![]() Foto: Pierre van Niekerk
|
|
Sêgoed van Naomi Meyer “Skryf is ’n geleentheid om te ontsnap, stories op te maak, dis soos om ’n akteur te wees. Jy klim regtig in die vel van jou karakter in, en dan, soos op Google Maps, sit jy hulle waar ook al neer, en wórd dan die karakter, jy projekteer jou emosies op hulle.” (Rapport, 9 Maart 2017) “Om ma te wees is ’n ambivalente ervaring. Dis wonderlik en dis angstig en dit slurp jou op, maar jy wil nie iets anders hê nie. Dit verander die hele tyd.” (Rapport, 9 Maart 2017) Sharon Jenkings vra: Dink Naomi daar is ’n skrywersgeen of ’n kreatiewe geen wat geërf kan word (na aanleiding daarvan dat die skrywers- en musikale bloed in haar familie se are vloei)? “Hierdie voel vir my of mens die sogenaamde ’nurture vs nature’-debat kan open. Ek dink werklik albei hierdie faktore speel ’n rol: sosialisering en opvoeding kan ’n mens baie sterk beïnvloed. Maar niemand kan gene ontken nie. Ook nie persoonlikheidseienskappe nie. Boonop beleef ’n mens baie eksterne blootstelling. Niemand is ’n volledige bloudruk van ’n ander nie.” (LitNet, 18 Desember 2006) Terwyl Naomi swanger was met haar eerste kind, het sy aan Sharon Jenkings gesê: “Om swanger te wees het my lewe verander. Hoe ek kyk, hoe ek beleef, hoe ek die toekoms sien. Dalk selfs hoe ek die verlede sien. Ek beskou myself hoegenaamd nie as die ‘oermoeder’-tipe nie. En dalk kan ek opsom deur te sê dis ’n oorweldigende ervaring.” En op Sharon se vraag: “[W]at is die belangrikste les wat jy vir jou kind wil leer?” het Naomi geantwoord: “[E]k dink my kind gaan mý eerder ’n paar lesse leer!” (LitNet, 18 Desember 2006) Hoekom het sy die jeuggenre gekies vir haar eerste boek? “Want dit was daar! Ek het gesien dat die kompetisie se tema vir daardie jaar ‘musiek’ is. En my eie betrokkenheid by die musiekwêreld (hetsy by ’n amateuragtige orkes of by die klasgee vir skril beginnervioolspelers) was ook ’n sneller tot die skep van die verhaal.” (LitNet, 18 Oktober 2006) “Om te skryf is ’n protes teen die alledaagse lewe. Dit is dalk die mees rebelse daad wat ek kon uitvoer.” (Vrouekeur, 5 Mei 2017) “’n Boek vir kinders het ’n verantwoordelikheid ten opsigte van ’n morele kode. Ek dink dit moenie in die gedaante van ’n les plaasvind nie, want kinders ruik dit ’n myl ver. En wat is nou prettig daaraan? Maar ’n kinderboek moet ook herkenbare protagoniste en antagoniste hê, hoewel albei soorte karakters grys kante het. Anders is dit ook onrealisties. Hoofsaaklik is die storie waaroor dit gaan. Wat is die raaisel om op te los, die sogenaamde quest? Ek dink dis waaragter ’n kind, net soos ’n volwassene, aanlees.” (LitNet, 24 Januarie 2024) Die verskil tussen kinderliteratuur en jeugliteratuur: “’n Storie kies nie ’n ouderdomsgroep nie, maar ’n mens verstaan die lewe tog verskillend op verskillende ouderdomme. Emosioneel is mens nog nie reg om al die dimensies van die lewe te snap op vyf nie. Tog kan ’n vyfjarige atmosfeer aanvoel so goed soos ’n 85-jarige. Jou storie kan dieselfde wees, maar jou aanbieding moet geskik wees vir die mense wat jou ideale lesers is.” (LitNet, 24 Mei 2014) Watter invloed het haar ma, Maretha Maartens, op haar skryflewe gehad? “Ek het grootgeword met ’n ma wat skryf. Dus het ek, onafwendbaar, van kleins-af met hierdie wêreld te doen gekry. Van buite te doen gekry, moet ek dalk byvoeg: Jy wat skryf en jou ma wat ook skrywer is, is twee verskillende dinge. Ek was dalk in my kinderdae bewus van ’n lig wat vroegoggend buite my kamerdeur brand, terwyl my ma skryf, maar om ’n eie skryfpatroon en -ritme te vestig is ’n gans ander saak. […] My ma speel ’n baie groot rol in my lewe. Ek het in my ouerhuis leer lees en praat, dus het my ma ’n wesenlike rol gespeel in my aanleer van en omgaan met taal. Maar of my styl en keuse van onderwerpe met hare ooreenstem, is iets wat ’n leser dalk eerder self moet vasstel.” (Volksblad, 20 Desember 2006) Waarvoor was sy die bangste met die skryf van Web (dit het byna vyf jaar geduur)? “Ek was die bangste dat die boek nie vir publikasie aanvaar sou word nie! Ek was ook bang dat ek self nie sou weet wat met die kind gebeur het nie. Later was ek so betrokke by die storie dat die obsessie daarvan my eenvoudig gedryf het. Maar ek kon nie klaar wees voordat die storie klaar was nie.” (Vrouekeur, 2 Mei 2017) |
Naomi Meyer is op 13 April 1975 in die Tygerberg-hospitaal in die noordelike voorstede van Kaapstad gebore – die tweede dogter van Hennie en Maretha Maartens, ongeveer vyf jaar ná haar oudste suster, Danila. Haar pa was destyds ’n student in die teologie aan die Universiteit Stellenbosch, en haar ma (ook ’n skrywer) prinsipale van die ACVV-versorgingsoord/kleuterskool op Stellenbosch.
Naomi vertel dat Oos-Londen haar pa se eerste gemeente as predikant was. Daarna is hulle vir twee jaar Welkom toe, waar sy haar eerste twee skooljare aan die Welkom Volkskool deurgebring het.
Teen die einde van 1983 verhuis die Maartens-gesin na Bloemfontein, waar Naomi haar laerskoolloopbaan aan die JBM Hertzog-laerskool voltooi. Haar hele hoërskoolloopbaan bring sy aan die Hoërskool Sentraal deur, waar sy in 1993 matrikuleer.
Naomi se beste herinneringe aan haar skooljare was nie die akademie of ’n vak soos wiskunde nie, maar veral haar musiekopleiding aan die Musicon. “Ek was van standerd 1 af daar ingeskakel en het orkes gespeel vandat ons in Bloemfontein aangekom het – tot vandag.” Vandag speel sy steeds in gemeenskapsorkeste soos die Wynlande Filharmoniese Orkes en die Stellenbosse Stadsorkes wanneer die geleenthede hul voordoen.
Sy het viool as kind leer speel, toe sy vyf jaar oud was. “Ek speel nog steeds,” vertel sy aan Debbie Loots (Rapport, 19 Maart 2017). “Ek oefen net nie genoeg nie. Viool is soos ’n rekenaar. Jy kan daaragter wegkruip. Ek het in orkeste gespeel vandat ek klein is, ook in die destydse Sukovs-orkes.”
Wat skryf betref, vertel Naomi aan Maryke Roberts (Vrouekeur, 5 Mei 2017) dat haar ma wonderlike stories vertel: “My ma leef haar soveel in stories in dat dit voel of dit werklik en geloofwaardig is. Ek was van kleins af lief vir skryf en het diep in my hart altyd geweet dat ek eendag gaan skryf.”
Verdere studie en werk
Ná skool is Naomi na die Universiteit van die Vrystaat, waar sy in die regte studeer en in 1997 haar regsgraad behaal. Haar eerste werk was as kandidaatprokureur in Bloemfontein, en nadat sy in 1999 as prokureur van die Hooggeregshof toegelaat is, is sy Kaapstad toe, waar sy by die meesterskantoor gewerk het.
Dit was in die meesterskantoor in 1999 dat sy ’n berig in Die Burger raakgesien het wat ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad adverteer, waarvoor sy toe inskryf. Sy behaal haar meestersgraad in 2000 onder leiding van Etienne van Heerden met lof.
Só raak sy betrokke by LitNet en die Taalsekretariaat en haar minitesis se titel is “LitNet se SêNet as postmodernistiese, achroniese gespreksruimte: ’n ontleding van die tydperk Januarie 1999 – Oktober 2001.
