’n Onderhoud met Santie van der Merwe, skrywer van Weg is nie ’n plek nie

  • 0

Skrywer: Santie van der Merwe
Titel: Weg is nie ’n plek nie
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978079813833

’n Vervalle huis, twee uiteenlopende karakters, ’n wispelturige besluit en ’n besoek wat lewens verander. In Weg is nie ’n plek nie speel Santie van der Merwe fyn met pyn, ontdekking, hoe die liefde ons raak en ’n onwaarskynlike vriendskap.

Weg is nie ’n plek nie se storielyn is realisties, vloei mooi en het hart. Dit bereik ’n hoogtepunt waarmee lesers hulself kan vereenselwig. Elke karakter is volrond, staan sterk en dra by tot die storie. Die leser mag dalk eienskappe van hom- of haarself herken tussen die blaaie van hierdie fiksieroman.

Die boek se omslag bring ’n nostalgiese gevoel en die skewe blinding op die houtvenster spreek tot die leeservaring wat die leser kan verwag.

“Ek is baie in my skik met die voorblad,” sê Santie en vertel dat die voorblad se ontwerp ’n heerlike proses was.

Inspirasie

“Dit is vir my baie moeilik wanneer iemand vir my vra oor inspirasie,” gesels Santie. Vir haar kom dit van oral, dinge wat gedurende die dag gebeur en dan “iewers in die nag kom alles saam en ek het ’n storie”. Sy skerts dat sy nie weet hoe dit gaan eindig nie. Sy skryf op intuïsie en laat haar lei deur die karakters en die storie.

“Ek weet nooit wat gaan gebeur as ek begin skryf nie en daar is gewoonlik ’n paar verrassing-karakters wat uitkom.”

Die twee hoofkarakters in Weg is nie ’n plek nie se ouderdomme, opinies, ervarings en agtergrond verskil hemelsbreed. Tog klim Santie suksesvol in elkeen se skoene om hulle eienskappe en waarde tot die storie saam te vat. Santie verduidelik dat dit haar jonger en ouer self was met wie sy kon gesels om hulle geloofwaardig en realisties te maak.

“Ons dra almal die verskillende weergawes van onsself saam.”

10 jaar reis

Santie hou van die berge en die see en kuier graag by haar kind in Nederland. Haar gunsteling-vakansiebestemming is egter sommer tuis en sy is “baie lief” vir haar eie huis. Vir haar het beide ’n soet- en soutdingetjie sy plek, maar sy erken dat sy meer van ’n soettand het.

Sy skerts dat sy “rieme boeke” het waarin sy allerhande goed skryf en hou daarvan om op papier uit te werk wanneer sy vashaak. “Ek sou maklik my hele manuskrip op papier kon skryf as NB-Uitgewers bereid was om dit so te aanvaar!” Sy wens die leser laggend sterkte toe met haar handskrif.

Santie lees graag en hou haarself besig met kreatiewe dinge soos hekel en brei wanneer sy nie aan die skryf is nie. “Ek borduur terwyl ek na luisterboeke luister.” Sy vertel voorts dat sy nie graag haar hande vuil maak met tuinwerk nie, maar darem ligte tuinwerk soos blomme pluk en snoeiwerk sal doen.

Santie van der Merwe se 10 jaar skryfloopbaan getuig van talent en nege suksesvolle boeke. Nadat sy as huisvrou vir jare kortverhale geskryf het, skryf sy sedert 2015 romans. Tot 2022 het daar byna jaarliks ’n roman uit haar pen die lig gesien. Na ’n drie jaar stilte is sy terug met Weg is nie ’n plek nie en staan sy dadelik weer haar skoene as gevestigde en talentvolle skrywer vol.

.......
Sy verwys na Stephen King se advies om doelbewus 10% van ’n storie te verwyder, wat onnodige woorde en sinne insluit. “Dit is baie goeie raad, want daar is soveel herhalings en goed wat nie van waarde is nie.”
.......

Op die vraag oor die verandering van haar skryfstyl oor die afgelope 10 jaar, sê Santie dat sy gegroei het en geleer het. “Noudat ek nie meer so groen is nie, skryf ek vir seker stilisties anders,” vertel sy. Waar sy tevore geneig was om lang sinne te skryf, kan sy nou “uit die staanspoor korter sinne gebruik en makliker onnodige dinge uitsny”. Sy verwys na Stephen King se advies om doelbewus 10% van ’n storie te verwyder, wat onnodige woorde en sinne insluit.

