
Evolution is a theory of change. – Jill Lepore, 2023, The deadline. Essays, bl 453.
Inleiding
Naspers, voorheen ’n mediamaatskappy en vandag ’n tegnologiemaatskappy, is vanjaar 110 jaar gelede as ’n Afrikanernasionale persmaatskappy gestig. Terwyl ander (oorspronklik) media-ondernemings die kreeftegang gaan, gaan hierdie maatskappy van krag tot krag. Wat wás in dié voorheen Nasionalistiese persmaatskappy se DNS om hom 110 jaar later nie net te laat voortbestaan nie, maar onder die top tegnologiemaatskappye ter wêreld te laat floreer? Hoe het ’n parogiale persmaatskappy met die uitsluitlike doel om sy eie etniese groep vanuit ’n eksklusiewe nasionalisme te bemagtig, hom oor 11 dekades in ’n globale tegnologiereus omvorm? Die kort antwoord is dat die maatskappy homself in elke dekade sterker geposisioneer het en keer op keer vernuwe het – tot die punt waar dit vandag beskryf word as ’n globale tegnologiereus met sy mediabelange slegs in ’n klein, en krimpende, filiaal, Media24.
Naspers, gestig as persmaatskappy, later mediamaatskappy, en vandag tegnologiemaatskappy, met die filiaal Media24 wat die maatskappy se oorspronklike publikasies en handelsmerke huisves, asook nuwe digitale mediaplatforms, is 110 jaar gelede op 12 Mei 1915 geregistreer. Sy eerste publikasie, De Burger, wat as “spreekbuis” of “mondstuk” vir Afrikanernasionalisme moes dien, het op 26 Julie 1915 verskyn (Rabe 2015a:11).
Hoe het dié eng, parogiale maatskappy homself oor 11 dekades tot ’n voorste tegnologiemaatskappy omvorm?
As etnies-eksklusiewe Afrikanernasionale persmaatskappy het hy met moeite sy eerste jare oorleef. Die 110 jaar sou van hom ’n teksboekvoorbeeld maak van hoe ’n maatskappy elke geleentheid aangryp en inderdaad ’n steeds ontwikkelende entiteit is. Daar was verskeie “ekologiese” stoot-en-trek-faktore in sy evolusie – politiek, ekonomie, kultuur en tegnologie. Dit het die maatskappy in elk van sy 11 dekades na ’n volgende laat onwikkel. Die woord “evolusie” word nie toevallig gebruik nie: Die maatskappy was evolusionêr – ’n byna lewende, morferende organisme.
Hierdie artikel, uit ’n mediageskiedkundige vertrekpunt, belig die maatskappy oor sy 11 dekades om aan te toon hoe dit van sy eerste parogiale, eng gedefinieerde Afrikanernasionalistiese ontstaan in wêreldwye tegnologieplatforms ontwikkel het. Dit uiteraard in breë kwashale – 110 jaar kan onmoontlik in die bestek van so ’n bespreking saamgevat word. Daarby moet ’n mens in gedagte hou, soos die meervoudige Bookerpryswenner Hilary Mantel in die Reith Lectures-reeks (2017) gesê het:
[H]istory is not the past – it is the method we have evolved of organising our ignorance of the past. It’s the record of what’s left on the record. […] It is no more “the past” than a birth certificate is a birth, or a script is a performance, or a map is a journey.
Daarom is hierdie weergawe van Naspers se geskiedenis oor 110 jaar en die omwentelinge wat hy beleef en deurleef, hetsy tegnologies, ekonomies, polities of kultureel, bloot maar een so ’n weergawe.
Naspers 1915–2025
Oorsig
Terwyl die woord entrepreneuries die afgelope paar dekades dalk sinoniem met Naspers geword het, was dit deel van sy DNS reg vanaf sy stigting. Soos Strydom (2022:36) dit gestel het: Daar was reeds ’n “langdurige kultuur van waagkapitalisme” reg van die begin van die maatskappy se ontstaan, soos vergestalt in sy “waaghalsige en entrepreneuriese benadering” met verskeie van sy ondernemings.
Die maatskappy het “revolusies van allerlei aard oorleef omdat hy inherent self ‘revolusionêr’ was en homself etlike kere herskep het – selfs al was dit uiterlik dalk nie so sigbaar nie” (Rabe 2015b:11). Paradoksaal was dit terselfdertyd uiters konserwatief wat finansiële bestuur betref. Dié “paradoks in sy inherente DNS” is waarskynlik die antwoord waarom Naspers meer as ’n eeu ná sy ontstaan ’n globale speler is terwyl ander mediamaatskappye nou merendeels skaduwees is van wat hulle voorheen was.
Die stigting in 1915 van die oorspronklike De Nationale Pers, Beperkt en sy eerste publikasie is beskryf met die metafoor “een kind van de smart en de hoop”, soos geskryf in De Burger se eerste hoofartikel op 26 Julie 1915 (Vyftig jaar in beeld 1965:7).
Elf dekades later, in 2025, beskryf Naspers homself so: “We are a global consumer internet group operating across platforms and geographies and one of the largest technology investors in the world. Today, more than two billion customers use our products and services” (Who we are 2025).
Opvallend is dat die eerste verwysing na die maatskappy in Nederlands is, en uiteraard in drukmedia. Die jongste is slegs in Engels, en op die internet. Dit is ’n aanduiding van hoe die “ekologie”, of milieu, waarin die maatskappy ontstaan het en waarin hy vandag bedryf word, verander het.
De Nationale Koerant- en Drukpersmaatschappij Beperkt se “oprichtersvergadering” was op 18 Desember 1914 (Rabe 2015b:11). Dit is op 12 Mei 1915 geregistreer as De Nationale Pers, Beperkt. Die verkorte naam is dalk reeds ’n aanduiding van ’n inherente pragmatisme. In 1921 is dit as Nasionale Pers geregistreer, en dié naam is in 1998 herregistreer slegs as Naspers, soos wat die maatskappy oor die jare bekend geword het. In sy eeufeesjaar in 2015 het hy onder die top mediategnologiemaatskappye wêreldwyd getel, met bedrywighede in 133 lande.
In sy 2024-jaarverslag beskryf hy homself as “[i]mproving everyday life for billions of people through technology” (2024 Integrated Annual Report 2024). Die maatskappy het vandag bedrywe in ongeveer 120 “lande en markte”. Hy beskryf homself voorts so: “We are a global technology group with businesses and investments in growth markets around the world” (2024 Integrated Annual Report 2024:4). En ook: “We estimate that one-quarter of the world’s population use the products and services of businesses we have built, acquired or invested in. Many use more than one of the products and services” (oorspronklike beklemtoning).
Wat die ekonomiese klimaat betref, was daar waarskynlik geen meer ongunstige omstandighede om ’n uitgewersmaatskappy aan die begin van die vorige eeu te stig nie (Muller 1990:50–3). Die Eerste Wêreldoorlog het swak handelstoestande met “te stadige verbindings, snelle kostestygings, min koopkrag en te min lesers” veroorsaak. “Daar was krygswet en daar was sensuur. Dit was ’n tyd waarin koerante gestaak is – nie gestig is nie.” Een van die stigters wat hom verbind het tot die grootste aandeel in die te stigte maatskappy, Jannie Marais, het in Januarie 1915 geskryf dat die te stigte koerant, De Burger, “de vrucht is van een diep gevoelde behoefte bij een groot gedeelte van ons volk aan ons eigen krant, die voorziening zal maken, voor de vrije, onbelemmerde uiting van de volksmening aangaande alle belangrijke vraagstukken in ons land”.
Dat die maatskappy finansieel gesond moes wees, blyk uit een van die maatskappy-oogmerke, naamlik dat smoutwerk – winsgewende kommersiële drukwerk – ’n belangrike deel van sy aktiwiteite sou wees.
’n Teenperspektief vir die “meesternarratief” van Afrikaners wat hulself bemagtig het, is dat die maatskappy gewoon deur welvarende Afrikaners gestig is om hul kapitalistiese belange na te streef (Muller 1989:121–2). Volgens Muller kon een van die Naspers-stigters nie meer sy nasionalistiese sentimente propageer in ’n destydse Nederlandse weekblad wat die Suid-Afrikaanse Party ondersteun het nie. Hy het daarom die Kaapse regsgeleerde Willie Hofmeyr – die “brein en gees” agter die te stigte maatskappy (Le Roux 1953:54) – genader.
Hofmeyr word beskryf as ’n “shrewd” advokaat (Muller 1989:122). Die eerste vergadering in Desember 1914 op Stellenbosch is deur “ryk professionele mense en selfs ryker wynboere” bygewoon. Die te stigte maatskappy was volgens Muller bloot die resultaat van “die ekonomiese en politieke alliansie tussen Kaapse kapitalistiese boere en ’n groep professionele manne rondom Hofmeyr” – gestig danksy die “vrygewige bystand van die wynboere”.
Tog, vanuit ’n Afrikanernasionalistiese perspektief was die klem op ’n diensimperatief en nie ’n winsimperatief nie, hoewel die maatskappy “gesonde finansiële beginsels” toegepas het wat selfs tot in die 1990’s die “Kakebeeke Formule” genoem is (Spies en Conradie 1992:489–90). Dié “streng finansiële bestuursbenadering” is vernoem na Jan Pieter Kakebeeke, hoofbestuurder van die destydse Nederlandssche Bank wie se dienste vir ’n tydperk gebruik is. Kakebeeke se “rekeningkundige strukture” het die “sterk finansiële fondamente” volgens sekere fiskale beginsels vir sy reserwekapitaal en uitbreidings gelê.
As konteks: In een van die eerste omvattende studies van die Afrikaans(-Hollandse) persgeskiedenis is geskryf dat die pers geen “alleenstaande instelling” is nie en dat hy binne “die groot sosiale verband” funksioneer (Du Plessis 1943:i). Die pers (of in hedendaagse terminologie die media, of nog meer omvattend, die digitale media op die wêreldwye web, en nog meer, insluitend digitale nuusdiensplatforms) kan dus nie geïsoleerd staan nie. Hy is deel van ’n groter geheel in die “ekologie” of milieu waarin dit funksioneer.
As verdere konteks wat betref die ontwikkeling van publikasies aan die vroeë Kaap, spesifiek ook in Nederlands (of Hollands), was daar tydens die VOC-besetting van 1652 tot 1795, en toe weer van 1803 tot 1806, geen persvryheid nie, want daar was inderdaad geen pers nie (Rabe 2020:35). Dit was omdat die VOC gevrees het dat persvryheid tot ’n revolusie kon lei (Claassen 1998:122). In die eerste deel van die Britse koloniale besetting, tot ongeveer 1830, was daar ook geen persvryheid nie, waarna beperkte persvryheid gegeld het.
De Nationale Pers, as “stem” vir Afrikaners, het sy eerste koerant, De Burger, van 1915 tot Desember 1921 hoofsaaklik in Nederlands gepubliseer (Vyftig jaar in beeld 1965). Die eerste volledig Afrikaanse koerant is, nou as Die Burger, op Dinsdag 3 Januarie 1922 gepubliseer (Maandag 2 Januarie was ’n openbare vakansiedag). Die verskuiwing van Nederlands na Afrikaans in die vorige paar jaar was so “geleidelik” dat mettertyd slegs die hoofartikel en die naam nog “Hollands” was (Steinmeyer 1946:159).
Ná die Suid-Afrikaanse Oorlog (SAO, of Vryheidsoorlog, of Anglo-Boereoorlog) en die Rebellie in 1914, en op die vooraand van die Eerste Wêreldoorlog, was Afrikaners in ’n knelgreep van verskillende werklikhede vasgevang en finansieel en kultureel verarm. Soos geskryf is in die eerste hoofartikel op 26 Julie 1915: “Onze harten zijn verskeurd en onze volksleven is verbitterd.” Tog, “onteenzeggelik, er is hoop” – die nasionale “hart” kon “weer begint te kloppen” (Vyftig jaar in beeld 1965).
Dié eerste hoofartikel was die begin van ’n “dubbele strewe na eenheid en na onafhanklikheid” wat “die hooftema sou word van die politieke lewe” (Vyftig jaar in beeld 1965). Ander “werklikhede” is ook reeds erken, hoewel dit “eers op die agtergrond” was omdat die hooffokus die Afrikaner se belange was. Een so ’n “werklikheid” was “die probleem van die saambestaan van blanke en nie-blanke rasse in die land [wat] al dringender na vore gekom het en aangepak moes word”. ’n Halfeeu later, in 1965, sou Die Burger skryf dat Suid-Afrika wel “’n tot groot hoogte verenigde blanke Suid-Afrika” was “midde-in sy moeilike, moedige poging om met ’n beleid van afsonderlike ontwikkeling sy onderskeie rassegroepe gelukkig en voorspoedig in die subkontinent te laat aanlewe”.
In 2025 het Naspers dié konteks waarin hy ontstaan, in slegs een kort sin saamgevat: “Established in 1915, Naspers has transformed itself” (About Naspers 2025). Dit is al “inligting” oor die ontstaansgeskiedenis. Direk daarop volg dat die maatskappy homself “getransformeer” het as “a global consumer internet company and one of the largest technology investors in the world”.
En ook:
Naspers has its primary listing on the Johannesburg Stock Exchange (NPN. SJ), a secondary listing on A2X Exchange (NPN.AJ) in South Africa and has a level 1 American Depository Receipt (ADR) programme which trades on an over-the- counter basis in the United States of America. It is the largest South African company on the JSE.
Dié transformasie, soos Naspers self daarna verwys, of metamorfose, het nie slegs binne die jongste paar dekades plaasgevind nie. Soos aan die begin gestel is, was die maatskappy van sy ontstaan transformerend – of morferend.