Oor haar ervaring as SêNet-webmeester vertel Naomi aan Sharon Jenkings op LitNet: “Ek onthou baie ure voor die rekenaar se flikkerende skerm, Ek onthou baie laat nagte en baie vroeë oggende. Ek onthou hope spelfoute en hope reaksies op spelfoute. Ek onthou baie vurige gemoedere en hewige en hete argumente. Ek onthou eras en tydperke en mense. Ek onthou die tyd toe daar 10 briewe per dag verskyn het. Ek onthou die tyd toe daar 110 briewe per dag verskyn het. Ek onthou rofweg ’n dosyn briewe wat my sodanig geïnspireer het dat ek hulle nou nog op die internet sal kan opspoor.”
Sy ontmoet haar toekomstige man, Jan-Hendrik, ’n sielkundige, op Stellenbosch, en in 2002 trek hulle na Ierland, waar sy kontraktueel by ’n regsuitgewer betrokke raak, regsassistentswerk by ’n eenmanprokureursaak doen en ook by ’n musiekskool vioollesse gee.
Die musiekskool waar sy viool gegee het, was die Music School of Meath, in Iers bekend as Ceolscoil na Mí (https://www.musicschoolofmeath.ie/about-music-school-of-meath). Die skool is in Navan, ’n groterige dorp in die Republiek van Ierland, ongeveer ’n uur se ry noord van Dublin, en amper ewe ver as mens verder noord sou ry na Belfast in Noord-Ierland. Hulle het in Navan gewoon en sy het ’n advertensie in die plaaslike koerant gesien waarin geadverteer word vir ’n pos as vioolonderwyser by hierdie skool. Sy het kontak gemaak met die skool se direkteur en hom in kennis gestel dat sy nie ’n opgeleide onderwyser is nie, maar dat sy sou kon oudisie speel om te bepaal of sy vir beginners viool sou kon gee. Sy het die oudisie geslaag en het vir die grootste deel van haar gesin se verblyf in Ierland inderdaad vioollesse by hierdie musiekskool gegee. Sy onthou hierdie tydperk as ’n baie gelukkige werkstydperk en -omgewing. Die skool se direkteur het self viool gespeel en sy het baie geleer. Die ander personeellede het soms, tussen hul klasse of as die leerlinge nie opgedaag het nie, in hul klasse musiek gemaak. Sy het ook in ’n gemeenskapsorkes in Dublin viool gespeel en ook in ’n eie ensemble musiek gemaak.
In Ierland het Naomi hard gewerk aan LitNet se Sanlam Aanlynskryfskool-projek, en hieroor gesels sy ook met Jenkings: “Ek vind die Sanlam-skryfskole uiters opwindend. En die manier waarop die proses geskied, nogal taamlik in voeling hoe dit werklik is om ’n boek gepubliseer te kry, met wat agter die skerms gebeur. Ek het self baie van skryf geleer, nie die minste nie waarvan dat die herskryf net soveel, of méér, gewig dra as die aanvanklike voltooiing van die manuskrip.”
Tydens hulle verblyf in Ierland is Naomi die wenner van die Duleek Heritage Group se kortverhaalkompetisie met haar verhaal “Water” (https://www.independent.ie/regionals/louth/drogheda-news/duleek-heritage-group/27137763.html).
Terwyl die Meyer-gesin in Ierland gewoon het, begin Naomi skryf aan ’n jeugroman, Ruik jy die filmster?, wat in 2005 ingeskryf is vir die Sanlam-jeugverhaalkompetisie onder die titel Geboortemerke. Die beoordelaars het Naomi se verhaal aangewys as een van die belowendste inskrywings van 2005.
Op LitNet wou Sharon Jenkings weet hoe die hele proses – van inskrywing tot gepubliseerde jeugverhaal – vir Naomi uitgespeel het: “Ek dink die woord proses som dit reeds mooi op,” vertel Naomi. “Daar was ’n paar impulse wat aanleiding gegee het tot die neerpen van die verhaal (die eerste daarvan ’n meisie met ’n groot geboortevlek oor haar gesig buite ons woonstel se deur). Van die finale wegstuur van die oorspronklike manuskrip onthou ek letterlik net hoe seer my kop was in ’n poging om die sluitingsdatum te haal. En die dag toe Louise Steyn my bel om my in te lig dat my manuskrip die Sanlamprys se kortlys gehaal het, het ek haar gevra of dit ’n Aprilgek-grap is. Daarna het die grootste werk aan die manuskrip inderwaarheid plaasgevind toe ek die hele storie onder die kundige leiding van Francois Smith by Tafelberg moes herbedink.
“Die kompetisie het vir my ’n sperdatum gestel. Die einddoel (naamlik die wegstuur van die manuskrip op ’n vasgestelde datum) het my dus gedwing om chaotiese prikkels te tem, los drade te knoop en meer meedoënloos om te gaan met my ‘little darlings’.”
Anschen Conradie skryf op Goodreads as volg oor Ruik jy die filmster?: “Om vyftien te wees is ongemaklik. As jou lewe boonop aanmekaargesit is van een afskeid na die ander, is dit selfs erger. Carmen kry nooit kans om wortel te skiet nie; nes sy nuwe vriende maak, trek hulle weer. En die laaste trek was na die ander kant van die aardbol, van Bloemfontein na Dublin. Dis nie net die afskeid van mense wat pynlik is nie, drie gebeurtenisse is ook die begin van Carmen se afskeid van kinderlike onskuld. Sy en haar broer ontkom nouliks ’n gewapende rooftog, ’n vriendin stuur vir haar ’n boodskap dat sy en ’n ou amper ‘dit’ gedoen het – en Carmen weet minder as niks van ‘dit’ – en sy ontdek haar ma se tienerdagboek.
“Carmen se droom om films te maak veroorsaak dat haar perspektief op die wêreld, soos beskryf in die eerste-persoon-narratief, met waarnemings deur ’n lens vergelyk kan word. Die kort hoofstukke met individuele titels sluit hierby aan; Sy beskryf gebeurtenisse episodies en met ’n denkbeeldige klankbaan. Die belangrikste hiervan is ongetwyfeld die Engelse verwerking van Jacques Brel se onvergeetlike ‘Le Moribond’, veral omdat sy aanklank vind by die nostalgiese ‘Goodbye to you, my trusted friend …’ […]
“Carmen is ’n intense, ondersoekende karakter wat grootliks in haar eie kop lewe. Sy erken self: ‘Ek het nooit eers besef dat ander mense kán dink nie. Toe ek klein was, was die gedagte dat ander mense met ’n kop vol gedagtes rondloop so ondenkbaar soos wat dit was dat onderwysers toilet toe moes gaan’ (16). Sy ervaar met oorgawe: ‘Alles gebeur, alles ontplof binnetoe’ (118) en openbaar telkens ’n aweregse sin vir humor en selfspot: ‘My naam sit in my keel vas. Wat is my naam nou weer?’ (125).
“Haar reis na haarself en die uiteindelike besef dat grootmense net kinders is wat in hulle velle ingegroei het, word in hierdie roman vir jong volwassenes toeganklik, onderhoudend, en met pittige deernis aangebied.”
Rita-Anna Pienaar skryf in Die Burger (5 Maart 2007) dat Ruik jy ’n filmster? haar met die eerste lees (toe sy 16 was) nie geboei het nie; trouens; sy het gesukkel om haar oë oop te hou. Toe sy egter ’n ruk na die eerste probeerslag wéér die boek optel, was dit ’n ander storie – “dié boek het vir my gewag.
“Die essensie daarvan is eg, en ek kon nou baie beter relate. Dit het net ’n bietjie grootword van my gekos. Ek verstaan toe die simboliek van Naomi Meyer se skryfstyl en begryp haar boodskap.
“Die boek begin met ’n 15-jarige meisie, Carmen Janse van Rensburg. Sy wil movies maak en famous wees, maar haar huis is onder probleme toegegooi. Haar ouers se kommunikasie is haywire en haar ouer broer is konstant op sy eie missie.
“Weens haar ouers se beroepskeuses en ’n hewige misdaadvoorval trek hulle voortdurend, dié keer van Bloemfontein na Ierland. Dus is langtermyn-vriendskappe en die stabiliteit van ’n beste vriendin vir haar vaag. ’n Boyfriend nog meer. Die nuuskierigheid borrel in haar, seker soos in enige tiener daaroor, maar antwoorde vind sy nie. Maar dit verander toe sy haar ma se dagboek van die tyd toe sy 15 was, vind. Haar ma vind dit uit en die vertroue tussen die twee verbrokkel. […]
“Die slot is rond met Carmen wat vir Prmsyl ontmoet. Haar gesin word weer ’n eenheid, sy en Prmsyl date, en sy ruik die filmster. Die regte reuk.
