Een klein tree vir Major Tom, ’n reusesprong vir David Bowie

  • 0

Die eerste tree na roem is soms verbysterend klein. In 1969, einde Januarie of dalk vroeg Februarie, het David Bowie se fantastiese reis deur die musiekheelal begin met ’n demo wat hy en ’n vriend opgeneem het. Clareville Grove Demos is die tweede houerstel wat vanjaar uitgereik word om Bowie se deurbraak te herdenk.

Bowie was 22 en sy droom om ’n sanger te word, was niks meer nie. Sy eerste kortspelers en sy debuutalbum was mislukkings. Sy folk-trio Feathers – saam met sy eks-vriendin, die aktrise Hermione Farthingale en die kitaarspeler John “Hutch” Hutchinson – was ook op pad na nêrens.

In die woonstel wat hy met Hermione gedeel het, het David saam met John gewag totdat dit stil geraak het bo hulle, waar ’n musiekjuffrou klavierlesse gegee het. Toe kon hulle die bandopnemer aanklik en begin speel.

Die eerste klank op die demo is hul kitare en dan … “Ground control to Major Tom”. Dis John wat sing. Hy klink selfbewus en effens verkoue. Bowie doen die tweede stem en die aftel (... ten, nine, eight …). Dan speel hy ’n stylophone, ’n sakgrootte sintetiseerder wat met ’n stilus gewerk het. Dit was as ’n speelding verkoop, maar hy gebruik dit om Major Tom te lanseer voordat hyself begin sing.

Clareville Grove Demos is die tweede houerstel wat vanjaar uitgereik word om Bowie se deurbraak te herdenk. David het die vorige jaar ’n demo van Space Oddity gemaak, maar op die tweede een was die lirieke uitgesorteer en het die uiteindelike klank vorm gekry.

Die inspirasie vir “Space Oddity” was Stanley Kubrick se ikoniese prent 2001: A Space Odyssey. Dit het die vorige jaar begin wys en Bowie het ’n paar keer daarna gaan kyk. Wat hom getref het, sou hy later sê, was die gevoel van afsondering. Dalk het dit hom geraak omdat hy ook eensaam gevoel het – hy en Hermione was pas uitmekaar.

Die demo het nog vyf snitte. “Lover to the dawn” is ’n vroeë weergawe van “Cygnet committee” en “Ching-a-ling.” ’n verwronge feëverhaal. Dan kom een van sy mooiste vroeë liedjies, “Let me sleep beside you”, en ’n weergawe van “Life is a circus” deur die groep Djinn, waarvan hy ’n ruk lid was. Laaste is  “An occasional dream” oor sy verlore liefde.

Alles wat Bowie sou maak, is daar. Hy het die kleure van sy stem begin ontdek. Sy lirieke kyk van buite af in en sien uit ongewone hoeke. Sy wysies raak aan allerhande style, maar skiet dan weer weg op hul eie, sonderlinge pad.

Dié demo’s het by die regte platebaas uitgekom en op 11 Julie 1969 is Space Oddity uitgereik. Op 20 Julie het die BBC dit tydens hul lewendige uitsending van die maanlanding gespeel. “Ek is nie seker dat hulle hoegenaamd na die lirieke geluister het nie,” sou Bowie later vertel. “Maar ek was in die wolke dat hulle dit gedoen het.”

Dit was een klein tree vir Major Tom, ’n reusesprong vir David Bowie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top