Die maatskappy se stigting in 1915 was die direkte gevolg van ’n opbloeiende Afrikanernasionalisme weens die politieke, ekonomiese en kulturele armoede van Afrikaners ná die SAO, die begin van die Eerste Wêreldoorlog, en ’n gevolglike rampspoedige Rebellie (Rabe 2015b:11). Afrikaners was so verarm dat £1-aandele nie bekostigbaar was nie, met sake só beroerd dat Saterdae selfs met aandele op die Kaapse Parade gesmous is (Steinmeyer 1946:130). Afrikanernasionalisme moes egter dringend ’n “spreekbuis” kry om die Nasionale Party (NP), in 1914 gestig, te mobiliseer. Afrikanernasionalisme was nie die enigste wat in dié tyd gemobiliseer het nie; die African National Congress is pas in 1912 gestig (ANC History 2025).
Die maatskappy het ’n gebou in Keeromstraat, Kaapstad gehuur, en later aangekoop. Dit sou die maatskappy se hoofkantoor vir die volgende byna sewe dekades wees. Dié eerste adres kan as profeties beskou word – “keerom” kan ook gelees word as “ommekeer”, of “omdraai” – want die maatskappy het verskeie “ommekere” gemaak (Rabe 2015b:13). Hy het nie net gegroei nie, maar gefloreer op politieke, ekonomiese, kulturele en tegnologiese impulse.
Toe die maatskappy in die vroeë 1980’s na sy nuwe adres aan Heerengracht 40 getrek het, het hy nie net meer ruimte gehad nie, maar kon hy as’t ware ook fisies uit sy eng Afrikanernasionalistiese sieninge morfeer (Rabe 2015b:11). Wel ietwat fleurig, maar tog binne die konteks van verandering, metamorfose en evolusie, is oor dié “ommekeer” vanuit Keeromstraat geskryf:
Inderdaad het Keeromstraat vele ommekere beleef, en het die toere éérs op hoë revolusies geloop toe hy na Heerengracht 40 verskuif het en ’n veelkleurige vlinder uit die eng Afrikanernasionalistiese papie-kokon kon morfeer om sy vlerke globaal te span.
Naspers, gestig op die rug van sy sogenaamde tweeling, die NP, is saam met die politieke party beskryf as die “eerste nasionalistiese bevrydingsbewegings in Afrika” (Scholtz 2010:3). (Die fokus van hierdie artikel is nie om die moraliteit van hierdie nasionalisme te bespreek nie, hoewel dit oorsaak en gevolg was vir die stigting van die maatskappy.)
As ’n eksponent van sy tyd was die maatskappy ’n sosiale, kulturele, ekonomiese en, bowenal, “onapologetiese” politieke agent van bemagtiging vir ’n eksklusiewe etniese groepering (Rabe 2015a:11). Dit was die geval vir ten minste sy eerste halfeeu, met die aanvanklike Afrikanernasionalistiese idealisme wat in ’n Afrikanernasionalistiese ideologie rondom die aanbreek van die Tweede Wêreldoorlog gemorfeer het.
Met Republiekwording in 1961 het die joernalis en latere redakteur Schalk Pienaar geskryf Afrikanernasionalisme het daarmee sy “momentum” verloor (Pienaar 1979:129). Die “passie het begin taan”, al was “die oorlewingsideologie van apartheid nog besig om onder Verwoerd konkrete vorm aan te neem” (Froneman 2004:61–79).
Leidende hervormingsjoernaliste en denkers het wel probeer om Afrikaners in dié tydperk nuwe vrae te laat stel. NP Van Wyk Louw, ‘n digter van die Dertiger-beweging, het in sy polemiese Liberale nasionalisme veral Afrikanerjoernaliste aangespoor om “vrae te stel oor die politieke konvensies van die volk” (Mouton 2002:34–9). Onder dié joernaliste en latere redakteurs was Piet Cillié en Schalk Pienaar. Hulle het besef die Afrikaner sal moet aanpas by ’n veranderende wêreld “waarin die ou koloniale ryk besig was om ineen te stort”. Opvattings en terme soos lojale verset, liberale nasionalisme en die oop gesprek het “hul begeerte versterk” om Afrikanerdom van binne te hervorm. Pienaar het geskryf dat diegene wat weier om hulle aan te pas, “die werklike verraaiers van die Afrikaners se erfenis in Afrika” is (Mouton 2002:92). Hy het Januarie 1969 ingelui deur ’n debat te begin ná ’n verslag oor die swart bevolking wat vinniger groei as wat gemeen is; twee weke later het hy geskryf dat as “die hervormingspas nie versnel nie”, dit tot ’n revolusie sou lei. Pienaar het geskryf die toekoms van Suid-Afrika lê in “Suid-Afrikanisme, nie in ’n stryd om die Afrikanerdom nie” (Mouton 2002:94–6).
Pienaar en Cillié het “al die morele aanmoediging nodig gehad wat hulle kon kry”, want “Afrikanerdom” was nie gereed vir ’n gesprek oor sy gebreke nie (Mouton 2002:34–9). Afrikaners is “geïndoktrineer met die geloof dat die NP en sy beleidsrigtings ondersteun moes word as jy ’n goeie en ware Afrikaner wou wees”. In “blinde gehoorsaamheid” is geglo die leiers weet “wat goed is vir die volk”. Afrikanerdom was ’n “uiters konserwatiewe en konformistiese samelewing” – “kritiek [is] nie aangemoedig nie en afwykendes is geïsoleer en verstoot”. Dít sou Pienaar en Cillié “kort voor lank agterkom”. Tog, Pienaar het byvoorbeeld in ’n stuk wat in 1960 (dus voor Republiekwording) deur die Britse Instituut vir Rasseverhoudinge gepubliseer is, geskryf: “We will not deny the Bantu what we have claimed for ourselves; and do not use against them the argument that was used against us, that they are a lesser breed incapable of achievement.”
’n Mens kan argumenteer dat, ten spyte van Naspers as maatskappy se breë bemagtiging van Afrikaners gedurende die eerste dekades, sekere aanduidings reeds daar was dat die maatskappy homself in meer as ’n eksklusiewe etnies gefokuste mediamaatskappy sou transformeer (Rabe 2015a:11–3). Die maatskappy het byvoorbeeld reeds in 1922 sy eerste boek vir die swart skoolmark gepubliseer.
As vooraanstaande Afrikanerjoernalis het Pienaar, soos reeds gestel, verklaar dat die rede vir Afrikanernasionalisme ophou bestaan het toe die Unie van Suid-Afrika in 1961 eensydig tot Republiek verklaar is. Volgens die Naspers-tydlyn was dit dus nog voor die maatskappy se goue jubileum in 1965. Hierdie “aankoms” by waarskynlik een van die belangrikste Afrikaner-ideale sedert die SAO, naamlik ’n eie, onafhanklike republiek, het die inherent fatale fout gehad dat dit op homself ingeplof het. Afrikanernasionalisme het sy momentum verloor; die Afrikaner was skielik sonder daardie een ideaal wat sy nasionalisme sedert omstreeks 1900 geregverdig het: die eie Republiek (Pienaar 1979:129).
Teen 1965, met die maatskappy se goue jubileum, het twee publikasies Naspers se “mondigwording” gesimboliseer. Die eerste was die letterlike “skuif” oor die Vaalrivier na die jaloers betwiste politieke en kommersiële gebied van ander Afrikanernasionalistiese uitgewersmaatskappye in die Noorde (Rabe 2015a:12). Dit was die stigting van die Sondagblad Die Beeld, met ingrypende politieke gevolge wat tot ’n nuwe benadering tot Afrikanerpolitiek sou lei. Dít het weer gelei tot ’n prohervormingsera in die hart van die Noordelike Afrikaner-establishment.
Die tweede was die stig van die Engelse vroueblad Fairlady. Dit was terugskouend ’n revolusionêre stap: Die voorheen eng-Afrikanernasionalistiese maatskappy het nou ook ’n voetspoor in die Engelse medialandskap gehad. Naspers het homself só verder as ’n vernuwende, tegnologies gevorderde maatskappy gevestig. Die maatskappy kon dit as suiwer kommersiële daad doen danksy ’n pas aangekoopte ultramoderne tydskrifdrukkery, die enigste in Suid-Afrika.
In 1984, met die verbrokkeling van apartheid onvermydelik, was Naspers die enigste persmaatskappy wat Bailey Publications se wankelende titels vir die swart teikenmark, City Press, Drum en True Love (Rabe 2015a:11), kon uitkoop. Dit het Naspers gevestig as ’n “nasionale” pers pleks van ’n “Nasionale” pers. Dié stelling is verskeie kere gemaak, eers deur die destydse direksievoorsitter, Piet Cillié, en daarna deur sy opvolger, Ton Vosloo (Van Staden 1997:2).
Spesifieke mylpale in die evolusie en struktuur van Naspers oor sy bestaan van 1915 tot 2025 kan beskryf word as “sleutels” van hoe die maatskappy sou verander van ’n eksklusiewe “orgaan” vir ’n politieke party, ook as ’n “diensgerigte” persmaatskappy en deel van ’n eksklusiewe Nasionalistiese politieke beweging, tot ’n inklusiewe, globale, winsgedrewe tegnologiemaatskappy.
Naspers se elf dekades
Soos reeds genoem, terwyl die maatskappy eers De Nationale Koerant- en Drukpersmaatschappij Beperkt sou heet, is dit gou herdoop om in Mei 1915 as De Nationale Pers, Beperkt geregistreer te word – met die korter naam moontlik reeds aanduidend van die pragmatiese aard van die maatskappy (Rabe 2015a:11). As ’n (aanvanklik Hollands-) Afrikaanse persmaatskappy sou dit die belange van Afrikaners en hul nasionalisme bevorder namate hierdie beweging sedert die laaste deel van die 19de eeu deur die “Taalstryd” gegroei en gemanifesteer het (Muller 1990). Die naam is in 1921 in Afrikaans herregistreer as Nasionale Pers Beperk (Akte van Oprichting 1921).
Tog, vanaf sy eerste wankelende treë, ook omdat hy verskeie kere op die rand van bankrotskap was, het nie slegs idealistiese beginsels gegeld nie, maar was hy inherent pragmaties, kapitalisties en winsgedrewe (Rabe 2015b:11). Ondanks die feit dat die maatskappy rondom sy “hoër ideale” van “diensdoelwitte” ontstaan het, was die “winsdoelwit” altyd teenwoordig. Dié kommersiële ingesteldheid het “Kees Konyn”2 laat skryf dat die maatskappy, “wat hom so graag voordoen as ’n onderneming met ’n vaderlandse doel, eintlik ’n doodgewone sakeonderneming is” (Steyn 1992:107).
Reeds in 1916 het die maatskappy De Huisgenoot gestig, ’n tydskrif met die binêre motiewe om die Afrikaner op te voed – maar belangrik, om terselfdertyd broodnodige kontant te verskaf om die maatskappy aan die gang te hou (Rabe 2015b:11). Die Burger was naamlik vir lank nie winsgewend nie. Die eerste dividende kon eers in 1928 betaal word, toe “oplaas die fatsoenlike status van ’n dividenduitkerende onderneming” bereik is.
Hofmeyr, reeds beskryf as die “siel” agter die maatskappy, wou “deurentyd” dat die maatskappy “versterk” word (Malan 1965:15). Die “drakrag van fondamente en die stewigheid van raamwerk” is gevestig met “bestendigheid bo bevliegings” en “inwendige krag bo uiterlike vertoon” – met daaragter Hofmeyr as die “siel van die Nasionale Pers” tot sy dood in 1953. Dit was toe hy op 84 steeds voorsitter was; ook die laaste oorlewende van die 16 stigters. Hofmeyr kan as Afrikanerdom se eerste superentrepreneur beskryf word, aangesien hy ook die dryfkrag in 1918 agter ander oorspronklik Afrikanermaatskappye soos Santam en Sanlam was.
’n Mens kan ook sê dat dit hy was wat, saam met Fred Dormehl, eerste bestuurder, die entrepreneuriese aard van Naspers reg van die begin vasgelê het. Saam het hulle byvoorbeeld in 1917 – sonder beskikbare fondse – besluit op Naspers se eerste aanwins: Volksblad, basis Bloemfontein (Rabe 2015b:11). As die “volk” sien hulle kan reeds ’n koerant koop, het hulle geredeneer, gaan daar meer vertroue wees, en as daar meer vertroue is, gaan meer mense aandele koop, en as meer mense aandele koop, sál die maatskappy die geld in die bank hê om die maandelikse paaiement te kan betaal. So was dit ook.
De Huisgenoot, later Die Huisgenoot en vandag slegs Huisgenoot, in 1916 gestig, is gevolg deur vele ander Afrikaanse publikasies oor die hele spektrum, van dagblad tot boek (Rabe 2015a:12–3; 2016). Huisgenoot sou vir die maatskappy die “goudmyntjie” wees waarmee talle ander projekte gefinansier kon word (Fagan s j). Naspers se diensimperatief, gepaar met sy winsimperatief, het die maatskappy dus vanaf sy ontstaan gekenmerk: ’n maatskappy wat geleenthede geïdentifiseer en hulle geneem het, reg van sy eerste organiese groei met die koop van Volksblad – sonder kapitaal in die bank. Dit het sy beleid van vernuwing – revolusies – vasgelê.
Die maatskappy se tweede tydskrif, in 1919, was Die Landbouw-weekblad, basis Bloemfontein, vandag slegs Landbouweekblad (Muller 1990:576; Rabe 2019). Dieselfde jaar het die maatskappy reeds “oor taalgrense beweeg” deur sy eerste Engelse boek, ’n Afrikanernasionale propagandastuk, Republicans and sinners, uit te gee, deur CJ Langenhoven (Kannemeyer 1995:307). Soos genoem, is sy eerste skoolboek vir die swart mark in 1922 gepubliseer (Rabe 2015a:12). In 1924 het die maatskappy sy eerste Engelse koerant, The South African Nation, gepubliseer. Dit moes Nasionalisme onder Engelssprekende landgenote bevorder. Soos met ander projekte dwarsdeur sy geskiedenis is die koerant vroeg (in 1928) gestaak omdat dit nie aan die “verwagtinge” voldoen het nie. Oftewel: weens ’n gebrek aan opbrengs op belegging.
