’n Magtige dreuning: dit is die lied van die ou én die nuwe Suid-Afrika

  • 1

Voor 1990 was Nelson Mandela ’n gevangene in ’n tronk, en Suid-Afrikaners gevangenes van ’n ou bedeling. Mandela is in 1990 vrygelaat, maar is Suid-Afrikaners teen 2020 al vry van magsdiskoerse wat op hulle afgedwing word? Cas Wepener en Tanya van Wyk verken in hierdie bydrae die vraag deur twee Suid-Afrikaanse heilige ruimtes te besoek.

Nelson Mandela (foto-erkennings: wikipedia)

Vlak by mekaar in ons land se hoofstad staan die Voortrekkermonument en Freedom Park, bykans soos ’n doringboompie langs die pad van ’n ossewa. Beide ruimtes is by uitstek rituele ruimtes. Klassieke rituele van Afrikaner-nasionalisme is deur die dekades op die gronde van die Voortrekkermonument uitgevoer en word steeds jaarliks daar beoefen. Freedom Park is weer op sy beurt die plek waar rituele wat ’n nuwe post-1994 bedeling vier, uitgevoer word. Al twee die ruimtes is ook by uitstek plekke waar dooies gedenk word, waar verskillende groepe so ook hulle voorouers kan vereer. Monumentkoppie en Salvokop is beide, geografies gesproke, vergelykbaar met Jerusalem op Sionsberg. Heiligheid neem daar geografies gesproke in konsentriese sirkels in grade toe, namate daar vanaf die buitewyke van die stad nader aan die tempel in die sentrum (in Pretoria die twee onderskeie monumente) beweeg word. Vanaf die stadsmure waar die randfigure uithang, tot by die tempel waar die priesters vergader (en diegene wat nie deel is van die in groep nie, soos tollenaars en prostitute, onwelkom voel), en dan natuurlik tot binne-in die tempel self, waar grade van heiligheid ook toeneem vanaf die ingang tot agter die voorhangsel by die allerheiligste.

Die Voortrekkermonument (bron: wikipedia) en Freedom Park se amfiteater (bron: Shosholoza - eie werk, CC BY-SA 3.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=17356552)

Wanneer sommige Suid-Afrikaners soos in ’n Ou Testamentiese pelgrimslied opgaan na die Voortrekkermonument en stelselmatig nader aan die senotaaf in die hart van die monument beweeg, word die belewenis al hoe groter dat hulle op heilige grond staan. Hoe nader sommige ander Suid-Afrikaners met hulle bedevaart Salvokop opgaan en nader aan Isivivane by Freedom Park beweeg, daardie rituele ruimte wat gewy is aan heelheid en die geesteswêreld van Afrika, hoe nader voel hulle weer aan ’n brandende bos met die begeerte (en opdrag by Isivivane, net soos in Eksodus) om hul skoene uit te trek. Al twee hierdie ruimtes is, net soos Jerusalem se tempel ook was, plekke wat deur middel van rituele individuele en groepsidentiteite vorm deurdat die plekke en hulle gepaardgaande praktyke bepaalde verhale lewend hou. Daardie ruimtes en rituele funksioneer ten opsigte van die verhale soos die as enpeke van ’n wiel waarom ’n verhaal soos ’n fietsband draai.

Oor die laaste dekade het ons baie besoekers na beide die Voortrekkermonument en Freedom Park geneem (konferensiegangers wil gewoonlik een dag asem skep en vra ook om die plekke te sien, en in die agtermiddag word hulle na die Apartheidsmuseum, Soweto en ander van Johannesburg se loca sancta geneem, maar in hierdie bydrae bly ons op Pretoria se Sionsberge). Langsamerhand het ons tydens die herhaalde besoeke tot die gevolgtrekking gekom dat die twee plekke dieselfde soorte verhale ritualiseer en vertel, te wete eng enkelvoudige en eenduidige verhale. Die gevolg is eng identiteitsvorming wat nou saamhang met bekrompe en benouende sosiale verbeeldings wat in stand gehou word.

