’n Bloem-boekklub raak BookBedonnerd: ’n besoekersindruk deur die Bloem Boek Kartel

  • 0

Annamarie du Preez is ’n bibliotekaris verbonde aan die UV in Bloemfontein.

Foto’s en teks: Annamarie du Preez

........
Net so anderkant die gesigsveld van die meeste hoofstroom Afrikaanse fiksielesers lê die BookBedonnerd-fees op Richmond.
........

Net so anderkant die gesigsveld van die meeste hoofstroom Afrikaanse fiksielesers lê die BookBedonnerd-fees op Richmond. Soos wat dit gaan met baie Karoodorpe, skuur die N1 langs die dorp verby, rofweg halfpad tussen Hanover en Drie Susters. Al wat jy van die pad af sien, is ’n koppie met twee wapperende vlae. Een is die Union Jack, en die ander een is nie die Suid-Afrikaanse vlag nie.

Die Bloem Boek Kartel rock die Donderdagmiddag in die dorp op. Ons fnuik die eienaars van die Wit Huis by Mapsa (Modern Art Projects South Africa) deur die huis te bespreek lánk voor hulle dit kon doen. Hulle vergewe ons. Mapsa is verbysterend, maar netnou meer daaroor.

English: Willem Boshoff. WORD WOES. 2018. Wall with alphabet bricks (a MAPSA outreach collaboration with local brick-maker Trevor Snyders). Edition 1 of 3. Afrikaans: Willem Boshoff. WORD WOES. 2018. Muur met alfabetstene (’n MAPSA-uitreiksamewerking met plaaslike baksteenmaker Trevor Snyders). 1 van 3.

Die baksteenmuur waarna verwys word.

BookBedonnerd is die breinkind van Darryl David. Volgens Wikipedia is Darryl die enigste Indiër-dosent van Afrikaans in Suid-Afrika. In die lewe is hy egter baie minder saai as dit. Naomi van LitNet noem hom 'n “boekefees-cowboy. Hy ry die Wilde Weste in en gaan slaan sy tent op die haaivlakte op.” Hy is ’n besonder innemende man wat ’n gemaklike rapport met sy sprekers het, en hou hierdie onwaarskynlike feesmasjien aan die loop.

Ons eerste bespreking is oor dubbelhandigheid, spesifiek in sport, deur afgetrede Hooggeregshof-regter Chris Nicholson (Double your sport skill, ’n e-boek). Hy’s ’n neef van Peter en Graeme Pollock. Hy maak ’n paar aanvegbare (of idealistiese) opmerkings oor dubbelhandigheid en wêreldvrede.

Die venue is die dorpsbiblioteek. Los stoele staan die plek vol. Seker 75 of so, dalk 85. In die regter-agterste hoek is ’n mikrotak van Fogarty’s, een van die oudste onafhanklike boekwinkels in die land. Voor, langs die sprekers, is ’n groot skerm vir dié van ons wat agter sit. Maar ook vir internasionale sprekers. Waarvan daar ’n goeie klompie is.

Deur die skerm luister ons na Manni Coe en sy Downsindroom-broer Reuben (“Rubes”). Tydens die lockdown stuur Rubes vir Manni ’n boodskap: “Brother, do you love me?” Manni kry dit reg om uit Spanje na Engeland te reis, en gaan “verlos” Rubes uit ’n versorgingstehuis. Die boek met dieselfde titel dokumenteer Rubes se herstelpad ná vereensaming. Op die skerm gee Rubes vir Manni ’n klapsoen op die wang.

Richmond se hoofstraat tydens spitsverkeer (foto: Carina van der Bijl).

Feesgangers vat ’n blaaskaans en hergroepeer by die antiekwinkel of die CUM-boekwinkel. Of die Supper Club vir ’n pizza en ’n ietsie. Of by die Vetmuis Plaaskombuis (koek! skons! omelette!). Die Kartel kuier op die Wit Huis se stoep, met padstalkase en beskuitjies, en (bottels en bottels) Roodeberg Black, saamgery vanaf Makro Bloemfontein.