Die Nasionale Pers se tweede dekade, van 1925 tot 1935, is gekenmerk deur die woelinge van ekstremistiese denke wat vanaf Europa na wit Suid-Afrika oorgespoel het. Dié “radikaler” nasionalisme is waarskynlik veroorsaak deur die fascisties-nasionalistiese bewegings in Europa (Giliomee 2012:299–301). Dit het boonop gevolg op die NP se 1929-verkiesingsoorwinning waarmee hy toe ’n regering sonder die Arbeidersparty kon vorm. Volgens Giliomee sou dié nuwe selfvertroue in die volgende 10 jaar ’n radikale nasionale beweging onder die NP-leier DF Malan laat ontwikkel wat die land se politieke landskap vir altyd sou verander. Dit het ook tot ’n breuk in Afrikanerdom gelei. Die maatskappy het vanselfsprekend die Kaapse NP se “Gesuiwerdes” gevolg. Die NP-leier, Malan, was immers só deel van die maatskappy dat hy De Burger se eerste redakteur was, al was dit slegs in naam.
Nogtans was die breuk traumaties. Die 1930’s is beskryf as dat dit gesorg het vir ’n bittere “broederstryd” in ’n tyd van “droogte, depressie, koalisie en samesmelting” (Marais 1990:38–9). ’n Ernstige aspek van die politieke krisis teen die einde van Naspers se tweede dekade was ’n dreigende vyandelike oorname. Dit is gelei deur ’n ouddirekteur, die persoon wat die tweede grootste belegger in Naspers was en ook dikwels tot sy redding gekom het: Christiaan Marais, broer van Jannie. Laasgenoemde se aanvanklike kontantskenking van £5 000 het die stigting van die maatskappy moontlik gemaak (Le Roux 1953:63; Joubert 1990:16; Ontstaan te danke aan geesdrif 1990:2). Jannie Marais is in 1915 oorlede voordat die eerste De Burger kon verskyn (dieselfde Jannie Marais wie se postume skenking tot die stigting van die Universiteit Stellenbosch in 1918 sou lei).
In die volgende dekade, 1935 tot 1945, het ’n veel meer radikale nasionalisme ontwikkel, gevoed deur ’n amper diaboliese sameloop van omstandighede. ’n Voorheen nog geromantiseerde nasionalisme uit Duitsland (Scholtz 2010:3) het in ’n nasionalistiese ideologie ontwikkel. Daar was ’n wêreldwye ekonomiese depressie, met Engeland wat weens die depressie van die goudstandaard (die internasionale onderneming van regerings dat die waarde van enige geldnoot in goud uitbetaal kon word) afstand gedoen het. Dit het Suid-Afrika se ekonomie verder gedestabiliseer (Giliomee 2012:299–301). Terselfdertyd het een van die grootste droogtes ooit in Suid-Afrika geheers. Saam het dit die ideale toestande geskep vir ’n nasionalisme wat die eie desperaat moes beskerm en laat oorleef. Dié “skeuring” het Hofmeyr laat sê dat die “onheilspellende wolke wat opsteek”, alles kan vernietig wat met “soveel opoffering en sukses” opgebou is (Le Roux 1953:104).
Gesonde bestuur en toenemende winste het egter daartoe gelei dat die maatskappy reeds teen 1950 in verskillende filiale kon herstruktureer. Dit was duidelik onderweg na ’n kommersieel gedrewe eerder as ’n ideologies gedrewe maatskappy (Rabe 2015a:12). Dié meer doeltreffende eenhede is onder Hofmeyr in 1950 geregistreer as Nasionale Koerante, Nasionale Tydskrifte, Nasionale Boekhandel en Nasionale Handelsdrukkery (Le Roux 1953:82–6). In 1950 is ook die tweede Ekonomiese Volkskongres gehou (die eerste was in 1939). Die geleentheid “het die opkoms van Afrikaner-finansieringskapitaal gekenmerk, wat onder NP-bewind soos nog nooit tevore begin floreer het nie. Volkskas se beleggings het tussen 1948 en 1951 verdubbel” (Muller 1989:130–1).
Ondanks die allesoorheersende ideologie van Afrikanernasionalisme het stemme van realisme begin opklink. PA Weber, redakteur van Die Burger in die 1950’s, het reeds in 1953 geskryf: “Ons sal die feit eendag onder oë moet sien dat ons beleid van apartheid ’n onding is” (Steyn 2002:105).
Die maatskappy se eerste groot tegnologiese omwenteling was ’n revolusionêre, moderne diepdrukfabriek vir tydskrifte in die 1960’s. As reuse belegging was dit deel van Naspers se posisionering onderweg na ’n kommersieel eerder as ideologies gedrewe onderneming (Rabe 2015b:11). Dit was die stimulus van die “oor grense heen”-strategie, onder meer met die genoemde stig van die tydskrif Fairlady in 1965. Dié eerste kommersiële Engelse publikasie was, danksy die tydskrif Sarie se sukses en in antwoord op adverteerders se behoefte aan ’n gehalteproduk in volkleur (’n nuutjie vir die tyd) op ’n onontginde, welvarende Engelse mark gerig. Die revolusionêre nuwe rolperse het die maatskappy nog meer status in die mark gegee as ‘n maatskappy wat vernuwend en professioneel dink én doen. Ook in 1965, op Naspers se halfeeumerk, het hy, soos genoem, oor die Vaalrivier beweeg met die stig van die Sondagblad Die Beeld onder die redakteurskap van die hervormingsjoernalis Schalk Pienaar. Dit was die begin van ’n nuwe benadering tot Afrikanerpolitiek en het bygedra tot vernuwende denke wat sonder twyfel Afrikanerdenke beïnvloed het vir ’n uiteindelike demokratiese Suid-Afrika.
Die jaar 1983 is nog ’n mylpaal in die ontwikkeling van die maatskappy. Dit kan naamlik beskou word as die jaar waarin vernuwing nuwe veerkrag gekry het met die aanstel van Ton Vosloo as besturende direkteur van Naspers (De Swardt 2006:7). Vosloo het vir David de Villiers, reeds ’n verligte denker, opgevolg nadat hy redakteur van die dagblad Beeld was. Dat Naspers van “’n skaflike drukmedia-maatskappy met ’n paar suksesvolle sake-eenhede” in 1983 uitgebou is tot die latere “transkontinentale multimedia-konglomeraat”, word aan Vosloo toegeskryf (Du Plessis 2007:66). Du Plessis beskryf die 1980’s as “ons politieke Middeleeue”, maar tog moes Vosloo “’n vergesig” gehad het “van die soort medialandskap wat ons vandag het”.
Hoewel ’n gerekende redakteur, was Vosloo se aanwysing as besturende direkteur in 1983 ’n “surprise appointment” (Harber 2012:6). Hy was egter die persoon wat die maatskappy byna onmiddellik ’n nuwe koers laat inslaan het. In daardie stadium het Vosloo een dringende vraag gehad: Hoe om die kwynende advertensiesteun vir koerante weens die toename in TV-advertensies op te los sodat drukmedia kon voortbestaan.
M-Net – die eerste tegnologiegolf
Die stig van M-Net het Naspers op sy eerste buitengewone groeitrajek geplaas. Soos gestel, was die groot uitdaging vir Vosloo die krimpende inkomste uit advertensies. Die antwoord daarop het gelê in betaaltelevisie – die onderwerp van die MA-projek van ’n jong Koos Bekker wat toe in die VSA studeer het (Rabe 2015b:11). Onder Vosloo het die maatskappy saam met ander mediamaatskappye ’n konsortium gevorm om vir ’n uitsaailisensie te beding. Die suksesvolle verkryging daarvan het Naspers vanaf 1985 in staat gestel om “as leidende persmaatskappy die volgende tegnologiese era te omhels: die videosfeer van die elektroniese media”. Daar was aanvanklik meer as 40 aansoekers vir die betaal-TV-lisensie (Strydom 2022:34). Onder die beperkinge was dat geen nuus uitgesaai mog word nie. Volgens Vosloo moes die NP se boodskap, soos oorgedra deur sy staatstelevisie, onder staatsbeheer bly. Vosloo het ’n “onwaarskynlike” vennootskap tussen koerantgroepe verenig wat die regering tevrede sou stel. Die bestuur was egter “stewig” gevestig in Naspers se meerderheidsaandeel (Strydom 2022:33). Die lang naam Electronic Media-Network is tot M-Net afgekort.
Hoewel Naspers gesien is as “berug suinig” met dividenduitbetalings, het die maatskappy diep reserwes gehad (Strydom 2022:38). As aanduiding van die konserwatiewe finansiële benadering het direksievoorsitter Cillié nog in die 1980’s gepraat van “surplus” pleks van “winste”. Maar dit het beteken dat Naspers volgens die veteraanbelegger Mof Terreblanche die enigste maatskappy was wat jaar op jaar “’n positiewe kwalifikasie” gekry het. Met ander woorde: Ouditeure het gemeen “die maatskappy het ’n te lae waarde aan sy bates gekoppel”. Die gevolg was dat kontantvloei of “solvensie-kommer” nie ’n kwessie binne Naspers se boekhouding was nie. Dit was ’n beduidende faktor in die suksesvolle vestiging van M-Net.
Vosloo en Bekker het ’n “belangrike toegewing” beding as deel van hul sakeplan: ’n gratis “oop gleuf” per dag vir kykers wat nie dekodeerders het nie (Strydom 2022:42). Dit het geblyk ’n uitstekende bemarkingsplan te wees.
M-Net se eerste uitsending was ’n rugbywedstryd tussen twee geswore vyande. Gegewe die isolasietydperk weens (ook) sportsanksies teen Suid-Afrika, was die 1986-Curriebeker-finaal tussen Westelike Provinsie en Noord-Transvaal ’n groot gebeurtenis (Strydom 2022:42). Ironies genoeg was die eerste uitsending van M-Net se eie advertensie presies 60 sekondes van donkerte – ’n tegnikus het vergeet om ’n prop in te druk (Strydom 2022:44).
Toe M-Net amptelik in 1986 met uitsendings begin, het nog net die VSA betaal-TV gehad; Brittanje sou in 1988 volg (De Kock 1997:27).
Die eerste fase van M-Net se ontplooiing was egter ’n ramp. Teen Maart 1987 was die onderneming so te sê “roederloos”, met verliese van ’n vir daardie tyd astronomiese R3,5 miljoen per maand (Strydom 2022:44). Tot toe is reeds meer as R100 miljoen in die onderneming belê (Strydom 2022:45). Maar “[t]he new business was against the ropes”. Danksy Naspers se finansiële reserwes en die feit dat Vosloo sy moederdireksie gereeld kon oorreed, is verder belê. Die ander mediamaatskappye was nie so kapitaalkragtig nie en het een ná die ander onttrek. Die groot deurbraak was ’n boksgeveg in Las Vegas. Dekodeerders se verkope het amper oornag tot 90 000 gestyg, en M-Net “scored a knock-out”.
Terselfdertyd het dinge in M-Net se guns gedraai, ondanks die onstuimige 1980’s met die politiek desperaat en die toekoms onseker. Veral sy “sorgelose vermaak” was ’n welkome ontsnapping van onrus, politieke moorde en die algemene onstabiliteit wat die doodsnikke van apartheid gekenmerk het. Só voorspoedig het dit gegaan dat die M-Net-topbestuur naweke moes help om dekodeerders te verpak of oproepe in die klantedienssentrum te beantwoord (Strydom 2022:46).
Ná die dreigende bankrotskap aan die begin het M-Net in 1990 ’n wins van R20 miljoen gemaak, met ’n voorspelde wins van R30 miljoen die volgende jaar (Strydom 2022:48). Terselfdertyd het M-Net op die JSE genoteer. Die openingsprys per aandeel was R1,20. In sy eerste 12 maande het dit gestyg tot R3,22 – die JSE se bes presterende aandeel daardie jaar.
Met die notering was dit reeds duidelik dat die grootste deel van Naspers se waarde in M-Net gelê het. Daar is ook begin om via satelliet uit te saai (Strydom 2022:49).
Die volgende stap was om oor landsgrense te beweeg. In 1992 is M-Net International gestig met inhoud wat op die res van die vasteland gerig was (Strydom 2022:50). In 1994 is MultiChoice, die afdeling wat in die begin slegs subskripsies hanteer het, op sy eie bene geplaas (Strydom 2022:52). Met die skuif van analoog na digitaal – Bekker wou immer op die voorpunt wees – is die afdeling NetHold gestig. Vir hom was die skuif na digitaal die grootste verandering sedert die koms van kleurtelevisie. In 1995 was die uitvoer van dekodeerders uit Suid-Afrika na raming R200 miljoen werd – die suksesvolste verbruikerselektronika in Suid-Afrika se geskiedenis. Teen daardie tyd is ook verder belê in die Nederlandse Irdeto, toe reeds ’n MIH (Myriad International Holdings)-filiaal, met klante in Kanada, Australië en Thailand. Teen die middel van die 1990’s was daar subskripsies uit 31 lande op die Afrika-kontinent; slegs 10 jaar vantevore was Naspers nog ’n hoofsaaklik (Suid-) Afrikaanse onderneming (Strydom 2022:53). Kort voor lank is sake in 40 lande bedryf.
Naspers het intussen die ander konsortiumlede se aandele uitgekoop; die maatskappy was nou geposisioneer om aan die voorpunt van die ontwrigtende digitale ekonomie en ’n allesomvattende tegnososiale revolusie te wees.
