Met die Vierkleur in Parys deur Renée Rautenbach Conradie: ’n resensie

  • 2

Foto van die Eiffeltoring: Pixabay

Titel: Met die Vierkleur in Parys
Skrywer: Renée Rautenbach Conradie

Uitgewer: Protea Boekhuis, 2020
ISBN: 9781485311355

Met die Vierkleur in Parys speel af teen die eeuwending van 1900. Die Tweede Vryheidsoorlog woed en in Parys is die sentimente oorheersend pro-Boer en anti-Brit.

Paul Roux is ’n jong Afrikaanse argitek wat help met die ontwerp en oprigting van die ZAR se pawiljoen by die Paryse Wêreldskou. Die leser beleef saam met hom die oorweldigende kleure, geure en teksture van die stad van liefde. Hy raak verstrik in absint, en in die nagklubs van guitige Parys raak hy die spoor byster, maar hy het ’n geliefde tuis, ’n Joodse meisie.

Protea Boekhuis se opsomming beskryf die boek: "Vierkleur is boeiende historiese fiksie met hart. Dit dek ’n fassinerende tyd in ons land se geskiedenis. Dis tegelyk liefdesverhaal en historiese roman, met volronde karakters en ’n trefseker gevoel vir lokaliteit.

"Hierdie debuutroman is tien jaar lede as deel van ’n M-graad geskryf en het sedertdien ’n paar draaie geloop."

Die skrywer is al vir jare ’n joernalis en dit verklaar die keurige woordkeuses, maar saam met haar diplomaatman, Leo, het sy in etlike wêreldstede gewoon – onder meer in Marseille en Parys, wat haar nuuskierigheid oor spesifiek die Franse gesindheid in die Anglo-Boereoorlog aangevuur het.

Sy skryf in die erkennings dat sy met twee sienings van die oorlog grootgeword het: een ouma was neusoptrekkerig vir die Voortrekkers en die ander ouma het haar ma in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog verloor. Sy sê "hul uiteenlopende stories oor die gemaklike Kolonie en strydige Transvaal het my altoos gefassineer. As diplomaatsvrou het buitestanderskap, om altyd te probeer verduidelik wie jy is, ook deel van my onderbewuste geword."

Daar is verskeie verwysings na hoe ook Paul hierdie buitestanderskap ervaar, meer as ’n eeu voor die skrywer dieselfde ervaar, maar terselftertyd hoe Parys onder jou vel inkruip: "Hy staan verwyderd van sy eie droom"; "Heimlik verlang hy na ’n bekender hemelruim"; "[H]y voel of sy hempkraag nie hoog genoeg, wit genoeg of styf genoeg is nie"; "Ander sterre, ’n ander hemel. Hy kan verstaan dat menses sê ’n mens raak verlief op Parys – soos op ’n ander mens."

Dat die skrywer Parys intiem leer ken het en liefhet, is duidelik uit die klein verwysings en beskrywings regdeur die boek: van ’n mooi art nouveau-ingang na ’n nuwe moltreinstasie, tot die oom by Pont Neuf wat skilder ("sy palet is al dik van jare se kleure op dieselfde plekke"); die baguette met ham, botter en radyse waarvoor die hoofkarakter so lief geword het; die ou krom messlyper met sy gereedskap op die oorkantste straathoek; die oopgesperde metaalkiste van die bouquinistes wat al sedert die 16de eeu op die walle van die Seine boeke verkoop. Ek ruik nou weer die effe muwwe reuk van die ou boeke wat daar in wind en weer uitgestal word en saans weer veilig toegesluit word.

Johan Myburg kies Vierkleur as die boek van die maand op Maroela Media. Hy merk op: "Die gebeure tussen Januarie en November daardie jaar is nie net die agterdoek waarteen Rautenbach Conradie se roman afspeel nie, maar word ook noukeurige borduurstekies waarmee sy tekstuur en konteks gee. Dit is die dikwels terloopse mededelings wat sy gebruik om lig te gooi op kompleksiteite …"

Al hierdie klein "borduurstekies" en "terloopse mededelings" maak Parys vir die skrywer lewend. Elkeen getuig van voete wat die strate platgestap het, wat die reuke ingeadem het, wat die stad aan haar lyf voel. Ek wil ween as ek die kort beskrywing lees oor hoe hy ’n kersie aansteek in die Sacré-Coeur met die verduideliking: "Dit voel tog of daar krag in so ’n vlam en gebed is, en vanaand doen ek dit in die hoop dat die oorlog tussen ons en by die huis sal eindig."

