Met die Vierkleur in Parys deur Renée Conradie: ’n onderhoud

  • 0

Titel: Met die Vierkleur in Parys
Skrywer: Renée Rautenbach Conradie

Uitgewer: Protea Boekhuis, 2020
ISBN: 9781485311355

Renée Conradie praat met Naomi Meyer oor Renée se boek, Met die Vierkleur in Parys.

Renée, Met die Vierkleur in Parys is jou debuut. Baie geluk met die boek! Skryf jy nog altyd?

Baie dankie, Naomi. Vandat ek in 1972 by Die Burger begin werk het, skryf ek maar altyd. As koerantjoernalis (Die Burger en Beeld), as tydskrifjoernalis, as redakteur van ’n bedryfstydskrif (Veeartsvereniging s’n) en as vryskut. Weens ons ongestadigde lewe (my man, Leo, was ’n diplomaat) in verblyf in verskeie plekke kon ek nie juis ’n loopbaan volhou nie, maar met ons laaste pos in Parys was ek Die Burger se korrespondent. Ons het in 2002 teruggekom en toe het ek meestal vryskutwerk vir De Kat en The Pretoria News gedoen. Ek het in 2008 vir ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns by die Universiteit van Pretoria onder die leiding van Henning Pieterse ingeskryf.

Jou boek se titel handel duidelik nie oor Parys Aan Vaal nie. As mens na die prent op die omslag kyk, is daar dadelik die Eiffel (wat maar net ’n paar jaar voordat jou storie afskop, voltooi is). Waar kom die saadjie vir die storie vandaan en hoe het dit ontkiem en opgekom as ’n storie?

Vir die M-graad het ek eers rondgespeel met kortverhale en een was oor ’n ontnugterde "boer" wat by die Rodin-uitstalling tydens die groot Wêreldskou van 1900 beland het. (Die Eiffel is met die vorige skou van 1889 opgerig.) Dié tentoonstelling van Rodin is in 2000 herhaal terwyl ons in Parys was en ek het nogal gewonder wat die enge mense wat by die Transvaalse pawiljoen gewerk het, van die eksplisiete beelde en tekeninge sou dink.

Die stukkie geskiedenis was deeglik al in my agterkop en met my man se besonderse Africana-versameling van ou Franse koerante (hy het al die publikasies van Le Petit Journal en La Vie Illustrée van 1900 gebind) en boeke, kon ek maklik naslaanwerk doen. Die storie het toe in ’n roman verander wat meer organies as planmatig ontwikkel het. ’n Mens kan nie in Parys woon sonder om van al die vlakke van geskiedenis bewus te wees nie. Art Nouveau, wat in 1900 en die Belle Epoque hoogty gevier het, interesseer my en ek het altyd gewonder hoekom dit nie na Suid-Afrika (of Victoriaanse Engeland) oorgespoel het nie. Daarom dan dat die fiktiewe hoofkarakter, Paul Roux,’n argitek was.

Die omslag is die grafiese kunstenaar, Hanli Deysel, se vrolike verwerking van die amptelike plakkaat van die Wêreldskou van 1900. Die vrou is Marianne, oftewel Liberté, wat sedert die Franse Rewolusie as simbool van Republikeinse Frankryk bekendstaan en in elke burgemeesterskantoor as ’n borsbeeld verteenwoordig is.

Mens kan deesdae nie ’n Afrikaanse boek skryf sonder om aan die ideologie te dink wat dit omhul nie. Die vraag ontstaan: wat is die belang van die Vierkleur in jou titel en in die storie?

Persoonlik is ek skepties oor enige ideologie – trouens, ek wantrou dit.

Die Vierkleur in die titel is gewoon feitelik: die vlag hét in 1900 in Parys gewapper en het baie ondersteuning van die Franse volk geniet. Voor die pawiljoen van die Transvaal (wat al voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog begin bou is), by die Goudmynvoorstelling en voor die klein pioniershuis wat ook op die perseel was, was vlae – s+oos noodwendig elke landsvlag voor elke pawiljoen van iedere land wat daar was. Met die aankoms van president Paul Kruger in Marseille en sy weeklange besoek in Parys toe hy drie keer ’n dag op die Scribe-hotel se balkon vir die skares moes wuif, het die Franse klein Vierkleurvlaggies gewaai. (Dis regtig nie hulle skuld dat die vlag in die laaste klompie jare ’n sogenaamde ideologiese konnotasie gekry het nie.)

Jy skryf by die bedankings oor jou vormingsjare, die twee gesigspunte ten opsigte van die Anglo-Boereoorlog. Wil jy hierop uitbrei?

My twee oumas het ’n groot invloed op my gehad. Ek is van kleins af lief vir ’n storie en tel nog altyd tande. My paternale ouma was van Oudtshoorn en haar vertellings oor die draai van die vorige eeu in die bloeityd van die Klein-Karoo het ’n geweldige indruk op my gemaak. Al het sy in die Vrystaat gewoon en haar seuns daar grootgemaak, was niks so mooi, so stylvol of van belang soos "ín die Kolonie" nie en was sy lewenslank ’n stoere Sap.