Die Voortrekkermonument het ’n baie spesifieke verhaal rakende die Afrikaners in Suid-Afrika deur die dekades op ’n ritmiese wyse geritualiseer. Dit is die verhaal wat ook binne die monument in steen vertel word, en om daardie verhaal uit te brei en plek daarin te maak vir meer mense, sal ’n hele paar beitels benodig word. Ons herinner ons hoe hewig ontsteld die Suid-Afrikaanse teoloog Maake Masango was toe ons tydens ’n internasionale konferensie se uitstappie na die monument ’n man met ’n Vierkleur op sy lapel gekry het as amptelik aangewese gids om ons rond te lei. Sy openingswoorde in ’n heerlike swaar Afrikaanse aksent aan sy toergroep was: “Remember, this is not ’n political builing, I repeat, this is not a political building.” Maake het met groot Zoeloe-oë en ’n afkeurende frons na ons geloer. ’n Kollega uit Berlyn het sy sin vir humor en ironie behou en in ’n Duitse aksent bygevoeg: “Indeed, neither are our buildings and monuments in Berlin and Münich political buildings.” Die gids se vertelling van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en die verhaal wat deur die Voortrekkermonument beliggaam word, was enkelvoudig in die ergste graad: Wie die helde in sy verhaal en wie die booswigte was, was glashelder, en Maake en sy mense en hulle plek is deur Meneer Vierkleur aan hulle toegesê. Ons gids se (gefabriseerde) verhaal waarmee hy daagliks vele se verbeelding stimuleer en ander se sosiale verbeelding in stand hou, was voorwaar ’n verhaal wat sommige harte laat sidder en beef het.

Bron: https://www.litnet.co.za/wie-het-die-ontwerp-van-die-voortrekkermonument-geinspireer-farao-abram/

’n Besoek aan Freedom Park verloop egter, anders as wat ’n mens dalk sou verwag of hoop, gegewe ons onlangse geskiedenis, nie veel anders nie. Die besoek begin dikwels met ’n videovertoning, daarna ’n wandeling deur die museum, gevolg deur die groter wandeling deur die park. Toegang kry jy net indien jy die duur toegangsgelde kan betaal, en wanneer jy binne is, klink dit, gegewe die tale van die enkele siele wat daar rondloop, asof jy die enigste Suid-Afrikaner is. Moet ook nie probeer om vrae aan die bestuur te stel nie. Aikona, al ons dosyne e-posse en oproepe was onsuksesvol. En wanneer jy binne is, besef jy die verhaal is anders as die een van oorkant die pad. Dis glad nie die verhaal wat Meneer Vierkleur vertel nie – van daardie verhaal of variasies daarvan is daar (ongelukkig) geen spoor in hierdie ruimte nie. Desnieteenstaande is daar ook groot ooreenkomste met daardie verhaal – dit is óók ‘n enkelvoudige verhaal en as sodanig insgelyks ’n gewelddadige verhaal wat uitsluit. Dis ’n nuwe (Suid-Afrika-) storie, maar dis ’n eng storie waarin al die bewoners van die land vir seker nie hulle eie verhaal gaan terug vind nie. En indien jy wel jou verhaal vind, is dit ’n benouende verhaal wat namens jou vertel word en waarmee jy jou nie noodwendig, gegewe die rolverdeling, kan of wil vereenselwig nie. Dis nie die verhaal van eenheid in verskeidenheid nie, maar die verhaal van eenheid in eendersheid. Dat geheue nie altyd vrykom van ideologie nie, is helaas ook hier duidelik. In sy werk oor Freedom Park skryf Magomme Masoga tereg dat die plek die gevaar loop dat herinneringe gemonopoliseer word deur ’n sekere deel van die samelewing wat in ’n magsposisie is. Hy wys ook daarop dat daar jaarlikse rituele deur die staatspresident uitgevoer word waar die president soos ’n nasionale priester rituele namens die nasie uitvoer. Nie die Voortrekkermonument óf Freedom Park produseer verhale wat voorsiening maak vir ons en vele van ons landgenote op die wyse waarop ons ingesluit wil wees nie.