“Al wat my wel gepla het, is dat daar te sterk vasgeskop word om so min as moontlik cliché te wees. Ek sê nou nie dit moet voorspelbaar wees nie, asseblief nie, maar soms is dit lekker om normaliteit te hê – dit beteken dat meer mense sal ooreenstem. […]
“Aan die begin van die boek het die vermenging van tale my verskriklik gepla, maar dit lyk ek’t dit tog op die ou end aangeleer! Ek vind dat sommige Engelse woorde party dinge net beter kan verduidelik.”
In 2007 skryf Naomi Oranje, ’n roman wat sy inskryf vir Insig se Groot Romanwedstryd en wat aangewys word as een van die finaliste saam met Harry Kalmer se En die lekkerste deel van dood wees en Erika Murray-Theron se ’n Tapisserie met klein diere. Hierdie roman is nooit gepubliseer nie.
In 2011 trek die Meyer-gesin terug na Suid-Afrika en oor die aanpassing om terug te keer na Suid-Afrika, vertel Naomi aan Maryke Roberts: “Dis ’n moeilike vraag om te antwoord. Ek het in Ierland gesukkel om aan te pas en ek het ook aanvanklik hier gesukkel om aan te pas. Maar ons hét in Ierland aangepas en ek was gelukkig daar. En dit geld ook vir Suid-Afrika. Ek dink nie geluk is ’n absolute nie. Die animasie-fliek Inside out illustreer dit vir my so mooi: Vreugde en hartseer is altyd maar vermeng, maak nie saak waar ’n mens bly nie.”
Terug in Suid-Afrika sluit Naomi haar by LitNet se span aan waar sy daagliks te doen kry met mense se menings oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe. Maryke Roberts wou weet of dit nie ’n inhiberende uitwerking op haar eie skryfwerk het nie: “As ek daaroor nagedink het, het dit my geweldig geïnhibeer, want ek werk in die skadu van soveel groot bome. Maar terwyl ek skryf, in daardie ruimte en sfeer, was daar niemand anders nie.
“Daar het ek nie aan ander mense gedink nie: nie my werklike gesin nie, nie my werksomgewing nie, nie ander skrywers nie of ander mense se prestasies en talente nie. Ek meen ’n mens sal dan nooit self iets waag nie, dit sal eenvoudig onmoontlik wees.”
Van Naomi se kortverhale verskyn in die versamelbundels Ingonyama en ander maats met leeueharte (2021), Die meisie met uitroeptekens in haar oë (2021) en Ver in die wêreld (2023), sowel as in die tydskrifte Huisgenoot en Vrouekeur. Haar kortverhaal “Groen” haal in 2020 die Law for all-kompetisie se top tien. Haar kortverhaal “Hitte” is in 2020 in die Woordfeesbundel opgeneem en is ook op RSG voorgelees.
In 2017 verskyn Naomi se debuutroman vir volwassenes, Web, met Stellenbosch as die agtergrond. Die hoofkarakter is Sophia en sy werk by ’n boekwebwerf. Daar is probleme tussen haar en haar man, Diederick, en hulle het al in Ierland gewoon. Daar is baie raakpunte tussen Sophia se storie en Naomi s’n. Baie mense het dus al gewonder of die boek outobiografies is. Toe Naomi dit vir haar man, Jan-Hendrik, noem, was sy reaksie: “Nee, dit is nie ons huwelik nie; ons huwelik is erger!”
In ’n onderhoud met Jonathan Amid op LitNet wou hy weet hoekom sy besluit het om ’n spanningsroman te skryf, “en boonop een wat nie netjies in ’n boks geplaas of eenvoudig geklassifiseer kan word nie”. “Ek het nie aanvanklik bedoel om 'n spanningsroman te skryf nie. Maar die boek kan opgesom word deur te sê: 'n kind raak weg – waar is sy? Dit kon nie juis anders nie; dit was 'n raaisel om op te los. Dalk het ek aanvanklik gedink ek werk aan 'n boek oor moederskap. Dalk een oor verlies en afskeid. Of oor skeidingsangs. Miskien was ek net 'n werkende ma wat heeldag by die werk moes wees, weg van my kinders, en die enigste manier om hulle nader aan my te kry, was om hul in my kopspasie te betrek. Wanneer hulle nog in die bed was saans of soggens, het ek aan die storie gespin. Wanneer ek dan nie aan die storie kon werk nie, was hulle nog steeds daar. Hierdie storie wou nie net weggaan nie; dit het heeltyd by my gebly.”
Naomi verduidelik aan Maryke Roberts: “Web is eerder die werklikheid van die borrels waarin Suid-Afrikaners saamtrek en leef. Die gim-mammas, die samelewing teen die agtergrond van ’n politieke bestel waarin die land brand. Stellenbosch is as ruimte ingespan en is bloot uit ’n praktiese oogpunt gebruik.”
Die impetus vir die skryf van Web was die verdwyning van Madeleine McCann in Portugal. Die Meyer-gesin was in Portugal toe die driejarige dogtertjie verdwyn het. Naomi sê: “Meer as die verdwyning van Madeleine, het ouerskap my die diepste geraak. Dit het my lewe op elke denkbare manier verander. Dit was wonderlik en dit was moeilik. Toe ons as gesin in Portugal was en alles was so onherhaalbaar mooi op daardie strand, het dit my getref: hoeveel die skoonheid van die oomblik my verruk; hoeveel my kind saak maak en dat dit in ’n oogwink kan verander. Madeleine McCann was in die nuus en ons was op die strand waar sy weggeraak het. Ek kon nie anders nie.”
Naomi beskryf Web as ’n spanningsroman, hoewel daar verskillende wyses is waarop ’n mens hierdie genre kan beskou: “Eintlik glo ek nie my boek val in die rillergenre nie, dis eerder ’n raaisel wat opgelos moet word. Maar vir ’n ma is dit ’n riller as haar kind verdwyn.”
Die titel van die boek was eers Weg, maar dit het nie vir Naomi reg gevoel nie en sy besluit toe om net een letter te verander en toe kom sy by Web uit. In die woordeboek het sy die definisie van web gesoek en “dit was asof ek die hele roman net daar in posisie sien val het. Wel, ten minste die temas en drade wat moes knoop.” Só het die titel Web geword.
Web vertel die verhaal van Sophia en Diederick, ’n speurder. Ná hul verblyf in Ierland trek hulle in ’n klein huis op Stellenbosch langs die tradisioneel bruin buurt Cloetesville in. Met die studenteprotes op hande wil die dorp net begin “brand”; en dan raak hulle dogtertjie, Magriet, weg.
Deborah Steinmair is die resensent van Web op LitNet en sy begin só: “Ons almal wil graag die soort boek skryf wat die werklikheid laat vervaag; wat vir ’n paar uur die werklikheid vervang, die werklikheid wórd. Ons wil vermaak, maar ons wil ook graag relevant en universeel wees. Min van ons kry dit reg, want die narratief bly dikwels om die eie klein werklikheid tjommel soos ’n lang Facebook-inskrywing. Hoe skryf ’n mens oor dit wat jy ken sonder dat dit net ’n gesprek met eensgesindes of met mense in dieselfde situasie as jy word?
“Naomi Meyer slaag dawerend daarin. Sy span haar web wyd en geslepe, bykans ongesiens, soos dit hoort. As jy dit nog oorweeg om ’n paar paragrawe oor teetyd te lees, word jy eensklaps toegestrik in die taai, verleidelike spinnerak van ’n storie wat hoor en sien laat vergaan, soos dit hoort. En in ons aandagafleibare samelewing wil dit gedoen wees.”
Steinmair som Web as volg op: “Die verhaal speel in Stellenbosch af, daardie hutspot van gepolariseerde mikrokosmosse. Die hoofkarakter, Sophia, is enigeen en niemand nie: ’n moeë vrou en moeder in ’n vaal jas, haar lewe ingesluk deur kinders, werk (wat heeldag voor ’n rekenaar sit behels) en skuld – in al sy vorme. Dit terwyl die naamborde langs haar lewenspad teen ’n duiselingwekkende snelheid verbyskiet en sy droom oor Portugal, vryheid, opsies. Sy en haar man, wat eens gereis en hard gelag het, woon in ’n te klein huis, werk vir te min geld, het skuld in euro’s, kan nie die rys in Woolworths of nuwe skooltasse bekostig nie, en is nooit meer alleen nie.
