Om Noordoos-Kaapland se rugbyspoke te bewaar

  • 0

’n Klompie memorabilia in Barry Naudé se Noordoos-Kaap-kamer.

Iewers in die Karoo, op ’n vergete rugbyveld waarop skape bossies kou, word daar nog steeds ’n wedstryd gespeel.

“Ek soek die bal!” skree een spook vir ’n ander een. “Komaan, manne, ons dorp maak staat op ons!”

Op die stukkende pawiljoen knak ’n gees ’n bier. Dis Saterdag en die wedstryd is die hoogtepunt van die week.

“Wraak is ons s’n!” bulder die burgemeester, maar, besef jy skielik, dis net jou verbeelding. Hierdie dorp het nie meer ’n rugbyspan of ’n rugbyveld nie.

Eintlik, nè, eintlik is rugby in die platteland dood. Ja, daar is nog hier en daar ’n dorp met ’n span, maar die rugbybase het die spel op die platteland al daar in 1995 rond noodlottig gewond toe hulle die plattelandse unies gesluit het.

Barry Naudé in sy rugbymuseum met ’n paar van die baadjies wat hy deur die jare versamel het.

“Toe die rugbybase in die 1990’s begin om provinsiale spanne te verminder, het dorpspanne ook begin om algaande uit te sterf. Daar was ’n tyd toe Graaff-Reinet byvoorbeeld vyf spanne gehad het; nou sukkel hulle om een bymekaar te skraap,” sug Barry Naudé. “Daar is nie meer spanne soos Noordoos-Kaap, Noordwes-Kaap en Stellaland nie.”

Ons sit in sy rugbymuseum op sy plaas Driekoppen, so 37 km van Hanover af. Die 61-jarige Barry, ’n rugbyfanatikus, is hier naby gebore en hy het ’n sagte plekkie vir plattelandse rugby.

’n Glaskas met kosbare versamelstukke in Barry Naudé se rugbymuseum.

“Ek versamel rugbymemorabilia, veral goed uit die ou Noordoos-Kaap. Toe die unie (NOK) se ligte uitgedoof word, het ek begin om alles wat ek kon kry, bymekaar te maak,” vertel Barry, wat met geelbekmerinoskape boer.

“Ek wou nie dat die geskiedenis van die unie net verdwyn nie. So het ek oral goed gekry – rugbytruie, bekers, foto’s ...”

In sy rugbymuseum is daar dan ook ’n spesiale kamer vir sy Noordoos-Kaap-goed. Die kamer is hopeloos te klein – mens kan skaars die deur oopkry, so vol is dit.

“Ek het vir my vrou, Thea, gesê as ek die dag sterf, sou ek graag wou hê die Noordoos-Kaap-goed moet in ’n ander museum op ’n dorp soos Graaff-Reinet of Cradock bewaar word,” mymer Barry.

“Hierdie boek gaan jy nie sommer in ’n boekwinkel kry nie! With the Springboks in England 1906-7 deur CV Becker is ’n rare fonds.”

Waar’s die dae toe die legendariese Springbok Mannetjies Roux die Noordoos-Kaapse span afgerig het? Daardie jaar (1974) het NOK so goed gevaar dat die unie volgens die Suid-Afrikaanse Rugbyjaarboek homself ongelukkig kon ag om nie onder die 10 top spanne in die land getel te word nie.

Die rugbygogga het Barry juis in 1974 gebyt toe hy en sy ma na die Britse en Ierse Leeus se wedstryde in ons land oor die radio geluister het.

“Ek het toe plakboeke begin maak. Ek het daardie eerste plakboek nou nog. Dis een van ongeveer 700 plakboeke wat ek het,” sê hy.

Natuurlik het hy self ook rugby gespeel. “Ek was ’n vleuel, maar toe ek in matriek was, het ons skool, Union High, in ’n rugbydagbyeenkoms op Willowmore teen Prins Albert gespeel. Iemand het my daardie dag in die rug geskop en een van my rugwerwels gebreek.”

