’n Persoonlike afskeid aan Danie Odendaal

  • 25

Danie Odendaal

Rus in vrede, my getroue vriend en kollega, Danie Odendaal.

Dit is ’n vriendskap wat begin het by TV1, SAUK in die tagtigerjare. Danie by Ernstige musiek, Annie (Basson) by Dokumentêre programme en ek by die Dramadepartement. Ons al drie was regisseurs. Ek was besig met die preproduksie van Ballade vir ’n enkeling. Annie het so pas Van kerslig tot kollig geskep. Danie was besig met middernagtelike redigering.

Ons was ook bure vir baie jare.

Vir die eerste agt goue jare van Egoli was Franz Marx vervaardiger, Danie hoofskrywer en ek regisseur. Annie sou later volg. Ons drie se kantore was langs mekaar.

Toe begin Danie 7de Laan saam met ons geliefde Annie Basson (sy as medevervaardiger). Hy rokkel my by Egoli af. Hy was vervaardiger en hoofskrywer en ek was regisseur van die meeste van die 5 000 plus episodes wat oor 23 jaar gestrek het. Danie se breinkind.

Om saam met Danie aan Egoli en 7de Laan te kon werk, was om Charles Dickens aan te haal: “… the best of times!” Om Danie se vriend en kollega te wees, was “the ultimate of times!”

Danie het die uitsonderlike prestasies van ’n meestersgraad in Frans aan die Sorbonne en ’n meestersgraad in Engels aan Trinity College Cambridge behaal.

Sy eerste “job” na Cambridge was vir ’n baie welgestelde Britse adellike op ’n yslike landgoed. Danie moes sy sosiale lewe – onthale, ens – behartig. Die sjef het eenkeer vergeet om kaas te bestel en Danie het per helikopter Londen toe gevlieg om net betyds terug te keer met ’n massiewe ronde blok Stilton-kaas!

Met sy terugkeer na Suid-Afrika word hy aangestel as lektor in Engels by die Universiteit van die Witwatersrand. Maar spoedig, met die aanvang van televisie in die sewentigerjare, verruil hy die pos vir dié van regisseur. Hy was een van die eerste regisseurs wat opgelei is onder die BBC om die grondslag vir die nuwe diens te lê.

In 1981 behartig hy die opening van die Staatsteater se regstreekse televisiedekking vanuit Pretoria. Dit was wat buite-uitsendings betref, ’n enorme onderneming vir daardie tyd, met onder andere Verdi se Aida. Dit was ’n groot sukses!

Danie was ’n perfeksionis met ’n verstommende kennis van klassieke musiek. Met die Staatsteater se opening het hy nagte voorberei en gesit met die partiture, want hy het ’n hekel daaraan gehad as die regie nie op die regte instrumente fokus nie. Hy was ’n meester van besonderhede.

Toe Danie se TV-loopbaan aan die begin in 1975 in Suid Afrika afskop, was dit baanbrekerswerk met onder andere die kunsprogram Perspektief, aangebied deur Jeanne Coetzer. Skrywers, skilders, beeldhouers, akteurs, musici, balletdansers, dirigente, en dergelike meer is almal aan die TV-kyker voorgestel.

Uit die wakis, wat Rika Sennett aangebied het, was nog een van sy vroeë produksies.

Dan was daar die laataand sielvolle musiekprogram Net voor nagsê. Hy het Annie Basson se niggie, Mynie Grové, gekry om ’n program van haar nuut geskrewe liedere te skep wat agter die verhoog en in die kleedkamers verfilm is, met die titel Waar ’n konsert eindig. Die SAUK het dit vir jare as ’n “filler” uitgesaai. Tipies van Danie het hy op dié manier vir Mynie bemagtig om haar ware noord te wees.

Vir die departement Ernstige musiek het hy ’n reeks, Encore, geregisseer met opera as fokuspunt, met byvoorbeeld Emma Renzi, Manuel Escorcio en Mimi Coertse. Mimi Coertse was mal oor Danie, want “Hy het my so mooi laat lyk.” Die produksies was altyd van hoë gehalte met uitstekende stelle, beligting, kostuums, klank en kamerawerk.