“Dit is baie goeie raad, want daar is soveel herhalings en goed wat nie van waarde is nie.”

Sy hou daarvan om op haar eie te wees en gee nie om vir die isolasie nie en sê dit is vir haar moeilik om uit haar storiewêreld na die gewone wêreld te beweeg. “As ek eers in skryfrat is, hou die storie net aan, selfs as ek weg is van my rekenaar af. My familie sal soms vir my vra waar my kop is.”

Kinderboeke en misdaadfiksie

Santie is beslis dat sy nooit haar hand aan misdaadfiksie sal waag nie, maar sal wel graag ’n kinderboek wil skryf.

“Daardie dinge kan ek nie uit my duim uit suig nie. Dit is baie moeilik,” verduidelik sy oor die skryf van misdaadfiksie.

Alhoewel dit baie intensiewe werk is, sal sy graag ’n historiese roman wou skryf en sê “vir elke boek is daar navorsing, maar historiese fiksie vereis selfs meer. Jy moet aan soveel klein dingetjies dink.” Alhoewel die skrywer werk met fiksie, moet die waarheidelement streng in ag geneem word wanneer ’n skrywer hom- of haarself in hierdie genre begewe.

“Dalk sal ek eendag daarvoor kans sien,” voeg Santie by.

Raad aan nuwe skrywers

.......
“Skryf kan ’n eensame proses wees. Dit is jy, jou verbeelding, die woorde en die storie,” vertel Santie. “Jy moet hou van jou eie geselskap.”
.......

Van begin tot einde moet skrywers die storie inkleur, dit laat vloei en die karakters ontwikkel tot mense in wie se skoene die leser kan loop. “Skryf kan ’n eensame proses wees. Dit is jy, jou verbeelding, die woorde en die storie,” vertel Santie. “Jy moet hou van jou eie geselskap.”

Haar waardevolle raad aan ’n nuwe skrywer is om baie seker te wees dat dit is wat jy wil doen, want “dit is nie ’n maklike pad nie”. Sy plaas klem daarop dat die skrywer uithouvermoë moet hê en dat dit belangrik is om elke dag te skryf, “selfs al kry jy net jou karakter uit een vertrek na die volgende”. Dit is moeilik om die drade op te tel as jy die boek neersit vir lang tye, verduidelik Santie. Verder gee sy raad dat die skrywer moet werk soos dit hom of haar pas. “Dit mag halfdag of voldag wees, 2 000 of 3 000 of net 200 woorde.” Santie stel voor dat die skrywer ’n tyd vasmaak om te skryf en dan daarby hou.

“Daar gaan baie tyd verby tussen begin met jou storie en wanneer die boek eendag op die rak verskyn.”

Die skrywer moet bereid wees om die storie oor en oor en oor te skryf. Jy moet jou uitgewer en taalversorger vertrou, maar ook weet wanneer jy na jou eie instink moet luister.

Santie prys ook ander skrywers en sê sy ervaar dat selfs die ervare skrywers besonders gewillig is om te help en aan te por. Santie het ook baie vriende gemaak onder skrywers. Sy sonder wel twee skrywers uit vir wie sy soms raad vra.

Ten slotte

Santie sien haarself nog as dieselfde mens, ’n huisvrou in haar hart, ten spyte van haar suksesse.

“Ek dink glad nie dit is iets besonders nie. Dit is maar wat ek doen en ek is altyd baie gelukkig wanneer iemand vir my sê hulle het my boek geniet.”

Waaraan werk hierdie talentvolle skrywer tans? Santie sê sy skep eers asem.

Ten slotte voeg sy by: “Daar is karakters wat kom klop het, maar ek het nog nie oopgemaak nie. Ek ignoreer hulle eers. Lesers moet maar geduldig wag vir die volgende een.”

.......
Suid-Afrika voel soms net te klein vir al die talent in die land. Die kunste leef verseker voort deur skrywers soos Santie van der Merwe.
.......

Suid-Afrika voel soms net te klein vir al die talent in die land. Die kunste leef verseker voort deur skrywers soos Santie van der Merwe. Lesers kan intussen enige van Santie se vorige boeke ook bekom om die volle Santie van der Merwe-leeservaring te ondervind.

Weg is nie ’n plek nie word uitgegee deur Human & Rousseau en is aanlyn en by toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

Lees ook:

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Santie van der Merwe

Tien vrae: Santie van der Merwe oor gelyke kans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top