Wat Freedom Park en die Voortrekkermonument doen, is niks nuuts nie. Dis so oud soos die (Sions)berge. Dis die gebruikmaking van rituele en die gepaardgaande ruimtes en verhale wat dit lewend hou deur mense wat die mag het om mense in ’n ideologiese drukgang in te boender, of gewoon net nie bewustelik inklusief is sodat almal op een of ander wyse daarmee kan identifiseer nie. Dis ’n hegemoniese diskoers waardeur diegene in beheer diegene wat aan hulle ondergeskik is, beheer deur die diskoers te beheer. Dis spesifiek ook baie belangrik dat die dominante diskoers ander diskoerse uitsluit. Daarom moet die magshebbers nougeset beheer behou oor hulle dominante diskoers. En hulle verkry en behou daardie beheer en legitimiteit onder andere deur middel van rituele en rituele ruimtes as draers van verhale waarop identiteite geskoei word.

Voorbeelde uit die geskiedenis is daar in oorvloed, soos wat Martin Stringer ook aantoon in sy Sociological history of Christian worship. Stringer maak gebruik van Foucault se teorie om aan te toon hoe rituele (liturgie) deur die eeue ingespan is om verskillende sake te dien.

In sy poging om sy Ryk, die oostelike deel en die westelike deel, te verenig, het Karel die Grote al destyds die krag van rituele ingesien. Een van die middele – ’n belangrike en kragtige een – wat hy vir hierdie doeleindes ingespan het, was die Hadrianus, ’n misboek, met ander woorde ’n boek wat voorskryf hoe ’n ritueel uitgevoer moet word. Karel die Grote se oogmerk was dat almal, beide diegene in die ooste en dié in die weste, een uniforme ritueel (liturgie/erediens/mis) vier. Daarom het hy in die jaar 783 ’n afvaardiging na pous Hadrianus I gestuur en gevra vir ’n kopie van Gregorius die Grote se oorspronklike misboek, een sonder enige latere byvoegingings. Pous Hadrianus I het nie die korrekte dokument vir Karel die Grote gestuur nie – hy het glo nie mooi geweet presies wat om te stuur nie, maar darem ingesien dat hy iets moet stuur. So stuur hy toe die sogenaamde Feestelike Sakramentarium van die Pous aan die Keiser. Die Keiser se teoloë het hulle goed van hulle taak gekwyt en die nodige aanpassings aan die boek gemaak, en sodoende kon die spesifieke (verkeerde!) boek vol rituele voorskrifte inderdaad vir die Keiser se politieke doeleindes ingespan word. En almal, in die ooste en die weste, moes hulle rituele volgens die boek inrig. Karel se oogmerk was natuurlik, soos reeds gemeld, om mense rondom een gemeenskaplike ritueel te verenig, en so beheer oor die diskoers te verkry en sy verhaal te sanksioneer.

Hierdie stukkie kerkgeskiedenis is geensins vergesog nie. Doelbewuste pogings om mense en groepe rondom een ritueel te verenig, soms juis in opposisie tot mense wat rondom ’n ander ritueel verenig, het deur die eeue gedy. Sinodes en kerklike gesagstrukture waak, net soos politieke instellings (en sportklubs en universiteite en skole), nougeset oor hul rituele aanbod en ontwerp op strategiese wyse die ruimtes daarvoor. Wanneer plaaslike gemeentes se vieringe begin uitrafel en nie meer die smalle weg van ’n bepaalde denominasie se liturgiese tradisie bewandel nie, en groepe doen wat hulle self graag wil doen, word ’n “Act of Uniformity” uitgevaardig, of ’n nuwe eredienskommissie deur die Algemene Sinode bymekaar geroep om ’n nuwe eredienshandleiding saam te stel en uit te reik as norm vir hoe daar gevier behoort te word.

In Vrye Weekblad skryf William Gumede onlangs tereg ook hoe tradisionele leiers in Suid-Afrika daarop aandring dat die uitvoering van (lewensgevaarlike!) inisiasierituele voortgaan, ten spyte van die feit dat so baie seuns in die proses sterf. Hierdie aandrang is onder meer net nog ’n voorbeeld van die handhawing van ’n hegemoniese diskoers en die gebruikmaking van rituele, want deur aan te dring daarop dat hierdie rituele uitgevoer word, behou die tradisionele leiers beheer deur ’n baie bepaalde kulturele sisteem met spesifieke waardes en rolle in stand te hou, en so ook hul mag en invloed. (Uiteraard kan daar ook positiewe argumente uitgemaak word vir die behoud van hierdie soort rituele, maar dat alle rituele deur ’n hegemoniese diskoers geraak kan word, is hier duidelik.)

