"Meestal bou ek ’n karakter met pen op papier" – Irna van Zyl gesels oor Bloedsteen

  • 0

Irna van Zyl se derde misdaadroman Bloedsteen het onlangs verskyn. Remona Voges het met haar gesels.

Foto van Irna van Zyl: verskaf

Bloedsteen
Irna van Zyl
Uitgewer: Penguin
ISBN (druk): 9781485904236
ISBN (e-pub): 978485904243
ISBN (luisterboek): 9781485904564

Hallo Irna! Hoe behandel die inperking jou? Hou jy nog kop bo water?

Kop bo water, beslis ja, maar soos seker met almal het ek ook goeie en slegte dae; gelukkig is die goeies darem baie meer as die slegtes. Ek dink dis maar ’n kwessie van hou die blink kant bo en fokus op die positiewe dinge en moenie te veel met sosiale media en die nuus speel nie.

Jou boek Bloedsteen het kort voor die inperking verskyn. Die meeste van jou bekendstellings en boekbesprekings moes gevolglik uitgestel word. Dit kan nie ’n lekker ervaring wees om so baie energie in ’n projek te stort en dan nie die nodige blootstelling te kry nie. Het jy intussen van aanlyn platforms gebruik gemaak om die boek te bemark?

Van sosiale media gepraat … Ek was baie gelukkig; ek het vreeslik baie blootstelling gekry wat darem help om die aanvanklike teleurstelling te oorkom, al is die sirkulasie van alle gedrukte publikasies ingrypend laer en al het mens sekerlik momentum met boekverkope verloor. Tog is ek ook oorstelp dat Bloedsteen steeds, noudat mens weer boeke kan koop, op die Top Twintig-lys vir fiksieverkope is. Maar dit het darem nie alles in my skoot geval nie. Ek het hard saam met die publisiteitsbestuurder van Penguin, Frieda le Roux, gewerk om te dink aan moontlike onderhoude, artikels wat ek kon skryf, selfs ’n hoofstuk in ’n kettingboek. En dan natuurlik het Penguin net so ywerig laat waai op sosiale media met allerlei voorstelle vir videovoorlesings, rugkantstories van boeke en nabootsings van voorblaaie (ek het daai een maar liefs oorgeslaan). Ek is veral trots op my nuwe webblad en Instagram-plasings wat ek net voor inperking van onder af opgebou het. Alle bietjies help, maar mens dryf sekerlik sekere mense tot raserny met al die publisiteitmakery, hoewel ek darem probeer om die toon van my inskrywings lig of interessant te hou.

Jy het in ’n artikel op LitNet ’n paar doelstellings vir die tyd van inperking (wat op daardie stadium net 21 dae sou wees!) neergepen – nogal ’n ambisieuse lys. Het jy daarby gehou? Of waarmee hou jy jouself op die oomblik besig?

Vreeslik ambisieus gewees! Gelukkig het dit verbygegaan, daardie gevoel van ek moet ’n doenlys met doelwitte hê. Ek het baie rustiger geword en my meer probeer berus by die ritme van elke dag, al beteken dit jy doen soms niks nie. Tussendeur het ek my allerlei vryhede toegelaat. Ek het gekarring met gedigte, ’n kort skrikstorie, ’n jeugverhaal en die roman wat ek aan die skryf is. Maar niks daarvan is enigiets om oor opgewonde te raak nie. Dis baie meer soos vingeroefeninge wat slegs vir my oë bedoel is. En dít is absoluut ook orraait.

Wat Bloedsteen betref: Wat was die sneller vir die skryf van die verhaal?

Twee goed het gebeur. Ek wou graag ’n verhaal buite die landsgrense laat afspeel, en toe word dit Londen, Antwerpen en Port Nolloth (net-net binne die grens). Die gebeure in die eerste paragraaf waar Storm van der Merwe, die heldin van die boek, se ma onder ’n trein ingestamp word, is gegrond op werklike gebeure met my partner Bridget hier by die 25–30 jaar gelede. Die ander ding was ’n gesprek met ’n sekuriteit-ou van Port Nolloth wat ’n Uber-bestuurder geword het. Hy het my vertel van diamantsmokkelry en dit het my belangstelling geprikkel in diamante en mode. Dis hoe Storm se ma in die storie kon inpas en natuurlik die ander genoemde stede en dorpe.

