'n Gesprek oor huistale: Estelle Kruger gesels met Albert Weideman, Sanet Steyn en Colleen du Plessis

  • 2

In 'n onlangse LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel is verslag gedoen oor ’n projek wat onderneem word deur ’n vieruniversiteitsvennootskap in taaltoetsingsnavorsing.

Regverdigheid is ’n onontbeerlike vereiste vir hoërisiko-toetse, soos uittreevlakeksamens vir skoolverlaters. Die eksaminering van eerste tale met ’n amptelike status in Suid-Afrika aan die einde van graad 12 bied ’n pertinente voorbeeld van waarna hier verwys word. Nie net dui verskeie verslae aan dat die taalvraestelle leerders oor die verskillende tale heen tans ongelyk behandel nie, maar daar is ook geen voor die hand liggende oplossing vir tekortkominge in die toetsinstrumente nie. Daar bestaan ook onsekerheid of die voorgeskrewe formaat en inhoud van die eksamenvraestelle voldoende ooreenstem met die doelwitte van die kurrikulum.

Estelle Kruger gesels met Albert Weideman en Sanet Steyn oor hulle artikel saam met Colleen du Plessis:

Die assessering van huistale in die Suid-Afrikaanse Nasionale Seniorsertifikaateksamen – beskouinge oor die strewe na regverdigheid en groter geloofwaardigheid

Bron: www.visitlod.com

  1. Wanneer/hoe het julle bewus geword van die probleem van moontlike onregverdigheid by die assessering van huistale?

AW: Ons is genader deur Umalusi, die gehalteverskeringsliggaam vir skoolonderwys. Hulle het eintlik met die hande in die hare gesit – hulle het toe al drie of meer vorige verslae aangevra, maar geeneen kon nog met 'n volledige oplossing voor die dag kom nie. Toe het hulle van ons netwerk van taaltoetsdeskundiges, ICELDA (http://icelda.sun.ac.za) te hore gekom. ICELDA staan vir Inter-Institutional Centre for Language Development and Assessment en is 'n vennootskap van vier tot dusver nog meertalige universiteite: Stellenbosch, Pretoria, Noordwes en die Vrystaat. ICELDA bring deskundigheid oor taaltoetsontwerp en taalkursusontwikkeling by die vier universiteite bymekaar. Hul toetse word wyd gebruik, nie net by die vennote nie, maar ook wyer, byvoorbeeld in Namibië, Nederland, Singapoer en Viëtnam.

Ewenwel: Umalusi was bekommerd oor die vergelykbaarheid van die onderskeie openbare eksamens vir huistale aan die einde van graad 12. Soos Sanet al vir ons uitgewys het: die punte vir huistaal tel proporsioneel baie meer as dié van ander vakke wanneer die indeks van punte, die sogenaamde Toelatingspuntindeks (Admissions Point Score / APS), uit al die eindeksamenpunte saamgestel word. En studente doen hoofsaaklik op grond van hierdie indeks aansoek om toelating tot universiteit. As een van die belangrikste komponente van die indeks dus nie regverdig is teenoor almal nie, is daar rede tot groot bekommernis. En dit was – en is steeds – presies die geval met die punte wat vir huistaaleksamens in graad 12 behaal is/word.

Toe Umalusi ons nader, het ons 'n span saamgestel en aan 'n moontlike oplossing begin werk. Op hul aandrang het ons eers probeer bepaal wat die “konstruk” is wat gemeet word. Dis 'n term wat aandui hoe jy die inhoud van die vermoë wat jy toets, kan beskryf. In ons geval was dit uit die kurrikulum (CAPS) vir ons gou duidelik dat dit wat getoets moes word, 'n gevorderde taalvermoë is. Die uitdaging nadat ons die konstruk geïdentifiseer het, was toe oor hoe ons dit gaan meet, met ander woorde hoe ons die onderskeie moontlike tipes assessering sou gebruik om op die ou end te kan sê: “Ons het die konstruk soos in die kurrikulum gespesifiseer, behoorlik getoets.”