Op hierdie wyse probeer politici, biskoppe, generaals, tradisionele leiers en rektore deur die eeue heel moedig om hulle skapies so plus-minus in een kraal te hou en so ook die mag te behou, deur een uniforme ritueel wat ’n bepaalde verhaal oorvertel en so laat ingraveer. In die episentrum van hierdie proses staan tempels soos Freedom Park en die Voortrekkermonument, net soos Sint Pieterskerk in Rome, die Ka’aba in Mekka of Moria in Limpopo. Natuurlik kan hierdie plekke en rituele mense en groepe dien, solank dit nie verword tot eendimensionele hegemoniese diskoerse wat die uitvinding van nuwe verhale en die verbeelding van sinvoller identiteite vertroebel nie.

Dit is in hierdie opsig dat ons oordeel oor Freedom Park en die Voortrekkermonument minder gunstig is. Geeneen van ons het ’n “suiwer” identiteit nie. Trouens, die teorie oor “interseksionaliteit” maak ons bewus dat ons elkeen ’n hibriede identiteit het: verskillende identiteitsmerkers soos kultuur, taal, geslag, etnisiteit, gender en religie vloei saam om elkeen se ervaring van die verlede en die hede anders te maak as dié van die een wat langs hulle staan. Verder is nie een van ons se herkoms “suiwer” nie. Identiteit is soepel en vloeibaar. As jy iemand vra om hulle lys te maak van watter faktore hulle identiteit bepaal, sal jy soms opmerk dat die items op die lys verskuif. In ’n bepaalde konteks is een merker, soos kultuur, heel bo, maar in ’n ander konteks, of na ’n bepaalde ervaring, kan taal of religie bo aan die lys wees. Om bewus te wees van jou eie hibriede identiteit maak jou soepel en ontvanklik vir ander se identiteit – en so word nuwe verhale gebore.

Dit is noodsaaklik dat ons gereeld nuwe verhale kry wat ritueel begelei word om nuwe identiteite te skryf, en natuurlik ook die heiligdomme as spilpunt waarom dit kan gedy (dit was seker die bedoeling met Freedom Park, maar helaas). Die vraag is egter of ons hierdie verhale op ’n meer inklusiewe wyse kan verwoord en vier. Hierdie saak kan ook vanuit ’n ander hoek beskou word, ’n hoek wat ruimte het vir kreatiewe deelname van meer mense in die ontwikkeling van nuwe tradisies. Wat nodig is, onder andere, is om die rituele en rituele ruimtes en die verhale wat dit dien te verskuif vanaf ’n hegemoniese magsuitoefening na ’n meer demotiese diskoers, dus rituele en verhale waaraan die mense op voetsoolvlak (die demos) saam aan borduur en wat veel meer soos ’n bont lappieskombers sal lyk as ’n effekleurige weermagseil. Daar was ’n klompie moedige pogings in hierdie verband knap voor en na 1994, maar dit het stoom verloor en soos ’n reënboog voor ’n warm son verdamp. Dit is egter nog geensins te laat nie, en eintlik steeds ons verantwoordelikheid, om onsself, met ’n klem op self, uit te vind; eintlik om onsself opnuut uit te vind of te heruitvind, soos in “reinvent”. En om jouself uit te vind of opnuut uit te vind, is iets wat ons die hele tyd doen, maar dalk is dit tyd dat daardie proses weer, soos rondom ’94, meer bewustelik gedoen word.