Vir die Kinderprogramdepartement skep hy die geliefde Fransina Vark, Rompelstompel stories en Saartjie (gebaseer op die immergroen Saartjie Baumann-boeke deur Bettie Naudé).

Later begin hy vryskut vir die Dramadepartement: Dennekruin 12, Beelde, Lokval vir ’n eensame man, Galery, Veldslag (’n verwerking van Karel Schoeman se historiese roman), Moeders en dogters en Netwerk, om net ’n paar te noem.

Die inkleding van Galery was taamlik gestileerd. ’n Beeld wat my bybly, is ’n karakter in ’n pikswart rok, spierwit hoed en bloedrooi lippe. Ek onthou hoe daar ure op stel spandeer is om die glas wyn en een van die karakters se rok dieselfde kleur te kry. Of die telefoon in die voorgrond moes resoneer met die aktrise in die agtergrond se oogskadu en naellak, in appelgroen!

Wat was 7de Laan? ’n Gemengde gemeenskap in die denkbeeldige Hillside (soos Melville in Johannesburg wat prominent in die openingslogo verskyn). Dit het ’n mikrokosmos weerspieël van hoe die nuwe Suid-Afrika sou of kon uitspeel onder Nelson Mandela se omarmende hartsbeleid. Fyn uitgedinkte storielyne en karakters het ’n reënboognasie aangegryp en nader aan mekaar gebring. Perspektiewe is verander deur sagkens die uiteenlopende kulture en bevolkingsgroepe saam te meng, sodat kykers oor ’n wye spektrum opgewonde kon raak oor die diverse karakters wat bymekaar uitkom. Altyd met ’n skeutjie menslike humor!

Danie se inspirasie vir die studie van mense, gemeenskappe en interaksies was geïnspireer deur byvoorbeeld Balzac se meesterwerk La comédie humaine (los vertaal as “die teater van die mensdom”). Sy voorliefde vir letterkunde en droë humorsin rol uit die volgende telefoongesprek: “Danie, wat lees jy nou?” “Nee jong, ek weier om uit die negentiende eeu uit te kom. Ek haak nou vas by Émile Zola en Honoré de Balzac.”

Danie was ’n meesterteksredigeerder. Hy kon enige toneel in perfekte dramatiese ritme “inklap”. Dan het my regiehand met die uitwerk van kameraskote (om die draaiboek in ’n skietteks te omskep) outomaties in harmonie met die ritme in sy kop gevloei, vir die visualisering daarvan.

Hy was altyd getrou aan die beginsels van die uitsaaiwet: Om op te voed, te vermaak, en in te lig. Hy het op al drie gebiede uitgeblink.

Dit is eintlik sy bydrae tot Afrikaans wat uitstaan en waarvoor hy die groot pryse verwerf het. Dis nou afgesien van die talle Saftas, jaar in en jaar uit. Die kykerspubliek het 7de Laan vir 15 jaar herhaaldelik bekroon as gewildste TV-program in die land. Miljoene kinders, immigrante en anderstaliges het aan die hand van 7de Laan leer Afrikaans praat. 7de Laan was amper soos ’n Afrika-renaissance. Franci Phillips vertel toe die reeks op sy hoogtepunt was, het sy vir die Khoisan in die Noord-Kaap geletterdheidsklasse aangebied. Wanneer 7de Laan begin, is kragopwekkers aangeskakel, klasse is gestaak en die jagters het uit die veld teruggekom om te kom kyk en te luister!

Danie is bekroon met die Kanseliersmedalje van die Universiteit van Pretoria. Met die gaan sit op die verhoog het hy sy toga so styf onder hom vasgetrek, dat hy nie sy arms kon lig om sy gradeplegtigheidhoed af te haal toe die rektor op die verhoog kom nie. Daar sit hy toe. Al een op daai groot verhoog met ’n hoed op. Na die tyd was hy net verlig dat hy nie nodig gehad het om ’n toespraak te lewer nie.

Danie het ook die erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir televisie ontvang. 7de Laan was op die kruin van die landswye gewildheidsleer. Toe hy by die spoggeleentheid in Stellenbosch vorentoe geroep word, was daar ’n opgewonde geroesmoes onder die gehoor wat sy ontvangstoespraak geantisipeer het. Danie met sy kenmerkende gifappeltjierooi wange en oë oopgesper, soos Bennie Boekwurm, het agter die mikrofoon gaan staan en met ’n sagte heserige stem bloot laat hoor: “Dankie.” En vinnig weer gaan sit.