Die digisfeer begin
Naspers het in 1994 op die JSE genoteer (Vosloo 1994). Wat vir Vosloo ’n “gewetensaak” was, het die maatskappy se suksesgrafiek net verder opwaarts laat klim (De Kock 1997:26–7). Teen 1997 het sy aandeelprys met 150% gestyg, met ’n markkapitalisasie van meer as R6 miljard. Vosloo se eerste balansstaat aan Naspers se direksie in 1984 het ’n omset van R220 miljoen getoon; met sy uittrede as uitvoerende hoof in 1997 was dit R1,7 miljard. Op 20 Maart 2025 was Naspers se netto batewaarde $78,6 miljard (Net Asset Value 2025). Interessant genoeg het die maatskappy vanjaar op 12 Mei, die datum van sy registrasie 110 jaar gelede, ’n rekordaandeelprys op die JSE behaal (JSE NPN 2025), naamlik R5 303. Twee dae later, op 14 Mei, het hy sy volgende rekord van R5 440 per aandeel behaal.
Vir Vosloo was Bekker sy “natuurlike opvolger” toe hy op 30 September 1997, ’n paar dae ná sy 60ste verjaardag, as besturende direkteur uittree en hy voortaan nie-uitvoerende voorsitter van die direksie sou wees (Strydom 2022:53). Buiten Bekker se reputasie as “talisman”, in Vosloo se woorde, het hy ook ’n beeld as “welvaartskepper” ontwikkel. Saam met Naspers se aansienlike finansiële spierkrag en met ontwikkelings soos Mweb, wat in Januarie 1997 gestig is, kon Naspers in die “eerste liga” in die nuwe era van die digisfeer speel (Rabe 2015b:11). Moontlikhede binne die ontwrigtende digitale ekonomie, midde-in ’n allesomvattende tegnososiale revolusie, is volstoom ontgin.
Bekker het ’n unieke vergoedingspakket gehad: Hy het geen salaris of byvoordele ontvang nie, maar sou aan die einde van elke vyfjaartermyn waarvoor hy aangestel is, Naspers-aandele ontvang – indien die maatskappy wins sou maak (Davie 2006). Dié vergoedingspakket sou onder meer daartoe lei dat Bekker volgens Forbes in Januarie 2025 $2,8 miljard sterk was en as die derde rykste persoon in Suid-Afrika gelys is (Libera 2025).
In 1998 is die maatskappy se naam formeel as Naspers herregistreer (Naspers Company History 1915–2011). Dit is bekend dat Bekker wou wegbeweeg van die maatskappy se naam, maar daar is uiteindelik op die verkorte Naspers geskik – “as if to disguise but not bury its roots”, soos dit beskryf is (Harber 2012:18).
In 1997, met Bekker wat vir Vosloo as besturende direkteur opgevolg het, het Vosloo die koms van die internet as die belangrikste vernuwing sedert Gutenberg se drukpers in die 15de eeu beskryf (Neethling 1997). Op sy beurt het Bekker, toe 45, gesê: “A vast transformation [...] awaits society due to the wave of new communication technology, similar but of more far-reaching magnitude than the impact of the motor vehicle on how man lived and worked” (De Kock 1997:27).
Die aanbreek van ’n nuwe millennium in 2000 het ook vir Naspers ’n nuwe era ingelui. Die maatskappy is in sy geheel herstruktureer – getransformeer – in vyf filiale, met Naspers slegs as beherende maatskappy (Company History 1915–2011). Hulle was Media24, MIH Beherend, Mweb, Nasboek en Educor. Intussen het dié groeperings veel meer “morferings” ondergaan – met verkope, maar veral met aanwinste.
Die sogenaamde dotcom-borrel wat in die vroeë 2000’s gebars het, het Bekker as ’n bedekte seën beskou (Bekker 2001:8). Die “gedempte marktoestande” weens die inploffing was “beslis voordeliger vir Naspers se langtermynplanne as die onrealistiese optimisme” van vroeg-2000. Druk op kostestrukture weens die “euforie oor die e-revolusie” is daarmee ook verlig. Bekker het bygevoeg dat sulke skommelinge “tipies” is van groot vernuwings. “Al die groot tegnologiese deurbrake van die afgelope paar honderd jaar – soos seevaart oor oseane, die stoomenjin, telefone, motors, televisie, mikrorekenaars en so meer – is gekenmerk deur ’n tydperk van onrealistiese groei.” Ook: “Dis ’n feit dat die internet en e-handel wêreldwyd besig is om die mediabedryf onomkeerbaar te omvorm.” Dit sou voortgaan om ekonomieë in die volgende dekade “meedoënloos te verander”.
Bekker het intussen met sy aanwinsstrategie voortgegaan. Sy sogenaamde “spaghettistrategie” (Harber 2012:18) het steeds momentum gekry. Dié strategie het Bekker beskryf as “spaghetti teen die muur gooi en kyk wat bly sit” – sy benadering rondom hoe hy beleggings gesien het (Strydom 2022:83). Daar is voluit voortgegaan om “spaghetti” teen mure te gooi en te kyk wat “bly sit”.
Die mees skouspelagtige spaghetti wat bly kleef het, was die belegging in Mei 2000 in ’n klein Chinese beginnertegnologiemaatskappy: Tencent (Strydom 2022:96). Tencent het toe 30 mense in diens gehad, maar sou gou tot ’n reuse onderneming groei. Naspers het 46,5% in QQ, oftewel Tencent, toe nog net ’n kitsboodskapdiens in China, gekoop (Tydlyn in Naspers se geskiedenis s j). Teen einde 2023 was 105 420 mense in diens vir die boekjaar geëindig Desember daardie jaar (Tencent Holdings 2023).
........
Dit sou Naspers se winsgewendste belegging ooit word, met ’n fenomenale uitwerking op sy aandeleprys soos wat dié onderneming op die golf van die digitale eeu ongekende welvaart vir die maatskappy geskep het. Dit het vele meer uitbreidings moontlik gemaak soos wat dié transformasie die maatskappy self verder laat transformeer het.
........
Dit sou Naspers se winsgewendste belegging ooit word, met ’n fenomenale uitwerking op sy aandeleprys soos wat dié onderneming op die golf van die digitale eeu ongekende welvaart vir die maatskappy geskep het. Dit het vele meer uitbreidings moontlik gemaak soos wat dié transformasie die maatskappy self verder laat transformeer het. Vele aanwinste en hergroeperings is gemaak.
Toe Bekker in 2014 op ’n sabbatsreis vertrek “om nuwe geleenthede te verken” (New Naspers CEO 2014) (om in 2015 die uittredende Vosloo as nie-uitvoerende voorsitter van die direksie op te volg), is die Nederlander Bob van Dijk (toe 41) as besturende direkteur aangestel. Hy sou Naspers se 10de uitvoerende hoof en die eerste nie-Suid-Afrikaanse burger wees in die posisie wees. Bekker, toe 61, het in Maart 2014 ná 17 jaar as bestuurshoof uitgetree en sou in April 2015, in Naspers se 100ste jaar, vir Vosloo opvolg. Van Dijk was met sy aanstelling Naspers se hoof van globale e-handel, met ’n portefeulje wat gestrek het oor Oos-Europa, Asië, Latyns-Amerika en Afrika, met Naspers-maatskappye soos Allegro, PayU, ibibo, Buscapé, eMag, Netretail, Flipkart, Souq en Markafoni onder die Naspers-sambreel (New Naspers CEO 2014). Van Dijk was voorheen hoof van eBay in Duitsland, dié maatskappy se grootse onderneming buite Amerika (Booyens 2014). Hy was ook voorheen uitvoerende hoof by die Skandinawiese Schibsted, volgens Bekker “die leier in geklassifiseerde advertensies” en “presies dié kennis wat ons nou nodig het”.
Van Dijk het met sy aanstelling gesê hy “het Naspers altyd bewonder omdat die maatskappy hom verskeie kere herontdek en voorgebly het met wat kliënte wil hê, eerder as om verras te wees daardeur” (New Naspers CEO 2014). Ná sy eerste 100 dae as groephoof het Van Dijk gesê Naspers gaan “oorheersend ’n e-handelgroep op mobiele platforms wees” (Williams 2014). Sy fokus was op mobiele platforms met selfone en tablette as die vernaamste toegang tot Naspers se grootste markte.
Vinnig(er) vorentoe die digitale eeu in
Met die aanbreek van Naspers se 11de dekade het Koos Bekker, toe in geen formele posisie nie en op sabbatsverlof, ’n eeufeespublikasie oor Naspers se geskiedenis vanaf 1915 tot 2015 geveto. Hoewel ’n opdragwerk, was die publikasie toe reeds finaal in Afrikaans en Engels afgehandel onder toesig van direksievoorsitter Ton Vosloo. Die “sensuur”-debat het van tyd tot tyd opgevlam (Vosloo 2016; Scholtz 2019:10; Dommisse 2021:68–9, 79–80; Froneman 2021; Strydom 2022:78; Snyman 2024; Van Deventer 2024a; Van Deventer 2024b; Froneman 2024). Daar is bespiegel dat die maatskappy nie aan sy Nasionalistiese verlede herinner wou word nie.
In Julie 2015 het Media24 se hoof- uitvoerende beampte, Esmaré Weideman, ’n apologie aangeteken oor Naspers se apartheidsverlede. Dit was by geleentheid van Die Burger se eeufeesviering op 26 Julie 2015 (Strydom 2022:78). Haar woorde was: “We acknowledge complicity in a morally indefensible political regime and the hurtful way in which this played out in our newsrooms and boardrooms.”
Die digitale revolusie het die maatskappy intussen op ’n wipwaentjierit meegesleur, ook danksy die “spaghetti-strategie”. Maatskappye wat belofte getoon het, was aanwinste, maar daar is net so vinnig ontslae geraak as dit geblyk het dat hulle nie lewensvatbaar is nie (sien https://www.naspers.com/our-portfolio [Portfolio 2025] vir die maatskappy se portefeulje van huidige ondernemings).
In Februarie 2019 het MultiChoice Group Beperk formeel as filiaal van Naspers ontbondel (Our history 2025). Een rede was die “strukturele afslag” in Naspers se aandeleprys – ’n afslag wat toe bereken is as ’n 40%-afslag op sy batewaarde teenoor sy aandeleprys (Planting 2019). In Maart 2019 het die maatskappy ook aangekondig dat hy sy internasionale ondernemings op die Euronext-beurs in Amsterdam as die nuwe onderneming Prosus gaan noteer.
Met al dié uitbreidings is op 3 Julie 2019 aangekondig dat Naspers ’n nuwe uitvoerende posisie geskep het om maatskappyaktiwiteite in Suid-Afrika te lei, insluitend die pas gestigte Naspers Foundry en Naspers Labs (Naspers appoints Phuthi Mahanyele-Dabengwa 2019). Phuthi Mahanyele-Dabengwa het direk aan Van Dijk gerapporteer. Naspers het R1,4 miljard in Naspers Foundry belê om tegnologie-ontwikkelings in Suid-Afrika te stimuleer. Dit was bykomend tot die R3,2 miljard wat in Oktober 2018 belê is om bestaande ondernemings te ondersteun. Mahanyele-Dabengwa was voor haar aanstelling die hoof- uitvoerende beampte van Sigma Capital (Phuthi Mahanyele-Dabengwa 2024). In 2020 was sy 42ste op die Fortune Most Powerful Women International-lys, en die Wall Street Journal het haar in sy “Top 50 women in the world to watch” ingesluit.
In 2024 is aangekondig dat sy in 2025 in die Naspers- en Prosus-direksies aangestel sal word, onderskeidelik op 1 April 2025 in die Naspers-direksie en, ná Prosus se algemene jaarvergadering in Augustus 2025, by Prosus (Phuthi Mahanyele-Dabengwa set to join 2024). Sy sou haar rol as hoof- uitvoerende beampte van Naspers Suid-Afrika voortsit.
Die stig van Prosus in 2019 kan gesien word as een van die grootste omwentelings in die maatskappy se geskiedenis. Prosus is op die Euronext-beurs genoteer met ’n sekondêre notering op die JSE (Group Structure 2025). Die maatskappy is beskryf as die “grootste genoteerde verbruikersinternetmaatskappy” volgens batewaarde in Europa (Prosus 2025). Die aankondiging was op 25 Maart 2019 en die notering op 11 September. Dié stap deur Naspers is vergelyk met dié van byvoorbeeld die Noorweegse Schibsted Media Group, wat, soos Naspers, eens ’n tradisionele mediagroep was en ontwikkel het in aanlyn en digitale media en wat ook dié bedrywe in ’n aparte maatskappy buite Noorweë noteer het (Planting 2019).
Op 28 Februarie 2019 is Naspers se aandeelprys vir die laaste keer onder “Media” op die JSE verhandel. Vanaf 1 Maart is dit onder “Tegnologie”, in die onderafdeling “Programmatuur en dienste”, verhandel (SakeJSE 2019:13).
Van Dijk is ná sy “skielike vertrek” in September 2023 (Ndlovu 2023) deur ’n waarnemende hoof- uitvoerende beampte, die Amerikaner Ervin Tu, vervang. Tu was in daardie stadium die groep se hoof van beleggings. In Mei 2024 is aangekondig dat die Brasiliaan Fabricio Bloisi, toe 47, met ’n ingenieursagtergrond en hoof van Prosus se iFood in Brasilië, met ingang 1 Julie Prosus se nuwe groephoof sou wees (Gernetzky 2024). Ná Naspers se jaarvergadering in Augustus 2024 sou hy ook dié groep se nuwe hoof wees (Fabricio Bloisi appointed CEO 2024). Tu sou aanbly in ’n nuwe rol as groepspresident en hoof van beleggings van Naspers en Prosus. Tu het in Junie 2025 bedank; daar is geen rede vir sy bedanking gegee nie (Gernetzky 2025).