In hulle boek uit 1983 getiteld The invention of tradition toon die Britse historici Eric Hobsbawm en Terence Ranger aan hoe tradisies wat daarop aanspraak maak om besonder oud te wees, inderwaarheid dikwels taamlik nuut is. Hierdie tradisies is dan nie alleen nie oud nie, hulle is heel dikwels ook uitgevind. Ten einde ’n spesifieke tradisie uit te vind word spesiale mites en simbole ook ontwikkel om die nuwe tradisie aan die gang te kry en daarna ook op koers te hou. ’n Kerndeel van hierdie mites en simbole is juis ook rituele, soos hier bo reeds aangetoon. In hulle boek word byvoorbeeld gewys hoedat die sogenaamde Hoogland-tradisie van Skotland as ’n onafhanklike tradisie van Ierland ’n (taamlik nuwe) uitvinding is. Ten einde ’n eie (neutvarsnuwe) Skotse tradisie daar te stel, is antieke klere (kilts en die tartane van die clans) “ontdek” en saam daarmee ’n egte Skotse bloedlyn. Met die oog op die daarstelling en geloofwaardigheid van die egte Skotse koninklike bloedlyn (wat, bygesê, al vir jare nie meer bestaan het nie) het twee McPhersons (van wie een ’n predikant was) en wat die outeur “two insolent pretenders” noem, die Skotse geskiedenisboeke in hierdie verband “gekook” deur ’n klomp onwaarhede in te werk en sodoende die Stewart-bloedlyn laat herleef. Wat hulle reggekry het, was egter volgens die skrywer “a lasting triumph: they had put the Scottish Highlanders on the map.” Predikante se (verbeeldings)vermoëns moet nooit in hierdie verband onderskat word nie, aangesien hulle die krag van rituele en stories waarmee ’n sosiale verbeelding gestimuleer en gevorm word, verstaan.

Die uitvinding van tradisie is ’n gegewe en dit word by uitstek deur verhale en rituele gedien. Die vraag in ons eie dag in ons land is hoe ons ons tradisie teen 2020 kan uitvind as ’n tradisie wat gebou is op verhale waarin soveel moontlik mense hulself en ander kan herken en wat ruimte skep. Die stukkie van die planeet wat ons bewoon (en trouens die hele planeet) se fisiese ruimte is beperk. Die enigste werklike manier om ruimte te skep is om op paradoksale wyse ruimte prys te gee. Dit beteken om hand in eie boesem te steek en aspekte van die eie kultuur en tradisie onder die lig van introspeksie te plaas ten einde by ’n versoenende verskeidenheid uit te kom. Die verhaal van menslike verskeidenheid is ’n verhaal waarin ons almal deel. Die alewige geredekawel oor wie wat eerste gedoen het, of gebou het, of eerste besit het, of eerste aan die ander gedoen het ... dit veroorsaak net krimpende ruimte. Om te “onthou” behels terselfdertyd om te “vergeet”, en binne hierdie paradoksale werklikheid van menslike geskiedenis en die menslike toestand kan ons mekaar in mekaar se verhale herken, terwyl ons erken dat ons verhale nie eenders is nie.

Kyk, dat ons almal bewustelik en onbewustelik voortdurend besig is om ons eie tradisie te fabriseer, dit is gewoon ’n gegewe. Nie die Voortrekkermonument óf Freedom Park dien ons land tans nie. Daar was natuurlik verskeie (rituele) aanslae van byvoorbeeld die #Fall-bewegings om die heersende diskoerse uit te daag en op ’n demotiese wyse, en met ’n hele stel simbole en rituele (kopdoeke, baniere, slagspreuke ens), ou verhale te perforeer en ruimte te skep vir nuwes om uitgevind te word. Tog kan hierdie aanslae en nuwe rituele ook maklik verword tot ’n nuwe hegemonie. Hoedat kolonialiteit in nuwe avatars voortleef na kolonialisme is alombekend.

