’n Onderhoud met bekroonde navorsers Aslam Fataar en Henry Fillies

  • 0

Aslam Fataar en Henry Fillies is met ’n ATKV|SA Akademieprys bekroon vir hul artikel “Die leerpraktykvorming van hoërskoolleerders op ’n plattelandse werkersklasdorp” wat in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn het. Aslam en Henry vertel vir Menán van Heerden van hul navorsing en wat die prys vir hulle beteken.

Aslam en Henry, hartlik geluk met die bekroning van jul akademiese artikel. Wat beteken so ’n bekroning vir julle?

Die prys is ’n erkenning van die rol van etnografiese navorsing om die dieper meganismes wat tot opvoedkundige ongelykhede lei, aan die lig te bring. Ons navorsing daag hoofstroomvoorstellings van opvoedkundige mislukking uit. Sulke opvattings word byna uitsluitlik op veralgemeende data-ingegewe kwantitatiewe voorstellings van skole en hulle gemeenskappe gebaseer. In teenstelling daarmee hou ons navorsing rekening met die diep geskiedenisse en komplekse geleefde dimensies van mense se opvoedkundige weë. Dit het vereis dat ons “diep tyd” as deelnemer-waarnemers en gemeenskapsgespreksgenote in gemeenskappe deurbring. Ons bied ons werk aan as ’n poging om die inhoud van die gesprek aan te vul en dit weg te keer van kitsoplossings na ’n verstaan van die interaksie tussen gemeenskap- en familiedinamika en die ryk en komplekse maniere waarop studente, as gemeenskapslede, lees, verstaan en by die opvoedkundige trajekte betrokke raak. Uit so ’n perspektief word hulle gesien as volledig lewende mense wat asemhaal en dink en hoë vlakke van taal, geletterdheid en ander opvoedkundige hulpbronne inspan met behulp waarvan hulle te werk gaan om lewensvatbare opvoedkundige paaie of weë daar te stel. Ons doen ’n beroep op formele instellings soos skole en universiteite om die gaping tussen die studente se ryk kennisse en leerpraktyke en hulle formele onderrig en skoolkurrikula te oorbrug. Hierdie prys is ’n erkenning van die behoefte aan navorsingsbenaderings tot die verstaan van onderwys wat fokus op die multidimensionaliteit en kompleksiteit wat nou studente se opvoedkundige weë en praktyke vorm.

Hoe pas hierdie artikel in jul oorkoepelende navorsingsfokus? 

Die artikel pas in by, en bevorder, begrip ten opsigte van die sosiologie van onderwys en onderwysbeleid. Die artikel vorm ’n baie spesifieke deel van ons navorsing oor opvoedkundige hervorming in stedelike en landelike ruimtes. Ons wil graag verstaan hoe mense aan hulle opvoedkundige praktyke kom en hierdie praktyke vestig in die lig van komplekse lewensomstandighede, en die basisse waarop dit gebeur. Die artikel gee ons ’n beter begrip van mense se opvoedkundige en kennispraktyke in hierdie omstandighede, en een kern praktiese doelwit van ons werk is om ons oortuiging te laat hoor dat daar meer boeiende materiële en intellektuele omgewings ontwikkel behoort te word waarin mense in hulle intellektuele en opvoedkundige praktyke in die rigting van die konstruksie van hulle opvoedkundige weë kan gedy.

Met probleme in die skoolstelsel soos “oorvol klasse, onvoldoende hulpbronne, en swakopgeleide onderwysers”, hoe kan potensiaal ontgin word?  

Die artikel lê klem op die ontwikkeling van diep waardering vir die intellektuele en kennisbasisse waarvolgens mense lewe en in interaksie met opvoedkundige instellings en formele leer tree. Dit beklemtoon die nodigheid daarvan om leeromgewings met behoorlike hulpbronne as ’n voorvereiste vir gehalteleer daar te stel. Verder – en dis belangrik – daag ons werk die heersende beperkte kurrikulumbenadering uit waarmee ons met mense in hulle leerprosesse in interaksie tree. Ons doen aan die hand dat mense se leerpotensiaal behoorlik ontgin en vrye teuels gegee kan word slegs indien die kurrikulum betekenisvolle intellektuele verbintenisse met mense se lewenskennisse en -identifikasies kan vorm terwyl hulle aan skoolvakke en -dissiplines bekendgestel word.

Wat is die uitdagings van die toepassing van KABV (Kurrikulum en assesseringsbeleidsverklaring) op plattelandse werkersklasgemeenskappe?

Ons voer aan dat terwyl die KABV nodig is vir suksesvolle skoling, dit studente se ryk en optimale leer potensieel belemmer vanweë die klem op eng voorgeskrewe inhoud. So ’n kurrikulêre oriëntasie neig om geen verbintenis met leerders se lewens te hê nie, met die gevolg dat leerders dan ryk en betekenisvolle leer vir lewensgebruik ontsê word. Ons bepleit ’n benadering tot die implementering van KABV wat ruimte vir dialoog en kritiese denke beklemtoon. Dit verg sorgsame en noukeurige voorbereiding van onderwysers via indiensopleiding en onderwyseropvoedingsprogramme meer in die algemeen. Onderwysers se inhoudskennis en pedagogiese repertoriums moet vir hierdie taak verbeter word.

Lees ook:

https://www.litnet.co.za/die-leerpraktykvorming-van-hoerskoolleerders-op-n-plattelandse-werkersklasdorp-2/

https://www.litnet.co.za/die-leerpraktykvorming-van-plattelandse-werkersklasleerders-gegrond-op-hulle-fondse-van-kennis/

https://www.litnet.co.za/doksa-en-verwerkliking-van-leeridentiteitspraktyke-van-hoerskoolleerders-in-n-landelike-werkersklasdorp/

https://www.litnet.co.za/ontsluit-die-fondse-van-kennis-estelle-kruger-gesels-met-henry-fillies/

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top