My ander ouma was ’n Voortrekkernasaat (haar oupa was die seun wat die Liebenbergmoord oorleef het) en sy was ses jaar oud toe haar ma langs haar in ’n tent in die Standerton-konsentrasiekamp oorlede is. Sy was vir niks bang nie (waarskynlik omdat sy gesien het hoe hul huis, vee en landerye aan die brand gesteek is) en het nie maklik oor haar kinderjare gepraat nie, maar was ook nie bitter nie. (’n Kortverhaal (die Vleisbord) hieroor is in Boereoorlogstories 2 opgeneem.) Sy is later met ’n man van Graaff-Reinet getroud wat ook niks met die Groot Trek of Anglo-Boereoorlog te make gehad het nie.

Dan was my pa as ’n goeie Vrystater beslis pro-Steyn en anti-Kruger. My ma, wat Engels skoolgegaan het, het los gestaan van enige heftigheid. Al hierdie dinge in my herinneringsbank het moontlik bygedra dat ek met ’n neutrale oog na alles kan kyk.

Jou storie is ontvlugting in ’n vreemde jaar, dis ver verwyderd van die mens se omstandighede op hierdie oomblik. Tog is dit stewig gewortel in die geskiedenis, met ander realiteite as wat ons nou beleef. Ek sien in jou boek sommer heelwat kommentaar op die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Daar is die Anglo-Boereoorlog en daar is die konneksie wat die Afrikaner van die Boererepublieke (sien: Vierkleur, verwysings na die volkslied van die Oranje-Vrystaat) met Europa ervaar – hier verwys ek na die Franse ruimte, die stad Parys. Waarom het jy soveel navorsing oor Frankryk se geskiedenis gedoen?

Die boek is verlede jaar ná ’n rustyd van amper ’n dekade herskryf en toe vir publikasie aanvaar. Historiese romans (waarvan ek hou) word, sou ek reken, nie noodwendig vir ontvlugting geskryf nie. Maar dit is tog, veral nou, lekker om na ’n ander eeu toe te gaan.

Die storie is gewortel in, wat ek toenemend agterkom, ’n stuk redelik onbekende geskiedenis – dis nou van die Transvaalse pawiljoen wat in ’n moeilike omlysting opgerig is. Hoewel dit dalk nou vreemd is, was dit immers die realiteite van toe. Ek het baie deeglik oor die aspekte van 1900 nagevors – buiten die geskiedkundige feite, oor die klere, gebruike en algemene bestaan in Parys van 1900, die Belle Epoque. Ons het ook in twee woonstelle gebly wat voor 1900 gebou is en het ek vier jaar lank aan twee geskiedenisgroepe behoort wat insiggewend was. Ek is onversadigbaar nuuskierig en dink ek het die stad en sy verskillende fasette goed geken. My dogter het ook tien jaar daar gewoon en is met ’n Fransman getroud. Parys en geskiedenis loop hand aan hand.

Wat die kommentaar op die geskiedenis betref: as romanskrywer het ek my probeer verplaas na daardie tyd – noodwendig in Parys en hoe ’n man uit ’n ongestadigde Pretoria dit moes ervaar. Soos wat ek gelees het, het ek indrukke van sekere nie-fiktiewe karakters (soos doktor Leyds en Van Boeschoten) gekry en daar my vryheid gebruik om ’n mening te gee.

Ek sien ook verwysings na Cecil John Rhodes. Jou storie is nie onbewus van hoe ’n negatiewe figuur Rhodes was en van sy magsbeheptheid nie. Ook ontken jou karakter nie Rhodes se teenwoordigheid in die geskiedenis nie. Hoe sien jy die geskiedenis van die wêreld, van ’n land? Hoe kyk jy daarna?

Ek dink nie geskiedkundige figure se rolle – hetsy positief of negatief afhangend uit wie se oogpunt gesien – moet ontken word nie. Rol/optrede/invloed is onlosmaaklik deel van gebeure. Daar hou ek regtig van die Franse se filosofiese benadering. Wat gebeur het, het tog gebeur. Rhodes, byvoorbeeld, het tog ’n kardinale invloed gehad of mens van hom gehou het of nie. Ons het ook vier jaar in Marseille gewoon met ’n nog langer geskiedenis as Parys, en in Athene, Washington en New York. As ’n mens belangstel in wat ’n kultuur en hede van ’n land gevorm het, moet jy by geskiedenis uitkom. Jy kan tog nie in Griekeland woon en nie meer wil weet van die mitologie nie. Of in Amerika meer wil verstaan oor hoekom hulle is soos hulle is nie. Ek wil ook weet na watse dier, boom of voël ek kyk.

