Hope Masike – die nuwe prinses van mbira

  • 0

Hope Masike. Foto verskaf deur worldmusicnet.org.

Vir meer as duisend jaar (dalk duisende jare) is die mbira dzavadzimu, soos hulle dit noem, die Shona van Zimbabwe se tradisionele instrument vir rituele en seremonies en vir musiek wat hulle met die voorsate verbind. Ongelooflik dat so ’n intieme, delikate klank in die koloniale tyd as “duiwels” beskou, verban en gekonfiskeer is.

Daar is honderde mbira-liedjies wat deur geslagte vir meer as 700 jaar oorgedra is en nou nog gespeel word. Maar geen weergawe van selfs die bekendste nommer is ooit heeltemal dieselfde nie, vertel die kenners, omdat die musiek baie ruimte vir variasie in die melodie en ritme los.

Tradisioneel is die mbira net deur mans gespeel. Dekades nadat die koningin van die mbira, Stella Chiweshe, ’n internasionale ster in wêreldmusiek geword het, word vroue nog deur party skeef aangekyk as hulle die duimklavier speel. Die nuwe "prinses van mbira", Hope Masike, wat in 2008 haar eerste album opgeneem het, moes ook met tradisionele vooroordele vrede maak.

Tradisioneel is die mbira net deur mans gespeel. Foto: Wikipedia

"Kleintyd was my plan om op 26 te trou en soos my ouers nege kinders te hê," het sy al vertel. "Maar toe ek 26 haal, het ek nie eens ’n kêrel gehad nie."

Dit verduidelik die naam van haar eerste internasionale uitreiking, The Excorcism of a Spinster. "Daar is baie jare later nog steeds ’n hele gemeenskap wat oor my bekommerd is," sê sy. Aan die tradisionele kant dink party ’n bose gees het dalk ’n vloek oor haar uitgespreek. Aan die Christelike kant sê ander sy het seker ’n "geestelike maat" wat keer dat sy met enigiemand trou.

In 'n ”ernstige geval" van 'n vrou wat nie man kry nie, probeer albei groepe soms die gees uitdryf. "Namate ons – Afrika se jong vroue van vandag – meer opgevoed raak, namate meer aandag aan menseregte (vroueregte) gegee word en die rolle onvermydelik verander terwyl die patriargale stereotipies uitgedaag word, sal daar dalk net meer eksorsismes as ooit in die mens se geskiedenis nodig wees!" skryf Hope op haar platemaatskappy se webtuiste.

Hopelik sal ’n vertaling van die lirieke aanlyn uitslaan, maar hier is Hope se beskrywing van party liedjies op die album. "Gomba" gaan oor die bewaring van haar Afrika-erfenis. "Idenga", wat "hemel" beteken, is die album se sensuele liefdeslied. Die titelsnit beskryf losweg 'n uitdrywing in Harare. "Ndoitasei" ("wat sal ons doen") vertel van ’n vrou wat nie haar gevoelens vir ’n man mag uitdruk nie omdat mense sal sê sy is voorbarig. Hope onthou in "Mbira Yangu" hoe sy uitgelag is omdat sy ’n "mansinstrument" wou speel. "Dreams Of Dande" is oor ’n verlange na ’n plek van vertroosting en in "Tonanaira" roep die voorsate hul mense om hulle teen onregverdige leierskap te verset.

Volgens mbira.org, die webwerf van ’n groep wat Zimbabwe se tradisionele musiek probeer bewaar en lewend hou, het Mbira-liedere ’n sirkelvorm en geen noot is duidelik die begin of die einde nie. Dit loop in siklusse wat vir enigiets van ’n paar minute tot ure herhaal kan word en eindig wanneer die musikant voel dis die regte tyd om op te hou.

Hope bou haar liedjies met van mbira se tradisionele tegnieke, maar speel stadiger frases as wat jy dalk op dié instrument verwag en gebruik heelwat eggo wat hulle soos dagdrome laat hang.

Anders as Stella Chiweshe en haar dogter en opvolger Victoria, sing sy met ’n soet, dromerige stem. Met vloeiende harmonieë daarby laat dit jou soms aan Sally Nyolo van Zap Mama-faam se beste solowerk dink.

The Exorcism of a Spinster is toeganklik en minsaam, maar beslis nie kulturele muurpapier soos world fusion soms word nie. Gaan sit daarmee en in ’n kort 37 minute sal Hope Masike jou betower terwyl sy sag, maar ferm haar boodskappe oordra.

Luister hier na Hope Masike se "Idenga"

Ook deur Pieter van der Lugt

Een klein tree vir Major Tom, ’n reusesprong vir David Bowie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top