Deur die jare het Danie nooit sy akteurs op hul voorname genoem nie, maar altyd op hul karaktername – selfs gesoute akteurs wat vriende was, soos Annelize van der Ryst en Annelisa Weiland, het hy na verwys as Matrone en Hilda. Hulle was sy boereworskompetisiespan. Toe hy op ’n dag weer vir Vinette Ebrahim Charmaine noem, sê sy: “Danie my naam is Vinette.” Danie se antwoord: “Wel, dan sal ek seker in jou kontrak moet kyk”. Christo Davids, wat Errol gespeel het, merk eendag terloops op: “Oom Daan, jy weet my regte naam is Christo, nè?” Hy loer oor sy bril en antwoord: “Ja, en wat het dit met my te doen?” Hildegardt Whites het Bonita gespeel. Toe sy Danie vir die eerste keer saam met die hoof van die hareafdeling, Morné Maritz, ontmoet, het Hildegardt (met haar lang bos hare) grootoog vir hom geprewel: “Ek’s Hildegardt.”

Danie: “Bonita.”

Hildegardt: “Nee, mnr Odendaal, Hildegardt.”

Danie: “Bonita.”

Hildegardt stil.

Danie: “Bonita. Sit. Morné, ek hou nie van haar hare nie. Sny ses duim af.”

Henry Mylne

Danie en Annie het intens omgegee vir hul 7de Laan-familie. Elkeen se waarde op stel is raakgesien. Eenkeer het die spyseniers by hom gaan kla dat die crew hul borde kos te hoog skep en te veel eet. Danie se reaksie was: “My crew kan eet soveel as wat hulle wil. As hulle daai borde hoog wil skep en seconds wil gaan haal, dan is dit so.”

Annie (as boksvervaardiger) het tydens opnames naby my in die boks gesit. Ons het altyd baie gelag. Annie sou ’n ou People-tydskrif wat in die boks rondlê, beetkry. Nie sy of ek kon oor Donatella Versace en David Hasselhoff van Knight rider-faam se gruwelooslike gesigsontrimpelings kom nie. Of ek sou Annie vertel van ’n nuwe koffieplek in Melville se onweerstaanbare Death by chocolate-koek. Danie het geweet as hy my en Annie saam in die boks ontplooi, moet hy ons monitor. Die foon sal lui. Danie: “Ek sien julle is baie ver voor skedule. Wérk julle daar in die boks?” Annie sou dan met ’n amper dogtertjiestem vol deernis antwoord: “Ja bokkie, en die werk is op standaaaaaard.” En kadoesj plak sy die foon neer in oom Daan se oor. Annie: “Henry, maak klaar dat ons kan gaan Death-by-chocolate!”

As ons (wat uitverkies is as vriende) om Danie en Annie se etenstafel (wat gekreun het onder die lekkerste Franse disse) sit, kon ons vir ure gesels. Danie se kennis en insig het altyd verras.

Sensitief, intuïtief, ’n gut feel-mens, toegewyde vriend, getrou en briljant. Maar dit was te alle tye moeilik om Danie van Annie te skei. Hulle het by mekaar gepas soos handskoene. My ou tante het vir my as kind gewys jy trek die handskoen tot téén jou vingerpunte – styf, noupassend. Só was hulle.

Jy moes baie jare saam met Danie en Annie gewerk en in hul ruimte beweeg het voor jy in hul intieme binnekring toegelaat is. Onderlinge lojaliteit, respek en ’n droë sin vir humor was ’n voorvereiste. ’n Tipiese Annie-lyn was: “Jy weet ons is lief vir jou? Jy weet dit, nè?”

Danie was by uitstek ’n Renaissance-man. Realiteit, intellek, verbeeldingswêrelde, hedonisme en die onaantasbare kon hy naatloos vermeng. Hy was geduldig en kon jou wys op moontlike talente wat jy besit waarvan jy glad nie bewus was nie – die tipiese skrywer-as-waarnemer-van-die-mens-argetipe.