“Sophia het min tot geen vriende nie en pas nie in die kliek van gym-mammas nie. Sy het ’n wakker, aweregse brein en dink dat sy graag aan een van die mammas se bruingebrande been sonder ’n sweem van selluliet sou wou vat om te voel of dit regtig ’n mens is. Sy voel totaal oorweldig en ontoegerus vir moederskap. Sy praat wanneer sy moes stilgebly het en bly stil wanneer sy moet praat. Sy fantaseer oor haar jeugliefde en oor wegloop. Sy is ’n sigeuner uitgedos in burgerdrag.
“Op ’n dag verdwyn haar dogtertjie Magriet van die kleuterskool se speelterrein. Magriet is bruin in ’n wit gesin; sy is in Ierland aangeneem. Sy baklei met haar boetie, wat graag zombies afmaai in rekenaarspeletjies. Sy begeer maatjies en ’n iPad. Sy is sewe en gesels al op die internet.”
Steinmair sluit haar bespreking af: “Die storie word nie chronologies vertel nie, maar in kort hoofstukke met tydspronge, met die gevolg dat die besonderhede algaande sin maak soos ’n legkaart wanneer die laaste blokkies ingepas word. Hierdie soort truuk kan soms vermoeiend wees en ruik na foefie, maar in hierdie nagmerriescenario werk dit uitstekend. Die leser bly vasgenael – daar is soveel op die spel en die skrywer slaag daarin om die leser intiem te betrek, intens te laat omgee. Temas waarmee mense daagliks worstel, soos die onmoontlike verwagtings rondom geluk geskep deur sosiale media, die gevaar van die hashtag, privaatheid wat grootliks ’n illusie is, wit skuld, woede, armoede, identiteit, mag, internettrolle en -roofdiere kom aan bod. En die storielyn is voortreflik, met baie vertakkings en verdagtes. Want uiteindelik is ons almal skuldig.
“Hoe gelukkig is die Afrikaanse leser nie. In ’n lesersmark met voortreflike misdaadfiksie transendeer hierdie boek die genre: dis heelwat meer as misdaad, terwyl dit al die elemente het om misdaadvrate te versadig. Dit verwoord ongemaklike dinge, dis menslik, dis ongenaakbaar en lakonies, dis rou en polsend soos die land, soos die wêreld. Wanneer dit te laat is, besef Sophia dat Candice, die vrou wat haar huis skoongemaak het en wat sy glad nie geken het nie, nou vir altyd deel van haar is, dat sy haar altyd sal sien.
“Want dit is miskien die flarde hoop wat wel in die wind bly wapper as die as gaan lê: dat mense mekaar kan begin sien. Dis wat die boek regkry – om daardie gedagte te laat posvat. Dis ’n belangrike boek. In enige landskap.”
Steinmair bespreek Web ook in Rapport (19 Maart 2017), en daardie bespreking sluit sy so af: “Web se huishoudelike noir is vir my ’n welkome verandering van suiwer misdaadfiksie waar die protagoniste, meestal polisielede, grootliks stereotipes is: die alkoholistiese, kettingrokende, geskeide man met kwynende libido en brandende ambisie, die jong vrouekonstabel met vertrouenskwessies wat kopstamp met die patriargale opset. In Web is die karakters volrond, mense wat nog ná die toeklap van die boek jou kop bewoon. Die leser word gedwing om na te dink, selfs terwyl die spanning breekpunt bereik. Die leser word met ongemaklike waarhede gekonfronteer, soos die eenvoudige feit dat die skuldige ons almal is. Die leser word gedwing om mense raak te sien, ook mense wat geheel en al buite jou seepbel bestaan. Dit is dan ook die enigste boodskap: dat mense miskien kan leer om mekaar raak te sien. Ek glo dis ’n relevante, belangrike boek. Dit is fyngekonstrueer en vol nuanse.”
In Maart 2017 is Web Maroela Media se Boek van die Maand. Ilse Salzwedel skryf: “Teen die agtergrond van ’n kampus wat brand tydens die Fees Must Fall-veldtog, word die leser op ’n subtiele manier gelei om na te dink oor baie fasette van Afrikaans én Suid-Afrikaans wees. Kwessies soos die tentakels van die internet en sosiale media se invloed op ons daaglikse lewe, rassisme, armoede, emigrasie, misdaad, onvervulde drome, die liefde en selfs mensehandel kom onder die loep, sonder enige prekerigheid of spesifieke antwoorde op enige vrae waarmee die leser gekonfronteer word. Dis ’n boek wat mens noodwendig laat nadink, maar jy lees in die eerste plek heerlik aan die storie, wat wissel tussen die hede en terugflitse na die verlede. Dié interessante verteltegniek sorg saam met ’n onverwagse kinkel of twee dat die spanning tot op die laaste bladsy gehandhaaf word. Sal Magriet lewendig teruggevind word? Wie sit agter Sophia se ontvoering? Gaan hulle ooit weer saam met die ougat klein Matthys spinnekoppe jag in die tuin? Of gaan hulle soos insekte sterf in die web wat vir hulle gespin is?”
Op LitNet het Jaco Barnard-Naudé egter sekere voorbehoude oor Web. Hy skryf: “In ’n doelbewuste oorvleueling van vorm en inhoud word die verhaal episodies en op nieliniêre wyse vertel. Dié tegniek is oorwegend funksioneel. Ander inkorporasies van die webtematiek is egter minder geslaagd,” meen hy. Daar is volgens hom te veel episodes waarin spinnekoppe ’n rol speel: “Die indruk van onwaarskynlikheid, of kunsmatigheid, spoel ook oor na ander tegniese aspekte van die roman, veral wat segging, vergelyking en uitdrukkings in die algemeen betref. So is Mathys op ’n stadium geheg aan ’n pak malvalekkers soos Sophia en Diederick ‘aan hulle herinneringe aan Suid-Afrika’. […]
“Dit beteken egter nie dat daar nie ook volwasse en selfs eksistensiële inhoud is wat oortuig en die webmotief doeltreffend en op vindingryke wyse versterk nie. ’n Voorbeeld hier is wanneer Google in een van die hoofstukke in die eerste persoon praat en mens opnuut onder die indruk kom van Jacques Lacan se siening dat die mens se begeerte die begeerte is van die Ander (‘my desire is the Other’s desire’) – wanneer mens dus besef hoe ons almal in mekaar se webbe vasgevang word en is en dat die internet-era hierdie aspek van ons bestaan intensiveer. […]
“Een van die hoofredes waarom Web ’n sterk en oorspronklike bydrae is, is dat dit geskryf is vanuit die oogpunt van karakters wat meestal in die Afrikaanse spanningsroman ’n sekondêre verteenwoordiging kry: die vrou, die moeder, kinders. Hierdie perspektiewe is ’n welkome toevoeging tot ’n genre wat, in Afrikaans én Engels, steeds deur die manlike stem en deur manlike karakters oorheers word. In ’n boek waarin die spanning draai om die spil van geweld wat mans teen vroue en kinders pleeg, is dit heeltemal gepas dat die verhaal vanuit die perspektief van die slagoffers vertel word. Web gaan verder ook op vindingryke wyse om met die ras- en klasverdeeldheid in Suid-Afrika en veral met die soms gruwelike vooroordele wat daarmee gepaardgaan.
“Ondanks die betreklik klein irritasies wat ek hier bo genoem het, is Web in die geheel ’n boek wat besonder netjies uitgewerk en afgewerk is, wat boei en wat mens laat dink oor die maatskaplike ongeregtighede wat daagliks in ons land afspeel, veral daardie ongeregtighede wat gepleeg word teen weerlose kinders – weerlose kinders wat nie, soos Magriet, gelukkig genoeg is om ’n ‘superhero’ (haar woord) vir ’n pa te hê nie; weerlose kinders wat nooit uit die wrede web van mishandeling, misdaad en algemene verwaarlosing ontsnap nie. Meyer se spannende verhaal vestig ons aandag opnuut op daardie kinders, die volwassenes van môre.”