SS: Die uitdaging was inderdaad om die regte toets, of regte tipes toetse, te kry om hierdie gevorderde taalvermoë mee te kan meet. Ons moes dit ook op 'n manier doen wat regverdig is vir almal, oor al die tale heen. Colleen du Plessis van die UV se ankerstudie in die projek moes eintlik die weg vir ons wys; op die ou end het ons besef: ons gaan ekwivalente toetse moet maak vir al 11 die tuistale. My werk gaan oor die ontwerp van die eerste van hierdie stel toetse: die meting van gevorderde taalvaardigheid in Engels, en daarna dan die opstel van 'n vergelykbare of ekwivalente een in Afrikaans. As my metodiek werk, gaan ons dit toepas op Sesotho, waaraan my kollega by NWU, Johannes Mahlasela, werk.

AW: Ons gaan eers net die drie aandurf: toetse in Engels, Afrikaans, en Sesotho. En eers daarna gaan ons kyk – mits Umalusi en die onderwysdepartement natuurlik daarin belangstel – hoe ons die ander tale kan help.

  1. So, Sanet, jy’s deel van die span wat die navorsings- en toetsontwerpwerk doen. Hoe het jou eerste meestersgraad, by die Rijksuniversiteit Groningen, jou vir hierdie studie voorberei?

SS: Die Nederlandse studie het my in die breë voorberei op die terrein van die toegepaste taalkunde, wat dan ook taaltoetsing insluit. Alhoewel dit intensief was, het ek dit vreeslik geniet, en verlang soms terug na Groningen! Maar my eintlike voorbereiding, om 'n deskundige taaltoetser te word het voor dit al begin, met my honneursstudie aan die UV, en veral die werk wat ek onder Albert gedoen het. Ek het dus al in my honneursjaar aan taaltoetsing begin werk. Omdat hy toe by Groningen 'n gasdosent was, kon ek ook my verhandeling onder sy leiding doen. Dit het gegaan oor die ontwikkeling van 'n toets van vroeë akademiese geletterdheid. Die toets is bedoel om te meet of 9- tot 10-jariges voldoen aan die taaleise wat die primêre skool aan hulle stel. Daardie verhandeling was eintlik my leerskool vir die huidige studie, my tweede MA. En daarna wil ek nog 'n doktorale tesis, moontlik oor hierdie selfde projek, die huistaalprojek, ook doen.

Colleen du Plessis, Albert Weideman en Sanet Steyn

  1. Wie sou jy beskou as die verwagte/ideale lesers van hierdie artikel?
    b. Watter waarde sou dit vir die gespesialiseerde leser hê?

AW: Ek dink baie opvoedkundiges sal hierin belangstel. Maar eintlik hoop ek dat mense by universiteite wat beleid maak en administreer, dit ook onder oë sal neem, want dit is 'n kwessie wat hulle toegangsbeleide direk raak. Hulle mag met ander woorde tans staatmaak op iets – 'n indeks van punte – wat beslis nie volkome betroubaar is nie.

SS: En ek sou as potensiële lesers taaltoetsers wou byvoeg, veral dié wat met gestandaardiseerde toetse werk, en selfs senior taalonderwysers, want die saak raak almal betrokke.

  1. Sou jy reken dat hierdie artikel vir niespesialiste toeganklik is? Verduidelik asseblief?

AW: 'n Mens probeer maar altyd so toeganklik moontlik skryf, maar dit geluk nie altyd nie. En omdat dit so 'n afgebakende en nogal gespesialiseerde terrein is, vind ek dat selfs spesialiste jou soms verkeerd verstaan. Wat help is onderhoude soos hierdie, en ook op die radio. Dan kan mens verduidelik, en helderder kommunikeer.

SS: Die nuusitems op die ICELDA-webwerf is ook nuttig om die werk wat ons doen in die breë te verstaan. En so nou en dan, veral wanneer die matriekresultate bekend gemaak word, is daar geleenthede om met verslaggewers te praat, en aan 'n breër publiek jou saak te stel.

Bron: www.helpmykidlearn.ie

  1. Hoe sou jy vir ’n “gewone” onderwyser wat ’n huistaal aanbied verduidelik wat die probleem is waarmee ICELDA worstel, naamlik die “artikulasie van ’n konstruk”?