He was a good man.

Danie en Annie

En dan was hy ook ’n opperste romantikus. Ek weet dat hy bitterlik lief was vir Annie. Sy besorgdheid, omgee vir haar en haar welstand was roerend. Wanneer Annie gelukkig was, het sy gesig geskitter in die weerkaartsing van haar geluk. Sonder fanfare het hy sy lewe diep en innig saam met sy geliefdes en kollegas om hom gelewe. En net so uniek en elegant het hy sonder fanfare aangestap.

Annie weet ons besef sy was deel van Danie se lewe soos die res van ons nie kon wees nie. Die meeste mense wens húlle het die spesiale liefde geken wat dié twee gehad het.

Dankie Annie. Dankie Danie.

Oor mense soos dié en dié soort vennootskappe kan nooit ’n finale woord gesê word nie. Dalk gaan geen relaas oor Danie (óf Annie) ooit die geheel weerspieël nie.

Slot

Op Woensdag 30 Oktober 2024 het Annie by hulle huis in Langebaan aangekom. Dit was omtrent 7-uur die aand. Dit was asof Danie net vir haar gewag het. Hulle het mekaar se hande vasgehou. Hy het stil vir haar geglimlag. Sy het stil vir hom geglimlag. En toe het hy rustig hierdie wêreld finaal gegroet.

Glo my, iewers sit hy en sy lewenslange geliefde rugsteunmaat Verna Vels en geniet ’n heerlike “whisks” en bepraat al wat ’n ding is …

Soos Hilda, Charmaine, ou Krokodil en Oubaas vir jare in Oppiekoffie gedoen het: Ons drink ’n knertsie op jou, Danie!

Vir die SABC was hy Danie Odendaal, vir die akteurs, produksiespan en crew oom Daan, en vir sommige bloot net Danie.

Stil, broers,
daar gaan ’n man verby
hy groet
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy,
bekyk hom goed.

- Jan FE Cilliers

(Foto’s verskaf.)

Lees ook:

Elders gesien: Danie Odendaal was briljant op ’n onvolprese wyse

Die sepiewêreld is armer sonder Danie Odendaal

Elders gesien: RIV, Danie Odendaal

  • 25

Kommentaar

  • 'n Lieflike huldeblyk, Henry. Dankie vir jou sorgvuldige liefde. Danie, 'n stukkie van jou gaan voort in elke persoon wat jou pad gekruis het: kennis, humor en stories. En Annie, jou passievolle liefde vir Danie en die werk wat julle saam gedoen het, sal ook voortleef in die passie waarmee ons werk en liefhet. Dankie vir die voorreg!

  • Wynand Dreyer

    'n Waardige huldeblyk aan 'n reus. Danie Odendaal en Annie Basson is pioniers in Suid-Afrika se TV-bedryf. Hulle het die pad gelykgemaak vir ander - liefde vir die medium gekweek en 'n baie baie hoë standaard gestel.

    Dis net gepas dat Henry Mylne, ook 'n pionier, hierdie huldeblyk geskryf het. Deeglik, op die man af, feitelik en weelderig deel hy sy kennis en ervaring.

    Daar is net iets aan daardie pionierstydperk wat nooit herhaal kan word nie. Toegewydheid, hartstog en respek is die pilare waarop dit gebou is. Dankie hiervoor.

  • Daniël Kriel

    Dankie Henry vir 'n baie raak oorsig oor Danie, die meesterstorieverteller en -produsent, ook Danie die beminde onder familie en vriende.
    Sy bydrae oor verskeie fronte is onmeetbaar waardevol! Jy het dit uitstekend saamgevat.

  • Elizma Byleveldt

    Pragtige huldeblyk aan 'n reus in die Suid-Afrikaanse kunste, Henry. Jou woorde oor sy lewe praat soos musiek en ek vind myself jammer dat ek hom nooit ontmoet het nie. Baie dankie en mag hy rus in vrede.

  • Danie was 'n groot baanbreker in die televisiebedryf en het diep en onuitwisbare spore in die bedryf en in baie mense se harte getrap. Hy het so baie akteurs in die bedryf gementor en talle van hulle se loopbane "gelaunch". My innige meegevoel aan al sy geliefdes en aan liewe Annie. Mag hy in vrede rus.