In Januarie 2025 is aangekondig dat Bloisi “op soek is na transaksies” en $20 miljard het om te spandeer (Naspers CEO is on the hunt 2025).
Groepvoorsitter Bekker het met die Bloisi-aankondiging in ’n beleggersoproep (“investor call”) gesê die keuse van Bloisi het gevolg op ’n “uitgebreide” soektog waarin 60 kandidate “ernstig” oorweeg is (Gernetzky 2024). Bekker het bygevoeg: “Ons sal nie dieselfde maatskappy oor vyf jaar wees nie, daar’s nie ’n kans nie, die tegnologiese oorskakeling is groot [‘huge’].” In hul soektog, het Bekker gesê, het hulle gevind dat ongeveer 55% van die beste tegnologiemededingers ’n uitvoerende hoof of stigter met ’n ingenieursagtergrond het. “Ons moet ons maatskappy vir die nuwe wêreld omvorm, en dit is waar ons hoop Fabricio sal help om ons daarheen te lei.”
Die Prosus-groep, nou met sy belange in finansiële tegnologie, kosaflewering, opvoeding en geklassifiseerde advertensies, het spesifiek ’n ingenieur gekies omdat die groot uitdagings in tegnologie in die komende jare sou lê (Gernetzkey 2024). Bloisi het met sy aanstelling gesê hy hoop hy sal die dubbelhandige (“ambidextrous”) aard van iFood na Prosus kan bring. Vir hom het dit vernuwing plus kapitaaldissipline beteken (dit wat Naspers in wese van sy beginjare toegepas het). Prosus het toe reeds sterk in KI belê. Volgens Bloisi het hulle reeds “honderde miljoene dollars” deur KI bespaar, “en ons het baie goeie produkte en is ’n vernuwer op hierdie gebied”. KI is toe reeds uitvoerig in die groep gebruik. Prosus het voorheen gesê dat ’n groep masjienleerkundiges reeds “jare gelede” aangestel is toe die eerste groot taalmodelle beskikbaar geword het – selfs nog voordat produkte soos Open-AI en ChatGPT beskikbaar geword het.
Met Prosus se jaarvergadering in Augustus 2025 het Bloisi vir “Rob, ons intern”, ’n “klein mensagtige robot”, as “werknemer” van Prosus bekendgestel (Brand-Jonker 2025). Prosus se interne KI word Toqan genoem, waaraan ’n “KI-agent [as] ’n outonome sagtewarestelsel” gekoppel word wat “sy omgewing deur sensors of data-insette waarneem”. Dit kan “besluite [...] neem op grond daarvan”, “stappe [...] doen om spesifieke doelwitte te bereik en onafhanklik [...] werk met verskillende grade van werklike menslike toesig”. Volgens Bloisi het die “agente” die “afgelope twee tot drie maande van 1 300 tot 3 000 gegroei”. Onder dié agente tel reeds 1 600 as “KI-werknemers”. Bekker het by die jaarvergadering gesê Naspers se “KI-perde” is in “’n resies wat nog skaars begin het”.
Bloisi het reeds met sy aanstelling gesê hy wil die maatskappy se waarde verdubbel deur KI dwarsoor sy afdelings te gebruik (Naspers boss says group 2024). Die groep se waarde is toe op R1,7 triljoen beraam. Bloisi se “moonshot”-vergoedingspakket van $100 miljoen is daarop gebaseer dat hy die maatskappy se waarde teen 30 Junie 2028 sal verdubbel. Daar is terselfdertyd gesê dat Bloisi met die nalatenskap van ’n “gekompliseerde sakestruktuur” moet werk wat sy voorganger, Van Dijk, “uitgeboul” (“stumped”) het. Naspers/Prosus se groot probleem is dat sy aandeel in Tencent Holdings die Naspers/Prosus-aandeelpryse reeds vir jare verwring weens die gaping tussen die waarde van die Tencent-aandeel en dié van die res van die groep. Om dit teen te werk het die groep teen 2024 reeds ’n kwart van sy Tencent-aandele oor ’n tydperk verkoop en sy eie aandele teruggekoop, terwyl ondernemings wat nie geld gemaak het nie, verkoop is.
Onder die Suid-Afrikaanse bedrywighede tel Media24 met as inhoud sekere erfenistitels en dít wat “tradisioneel” oorgebly het van die ou Naspers, plus nuwemediaprodukte, soos News24 en Netwerk24 (South African Businesses 2025). Einde 2024 is etlike drukmediaprodukte onder groot omstredenheid gestaak (Beukman 2025). Onder die sowat 96 maatskappye wat onder Prosus val, is Tencent verreweg die swaargewig, maar daar is byvoorbeeld ook kosafleweraars en opvoedkundige maatskappye (Our portfolio 2015).
Beheerstruktuur
Naspers is in Mei 1915 geregistreer ná die aanvanklike vergadering van 16 “leidende” Kaapse Afrikaners ná die “Oprichtersvergadering” in Desember 1914. Die eerste direksie het die jong Henry Fagan as sekretaris van die Voorlopige Komitee van Oprichters aangestel om vroeg in 1915 aan “vooraanstaande persone” te skryf om te help om kapitaal van £30 000 byeen te bring (Fagan 1975:38). Dié beskeie maatskappy het oor 110 jaar uitgebrei om by die skryf hiervan 14 direksielede te hê van wie sewe Suid-Afrikaners is (Our Leadership/Board 2025).
Met Naspers se internasionalisering het ’n toenemend ingewikkelde bestuur- en beheerstruktuur ontwikkel. Boonop het Bekker, in 2006, te midde van ’n tweede vyandelike-oorname-poging in die maatskappy se geskiedenis, ’n transaksie met Sanlam beklink wat ’n aansienlike persentasie aandele besit het in ’n maatskappy genaamd Wheatfields 221 (Davie 2006). Dié transaksie het gelei tot ’n groepering bestaande uit Bekker, sy studentevriend en oud-M-Net-kollega en Naspers-direksielid Cobus Stofberg, en Sanlam. Bekker het toe kort tevore ongeveer 600 000 Naspers-N-aandele ter waarde van R75 miljoen verkoop om R67,5 miljoen te betaal vir ’n 25%-aandeel in Sanlam se Wheatfields (so ook Stofberg). Wheatfields is beskryf as ’n entiteit wat Naspers-A-aandele, sogenaamde “high-voting” aandele, direk besit, maar wat ook deur die entiteite Keeromstraat (bekend as Keerom) en Naspers Beleggings (bekend as Nasbel) aandele besit, wat saam 55% van Naspers se stemregaandele besit.
Naspers-A-aandele het 1 000 keer meer stemreg as Naspers se gewone N-aandele (Davie 2006). Dié struktuur, het Naspers se uitvoerende bestuur gesê, is ontwerp om “beheer in die hande van sy direkteure te hou”. Davie (2006) het geskryf dat Bekker se medebeheer oor Wheatfields, plus sy direkteurskappe in die sleutel-beheer-entiteite Naspers, Nasbel en Keeromstraat, gesien kan word as dat dit hom “effektief beheer oor die groep [Naspers] gee”. In 2006 is al geskryf dat Bekker “waarskynlik” die grootste individuele aandeelhouer is met “aandele en opsies” wat toe reeds meer as R1 miljard werd was. In daardie jaar het Sanlam steeds 50% van Wheatfields besit.
Volgens Davie (2006) het Wheatfields altesaam 133 000 A-aandele gehad, plus 168 000 Keerom- en 16 miljoen Nasbel-aandele. Dit het toe neergekom op 13% van Naspers se aandeelstemme.
Die ontleder Deon Basson (Davie 2006) het gesê dié strategie van Bekker, as teenreaksie op die vyandelike-oorname-poging, het Keerom-aandeelhouers vervreem. Dié aandeelhouers “were made to believe that […] the Naspers A shares held by Keeromstraat were virtually worthless and held for control purposes only”. Maar: “Now suddenly and rather expediently Bekker pays R1 063,71 per A share – a hefty 8,5 times more than the value of N shares.”
’n Verdere “eienaardigheid” in die beheerstruktuur is dat geeneen van Keerom se 3 200 aandeelhouers meer as 50 stemme het nie, insluitend dié van Wheatfields (Davie 2006). Naspers se “tweevlakbestuur” is veronderstel om die maatskappy “oornamebestand” te maak. Bekker het egter gesê dat Wheatfields “geen rol speel” in Naspers se beheerstruktuur nie. Die maatskappy is sedert 1995 gesamentlik beheer deur twee groepe, Nasbel en Keerom, wat albei “high-voting”-aandele en ’n stem van 56% in Naspers het. Wheatfields was “eenvoudig” ’n “entiteit” wat deur Sanlam opgerig is om sy A-aandele in te hou. Sanlam wou van ’n gedeelte ontslae raak, en het daarom 25% elk aan Bekker en Stofberg verkoop. Die rede vir sy en Stofberg se koop, het Bekker in 2006 gesê, was dat Sanlam wou verkoop, en hulle nie wou sien dat die aandele aan ’n “stroper” (“raider”) verkoop word in die vyandelike-oorname-poging nie (Davie 2006).
’n Ander bron verwys na dié transaksie as moontlik nie ’n “entirely legitimate exercise” nie (Harris 2006). Bekker het na die vyandelike-oorname-groep as “mischievous raiders” verwys. Naspers se aandeelprys was in daardie stadium, op 26 Januarie 2006, R124, oftewel 2,6% of 325c laer as die vorige dag se sluitingsprys.
Dié ingewikkelde beheerstruktuur, wat as “argaïes” beskryf is, word deur die maatskappy se direksie ondersteun, en daar word ook verwys na ’n aantal mediamaatskappye wêreldwyd wat sulke dubbele stemstrukture het (Davie 2006).
Die interessante is dat toe die finansiële groep met die vyandelike oorname gedreig het met hul aanbod aan Sanlam – met Bekker en Stofberg se teenreaksie om die helfte van Sanlam se aandele te koop – die vyandelike oorname nie tot beheer kon gelei het nie omdat Sanlam nooit deel was van Naspers se beheerstruktuur nie (Harber 2012:32–3). Maar, is gesê, “globale mediamaatskappye” is sensitief oor hul onafhanklikheid en oor wie aandele besit, én die redes daarvoor. Om dié redes het Bekker en Stofberg die aanbod gefnuik en 50% van Sanlam se Wheatfields gekoop. “Did we overpay? Probably,” het Bekker van dié transaksie gesê. Maar sy mening was dat twee redes dit geregverdig het: Mediamaatskappye moes hul onafhanklikheid verseker – “’n ordentlike [‘decent’], selfs liberale, sentiment”, en dat daar stabiele, identifiseerbare eienaarskap moes wees om byvoorbeeld in China te kon handel dryf.
Die kompleksiteit van die beheerstruktuur
Die tameletjie van die groep se beheerstruktuur het weer in 2014 opgevlam toe die druk- en uitgewersmaatskappy Caxton “uitgebreide navorsing” oor die beheerstruktuur van Naspers by die Mededingingstribunaal ter tafel gelê het (Slabbert 2014). Dié berig het die opskrif “Who owns Naspers?” gehad. Volgens Caxton se navorsing het die “uiteindelike beheer” van Naspers gelê in die hande van Bekker, as voormalige uitvoerende hoof, Stofberg, as voormalige MIH-hoof, en Sanlam. Caxton het beweer dat dié feite nie in ’n samesmeltingsvoorlegging (“merger filing”) aan die Mededingingskommissie gerapporteer is nie, ondanks ’n “wetlike verpligting om dit te doen”.
Caxton kon gevolglik deur die Mededingingstribunaal aansoek doen om toegelaat te word om in te gryp in die samesmeltingsaansoek van Media24, ’n filiaal van Naspers, en die Paarl Media Group, Paarl Media Holdings en Paarl Coldset (Slabbert 2014). Die Mededingingskommissie, een van die respondente, het ’n onvoorwaardelike goedkeuring van die samesmelting aan die Mededingingstribunaal aanbeveel. Al die samesmeltende partye was uiteraard teen Caxton se aansoek gekant.
Caxton se argument was egter dat dit sou beteken dat die grootste Suid-Afrikaanse uitgewersmaatskappy, Media24, en die grootste drukkery in die land, Paarl Media, sou saamsmelt (Slabbert 2014). Caxton het die Mededingingskommissie se aanvaarding van die samesmeltende partye se kennisgewing van die samesmelting bevraagteken en gesê “dit is gebrekkig weens onvoldoende openbaarmaking van die direkte en indirekte belange van die beherende aandeelhouers in Media24 en die Paarl Media Group (PMG)”.
Die samesmeltende partye het in hul aanvanklike voorlegging aangedui dat Media24 ’n filiaal van Naspers is, ’n genoteerde maatskappy, en dus “nie beheer [word] deur enige maatskappy” nie (Slabbert 2014). Caxton het egter aangevoer dat die openbaarmaking “right to the top” moet gaan, wat sal aandui dat die samesmeltende partye beheer word deur Naspers Beleggings Bpk (Nasbel) en Keeromstraat 30 Bpk (Keerom), wat 50% van die stemregte deur sy ongenoteerde A- gewone aandele het. Wheatfields 221 het ’n verdere 11,7% van die stemregte, ook deur ongenoteerde A- gewone aandele. Caxton het aangevoer dat die belange van alle partye ondersoek moet word om behoorlik te kan assesseer wat die mededingingsimpak van die samesmelting is. Hy het ook gesê die samesmeltende partye was nie heeltemal eerlik nie en het die Kommissie “mislei” deur aan te dui dat Naspers deur geen maatskappy beheer word nie.