In 2023 publiseer Pan Macmillan Naomi se volgende boek, Seeperde, waarin sy weer na die jonger lesers terugkeer. Sy voltooi hierdie boek tydens die eerste twee dae van ’n skrywersresidensie in 2022 by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos, met dank aan die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans. Sy was vir drie weke in Somerset-Oos en het ook ’n eerste weergawe van ’n volwassene-roman daar voltooi.
Magdel Vorster beskryf Seeperde op LitNet só: “Seeperde skop af met Stella en Mira op die perdeplaas waar hulle gereeld gaan perdry. Wanneer Stella op Billy se rug sit, vergeet sy van alles wat haar pla – dinge soos die ‘koel-soos-komkommer-meisies’ by die skool of huiswerk wat nog gedoen moet word. Dis egter hier by haar gelukkige plek waar sy per ongeluk iets skokkends hoor en die ratte in haar kop begin draai om die situasie, nog voor sy veel daarvan weet, te probeer beredder.
Intussen is daar skool, huiswerk én die fondsinsameling, en dit voel asof Runette, voorheen Stella se groot vriendin maar nou deel van die ‘tjie-tjie-tjie-groepies’, die hele tyd orals betrokke is. Die maats ontmoet ook vir Ziaan, die nuwe seun in hulle klas en vind uit dat sy ma, wat ’n perdtatoeëermerk op haar arm het, die skool se nuwe musiekonderwyseres is.
“Meyer span perde en musiek as temas in om haar storie oor ’n groepie graad 6-vriende en ’n perdeplaas met finansiële probleme op ’n klein kusdorpie in te kleur.”
Naomi vertel aan Anschen Conradie (LitNet, 24 Januarie 2024) oor Maja, haar 13-jarige dogter, se terugvoer van Seeperde: “Sy het dit gelees toe die boek gepubliseer is. Ek het dit vir haar gegee laatmiddag toe dit hier aankom, en die volgende middag, toe ek haar by die skool gaan haal, het sy in die motor geklim en gesê dat sy die boek die oggend in die skool klaar gelees het. Haar terugvoer was positief en ek was verlig. Kinders is krities en mens se eie kinders nog meer as ander!”
Naomi vertel verder aan Conradie op LitNet dat haar reis met perde saam met Maja begin het: “Ek is lief vir diere en plante, maar het nie voorheen self perd gery nie. ’n Paar jaar gelede het ’n maat van Maja hier kom kuier en hulle het met Lego Friends en perde gespeel. Die maat ry perd en Maja het baie meer in perde belanggestel as wat ek gedink het sy sou. Ons het eenkeer naby haar laerskool na die perde gaan kyk by die perdeskool waar sy nou les neem. Ek het gedink sy gaan dalk bang wees vir die intimiderend groot perde (sy was nege of tien), maar sy wou dadelik op die perd se rug klim. Toe sy eers opgeklim en ’n ent gery het, het haar perdryafrigter omgedraai en vir my geknipoog. ‘You have a problem,’ het sy gesê. Maja neem sedertdien les en ek het self baie van perde geleer. Kirsty het al dikwels my vrae oor perde beantwoord.
“Ek en Maja het ook al in Fisherhaven na die wilde perde gaan kyk. Ons het naby Kleinmond gaan perd ry en daar het ek ook vir die afrigters oor sake gevra waaroor ek onseker was. So om my huiswerk oor perde te doen het spontaan gebeur en dit was pret! Ek dink perde is wonderlike diere. En hulle is terapeuties daarby. Mense wat lief is vir perde, vergeet van die res van die wêreld as hulle op hul lieflingperd se rug is. Ek het dit met my eie oë gesien.”
Vir Conradie is musiek een van die ander temas in Seeperde wat ook ’n groot rol in die verhaal speel. Sy wou by Naomi weet hoekom sy veral op die djembe as instrument besluit het.
“Oor musiek is ek self nog meer passievol as oor perde,” vertel sy. “Ek speel viool. My seun ook, en my dogter klavier. Ek speel in twee orkeste in die omgewing – die Stellenbosse Stadsorkes (doef-doef-populêre nommers in 'n wynkelder) en die Wynlande Filharmoniese Orkes (meer ernstige klassieke musiek) – en ek geniet dit ontsettend baie. Hoe die djembe die storie ingalop het? Die ritme daarvan. Die ooreenkoms met die geluid van perdehoewe. Ek het ’n dromgroep in Langa, buite Kaapstad, hoor speel ’n ruk gelede en ook een aand by ’n musiekkonsert by die laerskool gehoor hoe ’n dromgroep speel. Dis toe ek besef het: Dit is die instrument vir my storie. Dis die klank van die boek. Ek het die musiekonderwysers wat die dromgroep afrig, ’n paar vrae gevra. Hulle het al my vrae geduldig beantwoord. Die lekkerte van een van die bekendstellings van die boek was dat daar kinders was wat djembe’s kom speel het en dit was ’n natuurlike manier om die mense in die boekwinkel na hierdie tema te laat luister en hulle daarvan te kon vertel.”
Magdel Vorster skryf ook: “Naomi Meyer se splinternuwe Seeperde, met twee grootoogmeisies op die voorblad, is ’n lekkerlees-skoolstorie wat jong lesers tevrede en gelukkig sal neersit. Hoewel daar duidelik negatiewe gebeure en onderstrominge teenwoordig is, bring Seeperde ’n algemeen positiewe gevoel sonder te veel wroeg en baklei.
“Onrealisties en naïef is die verhaal egter nie. Heelwat tipiese kwessies en emosies waarmee daar tydens grootwordjare geworstel word, word geïmpliseer of liggies uitgespeel. Ons hoofkarakter, die twaalfjarige Stella, en haar vriendin Mira het ’n krisis op hande en soek oplossings daarvoor te midde van alledaagse onsekerhede en suggesties van selfs boeliery. En soos die flapteks skimp, is daar ook ’n spesiale band, byna magiese kommunikasie, tussen Stella en haar gunstelingperd, Billy. […]
“Musiek as tema word ook regdeur Meyer se storie ingewerk. Voor die hand liggende verwysings en intriges sluit in die Suidster Rockers en hulle nuwe treffer, ’n fondsinsameling vir ’n nuwe vleuelklavier vir die skool, die nuwe musiekonderwyseres, ’n nuwe orkes en oom Adam se djembe-drom. Ek glo ook nie die musiekonderwyseres se naam, juffrou Allegra, is uit ’n hoed getrek nie.
“Ritme slaan egter myns insiens uiteindelik die kitaar of (letterlik) die djembe-drom, wat musiek as tema betref. Ritme is die skakel tussen musiek en perde. Stella is gek daaroor om na die dressage-items op die Olimpiese Spele, waar die perde op maat van ritmiese musiek stap, op televisie te kyk. Wanneer Stella op ’n stadium na Mira op haar perd kyk ‘voel dit vir haar asof daar musiek in haar kop speel’. Dis ook nie verregaande om die rol wat beide musiek en perde in terapie speel in gedagte te hou nie. Weliswaar hier nie doelbewus nie, maar albei tog instrumenteel tot die bevredigende einde. […]
“Seeperde is ’n welkome toevoeging tot ’n baie belangrike segment van die jeugboekmark – boeke vir jong lesers waarmee selfvertroue en ’n liefde vir lees gekweek kan word. Daar is baie waarmee veral jong meisies sal identifiseer en wat hulle sal boei om die boek enduit te lees en hopelik vir ’n volgende een kans te sien. Aan die einde van hierdie boek was alles vir Stella net reg. ‘Dalk was dit omdat Billy kan toor. Of dalk was dit omdat sy die towerkrag in haarself ontdek het.’ Net so glo ek dat Seeperde, danksy ’n verskeidenheid intriges of temas – dalk perde, dalk musiek – daarin slaag om lesers by die storie in te lok, om hierna ’n lekker leesbelewenis te waarborg.”
Naomi wou met Seeperde ’n lekkerleesboek én ’n kinderboek skryf: “Ek het nie probeer om temas te ondersoek nie; ek het ’n tema gekies wat my en my dogter geïnspireer het – naamlik perde. Ek dink ook dat ervarings soos van kinders wat ander kinders afknou en soms boelie, deel is van kinders se verwysingsraamwerk en lewenservaring. Ek het eintlik maar net ’n storie probeer skryf waarin kinders van daardie ouderdom hulleself sal kan herken. ’n Storie wat hulle sal kan laat ontvlug, daarby. Na ’n ander plek toe vat. Soos ’n boek veronderstel is om te doen. Ek het nie regtig gedink hoe ek tussen volwassene-temas en onskuldige temas vir kinders moes onderskei nie.”