  • Elma Potgeter

    Baie dankie, Henry. Dit is is 'n ryke uiteensetting van Danie se wydstrekkende bydrae tot die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf.
    Ek het die voorreg gehad om vir 'n paar maande deel te kon wees van 7de Laan se familie - die heerlike rol van Laetitia Theron - 'n roekelose karakter wat alles in oormaat "misbruik" het - veral sterk drank, dobbel, mans...
    Danie het my in Mays Apteek voorgekeer, die karakter geskets en siedaar...!
    Dankie Danie - dit was net pret.

  • Albert Maritz

    Dankie, Henry, vir hierdie verhelderende inligtingsstuk met hart. Ek het nie 'n fraksie van Danie se legkaart van die lewe geweet nie. Nou weet ek meer. En om te dink hy het byvoorbeeld "Galery" - waar ek hom leer ken het, nie net verweef in die kleure en ontwerpe en intriges nie; hy het die hele ding uitgedink en geskryf. Danie verdien elke akkolade wat sy kant toe gekom het en nog sal kom. Ek wens Turkye, Spanje en Amerika en elke ander land wil Sewende LAan koop en oorklank.

  • Dankie, Henry. Danie en Annie het 'n paar keer teenoor my genoem dat jy iemand met ware integriteit is.

    Ek is so bly en dankbaar dat ek in Junie vanjaar vir meer as 'n week by hulle in Langebaan kon kuier. Danie, wie se geheue lank nie meer hoofrol gespeel het nie, kom my eerste dag daar uit hulle kamer, sien my en vra: "Wim, het jy my hare kom sny?" Desjare gelede toe hy nog ge-Egoli het, het ek maandeliks sy hare geknip. In ruil daarvoor het hy my 'n tydlank sy Volksie geleen.

    Twee jaar gelede was ek ook by hulle. In die blomtyd. Juriana, Annie se broer Jannie se vrou, het met ons oral rondgery. Danie het nie saamgegaan nie. Dit was toe reeds te vermoeiend. Hy kon beswaarlik meer onthou wat 10 minute gelede gebeur het, maar binne die oomblik was hy steeds vlymskerp en gevat.

    Dis bekend dat hy voorheen reeds drie beroertes gehad het. In Junie neem ek toe 'n klompie kunsrolprente op USB saam. Onder andere Tout s'est bien passé (Everything went fine) oor 'n man wat beroerte gehad het. Nadat die fliek so 10 minute aan was, besef ek my flater. Ek stop. "Mense, ek is jammer. As die fliek julle ontstel, kyk ons iets anders." "Gaan aan!" beveel Danie, "ek hou baie daarvan." Soos Henry noem, was hy vlot in Frans.

    Daar is gans te veel herinneringe om alles hier te beskryf. Baie is ook te persoonlik. Maar dat Danie, 'n inherente skugter mens, uitsonderlik was, bly staan.

    Dankie vir die mooi huldeblyk, Henry, en dat jy hom as mens en kunstenaar na waarde ag. Nes hy jou geag het. Liefdegroete

  • Annelize van der Ryst

    Baie dankie, Henry! Dis 'n briljante oorsig oor Danie se lewe en werk. Om so 'n unieke skeppende mens se verhaal enigsins onder woorde te bring is voorwaar 'n reusekuns!

  • Christo Davids

    Baie dankie hiervoor, Henry. Dit laat mens met 'n traan in jou glimlag. Hierdie is uitstekend vasgevang. Die prentjies wat jou woorde skep, laat dit voel of mens met julle aan tafel sit. Soos jy tereg sê, Danie was 'n "Renaissance Man." Ons sal hom nooit vergeet nie. Hy was man oor honderd as dit kom by storie. As mens noukeurig aandag gee aan jou reis deur die lewe, sal jy agterkom dat reuse soms jou pad kruis. Danie was 'n stil reus.