Gepraat van skolerugby, twee van die NOK se gewese Suid-Afrikaanse skolespelers, Os du Randt en FA Meiring, het byvoorbeeld in 1994 Springbokke geword, ’n bewys dat die streek ook sy kwota top spelers opgelewer het.

Maar terug na Barry. Dié besering wat hy in daardie skolewedstryd opgedoen het, het amper die einde van sy speeldae beteken. Amper, want hy het ’n paar jaar later darem nog een wedstryd, vir De Aar se dorpspan, gespeel.

“Ek het daardie dag finaal besluit ek is maar ’n kakkerige rugbyspeler en het toe eerder goed begin versamel,” glimlag hy.

Soos sy versameling aangegroei het, het Barry agtergekom sy vrou raak al hoe meer stuurs.

“Sy is hipernetjies en het gesê ek moet nou ’n plan maak, al my rugbygoed kan nie sommer net so die huis oorneem nie.

Dis toe dat hy die ou reservoir reg langs die huis in ’n museum omskep het. Dis dan ook waarom sy museum as The Waterhole-rugbymuseum bekendstaan.

Die Springbokheelagter Johnny Buchler het in 1953 in hierdie wit trui vir die Springbokke teen Australië gespeel.

Die mure is vol truie, vlae, baadjies en foto’s. In die glaskaste is daar bekers, fluitjies, petjies, enssovoorts, ensovoorts.

“Kyk,” sê Barry, “hier is Andy Haden se Nieu-Seeland Kavalierstrui, daar is Brian Lochore se All Black-trui, en dié trui was Hannes Marais s’n, daai een John Gainsford s’n ... O, en raai wie se trui was hierdie wit Springboktrui ... Johnny Buchler s’n wat hy in 1953 teen die Wallabies gedra het!”

Hy wys vir jou ’n stewel. Dis ’n kleinerige een, maar dis ’n waardevolle een: “Die voormalige Springboksenter Eben Olivier het al sy toetse met hierdie toks gespeel. Hy het dié een vir my gegee en die ander een gehou!”

’n Fluitjie wat die gerespekteerde skeidsregter Bertie Strasheim gebruik het, het ’n spesiale plekkie in sy museum. So ook foto’s wat die Britse Leeus-legendes Gareth Edwards en Phil Bennett geteken het.

“Gareth en Phil was mos lede van daardie Leeuspan wat in 1974 so goed gespeel het,” onthou Barry.

Verskeie rugbylegendes, soos Corné Krige, De Wet Barry, Thys Lourens, Hannes Marais en Toy Dannhauser, het al vir hom kom kuier.

“En Chester Williams. Vir ou Chessie het ek ’n sagte plekkie. Dit was vir my ’n voorreg om met hom vriende te wees, en dit is hartseer dat hy maar net 49 jaar oud was toe hy in 2019 oorlede is,” sê Barry en knip sy oë, wat skielik waterig raak.

As ons oor sy boeke begin gesels, raak Barry sommer kinderlik opgewonde. Hy het rakke en rakke vol boeke en wys trots na een van sy grootste “ontdekkings”: “Min mense het hierdie een. With the Springboks in England 1906–7 deur CV Becker!”

So het die program gelyk vir die wedstryd tussen die All Blacks en Vrystaat in 1928.

’n “Souvenir handbook” vir die wedstryd tussen die All Blacks en Vrystaat in 1928 tel ook onder sy gunstelinge.

Saam met ’n vriend, Hannes Kotze, het Barry ’n boek geskryf met die titel A selected guide to famous South African rugby kit 1891–1992.

“Ons is besig om aan ’n nuwe uitgawe van daardie boek te werk,” vertel Barry trots.

Voor ons groet, moet ons eers by die toilet inloer. Ook hier is daar iets om oor liries te raak: ’n Groot foto van Joel Stransky se wenskepdoel in die Wêreldbeker-eindstryd in 1995 teen die All Blacks herinner jou aan nog ’n groot dag in die Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis.

  • Alle foto’s deur Michael Green
Lees ook:

Stryd van die reuse en Pale toe deur Michael Green: ’n lesersindruk

Resensie van Eben Etzebeth se biografie Ten slotte

Mark Beale: die "Weasel" met die hart van goud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top