
Titel: Cheslin Kolbe, sidestepping the odds
Skrywers: Cheslin Kolbe en David O'Sullivan
ISBN: 9780639881874
Uitgewer: Pan Macmillan
Hoewel Cheslin Kolbe steeds rugby speel, moet hy reeds sekerlik as een van die beste Springbokvleuels beskou word.
Die 32-jarige Kolbe se biografie, Cheslin Kolbe, sidestepping the odds (wat hy met die hulp van David O’Sullivan geskryf het), het pas verskyn, en wanneer mens dit lees, kan jy nie anders as om ’n paar spontane bokspringe uit te haal van lekkerkry nie.
Onder die vele hoenderveloomblike wat Kolbe beskryf, tel daardie asemrowende drie wat hy in 2019 in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gedruk het.
Die nag voor die wedstryd het hy hard probeer om nie aan ’n lastige enkelbesering, wat hom die vorige paar weke geteister het, te dink nie. Ook maar goed so, want anders sou hy dalk nie sulke dramatiese systappe op pad na sy wonderdrie uitgevoer het nie!
Daardie systappe, skryf Kolbe, het hy in die mean streets van Kraaifontein geleer terwyl hy kaalvoet “touchies” saam met sy maats gespeel het!
In Kraaifontein moes hy soms vir koeëls koes. Hy moes leer om verby lyke in die strate te hardloop. En hy moes kies tussen dwelms en dissipline.
Die laaste sin is baie breed gestel, maar eindelik was dit dissipline, talent, harde werk en deursettingsvermoë wat hom Kolbe gehelp het om bo die omstandighede waarin hy hom bevind het, uit te styg.
Fast forward na die 2023-Wêreldbekertoernooi. Ons bevind ons in die Stade de France naby Parys waar die Springbokke in die kwarteindronde teen Frankryk speel.
Die Franse haker, Péato Mouvaka, het pas vir ’n drie in die hoek oorgeduik om die telling 12–12 te maak.
Die heelagter, Thomas Ramos, stel die bal vir die doelskop. Vir hom is skoppe van die kantlyn kinderspeletjies, maar hy het nie rekening gehou met wat volgende sou gebeur nie.
Niemand het verwag dat Kolbe die bal sou afstorm en Frankryk sodoende van twee punte sou ontneem nie. Dit was besonder belangrik, want die Bokke het eindelik net-net met 29–28 gewen.
In sy boek vertel Kolbe dat hy voor die toernooi vier jaar lank saam met Ramos vir Toulouse gespeel het. Hy en Ramos het ure saam skoppe pale toe geoefen.
“Ek het sy roetine uit my kop geken,” skryf Kolbe.
Hy het presies geweet wanneer Ramos vorentoe sou kom en het eintlik net probeer om so vinnig moontlik so naby moontlik aan die skopper te kom om sy aandag af te trek.
“Ek het nie vir ’n oomblik gedink ek sou só naby die bal kom nie,” skryf Kolbe.
Maar hy het. Die Franse ondersteuners was geskok toe hulle sien Ramos skop die bal teen Kolbe vas.
Net iemand wat oor daardie sogenaamde X-faktor beskik, sou kon doen wat Kolbe daardie dag gedoen het.
Dis maar net twee van die hoogtepunte wat Kolbe al behaal het. Gaan lees maar self van al die bekers wat hy spanne help wen het; onthou self die opwindende lopies wat hy ingesit het, die stelskoppe wat hy deur die pale gejaag het en hoe hy groot mans vreesloos onderstebo geduik het.
“Jy is te klein,” het soveel afrigters deur die jare vir hom gesê.
Ook maar lekker stupid, nè.
Maar kan mens Kolbe nou, na ’n rapsie meer as 50 toetse, lys as een van die vier beste vleuels wat al ooit vir die Springbokke gespeel het?
Dis ’n kontroversiële speletjie, en selfs die legendariese “Dok” Danie Craven was versigtig om by die kies van “beste spanne” en “beste spelers” betrek te word.
Vir jonger lesers wat dalk nie lekker weet wie Craven was nie, moet mens gou noem dat hy self ’n briljante veelsydige Springbok was wat ook later die Bokke afgerig het. Hy het ook die Suid-Afrikaanse rugbybaas geword en het in sy tyd baie rugbyboeke geskryf. Daar is op ’n tyd wêreldwyd na hom as “Meneer Rugby” verwys.
Hennie Gerber het in 1977 Craven se arm kwaai gedraai om sy “top Springbokke” te kies. Die vier vleuels wat Dok gekies het, was Jock van Niekerk, Billy Anderson, Jannie Engelbrecht en Dai Williams.
Jock van Niekerk het tussen 1928 en 1932 net een toets vir Suid-Afrika gespeel. Nou kan ’n mens dink dat Craven dalk vir Jock baie klub- en provinsiale wedstryde sien speel het en hom daarvolgens beoordeel het.
Mens wil nou nie vir Dok in sy kis laat omrol nie, maar om Jock ná net een toets as een van die vier beste Springbokvleuels ooit te kies is dalk ’n bietjie bisar. As Van Niekerk die kans gehad het om soos vandag se voorste spelers in 50 of meer toetse te speel, hoe sou daar dan na hom verwys word?
Almal kan vandag oor en oor na spelers se vertonings kyk. Dit word op televisieprogramme tot in die fynste besonderhede ontleed en spelers baklei van een toets na die volgende vir ’n plek in die span. Die een dag is jy die held en die volgende dag is jy die poephol.
Neem Stefan Terblanche as ’n voorbeeld. Hy het in 1998 in sy debuut vir die Bokke vier drieë teen Ierland gedruk en was eenvoudig briljant. Hy het daarna in nog 36 toetse gespeel, en hoewel hy in die meeste van daardie toetse ook uithalerspel gelewer het, is daar dalk min mense wat hom as een van die vier beste Springbokvleuels nóg sou kies.
Billy Anderson, wat volgens Dok net as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog nooit vir die Bokke gespeel het nie, klink nogal na Kolbe.
“Kyk, daardie klein Anderson het alles gehad wat ’n mens van ’n eersteklas vleuel verwag: hande, voete, vaart, puik verdediging, maar veral ’n verbysterende systap na albei kante toe terwyl hy op volle vaart was,” het Dok gesê.
Ook Dai Williams, wat tussen 1931 en 1938 in agt toetse gespeel het, is moeilik om te beoordeel.
Jannie Engelbrecht (33 toetse tussen 1960 en 1969) se heldedae is varser in die geheue en vir die huidige “keurder” dalk makliker om te kies.
As ’n mens eers self aan puik Springbokvleuels van die verlede begin dink, begin jou kop draai. Daar is soveel om uit te kies. Tom van Vollenhoven, Gerrie Germishuys, Ray Mordt, Carel du Plessis, Chester Williams, Breyton Paulse ...
Elkeen sal sekerlik met ’n ander lys name na vore kom. Maar die kans is redelik goed dat ’n klompie Cheslin Kolbe sal noem.
Bronne
Cheslin Kolbe en David O’Sullivan, Cheslin Kolbe, sidestepping the odds
Hennie Gerber, Danie Craven se top-Springbokke
Michael Green, Stryd van die reuse
Lees ook:
Stryd van die reuse en Pale toe deur Michael Green: ’n lesersindruk