  • Patricia Lubbe

    Jou woorde skiet SO raak, liewe Hénry.
    Jou mooi warme, raak waarnemings getuig van 'n diepe belangstelling, liefde en waardering van almal wat paaie met jou gekruis het. ❤️

  • Johann van der Merwe

    Wat 'n opregte uitbeelding van iemand wat jy duidelik uitermate bewonder het. Julle kom 'n ver pad - en hy het 'n onuitwisbare indruk op jou gemaak. Ek reken hy sou dié huldeblyk waardeer het.

  • So raak en met deernis geskryf, Henry. Ek glo almal wat hom geken en met hom saamgewerk het, is jou dankbaar vir die artikel. Gelukkig is dit vir ewig daar op LitNet.

  • Sydney Grové

    Die legendariese Danie Odendaal ... reeds het sy naam opspraakwekkende reaksie na sy heengaan uitgelok. Dis egter hartseer dat daar nog tans soveel mense is wie nie geweet het wie hy is nie. Maar as jy nie bekend is met die kuns- en vermaakwêreld nie (afgesien van die hartseer daarin opsigself), is dit nie ’n bekende naam wat sommer by jou gaan opkom nie – wel, jy het sy naam vir jare êrens op die kassie gesien, maar oorgeskakel na ’n kanaal waar daar nie soveel diepte en erns in jou siel is nie. Ons is seker nie almal dieselfde nie.

    Ek weet van Danie Odendaal, asook Annie Basson.

    Danie se karakter, persoonlikheid, ernstige talent en vermaaklike persoonlikheid, is en sal oor tyd weerspieël word deur die refleksie van die bekende Afrikaanse regisseur, Henry Mylne. ’n Mens hoef nie vir Danie (en Annie) persoonlik te geken het nie (oftewel nog ken), bloot omdat Henry Mylne jou kort-kort sou en sal herinner van laasgenoemde se betekenisvolle en langstaande rol in die wêreldkunste in Suid-Afrika. Soos Henry noem, ’n super-intelligente individu, wie vele akteurs en vriende se lewens positief beïnvloed het, synde Henry se lewe op soveel vlakke en in soveel aspekte.

    Henry homself, baie bekend in sy eie hoedanigheid en natuurlik ook aan Danie Odendaal se sy, is ’n onherroeplike regisseur, akteur-motiveerder en leermeester van die kunste, wie se regsgraad oordonder was deur rolspelers soos Babs Laker en ander groot reuse in die film-, verhoog- en televisiebedryf. Hulle leef vir hierdie wêreld, om hulleself en die gewone Jan Publiek te vermaak.

    Henry Mylne, jou gedagtegang en pragtige skeppende woorde in jou huldeblyk aan Danie Odendaal is verstommend pragtig. As die wêreld in sy geheel soveel sinergie kon bemeester, soos jou handskoen-verhouding met Danie, raak ons ’n gesonde nasie.

    Rus in vrede, Danie.

    Bravo Henry Mylne – jou vorige, huidige en toekomstige studente sal mog hulle vlerke vêr en wyd sprei.

    Die legendes leef voort!

  • Elsabe Daneel

    Baie dankie aan my jarelange vriend Henry Mylne om Danie se huldigingartikel so keurig met ons te deel.
    Jarelank was ek as aktrise betrokke by 7de Laan, wat later die gewildste TV-program in die land was.
    Vir Danie het ek altyd enorme respek gehad vir sy briljante brein, reuse menslikheid, integriteit en nederigheid.
    Inderdaad is Danie die "man wat verbygegaan het".
    Sy Annie sal eendag in sy mooi spore volg.

  • Henry, dankie vir jou meesterlike loflied.
    Was só lief vir die nederige slim gentleman. Annie, ek drukkie jou styf vas, my vriendin. xx

  • Met insig en nostalgie deurweef, is hierdie artikel besonder insiggewend en verhelderend oor nie net Danie se bydrae en lewe nie, maar ook oor die voetsoldate van TV.

  • Marinus en Marie Schoeman

    Baie dankie Henry vir die mooi en omvattende huldeblyk aan ons liewe vriend (en kleinneef) Danie. Aan jou Henry, en sommer almal wat op een of ander manier so 'n betekenisvolle rol in Danie se lewe gespeel het, ons hartlike dank. Wat 'n heerlike voorreg was dit tog om te kon deel in die lewe van so 'n besondere mens! Hy sal voortleef in ons herinneringe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top