Miles Davis: ’n klankbaan vir jazz-slawe

  • 0

Daar is beslis jazz-legendes wie se werk en lewe so deeglik ontleed en bespreek is soos Miles Davis s’n – maar nie baie van hulle nie. Amazon het ’n lys van meer as 100 boeke oor hom: “definitive" biografieë met die hele storie of ’n fokus op sy eksentrisiteite (Dark magus: The Jekyll and Hyde life of Miles Davis), versamelde onderhoude met medemusikante en mense wat hom geken het, ’n boek elk oor sy skilderkuns, sy modesin en sy plek in Amerikaanse kultuur.

Elke fase van sy musiek is intensief en soms pynlik akademies bestudeer (The music of Miles Davis: A study & analysis of compositions & solo transcriptions from the great jazz composer and improvisor). Verder is daar “song books” en “playalongs”, bladmusiek en transkripsies.

En dan die flieks en dokumentêre. Die nuutste is Miles Davis: Birth of the cool deur die New Yorker Stanley Nelson Jr, ’n vervaardiger en regisseur wat groot naam gemaak en drie Emmys gewen het met dokumentêre wat Afro-Amerikaanse geskiedenis en kultuur ondersoek. Miles se argiewe is vir hom oopgegooi en hy kon kies uit onuitgereikte video’s, stukkies ateljeewerk en skaars foto’s. Alles word geanker deur onderhoude met oorlewende jazz-veterane en vriende.

Die prent is vir ’n Grammy benoem en party resensente reken dis ’n goeie oorsig van ’n merkwaardige kunstenaar, hoewel dit ander op verskillende maniere irriteer of frustreer het.

Hoe ook al, Nelson het ’n interessante eksperiment met die pas uitgereikte klankbaan van sy dokumentêr gedoen. Sy doel was om Miles se volle ontwikkeling te dek. Die oudste musiek is ’n 1947-opname van “Donna Lee” met Charlie Parker op saxofoon. Een hoogtepunt is “Generique" op die klankbaan van Louis Malle se klassieke 1958-fliek Ascenseur pour l'échafaud. Miles het die musiek basies geïmproviseer terwyl hy in die ateljee na die fliek staan en kyk het.

Vir die snit “Hail to the real chief”, wat nog nooit beskikbaar was nie, is Miles se spel aangevul met musiek deur die tromspeler Lenny White, een van die pioniers van jazz-fusion. ’n Tros sterre speel saam en die resultaat klink beslis soos iets wat Miles sou gedoen en goedgekeur het.

Byna almal oor ’n sekere ouderdom, jazz-aanhangers of nie, het waarskynlik minstens een keer ’n bietjie Miles Davis gehoor en dan was dit seker Kind of blue, amptelik die gewildste jazz-album ooit. Die ander oorbekende een is Birth of the cool, ’n versameling van snitte wat oor drie sessies opgeneem en in 1950 saam uitgereik is. Dit het vir ’n stille revolusie in jazz en in populêre musiek gesorg.

Seker net mense met ’n geswore passie vir òf Miles òf jazz sal sê dat hulle ál sy belangrike albums geniet. Daar is groot stylspronge tussen die fases van sy loopbaan: bebop, die “cool jazz”-era, hard bop, modale jazz, die elektriese fase toe hy ook sintetiseerder gespeel het, die terugkeer in die tagtigs met fusion, en die flirtasies met hip hop-invloede aan die einde.

Die klankbaan bied ’n verteerbare porsie van feitlik elke Miles. Die klank is baie goed hermeester en ou en nuwer snitte klink amper asof hulle uit dieselfde tyd kom. En natuurlik is enige nuut-ontdekte snit ’n bonus.

Maar dan is daar Nelson se eksperiment. Elke tweede snit, van die eerste een af, is ’n stukkie kommentaar. Die heel eerste ding wat jy hoor, voor enige musiek, is: “Herbie Hancock: Miles had a style of playing that sounded like stones skipping across a pond.” Jimmy Heath sê ook iets en dan begin die jazz eers.

Die kommentaar is interessant met die eerste luister, maar nie meer wanneer jy die klankbyte uit jou kop begin ken nie. Jy moet luister asof dit ’n amperse hoorspel is, of jy moet die pratery uitsny – maklik met musiekstrome, maar dit krap as ’n album vir jou ’n afgeronde kunsstuk is wat jy wil beleef soos dit gemaak is.

Die fliek was op die Sundance-fees en in ’n paar Amerikaanse bioskope en het op 25 Februarie sy TV-debuut op PBS gemaak. Wie weet waar of wanneer ons dit sal sien. Maar vir jazz-slawe en ook vir almal wat net soms by die jazz-afdeling inloer, is die klankbaan minstens een luister werd.

Lokprent vir die dokumentêr

Lees ook

The O’Jays praat klaar

Hope Masike – die nuwe prinses van mbira

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top