AW: Soos ek gesê het, dis eintlik Umalusi wat ons aangemoedig het om te begin met die “artikulasie van die konstruk” wat gemeet word. Ons het na deeglike oorweging van die eise van die kurrikilum besluit dat die vermoë wat gemeet moet word, eerstens 'n algemene taalvermoë is. CAPS sê eintlik dat dit 'n hoë vlak van taalvermoë moet wees. Maar terselfdertyd, tweedens, moet jy die spesifieke taalvermoëns kan meet, dit wil sê hoe vaardig iemand is om taal vir sosiale, of sake-, of literêre, politieke, of etiese doeleindes te gebruik. Wat 'n mens moet verstaan, is dat die spesifieke vermoëns om taal te gebruik eintlik nooit losgemaak kan word van die generiese of algemene vermoë nie. Dis maar eintlik twee kante van dieselfde munt.

SS: Die konstruk wat ons geformuleer het, was maar net 'n kortbegrip van wat die kurrikulum vir die onderrig en die assessering van huistaal voorskryf. En dit het ons gehelp om op koers te bly: ons ondersoeke, en veral Colleen s'n, het gewys dat die eksamens oor die jare heen 'n al enger interpretasie aan die kurrikulum begin gee het. En ons wou 'n riglyn hê waarmee 'n mens dit kan regstel. Dit help nie jy verskraal by die jaar elke keer die kurrikulum nie, want die onderwysers let dit op, en dan lê hulle in die onderrig klem slegs op die al kleiner stel sake wat jaarliks eksamineer word.

  1. Het jy enige praktiese idee(s) vir alternatiewe assesseringsmetodes wat regverdigheid en gelykheid in gr 12-huistale tot gevolg kan hê?

SS: Dis wat ons betref 'n leemte dat die beleid byvoorbeeld nie die gebruik van veelkeusige items op skaal toelaat nie. Al die ander alternatiewe word daar ruim voorsiening voor gemaak. Maar veelkeusige items stel jou in staat om die items te verfyn, deur hulle eers te toets, te kyk hoe goed hulle werk, te stoor vir hergebruik, en so aan.

AW: Ja, dis nie soseer alternatiewe metodes as 'n verruiming van bestaande metodes nie. Maar daar is diepgesetelde (en onregverdigbare) vooroordele teenoor, byvoorbeeld, veelkeusige vrae. Ons hoop ons kan dit help besweer, maar ons weet dit mag 'n opdraande stryd wees. Gewoonlik is vooroordele so sterk dat geen pogings tot oorreding of bewyse daaraan kan roer nie. Dis wat vooroordeel beteken: iets wat mense so vas glo dat hulle reken geen bewyse hoef aangevoer te word nie. Maar dit belemmer wel goeie toetspraktyk, ook met taal.

  1. Is daar tans beskikbare tegnologie om die eksamenstelsel te verbeter? Verduidelik asseblief?

AW: Daar is by ons geen twyfel nie dat nuwe tegnologieë sal help om die eksamenuitslae meer betroubaar te maak. Neem nou maar net die samestelling van elektroniese itembanke. Jy kan derduisende, nee miljoene, items wat goed meet daarop stoor, en dan toetse lukraak (dus nie voorspelbaar nie) uit daardie data laat genereer.

SS: En ook aan die statistiekkant is daar nuwe maniere van doen en ontleed, wat veral met groot datastelle, soos in hierdie eksamens, baie bruikbaar sal wees. Meer as 'n halfmiljoen leerders skryf jaarliks hierdie eksamens! Ek is reeds van voorneme om vanjaar by Lancaster vir 'n taaltoetskursus te gaan inskryf om hierdie nuwe metodieke onder die knie te kry. Ons mag dit vorentoe bitter nodig kry.

  1. As jy die hoof van ’n skool was, hoe sou jy onderwysers van huistale indiens oplei om die artikulasie van ’n konstruk beter te integreer?