Oor die skryfproses wou Jonathan Amid in ’n vroeër onderhoud (LitNet, 28 Februarie 2017) by Naomi weet wat die invloed van die media en aktualiteit op haar skryfwerk is: “Ek werk by LitNet, soos jy al genoem het en baie mense weet. Die ruimte, as werksomgewing, bied my elke dag iets interessants. Ek sit heeltyd en kyk hoe ander skrywers hul ambag beoefen – dit kan nie anders nie. Ek moet ook byvoeg: dit kom vandat ek klein is. My ma was my eerste voorbeeld as skrywer. Sy doen iets wat ek absoluut haat: sy staan bitter vroeg op en sy skryf op tye wanneer sy eintlik iets anders wou doen. Weet jy wat? Nou doen ek dit ook. Maar my en haar definisies van ‘bitter vroeg’ verskil so met 'n paar uur.
“Hoe verduidelik mens die skryfproses? Dis soos om te probeer verduidelik hoe mens die eerste keer verstaan wat is balans. Wat is praat. Hoe verstaan mens die lukrake betekenisse van woorde soos ‘tafel’ of ‘wieldop’ of ’nuk’. Jy weet? Mens kan nie, daar is nêrens 'n begin nie. Daar is dalk 'n gemaklike sneller (sê maar my kind raak weg), maar daar is algemene en alledaagse goed wat gebeur. 'n Sensasie een reënerige dag, of dalk ook iets wat mens so sterk oor voel en dan besef jy: nee, dit was nie die karakter nie. Dit was jy. Dis maar 'n gekke storie, die skryfstorie.”
Sedert die begin van 2025 is Naomi deeltyds ingeskryf vir ’n LLM in intellektuele-eiendomsreg by die Universiteit Stellenbosch. Sy het vroeër gedink dat daar niks in die regswêreld sal wees wat haar werklik sal prikkel nie, maar sy vind dit baie opwindend. Sy sê dat sy soms oor hofsake droom en dat sy kortverhale raaksien in die feitegebeure van die hofsake. Sy het reeds die kopieregmodule afgehandel en sien uit na die res van die modules en verdere navorsing ten opsigte van handelsmerke, patente en digitale reg. “Kunstenaars dink nie gewoonlik aan geld nie; hulle dink net aan kuns. Dis soos dit hoort. In dieselfde asem behoort kunstenaars se skeppings beskerming te geniet. Hulle moet daarvoor vergoed kan word, dis ononderhandelbaar. Dis die enigste manier hoe kuns, in al sy gedaantes, sal kan floreer. Intellektuele-eiendomsreg is seker die mees kreatiewe en waardevolle onderafdeling van die reg waarmee ek nog ooit te doen gehad het.”
Publikasies:
|
Publikasie |
Ruik jy die filmster? |
|
Publikasiedatum |
2006 |
|
ISBN |
9780624043492 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugroman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
2005 Kortlys vir die Sanlam-jeugverhaalkompetisie |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Web |
|
Publikasiedatum |
2017 |
|
ISBN |
9780795801204 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
|
Literêre vorm |
Spanningsroman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Seeperde |
|
Publikasiedatum |
2023 |
|
ISBN |
9781776252978 (sb) |
|
Uitgewer |
Pan Macmillan |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Artikels oor Naomi Meyer
- Amid, Jonathan: Web – ’n onderhoud met Naomi Meyer. LitNet, 28 Februarie 2017
- Brand, Gerrit en Britz, Elretha: Skrywer uit VS-bodem finalis in wedstryd. Volksblad, 14 Mei 2007
- Britz, Elretha: Appel val na aan skryfboom, maar debuteer in vreemde. Volksblad, 20 Desember 2006
- De Vries, Izak: Inwoonskrywer: Naomi Meyer. LitNet, 29 Junie 2022
- Maartens, Maretha: Hulle moet self besluit … “maar gee wysheid, Here.” Volksblad, 10 Oktober 2008
- Naomi Meyer (Jakes Gerwel Stigting)
- Naomi Meyer (LitNet)
- Naomi Meyer (Storiewerf)
- Naomi Meyer (Voertaal)
- Roberts, Maryke: Skryf is protes. Vrouekeur, 5 Mei 2017
- Twaalf vrae vir Naomi Meyer. Vrouekeur, 2 Mei 2017
- Voges, Remona: Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Naomi Meyer. LitNet, 21 November 2019
Artikels deur Naomi Meyer
- Die aap is uit die mou: Pharos se skoolwoordeboeke sal iets vir elke kind beteken. LitNet, 28 Mei 2020
- ABSA KKNK 2014: Trompie is net uitgepaas. LitNet, 25 Maart 2014
- Accident by Dawn Garisch: an interview. LitNet, 7 Augustus 2017
- An act of defiance: ’n onderhoud met Antoinette Louw. LitNet, 26 Oktober 2017
- Annake de Villliers gesels met Naomi Meyer oor ’n “tas vol geleenthede”. LitNet, 9 November 2011
- Bakgeheime: ’n onderhoud met Martjie Malan. LitNet, 23 Augustus 2018
- BAQONDE and multilingual education in South Africa: an interview with Lorna Carson. LitNet, 17 Februarie 2022
- Bela onderteken: Wat gebeur volgende? LitNet, 23 Desember 2024
- Die BELA-konsepwet is aanvaar: ’n onderhoud met Jaco Deacon. LitNet, 28 September 2023
- Bela-wet: ’n onderhoud met Jaco Deacon. LitNet, 2 Desember 2024
- Bela-wet: Waarom die groot bohaai oor twee klousules? LitNet, 12 November 2024
- Die Bela-wet in parlementêr aanvaar: ’n onderhoud met Jaco Deacon. LitNet, 30 Oktober 2023
- BELA-wetsontwerp: Gaan Afrikaanse skole bly of gly? LitNet, 31 Augustus 2023
- BELAB: ’n onderhoud met Jaco Deacon. LitNet, 17 Mei 2024
- BELAB and mother tongue education: an interview with Sindiwe Magona. LitNet, 17 Januarie 2024
- BELAB en moedertaalonderrig: ’n gesprek met Jaco Deacon aan die begin van 2024. LitNet, 18 Januarie 2024
- BELAB onderteken: ’n onderhoud met Jaco Deacon. LitNet, 15 September 2024
- Bonatuurlike radio [onderhoud met Kobus Burger]. LitNet, 10 Junie 2014
- Books on the Bay Festival 2024: an interview with Darryl David. LitNet, 19 Maart 2024
- Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Jeanelde Mouton se terugvoer. LitNet, 29 Junie 2023
- Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Madeleine Venter se terugvoer. LitNet, 12 Junie 2023
- Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Pieter van Zyl se terugvoer. LitNet, 30 Mei 2023
- Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Troula Gooden se terugvoer. LitNet, 30 Mei 2023
- Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Elsibé McGufog se terugvoer. LitNet, 26 Mei 2023
- Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Deidré Victor se terugvoer. LitNet, 26 Mei 2023
- Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: ’n onderhoud met Mia Oosthuizen. LitNet, 6 April 2023
- Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool 2025: ’n onderhoud met Mia Oosthuizen. LitNet, 29 November 2024
- Butlers and bachelorettes at Toneelhuis in Cape Town: an interview with Justin Wilkinson. LitNet, 1 September 2023
- Cape curry and koesisters: an interview with Fatima Sydow and Gadija Sydow Noordien. LitNet, 19 Julie 2019
- Chuma Sopotela talks about her role in the stage adaptation of Damon Galgut’s The promise. LitNet, 13 September 2023
- Churchil Naudé oor Festival voor het Afrikaans 2018. Voertaal 13 September 2018
- Cinderella at the Artscape: an interview with Debbie Turner of Cape Town City Ballet. LitNet, 7 Februarie 2023
- Closure of Fugard Theatre: an interview with Daniel Galloway. LitNet, 18 Maart 2021
- Cut to the chase: scriptwriting for beginners – an interview with Janet van Eeden. LitNet, 23 Maart 2023
- Dag 18: Kwarantynketting – “Die tyd van virtuele voortbestaan” deur Naomi Meyer. LitNet, 13 April 2020
- Darryl David on the SA Festival of Children’s Literature. LitNet 4 Mei 2023
- Deon Meyer se “Die laaste tango”: Antoinette Louw gesels oor haar rol. LitNet, 23 November 2012