Stringer se werk wys ons ook op ’n paar ligpunte in die geskiedenis waaruit ons dalk ook vandag wysheid kan put. Een daarvan is hoe die woord “bygeloof” in die geskiedenis ingespan is deur diegene wat beheer gehad het en beheer probeer hou het oor die ritueel, en so oor die dominante verhaal. Wanneer owerhede wil hê dat mense op ’n bepaalde manier hulle vierings inrig en nie soos hulle dit self wil doen en behoefte het om te doen nie, dan beskryf owerhede hulle vorm as die aanvaarbare norm en ondergeskiktes se handelinge as bygeloof. (Sendelinge het die krag van die benoeming van praktyke as bygeloof ook benut om uiteindelik hulle nuwe ingevoerde rituele aanbod gevestig te kry. Een variasie op die pejoratiewe “bygeloof” is “sinkretisme”, ’n ongewenste vermenging van praktyke.) Dit is presies wat in die laat Middeleeue gebeur het, toe duisende mense nie alleen aan die offisiële kerklike liturgieë deelgeneem het nie, maar ook hul eie dinge gedoen het wat as devosies bekend staan. Terwyl vanuit die kerklike magsentra voorgeskryf is presies hoe daar tydens ’n Katolieke mis of Protestantse erediens aanbid moet word, het gewone mense dit mooi gehoorsaam gedoen en terselfdertyd ook gedoen wat hulle wou en dus beide die gesamentlike en amptelike en hul nie-amptelike en dikwels individuele rituele uitgevoer. Ons herinner ons die gewelddadige tonele enkele jare gelede voor die Uniegebou en hoe die studente se eie nuutuitgevinde rituele aanbod as deel van die #FeesMustFall-beweging deur die polisie teëgegaan is. Die demotiese bygeloof het tot op die trappe van ’n tempel gevorder. Hoe dit ook al sy, gegewe die situasie het die mense op voetsoolvlak in die laat Middeleeue ontwikkel wat Stringer ’n dubbele diskursiewe vaardigheid noem. Dit het gewoon beteken dat mense heel maklik en gemaklik tussen rituele en dus ook diskoerse kon skuif. Van die magshebbers se heiligdomme, het hulle besef, gaan hulle nie ontsnap nie, dis nou maar so, maar dit beteken nie hulle kan nie hulle eie handelinge óók terselfdertyd uitvoer nie. Hulle het hulle nie sommer laat afskrik deur die etiket “bygeloof” wat om hul praktyke se nekke gehang is nie en het heel kreatief nuwe praktyke geskep en so verhale geweef wat hulle as sinvol kon toe-eien. Suid-Afrikaanse studente het oor die laaste paar jaar ook self deur middel van hul rituele aanbod ’n alternatief begin vestig.

Erkennings: https://www.youtube.com/watch?v=k4BYXUhFxlw (Salvokop Boyz Jepa Dance) en Paul Kruger-borsbeeld (erkenning: https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Bust_of_Paul_Kruger_on_Monumentkoppie,_Orania.jpg)

Dominante hegemoniese diskoerse gaan ons nooit vryspring nie. Op ’n klein skaal, ’n eenvoudige skaal – daar waar mense intuïtief weet hoe om almal in ons land saam te kry rondom die altaar van die lewe – daar breek hulle alreeds brood oor enige grense heen, sonder dat daar vir hulle voorgeskryf word hoe hulle dit moet doen. Daar op die buitewyke, ver van die tempel soos die tollenaar in die Evangelie en nie vlakby die heiligdom soos die Fariseër nie, kan die mag van die sentrum geperforeer word. Daar in die buitewyke met Monumentkoppie en Salvokop slegs in die newels sigbaar kan mense rituele van politieke bygeloof uitvind en uitvoer en alternatiewe verhale fabriseer. Dis die alledaagse fiksie wat ’n vervlegting is van vele verhale, gedien deur hordes klein rituele, wat veel nader aan die waarheid is as die benouende enkelvoudige verhale wat op mense afgedwing word. Mense is reeds hiermee besig, maar nóg meer nuwe rituele, rituele ruimtes en stories wat daardeur gedra word, wat ons in ons unieke tydvak kan help om onsself sinvol uit te vind, kan ons verder help om verder te borduur aan ’n nuwe sosiale verbeelding.

Suid-Afrikaners het ook ’n goeie dubbele diskursiewe vaardigheid en gebruik dit sinvol vir tyd en wyl. Dit is tog van groot belang dat ’n uiters kritiese ingesteldheid behou word ten opsigte van ouer én nuwer enkelvoudige verhale wat probeer oorheers. Daardie soort verhale is sleg vir die moontlikhede waarop ons onsself nuut kan verbeel. En hopelik kan plekke soos die Voortrekkermonument en Freedom Park heruitgevind word om ’n demotiese diskoers te dien, ’n verhaal van onder af, wat die periferie vier en voortdurend ’n kritiese soeklig op die sentrum hou.

Lees ook die artikel hier onder wat in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn het:

Die veranderende betekenis van die Voortrekkermonument: erfeniswins of erfenisverlies?

Lees ook hierdie artikel wat in LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe) verskyn het:

Wie het die ontwerp van die Voortrekkermonument geïnspireer: Farao of Abram?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top