The O’Jays praat klaar

  • 0

Van die begin af was hulle slagspreuk “give the people what they want” – hulle het selfs in 1975 ’n liedjie met die naam opgeneem. Maar vir The O'Jays was dit ewe veel “tell the people what they need to hear”.

Na heelwat gesukkel en ’n paar mislukte albums het The O’Jays in 1972 hul deurbraak met Back Stabbers gemaak. Die titelsnit was ook die eerste treffer vir die liedjieskrywers en vervaardigers Kenneth Gamble and Leon Huff se nuwe maatskappy, Philadelphia International Records. Hulle resep was pop-soul met ’n ligte funk-ritme, strykers, koperblasers en soms ’n stukkie kitaar. “Putting the bow tie on funk,” is hoe die musikant Fred Wesley dit eenkeer beskryf het.

Vir die res van die dekade was die “Philly Sound” die groot ding in R&B. Die O’Jays het die golf gery, maar veel langer gehou – byna ses dekades en 30 ateljee-albums lank, met ’n string treffers soos “I love music”, “Livin’ for the weekend”, “Use ta be my girl”.

Vroeër vanjaar het die O’Jays hul eerste ateljee-opname in 15 jaar gemaak. Een laaste album, want dis wat die mense wou hê. Kompromisloos soos altyd, het hulle dadelik hul laaste toer aangekondig. Dis nou aan die gang en eindig op 1 Desember in Los Angeles.

Walter Davids sr met sy fluweelstem en Eddie Levert met sy growwer klank is nog daar. Die jonger lid is Eric Nolan Grant, wat in 1995 aangesluit het. Baie ander veterane sou teen dié tyd ’n paar goue oues opgewarm of ’n tros gaskunstenaars ingetrek het. Maar die O’Jays volstaan met hul legendariese klank en boodskappe ingebou. The Last Word is onmiskenbaar hulle – en nie ’n stuk nostalgie nie, maar ’n afgeronde stuk werk.

In 1972 het Back Stabbers met “When the world is at peace” en dié woorde begin:

I can see the day when it's safe to walk the streets
When we learn to care for those lost in poverty
There would be no need for our daughters and our sons
To march up and down the streets, singing we shall overcome

In 2019 begin The Last Word met “Above the law” en dié woorde:

Re-invent slavery
Erase the war on poverty
Separate primarily by class
Stealthily, carefully
Go ahead and ring that bell
And open the market
Do the ones that work the most
Get to put any money in their pocket?

Eddie Levert sê: “Ek kyk na wat in die wêreld aangaan en daar het nie veel verander sedert ons dit begin doen het nie. Ons worstel nog met dieselfde kwessies.”

Dis nie ’n klassieke album nie, maar ’n waardige einde vir ’n legendariese groep wat onwrikbaar by hul styl en hul boodskap gehou het.

Kyk na die video van “Above the Law”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top