- Doolhof: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg. LitNet, 19 Desember 2022
- Die eenheid van die reënboog: ’n vredesentrum ten bate van transformasie [onderhoud met Ockie Grundlingh]. Voertaal, 2 Februarie 2018
- Elmarié Dercksen gesels oor “You had me at hello”: ’n 2023 Toyota US Woordfees-gesprek. LitNet, 11 Oktober 2023
- Elsibe Loubser McGuffog gesels met Naomi Meyer oor Katja se kattesalon. LitNet, 10 Julie 2023
- The enumerations: an interview with Máire Fisher. LitNet, 28 November 2018
- Ernst Marais talks to Naomi Meyer about the language debate which once again flared up at the University of Stellenbosch. LitNet, 18 November 2011
- Festival voor het Afrikaans 2023: Amanda Strydom sê “Afrikaans is springlewendig in al sy vorme.” Voertaal, 1 November 2023
- Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Frazer Barry. Voertaal, 27 Julie 2023
- Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Marius Coetzee. Voertaal, 24 November 2023
- Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Stef Bos. Voertaal, 2 Augustus 2023
- Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Stef Bos. LitNet, 1 Augustus 2023
- Fleur du Cap Awards 2022: an interview with Wolf Britz. LitNet, 29 April 2022
- Fokusberoep: Towenaar [Geon Nel]. LitNet, 18 September 2013
- Frazer Barry oor Festival voor het Afrikaans. Voertaal, 11 September 2018
- Fugard @ The Fugard. LitNet, 15 Januarie 2013
- Die gawe van groen: ’n onderhoud met Elmarié Dercksen. LitNet, 14 Februarie 2023
- Geon Nel is Die goëlaar. LitNet, 3 September 2013
- ’n Gesprek met al die Marte in Dinge van ’n kind. LitNet, 13 Junie 2022
- ’n Gesprek oor kinderteater, Vryfees 2015 en Vlooi in Egipte. LitNet, 21 Augustus 2015
- ’n Gids wat begelei en die weg wys: Klasgids. LitNet, 27 Februarie 2014
- Giselle at Artscape: an interview with Debbie Turner, CEO of Cape Town City Ballet. LitNet, 23 Maart 2022
- Hannelore oor Festival voor het Afrikaans 2018: Kyk ’n video-onderhoud. Voertaal, 18 September 2018
- Hans steek die Rubicon oor: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg. LitNet, 3 Januarie 2018
- Hoerkind by die Toyota US Woordfees: ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck. LitNet, 19 September 2023
- I can buy myself flowers: an interview with Mike van Graan. LitNet, 20 Januarie 2025
- Interview: Richard Poplak on Until Julius comes. LitNet, 1 Oktober 2014
- Interview with a former refugee, Karina Szczurek. LitNet, 13 Maart 2022
- An interview with Taryn Lock on Read to Rise and The Cape Flats Book Festival on 4 and 5 November 2023. LitNet, 2 November 2023
- isiXhosa: an interview with Tessa Dowling. LitNet, 28 Februarie 2023
- The Jakes Gerwel Foundation and Passa Porta international house of literature in Brussels residency: an interview with Sibuyiselo Sbuja Dywili. LitNet, 23 Maart 2023
- Kaalvoet Stef gaan bos (en gee ’n CD weg). LitNet, 18 Februarie 2015
- Kamikaze: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg. LitNet, 30 Mei 2017
- Karavan Press: an interview with Karina Szczurek. LitNet, 4 Augustus 2019
- Karin Schimke’s gap year: an interview. LitNet, 3 November 2023
- Kinderteateronderhoud oor voorgeskrewe boek se Vlooi en die sneeuman. LitNet, 12 Augustus 2016
- Klaas Delrue oor Festival voor het Afrikaans 2018. Voertaal, 21 September 2018
- Die klein prinsie [vertaal deur Naòmi Morgan] by die Vrystaat Kunstefees: ’n onderhoud. LitNet, 14 Julie 2017
- Kokkedoortjie: ’n onderhoud. LitNet, 29 Maart 2017
- Kommunikasie binne aftreeoorde en boeke oor aftreebewoners: ’n gesprek met Rudie van Rensburg. LitNet, 21 Junie 2024
- Die koning se bruid by Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n resensie. LitNet, 30 September 2024
- Die Konsepwysigingswetsontwerp op Onderwyswette (BELAB): Afrikaans oorleef op skool solank “redelikerwys doenlik”. LitNet, 2 Junie 2022
- ’n Kursus vir Suid-Afrikaanse illustreerders by die Breytenbach Galery: ’n onderhoud met Mia Oosthuizen. LitNet, 18 Maart 2024
- Kwarantynketting: “The Afrikaans patient” deur Naomi Meyer. LitNet, 18 Mei 2020
- kykNET Fiëstas 2021: ’n Onderhoud met Cintaine Schutte. LitNet, 17 Maart 2021
- kykNET Silwerskermfees: ’n onderhoud met Antoinette Louw oor An act of defiance. LitNet, 22 Augustus 2018
- kykNET Silwerskermfees 2014: Totsiens, Pa. LitNet, 26 Augustus 2014
- kykNET Silwerskermfees 2015: onderhoud met Antoinette Louw. LitNet, 25 Augustus 2015
- Die laaste tango is nie háár laaste tango nie. LitNet, 18 Junie 2013
- Lacuna: an interview with Fiona Snyckers. LitNet, 4 Junie 2019
- LALA – Learn an African Language App. LitNet, 18 Februarie 2014
- Laurika Rauch oor Festival voor het Afrikaans 2018. Voertaal, 13 September 2018
- LAW FOR ALL’s Top 10: “Green” by Naomi Meyer. LitNet, 15 Desember 2020
- Life in the time of the plague – and an interview with Julian Roup. LitNet, 29 April 2022
- LitNet Akademies Weerdink-onderhoud – skole: Kompetisies of waardes? LitNet, 27 Augustus 2024
- LitNet-argief: Onderhoud ná die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam 2016. Voertaal, 24 Mei 2016
- Madibaland @ Boekbedonnerd 2023: an interview with Darryl David. LitNet, 19 Oktober 2023
- Marie se laaste dag by Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n kort resensie van ’n kortfilm. LitNet, 30 September 2024
- Masithethe! An interview about the second isiXhosa high school oratory competition at PRG [with Christine Canaris]. LitNet, 10 Mei 2023
- Midlands Literary Festival 2024: an interview with Darryl David. LitNet, 29 Augustus 2024
- Mirror, a solo exhibition by Adele van Heerden at 131 A Gallery: an interview. LitNet, 23 Februarie 2024
- Moer: ’n onderhoud met Michèle Meyer. LitNet, 31 Maart 2022
- Momentum Beleggings Aardklop 2023: Silwerdoekdisse – an interview with Nathan Robinson. LitNet, 17 Augustus 2023
- Mutton hour: Cintaine Schutte vertel waarom mense hierdie toneelstuk moet kyk. LitNet, 6 Februarie 2023
- My pad met COVID-19: drie ervarings van die virus. LitNet, 23 Desember 2020
- Die Nagtegaal-teksprys: ’n onderhoud met Saartjie Botha. LitNet, 29 Januarie 2025
- Naòmi Morgan gesels oor die bekroonde Oskar en die pienk tannie. LitNet, 10 April 2013
- Nul is nie niks nie: ’n onderhoud met Antoinette Louw. LitNet, 13 Julie 2017
- Onderhoud: NB Akademie se kortkursusse vir vryskutskrywers [onderhoud met Nèlleke de Jager]. LitNet, 16 September 2015
- Onderhoud: Om vir Pa te vertaal [onderhoud met Naòmi Morgan]. LitNet, 18 Maart 2016
- ’n Onderhoud oor die Adam Small-fees in Pniël [met Darryl David]. LitNet, 1 Desember 2016
- One man vs “One man”. LitNet, 4 Desember 2014
- Open Book Youth Festival 2024: an interview with Bianca Flanders. LitNet, 7 Maart 2024
- Pharos Woordeboeke en alle Suid-Afrikaanse tale as nasionale bate: ’n onderhoud [met Annemie Stoman en Delana Fourie]. LitNet, 23 September 2021
- Pharos-blokraaiwoordeboeke: ’n onderhoud vir blokraailiefhebbers. LitNet, 11 November 2020
- A place to call home: an interview with Darryl David. LitNet, 18 Julie 2023
- Pniël Adam Small Fees 2019: Darry David gesels met Naomi Meyer. LitNet, 15 Februarie 2019