AW: Ek sou eerstens die onderwysers bedag wou maak daarop dat die huidige kurrikulum 'n eienaardige bymekaargooi, eintlik 'n hutspot, van soms teenstrydige gedagtes oor taal is. En die alewige maar niksseggende idee dat 'n mens taal netjies kan verdeel in luister, praat, lees en skryf. So al asof hierdie “vaardighede” so maklik verdeel en onderskei kan word. En dan, pas nadat jy hulle onderskei het, die verdere oproep: integreer asseblief luister met praat en lees en skryf! So al asof hulle in die eerste plek volstrek aparte goed was. As jy mooi na voorbeelde van werklike taalgebruik kyk, is dit gou duidelik dat om hulle te “disintegreer” veel moeiliker gaan wees, eintlik 'n onmoontlikheid. Die kernboodskap van die kurrikulum is dié van die grondleggers van die idee van kommunikatiewe vaardigheid. As onderwysers maar net daardie boodskap (tussen al die ander geraas) van die kurrikulum wou hoor, sou ons met baie meer verbeelding en kreatiwiteit kon toets en ook assesseer. As jy eers die idee laat vaar dat taal bloot luister, praat, lees en skryf is, kan jy met baie meer verbeeldingryke assessering vorendag kom.

SS: Behalwe so 'n kopskuif, sou ek die onderwysers ook wou blootstel aan ander maniere van assesseer wat veel meer betroubaar is. Ons vlak van toetse en eksamens opstel is, om die minste te sê, beroerd. Ons leerlinge verdien beter.

Bron: oupeltglobalblog.com

  1. Hoe sou jy raad gee vir ’n onderwysdepartement om meer geskikte norme en beginsels in ag te neem by die opstel van huistaalvraestelle?

AW: Dis nóg 'n kopskuif – en 'n half! Colleen se studie gaan voorstel dat ons moet begin om die kurrikulum te herinterpreteer volgens die bedoelings van die grondleggers, waarna ek hier bo verwys het. Dis 'n reuse-opdrag

SS: As 'n mens net 'n klein begin kan maak, deur 'n gedeelte van die huistaaleksamen gelyk en vergelykbaar te kan kry, dan het ons al 'n goeie begin. Dis waaroor ons voorstel gaan.

  1. Hoe sou die formaat en spesifikasies van gr 12-Huistaaleksamenvraestelle verander kon word om voorsiening te maak vir gepaste taalsfere en diskoers?

SS: Weer eens hoop ons dat Colleen se studie aan ons gaan toon dat daar verskeie moontlikhede is om die vraestelle anders in te ruim. Met ander woorde, waar ons drie vraestelle het, verdeel 'n mens die assessering só dat jy byvoorbeeld vir beide die spesifieke (taal vir sosiale, ekonomiese, literêre, politieke en etiese doeleindes) en die algemene voorsiening maak. My belangstelling is in die meting van die algemene, gevorderde taalvaardigheid.

AW: Daar is tans drie vraestelle. As jy die vraestelle anders verdeel, kan jy ook die spesifikasies skerper omskryf. Sê maar jy maak die meting van sosiale, ekonomiese en politieke taalvermoë vraestel 1. Dan kan jy in vraestel 2 die literêre en etiese taalgebruik toets. En dan is daar in 'n derde vraestel plek om 'n algemene, gevorderde taalvaardigheid ook te toets. So 'n gevorderde taalvermoë kan jy skerp met die kurrikulum belyn. Die kurrikulum definieer taal funksioneel, met ander woorde met verwysing na die doeleindes waarvoor ons dit gebruik: om mee stories te vertel of te geniet, om transaksies mee te beklink, om inligting mee te verkry, om mee te argumenteer, of om meegevoel en liefde mee te betoon, en so aan. Taal is 'n middel, in hierdie siening, waarmee jy sosiale doelwitte bereik. Taal is nie iets op sigself nie; dis nie bloot grammatika, of klank, of woord, of “vaardigheid” nie. Ons moet 'n ruimer idee hê van wat “taal” is. Die konvensionele en hardnekkige, stokou sienings van taal berei nie ons leerders behoorlik voor óf vir universiteit óf vir werk nie.

  1. As ons kyk na die memoranda vir die assessering van hoërorde-vermoëns of -vaardighede – hoe word moontlike nasienersubjektiwiteit by die nasien van “openbare en etiese debatte” oorkom? Hoe sal tegnologie hier ’n bydrae tot regverdigheid en gelykheid kan lewer?