Is geskiedskrywing alles oplaas fiksie? Word die geskiedenis nie oor en oor herskryf nie? Wat was jou doel met hierdie verhaal: wou jy getrou bly aan die waarheid, wou jy versin, wat was jou oogmerk?

Ek is geen historikus of geskiedskrywer nie, maar ek lees dit graag. Subjektiwiteit kan nie uitgehou word nie, maar daar is wel oorwoë optekenaars. Was Herodotus neutraal? Lees ons hom as fiksie of om meer te weet? Ons weet die oorwinnaar skryf die geskiedenis, maar eensydige skrywers word tog ná tye weerlê en in navorsing is dit nodig om van alle hoeke af na ’n tydvak te kyk om ’n beter mening te vorm. In Frankryk het ek soveel mense ontmoet (ek vra altyd uit) wie se oupas in die Resistance tydens die Nazi-besetting was, dat dit onmoontlik is. Daar was talle collaborators en verraaiers. Nes in enige situasie, maar jy hoor nie sommer daarvan nie.

Ek het eerlikwaar nie ’n doel voor oë gehad buiten om ’n storie te skryf wat hom by my aangemeld het nie. Ek dink nie (as ’n joernalis wat geprogrammeer is om feite te ondersoek) ek sal maklik sommer net ’n storie kan fabriseer nie. Ek sal aanlas en my verbeelding gebruik, maar ek hou van feite ook. So ja, ek wou getrou aan die waarheid bly. Ek het nie versin nie, buiten om vir die konsulaat ’n ander adres te gee (ons een woonstel) omdat ek die omgewing beter geken het. My hardeskyf is in hierdie stadium vol en ek het ’n goeie geheue.

En tog is dit ook ’n spanningsverhaal en ’n liefdesverhaal. Wou jy vermaak, net ’n fiktiewe storie skryf, teen ’n geskiedkundige agtergrond?

Soos ek genoem het, het die storie organies ontwikkel en het karakters hulle by my aangemeld. Met die herskryf het ek een karakter heeltemal verwyder en ander (histories korrekte) karakters ingebring. Vermaak was nie noodwendig ’n oogmerk nie, maar as ek het, is ek bly. Parys is na alles die Stad van Liefde en in 1900 was romantiek in die argitektuur (Art Nouveau), kuns (Impressionisme) en letterkunde op ’n kruin.

Jou karakters is fiktiewe mense wat bewus is van die werklike historiese figure, soos hierbo genoem. Wat deelneem aan die lewe in Frankryk, wat ver weg is van Suid-Afrika, soos ekspats vandag ook ver verwyderd is van die Suid-Afrikaanse realiteite. Was dit vir jou makliker om oor die wêreld van voorheen te skryf, en wat was vir jou eenders en anders, as jy (wat in Frankryk gewoon het) dit vergelyk met hoe dit vandag is?

Met die buitestaanderskap van my hoofkarakter kon ek my vereenselwig. (My M-tesis het oor liminaliteit gehandel.) Ek weet hoe dit voel om moeg te word om te verduidelik wie jy is. Die verwondering om te besef jy is deel van ’n plek waaroor jy nog altyd gedroom het,verstaan ek ook. Dit gaan noodwendig verwydering van realiteite in jou eie land bring, hoewel ek nie dink dis diepgaande nie. Ek ken mense wat dekades elders woon en steeds bewus is van wat by die huis aangaan en daaroor omgee.

Die eendersheid van om terug te gaan in tyd, is dat menslike emosies wat ’n mens beleef as jy op ’n ander plek beland, nie verander nie. Al is dit hoe romanties, word jy met jouself gekonfronteer. Toe Hemingway, Getrude Stein en Fitzgerald (en al die skrywers wat wou gaan drink) in Parys beland het, het hulle wiele ook maar afgeval. Vandag se situasie met bote vol hoopvolle mense wat op ander plekke land en talle Suid-Afrikaners wat elders heil soek, is maar weer ’n herhaling van geskiedenis.

Die andersheid daarvan is dat 1900 se Wêreldskou met vooruitgang as tema ’n oorlogvrye (vir Europa), ’n blye tyd ingelei het: daar was elektrisiteit om die lewe te vergemaklik, die eerste motorkarre het verskyn, staal en glas is vir groot geboue (soos die Grand Palais en Petit Palais) gebruik, lyne in argitektuur het gevloei en Parys was jolig en het gesing en gedans. ’n Uitnodigende agtergrond vir ’n storie. As ek net mag noem: dit is maklik om vandag in Parys in tyd terug te gaan. Daar is steeds danssale met can-can-meisies soos van ouds, ou Art Nouveau-restaurante en hotelle wat niks verander het nie en op Montmartre kan jy in agterstrate steeds voel of jy in die vorige eeu is. Ek hoop dit beantwoord jou vraag.

Lees ook:

Met die Vierkleur in Parys deur Renée Rautenbach Conradie: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top