- Die poppe dans in Wolwedans – Naomi Meyer gesels met Leon van Nierop. LitNet, 5 September 2012
- Priti Devi, vice-president of the Creative World, talks to Naomi Meyer about the freedom to create festivel. LitNet, 22 November 201
- “Reken op ons woord”: ’n onderhoud oor Pharos-woordeboeke. LitNet, 19 Februarie 2020
- The result of the 2022 South African census – and thoughts on every South African learning their “mother tongue plus two”. LitNet, 23 Oktober 2023
- Review like nobody’s watching. LitNet, 2 Desember 2014
- Die revolusie in die kombuis: kinders wat kook. LitNet, 13 November 2012
- SA Festival of Children’s Literature 2024: an interview with Darryl David. LitNet, 30 April 2024
- Saartjie Botha laat jou die wêreld anders sien – met Die rolbalspeler. LitNet, 20 Januarie 2014
- Saartjie Botha-onderhoud: US Woordfees 2017. LitNet, 25 Januarie 2017
- Sandra Prinsloo oor Festival voor het Afrikaans 2018 12 September 2018
- Sê nou maar-SA skoleseminaar: Danie van Wyk reageer. LitNet, 8 September 2022
- Shisanyama: ’n onderhoud met Jan Braai. LitNet, 1 Desember 2017
- Shorts: a festival of pocket operas – an interview with Conrad Asman, composer of Trial by media. LitNet, 22 Maart 2024
- Skoleseminaar en Wysigingswetsontwerp: Waarom Afrikaanse ouers moet kennis neem. LitNet, 18 Februarie 2022
- Stef Bos oor sy vertoning by die ABSA KKNK saam met Koos Kombuis. LitNet, 26 Maart 2013
- Stefan Dixon oor Festival voor het Afrikaans 2018. Voertaal 21 September 2018
- Storierak: NB-Uitgewers se nuwe kinderboektoep [onderhoud met Nèlleke de Jager]. LitNet, 12 Desember 2013
- Suidoosterfees 2024: Cintaine Schutte oor Onder ’n bloedrooi hemel op die planke. LitNet, 19 April 2024
- Ten questions: Daniel Jardim on Retreat – the joy of conscious eating. LitNet, 5 Februarie 2015
- Ten questions: Martin Sehlapelo on A peek inside a political prisoner’s heart. LitNet, 18 Februarie 2015
- Ten questions: Stacy Hardy on Because the night. LitNet, 20 Februarie 2015
- The fifth Mrs Brink: an interview with Karina Szczurek. LitNet, 7 September 2017
- Tien vrae: Naòmi Morgan oor die vertaling van Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran. LitNet, 13 November 2014
- Tien vrae: Rudie van Rensburg oor Judaskus. LitNet, 26 Mei 2015
- Tien vrae: Rudie van Rensburg oor Pirana. LitNet, 27 Mei 2016
- “Die toekoms is blink”: ’n onderhoud met Kobus Burger, RSG se nuwe programbestuurder. LitNet, 10 Oktober 2022
- Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n Onderhoud met Cintaine Schutte oor ’n Begin. LitNet, 26 Augustus 2024
- Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Saartjie Botha. LitNet, 26 Julie 2024
- Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Paranoid Android – an interview with José Dias. LitNet, 8 Oktober 2024
- Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Vergeet van my (en moenie vergeet van gratis of goedkoop vertonings nie). LitNet, 2 Oktober 2024
- Toyota Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel 2024: ’n onderhoud met Michèle Meyer. LitNet, 27 September 2024
- Toyota US Woordfees 2021: Saartjie Botha oor Flikker & Flash, straatteater en nuwe tye. LitNet, 29 Maart 2021
- Toyota US Woordfees 2022 is “wild”: ’n onderhoud met Saartjie Botha. LitNet, 5 September 2022
- Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke. LitNet, 24 Augustus 2023
- Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Elmarié Dercksen. LitNet, 28 Januarie 2020
- Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Michèle Meyer. LitNet, 3 Maart 2020
- Tuis, ek’s liefie by die Toyota Woordfees 2023: ’n onderhoud met Cintaine Schutte. LitNet, 28 September 2023
- Tweede RSG Kunstefees: Oorgenoeg verrassing. LitNet, 4 November 2024
- US Woordfees 2014: Die goëlaar. LitNet, 25 Februarie 2014
- US Woordfees 2015: Saartjie Botha se visie. LitNet, 6 Augustus 2014
- US Woordfees 2018: Dutch writer Ernest van der Kwast (saam met Menán van Heerden). Voertaal, 28 Februarie 2018
- US Woordfees 2018: ’n onderhoud met Ellen Deckwitz. Voertaal, 1 Maart 2019
- US Woordfees 2018: ’n onderhoud met Saartjie Botha. LitNet, 21 Februarie 2018
- US Woordfees 2018: Vlaamse dichter Charlotte Van den Broeck. Voertaal, 28 Februarie 2018
- US Woordfees 2019: Cintaine Schutte oor Huishou. LitNet, 20 Februarie 2019
- US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg. LitNet, 14 Februarie 2019
- US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Saartjie Botha. LitNet, 11 Februarie 2019
- USAN 2022 – in gesprek met Mareli Swart. LitNet, 1 Julie 2022
- Verander die regering hulle deuntjie oor die Bela-wetgewing? LitNet, 25 Maart 2024
- Vinnig, in pas en energiek: NB-Uitgewers op E [onderhoud met Nèlleke de Jager]. LitNet, 6 Februarie 2012
- Vlooi en die geheim by die Kunstekaap: ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck en Marinda Engelbrecht. LitNet, 25 Augustus 2022
- Vlooi en die sirkus by die Kunstekaap. LitNet, 5 Augustus 2014
- Vlooi en die storieboek: ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck. LitNet, 23 Augustus 2019
- Voces Cordis: ’n onderhoud met André van der Merwe. 11 November 2024
- Voedselsekerheid wanneer die winkels leeggedra word: ’n onderhoud met Christo van der Rheede. LitNet, 13 Julie 201
- Vyf jaar, en selfs taal verander in Ierland. Volksblad, 11 Augustus 2007
- Waarom ouers nou wérklik aan die BELA-wetsontwerp aandag moet gee: ’n onderhoud met Jaco Deacon. LitNet, 1 Junie 2023
- Was daar enigiets geskik vir ’n dertienjarige op 2024 se Toyota Stellenbosch Woordfees-program? LitNet, 7 Oktober 2023
- Wat beteken Wêreldboekedag vir boekemense? LitNet, 23 April 2024
- We were perfect parents until we had children: an interview with Vanessa Raphaely. LitNet, 8 Augustus 2024
- Week van de Afrikaanse roman 2019: ’n onderhoud met Eben Venter. Voertaal, 12 September 2019
- Week van de Afrikaanse roman 2019: onderhoud met Frazer en Deniel Barry. Voertaal, 12 September 2019
- Die wêreld van werk is nie kinderspeletjies nie: Waarom beroepsvoorligting lewensbelangrik is. LitNet, 20 November 2024
- Why My fair lady matters to LAMTA: an interview with Anton Luitingh and Duane Alexander. LitNet, 9 Januarie 2025
- Why the African Library column? An interview with Annie Gagiano. LitNet, 16 November 2022
- ’n Wonderlike literêre rumoer [oor die Edinburgh International Book Festival]. Volksblad, 30 Augustus 2008
- Woordfees-TV 2021: ’n onderhoud met Saartjie Botha. LitNet, 31 Augustus 2021
- World Theatre Day 2024: Jane Mpholo responds. LitNet, 2 April 2024
- World Theatre Day 2024: Jeani Heyns responds. LitNet, 2 April 2024
- World Theatre Day 2024: Paul Kammies responds. LitNet, 2 April 2024
- WoW (World of Work) Career Festival: an interview with Daniel Galloway. LitNet, 25 Julie 2023
- You make me possible: an interview with Karina Szczurek. LitNet, 10 Oktober 2018
- Zelda la Grange oor Festival voor het Afrikaans 2018. Voertaal, 13 September 2018
Naomi Meyer se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is op 2025-07-02 gepubliseer.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.



Kommentaar
'n Vol, kreatiewe en produktiewe lewe sover. Mag dit nog lank selfs voller en kreatiewer en produktiewer wees!