Naspers het vroeër dokumente ter tafel gelê wat aangedui het dat die lokus van beheer by Nasbel, Keerom en Wheatfields lê, en dat die individue daaragter Suid-Afrikaanse burgers is (Slabbert 2014). Caxton het egter aangevoer dat die uiteindelike beheer in die hande is van die voormalige uitvoerende hoof en toe aangewese Naspers-voorsitter, Bekker, die voormalige MIH-hoof en toe Naspers-direksielid, Stofberg, en Sanlam – alles deur “’n komplekse web van kruisaandeelhoudings in verskeie omgewings asook ’n stempoelooreenkoms”. Caxton het voorts gesê dat hy daarom “die reg” het om te mag ingryp. As die samesmelting suksesvol is, sou Media24 uiteindelik 100% van Paarl Media besit. Die samesmelting sou lei tot “co-ordinated effects”, ’n term wat vir samespanning gebruik word. Dit kon ’n moontlike impak hê op Media24-mededingers wat drukwerk by Paarl Media doen.
As teenargument is gesê dat ook Caxton “vertikaal geïntegreer” is met sy druk- en uitgeebates en dit bestuur sonder mededingingskwessies en dat daar nie ’n probleem met die samesmelting tussen Media24 en Paarl Media behoort te wees nie (Slabbert 2014).
Die samesmeltingspoging is uiteindelik laat vaar (“Disruptive” Caxton scuttles Paarl Media 2014).
Uiteindelik is die groep as Novus Holdings op die JSE genoteer, onafhanklik van Media24 en Naspers (Novus Holdings 2025). Op die dag van sy notering, 31 Maart 2015, is geskryf dat Novus, voorheen die Paarl Media Group, altesame 87 500 000 aandele op die JSE geplaas het met ’n openingsprys van R13,25 per aandeel (Novus Holdings 2015).
In 2017 was Naspers se beheerstruktuur weer in die nuus toe geskryf is dat hoewel die maatskappy se stygende aandeelprys vir die maatskappy baie steun beteken, sy beheerstruktuur potensiële korporatiewe bestuurskwessies inhou (Naspers’ convoluted control structure 2017). Terselfdertyd is gesê dat die beheerstruktuur nodig geag word in sekere jurisdiksies (soos China), waar ’n regering kommer het oor media-eienaarskap. Die beheerstruktuur is egter ook ontwerp om ’n vyandelike oorname te voorkom, is toe geskryf, en bied beskerming vir minderheidsaandeelhouers. Dié bron verwys ook na die 2014-geval toe die samesmelting tussen Media24 en Paarl Media misluk het – “gedeeltelik” weens Naspers se onwilligheid om sy beheerstruktuur vir ondersoek oop te stel.
Daar is voorts verduidelik dat Naspers se N-aandele, op die JSE gelys, 35,8% stemme verteenwoordig. Wat betref die A-aandele is geskryf dat dit in besit is van “verskeie maatskappye” en dat elke aandeel 1 000 stemme dra. Dié “ondeursigtige” (“opaque”) maatskappye is Keerom, wat 30,8% besit, Nasbel, wat 49,1% besit, en Wheatfields, met sowat 19%. Daarby: Dit is “onduidelik” wie die “uiteindelike begunstigdes” van dié maatskappye is, hoewel ’n 2004-voorlegging by die US-Securities and Exchange Commission daarop dui dat die aandele wat deur Keerom en Nasbel besit word, “geag kan word voordelig besit te word deur sekere direkteure van Naspers”. Dié “problematiese beheerstruktuur” word “vererger deur die gebrek aan direksie-onafhanklikheid”, is toe geskryf.
Dieselfde jaar is in ’n meer positiewe toonaard geskryf dat die beheerstruktuur kontinuïteit verseker (Cairns 2017), met Naspers wat as ’n “buitengewone” maatskappy beskryf is. Daar is geskryf dat indien ’n mens in September 1994 met notering R10 000 belê het, dit teen 2017 tot R1,5 miljoen sou groei – “welvaartskepping op ’n skouspelagtige skaal”. Dwarsdeur hierdie tydperk het Keerom en Nasbel met hul A-aandele meer as 50% van aandeelhouerstemreg gehad. Hierdie maatskappye vorm die beheerstruktuur, met gesamentlike stemme (“[they] vote together”) ter ondersteuning van die direkteure (Cairns 2017). Dit, voer Naspers aan, verseker kontinuïteit. Dit gee aan die maatskappy onafhanklikheid, met die genoemde “stabiliteit van die belegger in die belegging van kritieke belang” in lande waar Naspers bedrywig is. Só ’n beheerstruktuur verseker dit. Dit beteken ook dat die maatskappy nooit weer aan ’n moontlike vyandelike oorname uitgelewer sal wees nie. Dié struktuur (met Keerom en Nasbel) het reeds bestaan toe die maatskappy in 1994 genoteer is, en is weer deur aandeelhouers goedgekeur toe Naspers se akte van oprigting in Augustus 2012 bygewerk is.
Cairns (2017) skryf dat daar ’n nota daaroor is in Naspers se finansiële state van 2017, maar dat dit nie in die jaarverslag weerspieël is nie. Hoewel daar geen verwysing is na Keerom of Nasbel nie, word genoem dat Bekker en Stofberg ’n “belang” in Wheatfields het. Volgens Cairns (2017) besit dié beherende maatskappy op sy beurt aandele in beide Keerom en Nasbel, asook A-aandele uit eie reg. Voorts word in die jaarverslag ’n ontleding van Naspers se N-aandeelhouers gegee, maar daar is geen inligting oor die A-aandeelhouers nie. Cairns (2017) meen dit was dalk “an oversight”. Maar, skryf Cairns, dan was dit ook so in 2016, aangesien daar ook geen verwysing daarna in die 2016-jaarverslag is nie – “[a]nd it’s a pretty glaring oversight given the current interest in Naspers’s corporate governance”. Hoewel so ’n struktuur in die belang van die maatskappy mag wees, gaan dit met die verantwoordelikheid van deursigtigheid gepaard. En: “Naspers will argue that it isn’t hiding anything, but then why do so many shareholders have questions? Why do so many believe that they don’t know everything it involves?”
Ongelukkig, skryf Cairns, versterk dit die siening dat Naspers “cagey” is oor wie werklik in beheer van die maatskappy is. Volgens Cairns wil aandeelhouers ook weet watter moontlike botsende belange wat betref Bekker self bestaan – ook wat dit beteken wat aanspreeklikheid betref.
Die groep self skryf in 2025 dat sy beheerstruktuur en stembeheerstruktuur ten doel het om die voortgesette onafhanklikheid van die groep te verseker (Naspers voting control structure 2025). Die motivering lui onder meer:
When entering foreign countries in the broad media or communications spheres and when dealing with regulators, we must give an assurance of our continuity of identity: in other words, that we will not, after we have entered a territory or secured a licence, be taken over by unknown entities with whom the country or regulator may be uncomfortable. This assurance of independence and continuity is critical for our entry into and operation in many markets.
Vervolgens word die twee klasse van aandele op die Naspers-webwerf uiteengesit: N-klas- gewone aandele met een stem per aandeel, genoteer op die JSE, en ongenoteerde A-klas- gewone aandele, met 1 000 stemme per aandeel. Laasgenoemde het egter ’n “betreklik onbeduidende ekonomiese deelname”, aangesien die dividende verklaar aan A-gewone-aandeel-houers gelyk is aan een vyfde van die dividend per aandeel waarop N-gewone-aandeel-houers geregtig is (Naspers voting control structure 2025).
Dit lui voorts dat die meerderheid A-klas- gewone aandele deur twee maatskappye besit word wat saam die beheerstruktuur van Naspers uitmaak. Dit is die genoemde Keeromstraat 30 Beleggings (RF) Beperk (Keerom) en Naspers Beleggings (RF) Beperk (Nasbel). Volgens die webwerf besit hulle meer as 50% van die gewone stemreg in Naspers. Dié twee maatskappye oefen hul regte uit “in konsultasie met mekaar”. Tydens hierdie navorsing (in 2025) is daar geen melding van Wheatfields op die Naspers-webwerf nie.
Dié bron (Naspers voting control structure 2025) sit verder uiteen dat Keerom ongeveer 2 820 aandeelhouers het en dat sy grondwetlike dokumente bepaal dat geen aandeelhouer daarop geregtig is om meer as 50 stemme uit te oefen nie, ongeag aandeelhouding. Dit verteenwoordig 0,39% beheer. Nasbel het op sy beurt ongeveer 2 580 aandeelhouers, waarvan een Heemstede Beleggings Edms Beperk (Heemstede) is. (Heemstede is die huis op Stellenbosch, nou deel van die koshuis Heemstede, waarin Naspers gestig is.) As volfiliaal van Naspers besit Heemstede 49% van die aandele in Nasbel. Volgens die inligting op Naspers se webwerf funksioneer die direksies van Keerom en Nasbel onafhanklik.
Voorts beklemtoon dit weer eens dat gedifferensieerde stemreg en beheerstrukture “algemeen in die media- en internetsektore gebruik word om onafhanklikheid te verseker en strooptogte en pogings om beheer te gryp, af te skrik” (Naspers voting control structure 2025). Naspers verwys na “bekende” internasionale media- en tegnologiemaatskappye as voorbeelde, waaronder die reeds genoemde Schibsted, asook Tele2 in Noorweë, MTG in Swede, Daily Mail and General Trust in Brittanje, JD.Com en Alibaba in China, en Alphabet (Google), Meta, LinkedIn, 21st Century Fox, News Corporation, Discovery, Liberty Global, Snap Inc, Zillow en Zynga in die VSA. Spesifiek “talle” internet- en tegnologiemaatskappye het “onlangs” soortgelyke strukture geïmplementeer.
Onder die hofie “Removal of the cross-holding agreement” word geskryf dat Naspers en Prosus in 2021 ’n kruisbesitooreenkoms aangegaan het om hul verhouding te reguleer ná Prosus se verkryging van sowat 52,46% ekonomiese belang in Naspers se genoteerde aandele (Naspers voting control structure 2025). Dit is gedoen om aandeelhouers sekerheid te gee dat die volle omvang van Prosus se vryswewende aandeelhouers se effektiewe ekonomiese belang (“free-float shareholders’ effective economic interest”) in die onderliggende Prosus-portefeulje in uitkerings “direk en doeltreffend” op die Prosus-vlak betaal sal word. Voorts is ná aandeelhouersgoedkeuring in September 2023 die “kruisbesit van aandele tussen Prosus en Naspers verwyder”. Dié verwydering van die kruisbesit van aandele “verseker die voortsetting van die oop aandeleterugkoopprogram” (“open-ended share repurchase program”). Volgens Naspers vereenvoudig dit “ons korporatiewe struktuur betekenisvol” en behou (“preserves”) die voordele wat verkry word uit die notering van Prosus en uit die aandeleruiltransaksie.
Dié ingewikkelde beheerstruktuur en gepaardgaande wanbalans in bates, en hoe dit in die aandeleprys weerspieël word, bly steeds ’n tameletjie, ondanks die maatskappy se pogings die afgelope paar jaar om dit te neutraliseer deur die terugkoop van aandele. Die besluit in Augustus 2023 om “’n einde te maak aan die komplekse kruisaandeelhouerskap” tussen Prosus en sy moedermaatskappy (“parent”) Naspers is “oorweldigend” met ’n stemtotaal van 99,9% by sy algemene jaarvergadering gesteun (Gernetzky 2023). Gernetzky verwys ook weer daarna dat beleggers “gereeld” die maatskappy vir die “kompleksiteit” van sy struktuur kritiseer. Die maatskappy het intussen ook sy Tencent-aandelebesit oor tyd verminder, sodat dit in Augustus 2023 op ongeveer 25% gestaan het.
In die Naspers-groep se 2023-boekjaar is die “afslag” in sy aandeleprys (die aandeel se inherente batewaarde teenoor sy geldwaarde per aandeel) aansienlik verminder, naamlik met 16 persentasiepunte tot 38% (Gernetzky 2023). Dié afslagvermindering het waardeskepping van sowat $16 miljard (toe ongeveer R298 miljard) beteken. Gedurende die 2023-jaarvergadering het Bekker in sy voorsitterstoespraak, regstreeks uitgesaai van die Brics-beraad in Sandton, gesê die aandele-terugkoop-program het gehelp om die groep se “afslag” op sy aandeleprys te verminder. Die groep sou voortgaan om die kruisbeheer te ontbind sodat Naspers “eenvoudig 43%” van Prosus se N-aandele teenoor die vorige 62% sal besit, met ’n stembelang van 72%. Prosus sal uiteindelik geen aandeel in Naspers besit nie en sal ook sy geraamde 0,02% oorblywende aandeelhouding verkoop.
Naspers 110 jaar later
Oor Naspers se dekades het sosiaal-kulturele revolusies óók verandering in die maatskappy teweeggebring.
Daar was die vrouerevolusie – soos ook in die groter samelewing. Elke nuwe generasie vroulike werknemers het met groter fiksheid aan die glasplafon bly kap sodat geen diskriminasie hulle later van geleenthede kon ontneem nie – nog voor die nuwe Grondwet met sy gelykheid vir almal (Retief Meiring 2015:65–73; Rabe 2024).
Daar was ook die “kleurplafon” wat deurbreek is met die aanstel van die eerste joernalis van kleur in 1971 (Sidego 2015:95), ’n mylpaal wat nie te vroeg kon gekom het nie, want hoekom het juis Naspers nie veel vroeër mede-Afrikaanssprekendes bondgenote gemaak nie?
Een van die grootste omwentelinge in die “ou” Naspers voordat dit begin globaliseer het, was moontlik die finale afwerp van ’n sekere patriargale gesagstruktuur met die “WVK-revolusie” in 1997, toe jonger joernaliste, teen die maatskappy se besluit, voorleggings aan die Waarheid-en-versoeningskommissie gemaak het (Rabe 2017).
