
Daar is ’n muur in die skrywer Mike Nicol se ou studeerkamer wat eens met verwerpingsbriewe behang was. Oor Zoom wys hy dat die briewe klein was, skaars groter as die palm van sy hand. Daar was uiteindelik soveel dat hulle ’n hele muur bedek het.
“Dit vertel jou hoeveel rejection slips daar was,” sê hy.
Jare later sou Nicol een van Suid-Afrika se bekendste misdaadskrywers word.
Hy was nege of 10 toe hy die eerste keer besluit het om ’n storie te skryf. “Ek het ’n oefenboek in die helfte gesny, want ’n kleiner boek sou minder bladsye hê om vol te skryf.”

Mike Nicol deur Estee de Villiers
Nicol is in 1951 in Kaapstad gebore. Hulle gesin het in sy vroeë jare ’n paar keer verhuis – Johannesburg, Lorenzo Marx en later terug Kaap toe.
In Vishoek het hy begin skryf.
Nicol was nie aanvanklik ’n groot leser nie. Sy ma moes hom biblioteek toe sleep. Daar was selfs ’n familiekomplot om seker te maak hy lees werklik. Sy ouers het dieselfde boeke gelees, dan, oor aandete, het hulle hom daaroor uitgevra.
“Om seker te maak ek lieg nie.” Hy lag. “Ek’t baie gelieg. Jy skryf fiksie; dis wat jy doen. Jy lieg.”
Sy eerste leeswerk was vreemd genoeg nie fiksie nie, maar boeke oor argeologie. Daarna het stories gevolg. Die Hardy Boys. Enid Blyton se The rat-a-tat mystery. Uiteindelik gradeer hy op na The saint. The Great Gatsby word sy boek van alle tye. Later ontdek hy William Faulkner, wie se lang, soms byna ononderbroke sinne hom soos ’n dwelm beetpak. Daarna Gabriel García Márquez en die wêreld van magiese realisme.
“Toe dink ek: Wow. Dit is ongelooflik.”
Hy begin verstaan dat ’n roman vir hom meer as ’n storie is: Dit is die wêreld wat iemand anders geskep het.
Sy eerste boek is poësie, waarmee hy die Ingrid Jonker-prys wen. “Ek dink ek het die prys gewen, omdat daar waarskynlik niemand anders was wat daai jaar poësie gepubliseer het nie.”
Die belangrikste deel van sy poësiejare was nie die prys nie – dit was die opleiding. Poësie, sê Nicol, het hom geleer hoe woorde teen mekaar moet staan. Nie net wat ’n sin beteken nie, maar ook hoe dit klink.
“It taught me the relation of word to word. It taught me the sound of a line of poetry ... and therefore eventually a sentence.”
Later sou hy dit na prosa bring. Hy lees sy eie sinne oor en oor om seker te maak die klank is reg.
Teen dié tyd moet hy egter ’n bestaan maak. Hy probeer onderwys. Die eerste keer dat hy voor ’n klas staan, is hy doodbang en besluit dis nie vir hom nie. Daarna word hy ’n joernalis.
Hy begin by ’n regse tydskrif To the Point. ’n Nieu-Seelandse nuusredakteur skeur sy slegte werk uitmekaar en stuur hom terug om dit oor te skryf. Later werk hy by The Star en beland uiteindelik by Leadership, waar hy meer ruimte kry om langer, meer uitgebreide stories te skryf.
Toe sy eerste roman The powers that be uiteindelik verskyn, het hy vier jaar daaraan gewerk. Hy het in Muizenberg gewoon en die see was naby. Die roman moes maar sy plek tussen werk en branderry vind.
Die manuskrip beland by ’n agent deur sy vriend Christopher Hope. Die agent se assistent is Clarissa Luard, destyds Salman Rushdie se vrou. Dit is ’n tyd waarin magiese realisme internasionaal aandag trek. Toe kom die Frankfurt Boekebeurs en skielik begin uitgewers sy boek koop.
“Ek het net gedink: This is absolute magic.” Hy lag. “Which it was.”
Hy praat oor die boekebedryf sonder enige illusies. “In Suid-Afrika is dit moeilik om as Engelstalige skrywer deur te breek,” sê hy. Afrikaanse skrywers het ’n gevestigde lesersmark. In Engels is daar volgens hom steeds ’n behoefte aan internasionale goedkeuring.
Jare later sou dieselfde man 25 boeke op sy naam hê en tog kan iemand op ’n resensie van sy werk reageer: Wow, I've never heard of this writer before.
Daar is ’n bietjie ongeloof in sy lag. “Ek dink by myself: I’ve been writing since 1978.”
Deesdae leer hy ander mense skryf. Sy meestersklas het in 2013 begin. Die idee was eenvoudig: Mense het nie noodwendig nog ’n kursus nodig nie; hulle het iemand nodig wat hulle aanspreeklik hou. Sperdatums. Elke keer ’n stuk werk. Hy lees dit en lewer kommentaar. Teen die tyd van ons gesprek het ongeveer 35 boeke deur deelnemers aan die klas tradisioneel verskyn.
Wanneer ek hom vra wat hy tans lees, kom daar nie ’n antwoord oor ’n klassieke misdaadskrywer nie. Hy praat oor Barbara Boswell. Margaret Foster se Good wives. Sally Cranswick se What we need is hope.
Hy lees nie bloot om te ontspan nie; hy lees soos ’n skrywer. Hy lees selfs die einde eerste. Dan begin hy voor. Hy wil weet wat gaan gebeur, want terwyl hy lees, probeer hy uitwerk hoe die skrywer die boek aanmekaar gesit het.
Hy wys vir my ’n paar klein klipvoorwerpe wat hy as tiener in die sandduine van Vishoek opgetel het. Hy het dit in die middel 1960’s gevind. Mense het tienduisende jare gelede daar geleef. Hulle het hierdie dinge met die hand gemaak. Vir ’n jong Nicol was dit genoeg om hom te fassineer. Hy wonder selfs of hy dalk ’n argeoloog sou geword het as die gesin nie uit Vishoek getrek het nie.
“Ek is quite pleased that we moved.”
- Foto heel bo deur Izak de Vries
Lees ook:
The ANC spy Bible: An interview with Mike Nicol on writing and editing