AW: Hierdie is einste die probleme waarmee Umalusi worstel. Colleen se studies wys daar is groot diskrepansies, en dat subjektiewe merkwerk die punte nog minder betroubaar maak, oor die tale heen. En dis nie net die verbetering van memoranda of die verskerpte moderering van vraestelle wat die antwoord is nie. Dit het ook te doen met swak opstelwerk van die vraestelle self. En die powerheid hiervan het al amper geyk geraak in die herhaalde gebruik van werklik substandaard vrae, jaar na jaar.

SS: As ons dieselfde toets van algemene, hoëvlak-taalvaardigheid kan hê oor al die tale heen, gaan ons ten minste 'n vergelykingsbasis hê. Sê maar so 'n toets maak 20% van die totale huistaalpunt uit. Dan is daar statistiese metodes wat ons in staat gaan stel om selfs die res van die vraestelle ook ekwivalent te kan maak. Om een vergelykbare stel toetse te hê oor die tale heen is dus 'n manier om die tekortkominge van die res van die punt te bowe te kom.

  1. Is daar opvolgstudies in verband met die artikulasie van ’n konstruk waarvan julle bewus is?

SS: My verdere studie, vir my doktorale proefskrif, sal reeds handel oor hoe ons ekwivalensie, of ten minste genoegsame vergelykbaarheid, kan kry tussen Engels en Afrikaans. En dan gaan Johannes Mahlasela se studie vir ons wys of dit moontlik is vir Sesotho.

AW: Ons hoop maar, as dit alles suksesvol afloop, dat ons nog dieselfde sal kan doen met een van die groter Nguni-tale. En dan lê die wêreld regtig oop vir opwindende en verbeeldingryke verandering, en ten goede. Die eksaminering van huistale soos wat dit tans geskied, is regtig skandalig. Ons verdien beter, en ons het die deskundigheid om dit te bereik.

  1. Wat het jy van jouself geleer tydens hierdie studie?

AW: Baie dinge! Eerstens seker maar dat verbeeldingloosheid in taalonderrig en taaltoetsing ons grootste vyand is. Ek het geleer dat ek al minder geduld met verbeeldingloosheid en middelmatigheid het! Tweedens dat die politieke wil om dinge in die onderwys te verander nie baie groot is nie, en dat 'n mens dus wel geduld moet hê. Hier sit ons met 'n duidelik onregverdige stel metings, jaar na jaar, en letterlik niemand doen iets daaraan nie. Umalusi knibbel van tyd tot tyd aan die probleem, maar steek dan weer vas. Miskien reken hulle die probleem is nie groot genoeg, of opspraakwekkend genoeg nie, want dis meestal Afrikaans- en Engelssprekende leerlinge wat die meeste benadeel word. As 'n mens sinies wil wees, kan jy reken hulle dink miskien hierdie groepe maak polities nie genoeg saak nie. Nogtans raak dit die toegang tot hoër onderwys en die soort werk wat leerlinge na skool gaan doen, en op lang termyn groot verliese, veral finansieel, vir die benadeeldes kan beteken. Derdens, en miskien positiewer, het ek respek gekry, weer eens, vir die toewyding wat Suid-Afrikaners uit alle taalgroepe het vir veeltaligheid. Al lyk dit of Engels hand oor hand vorder ten koste van ander tale, is daar vele wat daardie ander tale met sorg en sorgsaamheid op die kaart wil hou. Dit gee jou tog moed.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    francois verster

    Fassinerende artikel - geluk aan almal wat betrokke was. Die insig dat "verbeeldingloosheid in taalonderrig en taaltoetsing ons grootste vyand is", is korrek en kom al van ver af, en is waar oor meer as slegs taalonderrig. Te min mense in die onderwys dink kreatief of word toegelaat om kreatiewe (dog realistiese) uitkomste te bewerkstellig. Die kultuur wat kreatiwiteit smoor, verstik uitendelik self.

  • Avatar
    Albert Weideman

    Dankie vir jou waarderende kommentaar, Francois. Ons gaan nog baie hekkies moet oorsteek om hierdie stel eksamens geloofwaardig te maak, om nie te praat van regverdiger en nuttiger nie; elke bietjie ondersteuning help!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top