Inderdaad omwentelinge van velerlei aard – wat Naspers nie fyngemaal het nie, maar elke keer sterker uitgemaal het. Stofberg het byvoorbeeld onlangs, met sy aftrede ná 40 jaar by Naspers, gesê “[o]m van geykte idees ontslae te raak en van voor af ’n nuwe besigheid te bou[,] het gewoonte geraak” (“Dis moeilik om te laat gaan” 2025).
Dit is duidelik dat die maatskappy nie net deur elke dekade ontwikkel het en in verskillende “wesens” verander het met kleiner en groter metamorfoses nie, maar ’n voortdurende omwenteling ondergaan het. Dat die maatskappy, soos hy self op sy webwerf skryf, homself “getransformeer” het.
Ná 110 jaar kan ’n mens terugkyk en sê Naspers se eerste adres het – ironies genoeg – inherent ’n ingeboude revolusie gehad: Keeromstraat het uiteindelik tot ’n totale ommekeer gelei.
Harber (2012) beskryf ook Naspers se geskiedenis as “the story of South Africans’ amazing ability to adapt and prosper”. Dit sluit aan by die Darwinistiese benadering dat dit nie die sterkste is wat oorleef nie, maar die meer aanpasbare. (Let wel, nie die aanpasbaarste, oftewel “the fittest” nie, maar “the fitter” – Cunningham 2025.) Die oorspronklike maatskappy het naamlik in nuwe weergawes, filiale, afdelings en onderafdelings herstruktureer volgens eksterne en interne “ekologiese” faktore. Darwin se evolusieteorie kan dus eintlik ook op ’n maatskappy toegepas word – inderdaad, die Darwinistiese diktum van die “oorlewing van die mees aanpasbare”, ’n beginsel waarna Bekker gereeld verwys. In Harber(2012) het hy wéér verwys na Darwin se siening oor evolusie wat gebou is op die vermoë om by omstandighede aan te pas. Daarop het Harber geskryf:
Naspers was brilliant at adapting to apartheid, and then to its demise, and to operating in Africa, then to the internet bubble, and now to the demands of countries like China. It adapts quicker than any of its rivals to technological changes and challenges. Clearly, when Bekker spent time in Darwin’s home town [gedurende sy eerste sabbatstyd], he breathed in more than the air.
Wat betref die “ou” Naspers, met dit wat oorgebly het in Media24, tel dit volgens skatting slegs maar sowat 4% van die maatskappy. Daar word gespekuleer dat die “ou” (Suid-Afrikaanse) Naspers moontlik ten volle in Prosus opgeneem sal word en dat niks van die oorspronklike maatskappy sal oorbly nie. Van sy nuusaanbod in druk bestaan slegs sy oorspronklike koerant, Die Burger, nog in druk; die ander titels is opgeneem in Netwerk24 (vir die Afrikaanse titels) en News24 (vir die Engelse titels); daarvan het slegs Rapport nog sy eie identiteit op ’n Sondag.
Die paradoks wat deur die Britse filosoof Michael Oakeshott geformuleer is, naamlik “Change [...] is nothing but inherent continuity” (De Villiers 2012:201;203), kan gesien word as die inherente DNS van ’n maatskappy wat deurlopend op verskeie impulse kon reageer. Of, in die woorde van Harvard-historikus Jill Lepore (2023:453): “Evolution is nothing but change.”
Inderdaad het Piet Cillié (1990:3), direksievoorsitter in 1990 met die maatskappy se 75ste-bestaansjaarviering, verwys na die “morferende” metafoor van hoe die maatskappy ontwikkel het. Hy het naamlik die maatskappy vergelyk met hoe ’n insekeiertjie ’n ruspe word, die ruspe ’n papie, en hoe uit die papie ’n skoenlapper te voorskyn kom. In uiterlike voorkoms, het hy gesê, was dit vier totaal verskillende lewensvorms, maar tog het hulle “een ononderbroke identiteit”.
Naspers, wat ontstaan het as ’n sukkelende persmaatskappy, het gemorfeer in ’n globale entiteit, en morfeer steeds op impulse in die digitale ekologie. Soos genoem, het Bekker self dikwels na Darwin en sy uitsprake oor “die mees aanpasbare wat oorwin” verwys. In 2012 het hy byvoorbeeld gesê “[mense] haal Darwin aan wat sê dit is die sterkste wat oorleef” (Harber 2012:25). Maar dit was nié wat Darwin gesê het nie, het Bekker beklemtoon. Dit is die mees buigsame, dié wat kan aanpas by verandering, wat oorleef.
Naspers kan dus beskryf word as ’n voorbeeld van hoe ’n entiteit wat nie die sterkste was nie, kon oorleef danksy sy inherente vermoë om aanpasbaar te wees. Die maatskappy het homself van die ou (en vandag niebestaande) NP losgemaak, terwyl dit van ’n homogene, parogiale Afrikaner-persmaatskappy gemorfeer het in ’n “nasionale pers” pleks van ’n “Nasionale Pers”, om in ’n nuwe digitale era nuwe tegnologie te ontgin. Hy het hom eers omvorm tot ’n multimediamaatskappy, toe tot ’n multinasionale maatskappy, en toe tot ’n tegnologiemaatskappy. Dit was danksy die byna paradoksale kombinasie van konserwatiewe bestuur en tog risikonemende entrepreneurskap gedurende elke dekade van sy bestaan. Saam het dit die maatskappy die finansiële spierkrag gegee om aan die voorpunt te wees van kultureel-polities-sosiale veranderinge in sy land van oorsprong, en terselfdertyd in ’n posisie te wees om revolusionêre tegnologiese veranderinge globaal te ontgin.
Geen ander persmaatskappy, insluitend die sterk Engelse maatskappye wat bestaan het toe Naspers in 1915 gestig is (Mervis 1989) met hul imperiale, kapitalistiese steun, veral uit mynbelange, kon in hierdie (r)evolusionêre tydperk in Suid-Afrika die politieke, kulturele, ekonomiese en tegnologiese uitdagings, sowel plaaslik as wêreldwyd, soos Naspers navigeer nie.
Die maatskappy se 110 jaar strek, polities gesproke, oor die Suid-Afrikaanse eras van kolonialisme-unionisme vanaf 1910, apartheid vanaf 1948, insluitend ’n eensydig verklaarde republiek in 1961, en ’n demokratiese bedeling vanaf 1994. Danksy revolusionêre, vernuwende druktegnologie is die weg berei vir ’n veel meer revolusionêre tegnologiese en digitale revolusie in die Vierde Nywerheidsrevolusie, die Digitale Revolusie, en nou toenemend die Vyfde Nywerheidsrevolusie, dié van kunsmatige intelligensie.
Die verlede bly ’n kompleksiteit wat uit vele gesigspunte en van vele intellektuele platforms herbesoek kan word. Naspers het in 1915 beswaarlik genoeg stigtingskapitaal gehad, en slegs een enkele doel, naamlik die bevordering van Afrikanernasionalisme. ’n Eeu en een dekade later is dit ’n globale onderneming wat as ’n tegnologiereus beskryf word, en een wat vele kommersiële belange dien.
Media24, voorheen die totale Naspers, is 110 jaar later groter en meer divers as die oorspronklike Naspers, maar is die kleinste en steeds krimpende sektor binne die globale groep.
Tog, as vergestalting van die “Vierde Stand” – van kritieke belang vir ’n demokrasie – moet juis dié filiaal van die hedendaagse globale Naspers/Prosus dít in stand hou wat sy geboorteland vir oorlewing benodig, naamlik “burger-waardes” en “burger-betekenis”, die gelade woorde tydens De Burger se stigting 110 jaar gelede, ook met ’n woordspeling op die koerant se titel, en ironies, tans sy enigste hoofstroomkoerant wat nog in druk is.
Die woorde “burger-waardes” en “burger-betekenis” het hul oorsprong in die gelukwensing wat CJ Langenhoven (1915) aan die maatskappy en De Burger gerig het:
Laat mijn toe om ook mijn ou stemmetjie te voeg by die baje wat met heilwense en welkomsgroete om die wiegie van die nieuw-gebore apostel dring. Die boodskap wat hij te verkondig het (als ik uit die aard van sijn ouerskap die gehalte van sijn toekomstige gedrag mag voorspelle) sal wees om als burger sijn mede-burgers te wijs op hulle burger-waarde en burger-betekenis dat hulle ’n skakel vorm van ’n ketting wat deur eeuwe gesmee is en deur eeuwe heen verder sal loop – sterk of bros hiervandaan vorentoe naardat die smeewerk van vandag sijn verlede deeglikheid behou of bebrouw.
In 2025 sal daardie woorde geheel anders geïnterpreteer word. Inklusief, nie eksklusief soos toe nie, met “waardes” en “betekenisse” wat vir alle Suid-Afrikaners geld – veral in ’n steeds onvolwasse demokrasie. Juis daarom kan die rol van die nuusmedia nie oorbeklemtoon word nie. Soos ook vasgelê in die woorde van Bekker as uitgetrede bestuurshoof in 2014, wat die volgende jaar die nuwe voorsitter sou word: “[D]ie media het ’n groot rol om daarin te speel vir hierdie land om te oorleef” (Barnard 2014).
Wat lê dus voor vir Naspers/Prosus wat op soveel terreine met woord en daad “waarde” en “betekenis” vir so ’n groot persentasie van die wêreldbevolking ontsluit? Wat meer as ’n eeu, én verskeie “revolusies” – reuse omwentelinge in van ideologie tot tegnologie – oorleef het? Dalk die gunstelingverwysing van Bekker, naamlik die Darwinistiese diktum van wie oorleef, nie die sterkste is nie, maar die soepelste? Die een wat by verandering kan aanpas?
Bibliografie
Red: Sommige inskrywings word met * gemerk. Die betrokke internetskakels was lewend op die datum geraadpleeg. Sedertdien is dit nie meer toeganklik nie.
2024 Integrated Annual Report. 2024. https://naspersreport2024.com/pdf/Naspers-integrated-annual-report.pdf (19 Maart 2025 geraadpleeg).
About Naspers. 2025. https://www.naspers.com/the-group/group-structure (28 Januarie 2025 geraadpleeg).
Akte van Oprichting en Statuten van De Nationale Pers, Beperkt 1921, 8 Desember. Geteken deur WB de Villiers (voorsitter) en WA Hofmeyr (sekretaris).
ANC History. 2025. https://www.anc1912.org.za/history (11 April 2025 geraadpleeg).
Barnard, M. 2014. Ek kon duidelik sien hierdie ou het iéts ... http://www.dieburger.com/nuus/2014-08-30-ek-kon-duidelik-sien-hierdie-ou-het-iets (30 Augustus 2014 geraadpleeg).*
Bekker, K. 2001. Verskillende risikoprofiele skep ewewig in groep. Bylae tot F&T, 25 Mei, bl 8.
Beukes, WD (red). 1992a. Oor grense heen: op pad na ’n nasionale pers, 1948–1990.
Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
―. 1992b. Boekewêreld: die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Beukman, B. 2025. Die (vreemde) einde van ’n koerant. Gansbaai: Naledi.
Booyens, B. 2014. 17 jaar van tone stamp, en miljarde se sukses. Die Burger, 23 Februarie.
Brand-Jonker, N. 2025. “Ontmoet Rob, ons intern.” Die Burger 22 Augustus 2025, bl 12.
Cairns, P. 2017. Control structure ensures continuity: Naspers. TechCentral. https://techcentral.co.za/shareholders-just-trust-us-naspers/198693 (31 Maart 2025 geraadpleeg).
Cillié, PJ. 1990. Die Pers se roeping. Jubileumsbylae by Die Burger: Nasionale Pers 1915–1990, bl 3.
Claassen, G. 1998. Magazines. Life’s own story. In De Beer (red) 1998.
Company History 1915–2011. www.naspers.com/company-history_1915-2009.php (20 November 2012 geraadpleeg).*
Cunningham, C. 2025. Survival of the fittest. Encyclopaedia Brittannica. https://www.britannica.com/science/survival-of-the-fittest (14 Maart 2025 geraadpleeg).
Davie, K. 2006. Palace coup at Naspers. https://mg.co.za/article/2006-02-08-palace-coup-at- naspers/#:~:text=Bekker%20recently%20sold%20R75%2Dmillion%20of%20Naspers% 20shares,have%201%20000%20times%20the%20voting%20power, 8 Februarie 2006 (31 Maart 2025 geraadpleeg).
De Beer, AS (red). 1998. Media towards the millennium. Pretoria: Van Schaik.
De Kock, W. 1997. Malan meets Mandela. Leadership, 16(4).
De Swardt, S. 2006. Soveel “common sense”. 50 jaar in die joernalistiek. Bylae tot Die Burger, Junie, bl 7.
De Villiers, J. 2012. Geskiedeniswetenskap en die Nuwe Suid-Afrika – Moet die Suid- Afrikaanse geskiedenis herskryf word? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 52(2):196–208.
“Dis moeilik om te laat gaan” ná 40 jaar by Naspers, sê baanbreker. Die Burger, 23 Augustus 2025, bl 5.
“Disruptive” Caxton scuttles Paarl Media, Media24 deal. 2014. The Media Online, 26 Augustus 2014. https://themediaonline.co.za/2014/08/disruptive-caxton-scuttles-paarl-media-media24-deal (8 April 2025 geraadpleeg).
Dommisse, E. 2021. Fortuine. Die wel en wee van Afrikaner-magnate. Johannesburg: Jonathan Ball.
Du Plessis, JHO. 1943. Die Afrikaanse pers: ’n studie van die ontstaan, ontwikkeling en rol van die Hollands-Afrikaanse pers as sosiale instelling. Doktorale proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Du Plessis, T. 2007. Theunissen Super Vee. In Rabe (red) 2007.