Vrydag praat RO Pearse (Barrier of Spears) se 90-jarige seun Malcolm oor volume 1 van sy boek oor berge (All the hills are home). Hy deel sy meesterplan: Stig jou eie reisagtentskap. So bekostig jy jou bergklimme in die Himalaja en op na Kilimandjaro, en die reisagentskap kan die publikasiekoste van jou boek dek.

https://www.champagnecastle.co.za/malcolm-pearse/

Milton Schorr praat oor sy pad met verslawing (Addict), en Peter Ross (Steeple chasing) vertel onder andere van Doorkins Magnificat, ’n kerkkat wat na haar dood vanuit die Southwark Katedraal begrawe is. Darryl David self vertel van sy inkontenente hond (Doggone days); Kerry Hammerton verduidelik die verskil tussen poësie en flash fiction (In other stories); Peter Goodwin vergewe sy ma omdat sy nie op sy amperse sterfbed was nie (Exit wounds). Paul Weinberg praat oor sy fotoboek (Between the cracks) wat hoogtepunte bevat van sy werk as dokumenterende fotograaf. Lisa Fugard deel herinneringe van haar pa, Athol. Ons hoor van Zen-digkuns (“Did Zen make you happier?” “Yes, but also sadder.”) Ons word vermaan dat ons besig is om ons waarnemingsvermoë te verloor.

Publishers: Penguin Random House South Africa, Headline Publishing Group and Karavan Press

Ons luister, ons lag, ons wonder, ons sluk verby die knoppe in ons kele.  

Na elke sessie is daar ’n kortstondige rumoerigheid soos mense uitgaan en inkom, of net gou by mini-Fogarty’s gaan loer of hulle nie dalk die pas bespreekte boek kan koop nie. Die getalle per sessie bly redelik konstant, en die meeste stoele is meestal beset. Ons kry gratis teetydlekkernye, en selfs ’n eenmankonsert.

’n Mens kan nie in die Wit Huis op Richmond oorbly en Mapsa ignoreer nie. Veral nie as Abrie Fourie, medestigter, kunstenaar en kurator, op die dorp is nie. Die skaal van Mapsa is absoluut oorweldigend, die omvang byna surrealisties. Gaan lees meer by https://map-southafrica.org/about/a, maar gaan kyk eerder self.

Halfpad deur die laaste oggend dros die Kartel van die fees. Ons versaak die gratis teetydlekkernye sodat Abrie ons van die ander Mapsa-lokale in die dorp kan wys. Hy maak ons toe in die Black Room. Dit gee hoendervleis, dis heeltemal immersive. Immersief/massief.

Tussendeur gaan die lewe aan op Richmond. Die NG Kerk hou basaar, en Lientjie se Karoo Mark bied cupcakes, hondesnackies en handgebinde notaboeke, ’n vaardigheid aan die gemeenskap geleer deur meesterboekbinder George Wentzel.

........
Die punt is: Dinge gebeur op klein dorpies. Gewone dinge, soos kerkbasaars, kuiers met vriende, en Saterdagmarkte. Soms enorme dinge, op die skaal van BookBedonnerd en Mapsa.
........

Die punt is: Dinge gebeur op klein dorpies. Gewone dinge, soos kerkbasaars, kuiers met vriende, en Saterdagmarkte. Soms enorme dinge, op die skaal van BookBedonnerd en Mapsa.

Die Bloem Boek Kartel-boekklub keer hul rug op die kamera, maar nie op die Richmond-boekefees nie.

Die punt is: Daar is mense soos Darryl David. En Harrie en Abrie van Mapsa. Wat na ’n plek soos Richmond kyk en ’n ding daar raaksien. En wat werk om daai ding te laat gebeur. Oor jare. Met moeite. Met passie, en deursettingsvermoë. Met soms meer en soms minder geld. Wat aanhou glo die mense sal kom. En die mense kom. En die mense vier.

Lees ook:

BookBedonnerd XII: ’n onderhoud met Darryl David

Booktown Richmond's BookBedonnerd Festival 2014

Booktown Richmond, BookBedonnerd XII: full programme

Richmond BookBedonnerd 2019 – ’n dosyn feeste, ’n dosyn indrukke

Richmond’s BookBedonnerd XIV: An interview with Darryl David

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top