Mens kan nie anders as om te dink in hoeveel kerke en katedrale oor die wêreld heen jy al kersies aangesteek het met die hoop dat die "oorlog by die huis" kan einde kry nie. Ek sal nooit my eerste kersie op 11 April 1993 in die La Collégiale in Neuchatel, Switserland, vergeet die dag na die nuus bekend geword het dat Chris Hani vermoor is nie. Ons was jong verliefdes wat deur Europa geryloop het, en die koerantvoorblaaie in ’n klein kafeetjie het my na ’n telefoonhokkie laat haas om my ouers tuis te bel. Toe my pa sê die land is aan die brand in opstand teen Hani se dood en dat ons op die vooraand van burgeroorlog staan, het ek die stilte van ’n kerk gaan opsoek om my onderstebo gedagtes tot stilte te probeer dwing.

Die boek is histories getrou, maar bly boeiende fiksie. Ek het egter tussen die 244 bladsye meer oor die Anglo-Boereoorlog en die sentiment oor Paul Kruger en die Boere in Frankryk geleer as ooit tevore.

Ek het ’n maand of wat gelede Maggie: My lewe in die kamp vir hierdie webwerf geresenseer. Dis die hartroerende vertellinge van ’n jong meisie se ervaring in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog. Die kort brokkies wat Paul in Parys bereik oor hoe vroue en kinders na kampe weggevoer word, het Maggie se storie nog meer lewe laat kry.

Daarin het ek ook verwys na ons besoek aan die konsentrasiekampe in Pole, waar onmenslikhede 75 jaar gelede ten einde geloop het, maar ook na hoe die wêreld vir jare toegekyk het, sonder ingryping. Die skrywer se woorde oor die vredeskonferensie waar die wêreldmoondhede ooreengekom het om nie in die Anglo-Boereoorlog in te meng nie, het weer bewys dat ons nie uit die verlede leer nie. Dat die wêreld steeds toekyk hoe onmenslikhede elders in die wêreld gebeur.

Paul dink terug hoe sy ma so dikwels gevra het "hoekom mans immer iets van iemand anders moet oorneem of wegneem of verplig voel om te oorwin. Hy wonder nou self. Die dwang tot kant kies vat nou aan sy binneste." Woorde wat in 1900 waar was en in 2020 nog net so sterk staan.

Die kort dialoog in die Boerehuisie tussen hom en Paul Kruger wat later in bannelingskap in Europa sterf, laat my voel asof ek daar was. Die Boerehuisie was die mees besoekte punt van die hele wêreldskou en dis daar waar Paul Kruger aan Paul sê dat hy daar in die klein eenvoudige huisie tuisvoel. Waar hy vir oulaas aan ’n riempiesbank se leuning vasklou teen die pyn wat sy lyf verteer en hy sy moegheid vir ’n wyle stut.

Hierdie boek het my op soveel vlakke geraak. Ek weet nie of dit heimwee is na die dae toe ons vreesloos kon reis en baguettes op die trappies van die Sacré-Coeur kon eet en soos Paul voel of jou "lyf tot stilstand geruk word deur die gesig van die stad aan sy voete"; of toe ons in die Notre Dame kon gaan stil word waar "die somber, muwwe reuk van eeue se kersrook" jou tref as jy die "massiewe gewelf van die katedraal instap" nie. Hoe dit ook al sy, ek sal hierdie boek weer en weer wil lees – daar is soveel inligting oor die oorlog vervat, maar ook soveel verwysings na die dae toe Parys die argitektoniese middelpunt van die wêreld was en soveel van daardie ontwerpe oorgespoel het na Suid-Afrika.

Ek salueer Rautenbach Conradie vir hierdie boek. Nie net vang sy die Parys waarvoor ek ook so lief is, besonder vas nie; sy bied ’n ander kykie na die Anglo Boere-oorlog, en sy vermaak met ’n liefdesverhaal in tye toe dinge soveel anders was as vandag. Haar histories getroue roman is egter nooit vervelig of herinner aan ’n naslaanwerk nie.

Ek hoop voorwaar die volgende boek uit haar pen moet nie ook vir ’n dekade draaie loop voor ons weer iets van haar kan lees nie.

  • 2

Kommentaar

  • Pieter de Vos

    ‘n Sinvolle evaluering wat ‘n betekenisvolle mening oor Met die Vierkleur in Parys gee. Die skrywer verdien ook erkenning vir fiksie gebaseer op akkurate historiese gegewens - ‘n ongewone prestasie wat min skrywers vir haar sal kan nadoen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top