Fabricio Bloisi appointed CEO. 2024. https://www.naspers.com/news-insights/group-updates/2024/naspers-ceo-announcement (17 Mei 2024 geraadpleeg).
Fagan, HA. S j. Uit die vroeë dae van Die Burger, ble 16–18.
―. 1975. Henry Allan Fagan 1889–1963. Opgestel deur Q Fagan. Vir my Kleinkinders. Kaapstad: Privaat uitgegee.
Froneman, J. 2021. Skerp vrae oor Bekker se rol by Naspers en Media24. Mediamense.com. https://mediamense.com/skerp-vrae-oor-bekker-se-rol-by-naspers-en-media24 (8 April 2025 geraadpleeg).
—. 2004a. Dominante motiewe in die transformasie van Huisgenoot, 1916–2004. Ecquid Novi, 25(1):61–79.
―. 2024b. Neem eerder alle feite in ag. Netwerk24, 8 Julie 2024. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/gesels-saam/neem-eerder-alle-feite-in-ag-20240707 (8 April 2024 geraadpleeg).
Gernetzky, K. 2023. Prosus shareholders overwhelmingly approve windup of cross-holding structure. News24. 23 Augustus. https://www.news24.com/fin24/companies/prosus-shareholders-overwhelmingly-approve-windup-of-cross-holding-structure-20230823 (23 Augustus 2023 geraadpleeg).
―. 2024. “Won’t be the same company in 5 years”: Prosus engineer CEO as it eyes AI revolution. News24, 17 Mei. https://www.news24.com/fin24/companies/wont-be-the-same-company-in-5-years-prosus-picks-engineer-ceo-as-it-eyes-ai-revolution-20240517 (17 Mei 2024 geraadpleeg).
―. 2025. Top exec resigns from Naspers, Prosus. News24, 2 Junie. https://www.news24.com/business/companies/top-exec-resigns-from-naspers-prosus-20250603-0444 (2 Junie 2025 geraadpleeg).
Giliomee, H. 2012. ’n “Gesuiwerde” nasionalisme, 1924–1948. In Pretorius (red) 2012.
Group structure. 2025. https://www.prosus.com/the-group/group-structure (21 Maart 2025 geraadpleeg).*
Harber, A. 2012. Gorilla in the room. Johannesburg: Mampoer Shorts.
Harris, S. 2006. Naspers control comes at a price. https://www.news24.com/fin24/naspers-control-comes-at-a-price-20060126 (31 Maart 2025 geraadpleeg).
Joubert, PA. 1990. Stigters was manne van durf. Bylae tot Finansies & Tegniek, 20 Julie, bl 16.
JSE NPN 2025. Naspers share price. https://www.google.com/search?q=naspers+share+price&rlz=1C1GCEU_enZA940ZA940&oq=&gs_lcrp=EgZjaHJvbWUqCQgCEEUYOxjCAzIJCAAQRRg7GMIDMgkIARBFGDsYwgMyCQgCEEUYOxjCAzIJCAMQRRg7GMIDMgkIBBBFGDsYwgMyCQgFEEUYOxjCAzIJCAYQRRg7GMIDMgkIBxBFGDsYwgPSAQkxODgzajBqMTWoAgiwAgHxBWLRKoVEmSBe&sourceid=chrome&ie=UTF-8 (15 Mei 2025 geraadpleeg).*
Kannemeyer, JC. 1995. Langenhoven: ’n lewe. Kaapstad: Tafelberg.
Langenhoven, C.J. 1915. Welkomsgroeten by de Geboorte. 27 Julie. In skrywer se besit.
Lepore, J. 2023. The deadline. Essays. New York: Liveright (WW Norton).
Le Roux, NJ. 1953. WA Hofmeyr. Sy werk en waarde. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Beperk.
Libera, M. 2025. The richest people in South Africa at the start of 2025. BusinessTech 19 Januarie 2025. https://businesstech.co.za/news/wealth/807216/the-richest-people-in-south-africa-at-the-start-of-2025 (28 Augustus 2025 geraadpleeg).
Malan, HR. 1965. Die groei van die Nasionale Pers. In Scannell (red) 1965.
Mantel, H. 2017. Why I became a historical novelist. Reith Lectures. The Guardian. https://www.theguardian.com/books/2017/jun/03/hilary-mantel-why-i-became-a- historical-novelist (21 Februarie 2025 geraadpleeg).
Marais, P. 1990. Uit gevangenskap. Feesbylae. Nasionale Pers 1915–1990, bl 38–9.
Mervis, J. 1989. The fourth estate. A newspaper story. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.
Mouton, A. 2002. Voorloper. Die lewe van Schalk Pienaar. Kaapstad: Tafelberg.
Muller, CFJ. 1990. Sonop in die Suide. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Muller, J. 1989. Press houses at war: a brief history of Nasionale Pers and Perskor. In Tomaselli ea (reds) 1989.
Naspers appoints Phuthi Mahanyele-Dabengwa as CEO, South Africa. 2019. https://www.naspers.com/news-insights/group-updates/2019/naspers-appoints-phuthi-mahanyele-dabengwa-as-ceo-south-africa?ref=billionaires.africa (4 April 2025 geraadpleeg).
Naspers boss says group to “reimagine e-commerce” through AI. 2024. TechCentral, 22 Oktober. https://techcentral.co.za/naspers-boss-reimagine-e-commerce-ai/253804 (22 Oktober 2024 geraadpleeg).
Naspers CEO is on the hunt for deals – with $20 billion to spend. 2015. TechCentral. https://techcentral.co.za/naspers-ceo-hunt-for-deals-20-billion/258151 (23 Januarie 2025 geraadpleeg).
Naspers Company history. 2013. www.naspers.com/company-history_1915-2009.php (27 Augustus 2013 geraadpleeg).*
Naspers’ convoluted control structure. 2017. Kigoda Consulting. 9 Junie. https://www.kigoda.com/news/corporate-governance/naspers-convoluted-control- structure (31 Maart 2025 geraadpleeg).
Naspers voting control structure. 2025. https://www.naspers.com/the-group/group-structure (7 April 2025 geraadpleeg).
Ndlovu, N. 2023. Interim Prosus CEO Ervin Tu promises discipline and stability. TechCentral. https://techcentral.co.za/prosus-naspers-ervin-tu-stability/231907 (19 September 2023 geraadpleeg).
Neethling, E. 2014. Tea with Ton Vosloo. Leadership. www.leadershiponline.co.za (20 Julie 2014 geraadpleeg).*
Net Asset Value. 2025. https://www.naspers.com/investors/investing-in-naspers/net-asset- value (21 Maart 2025 geraadpleeg).
New Naspers CEO has big shoes to fill. 2014. http://www.fin24.com/Companies/ICT/The-man-who-will-fill-Koos-Bekkers-big-shoes-20140222 (22 Februarie 2014 geraadpleeg).*
Novus Holdings. 2015. https://novus.holdings/novus-holdings-successfully-lists-on-the-johannesburg-stock-exchange-jse (8 April 2025 geraadpleeg).
—. 2025. https://novus.holdings/about/who-we-are (8 April 2025 geraadpleeg).
Ontstaan te danke aan geesdrif. 1990. Bylae tot Die Burger, 31 Julie, bl 2.
Our history. 2025. https://www.multichoice.com/our-history.php (21 Maart 2025 geraadpleeg).
Our Leadership/Board. 2025. https://www.naspers.com/the-group/group-structure (7 April 2025 geraadpleeg).*
Our portfolio. 2025. https://www.prosus.com/our-portfolio (21 Maart 2025 geraadpleeg).*
Phuthi Mahanyele-Dabengwa. 2024. https://www.bloombergevents.com/WomenMoneyPower/agenda/speakers/3390353 (4 April 2025 geraadpleeg).*
Phuthi Mahanyele-Dabengwa set to join Naspers and Prosus boards. 2024. TechCentral. https://techcentral.co.za/phuthi-mahanyele-dabengwa-naspers-prosus/256164 (4 April 2025 geraadpleeg).
Pienaar, S. 1979. Getuie van groot tye. Kaapstad: Tafelberg.
Planting, S. 2019. Naspers: to infinity and beyond. Business Maverick, 30 Mei. https://www.dailymaverick.co.za/article/2019-05-30-naspers-to-infinity-and-beyond (31 Mei 2019 geraadpleeg).
Portfolio. 2025. Naspers-portefeulje. https://www.naspers.com/our-portfolio (17 April 2025 geraadpleeg).
Pretorius, F (red). 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika: van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.
Prosus. 2025. https://www.naspers.com/prosus (21 Maart 2025 geraadpleeg).
Rabe, L. 2015a. Inleiding. In Rabe (red.) 2015.
―. 2015b. Keeromstraat en ommekere. Die Burger, 12 Mei, bl 11.
―. 2017. Kroniek van ’n mondigwording? ’n Mediageskiedkundige herevaluering van die WVK, Naspers en Afrikaanse joernalistiek. LitNet Akademies, 14(3):339–79. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/12/LitNet_Akademies_14-3_Rabe_339-379.pdf.
―. 2020. A luta continua. A history of media freedom in South Africa. Stellenbosch: SunPress.
―. 2024. Voorlopervroue in die Afrikaanse joernalistiek: Een eeu, drie baanbrekers, drie generasies. LitNet. Seminare en essays. https://www.litnet.co.za/voorlopervroue-in-die-afrikaanse-joernalistiek-een- eeu-drie-baanbrekers-drie-generasies (27 Maart 2025 geraadpleeg).
Rabe, L (red). 2015. ’n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange. Kaapstad: Tafelberg.
Retief Meiring, M. 2015. Vroue in die joernalistiek: You’ve come a long way, baby. In Rabe (red.). 2015.
SakeJSE. 2019. Aandelepryse. Die Burger, 2 Maart, bl 13.
Scannell, J (red). 1965. Keeromstraat 30. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Scholtz, L. 2010. Die Burger vir vólle 95 jaar. Die Burger 95, 26 Julie, bylae tot Die Burger, bl 3.
―. 2019. As geld meer tel as die navorsing. Die Burger, 10 Januarie, bl 10.
Sidego, C. 2015. Stroom-op en stroom-af – die Ekstra-koerante se rol. In Rabe (red) 2015.
Slabbert, A. 2014. Who owns Naspers? The Media Online, 19 Augustus. https://themediaonline.co.za/2014/08/who-owns-naspers/#google_vignette (31 Maart 2025 geraadpleeg).
Snyman, D. 2024. Ons wil graag hoor wat u van dié dinge dink. Netwerk24. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/dana-snyman-ons-wil-graag-hoor-wat-u-van-die-dinge-dink-20240629 (10 Maart 2025 geraadpleeg).
South African Businesses. 2025. https://www.naspers.com/south-african-businesses (21 Maart 2025 geraadpleeg).
Spies, JJ en HF Conradie. 1992. Bestuur en administrasie. In Beukes (red) 1992b.
Steinmeyer, J. 1946. Spykers met koppe. Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth: Nasionale Pers, Bpk.
Steyn, JC. 1992. Die Afrikaanse koerant en die Dertigers. In Beukes (red) 1992b.
Strydom, TJ. 2022. Koos Bekker's billions. South Africa: Penguin Books. Kindle-uitgawe, 1 September.
Tencent Holdings. 2023. https://tradingeconomics.com/700:hk:employees (25 Maart
2025 geraadpleeg).
Tomaselli, K, R Tomaselli en J Muller (reds). 1989. The press in South Africa. Bellville: Anthropos.
Tydlyn in Naspers se geskiedenis. S j. http://www.naspers.com/company-history_1915- 2009.php (11 Julie 2013 geraadpleeg).*
Van Deventer, H. 2024a. Die boek wat nooit verskyn het nie. LitNet, 29 Junie 2024. https://www.litnet.co.za/die-boek-wat-nooit-verskyn-het-nie (3 April 2025 geraadpleeg).
―. 2024b. Verbode boek oor Naspers: Ton vs Koos. https://hennievandeventer.co.za/verbode-boek-oor-naspers-ton-vs-koos/?trk=feed_main-feed-card_feed-article-content (3 April 2025 geraadpleeg).
Van Staden, C. 1997. Naspers het apartheid uitgegooi – Ton Vosloo. Die Burger, 15 Augustus, bl 2.
Vosloo, T. 1994. Voorsittersoorsig. 8 Junie. In skrywer se besit.
―. 2014. Mededeling. 12 September. In skrywer se besit.
―. 2016. Toespraak, afskeid TV. 6 Februarie. Mount Nelson, Kaapstad. In skrywer se besit.
Vyftig jaar in beeld. 1965. Die Burger Gedenkblad, 26 Julie, bl 7.
Who we are. 2025. https://www.naspers.com (28 Januarie 2025 geraadpleeg).
Williams F. 2014. Naspers lyk oor ’n paar jaar anders. Beeld. http://www.beeld.com/sake/2014-07-10-naspers-lyk-oor-n-paar-jaar-anders (10 Julie 2014 geraadpleeg).*
Eindnotas
1Die naam van die maatskappy was nie oorspronklik Naspers nie, soos in die artikel aangedui sal word. Ter wille van bondigheid word hier in die Inleiding nie ’n uiteensetting daarvan gegee nie; die “evolusie” van die naam van Nederlands na die latere verkorte Naspers volg later.
2Dit was algemeen bekend dat die joernalis Fred le Roux en die Nederlandse digter Jan Greshoff in die 1930’s die gesamentlike skuilnaam gebruik het om satiriese rubrieke oor die Afrikaanse letterkunde te skryf.
Lees ook:
Voorlopervroue in die Afrikaanse joernalistiek: Een eeu, drie baanbrekers, drie generasies
Beeld 50, saamgestel deur Erika de Beer: ’n bespreking van ’n koerant as kaleidoskoop oor 50 jaar