Foto van Irna: verskaf

Kan jy ’n bietjie meer oor speuradjudant Storm van der Merwe vertel?

Storm is van gemengde afkoms. Haar ouers, wat nooit getroud is nie, is albei op ’n manier naby aan haar. Haar ma is ’n glamorous publisiteitsvrou van Johannesburg met baie welgestelde kliënte en haar pa is die provinsiale polisiebaas in die Kaap. Sy is gedetermineerd en het baie integriteit en in ’n stadium verdink sy haar ma en haar pa van heulery met korruptes. Dit alles, saam met werkdrukte, laat weer ’n ou eetsteurnis opvlam.

Hoe klim jy in jou karakters se vel? Skoei jy jou karakters op mense met wie jy in die werklike lewe te doen het of al te doen gehad het? Of wat is jou proses?

Ja, dis ’n interessante vraag. Meestal bou ek ’n karakter met pen en papier op. Ek leen dalk hier en daar iets van verskillende mense van wie ek op die een of ander manier kennis geneem het, hetsy deur die nuus, tydskrifte, televisie. En ek skryf bladsye en bladsye in ’n aantekeningboek oor hulle en vra myself etlike vrae oor hul agtergrond, waarvan hulle hou, wat hulle pla en waarna hulle strewe. En dan probeer ek dit te laat werk in die plot. Baie keer dryf die karakters die plot.

Verskillende plekke en ruimtes word in Bloedsteen verken (die hoofstukke wissel byvoorbeeld konstant tussen Hermanus, Londen, Kaapstad, ens). Is dit ruimtes waarmee jy bekend is? Of hoekom het jy dié spesifieke plekke gekies?

Hermanus is waar my ouers gaan aftree het, en dis die dorp waar hulle die langste gewoon het. Ons besit ’n vakansie-, eendag-aftreehuis daar en ons woon in Tamboerskloof in Kaapstad. Vir die boek het ek spesifiek Port Nolloth toe gery vir navorsing en Londen en Antwerpen gaan besoek. In Londen het ons so baie tyd op stasies deurgebring dat Bridget naderhand wou weet of dit al is wat ons in Londen gaan doen!

Daar is baie wat in die roman gebeur wat verhaallyn, temas, tydlyne, verskillende plekke ens betref. Hoe hou jy tred met alles sonder om die kluts kwyt te raak?

Ek hou aantekening terwyl ek skryf en check en double-check, maar ná die eerste draft van al my boeke maak ek ’n kort opsomming van elke hoofstuk oor vier tot ses bladsye met ’n tydlyn langsaan. Ek hou daarvan om dit in verskillende kleure pen te doen – nie dat die kleure enigiets beteken nie, dis sommer ’n soort bygeloof dat dit my kop sal help om lateraal te dink wanneer nodig. Dit gee my die geleentheid om alles met ’n vinnige oogopslag te kan sien en besluite te neem, soos oor wat ek wil rondskuif of wat liefs gesny moet word.

Bloedsteen is jou derde misdaadroman. Wat is dit omtrent dié genre wat jou so aantrek?

Dis ’n vrek moeilike genre. Ek weet nie of mense dit genoeg beklemtoon nie, maar ek sou nou, ná drie boeke, dit waag om te sê dis die storie, die interessante karakters, die opbou van spanning en die werk daaraan om verrassings in die plotlyne te skep wat dit uitdagend en opwindend maak.

En wie is jou gunstelingskrywers van krimiverhale? Wat lees jy op die oomblik?

My gunstelingskrywers verander gereeld, maar ek hou baie van Belinda Bauer en Jane Harper, miskien omdat ek so baie by hulle leer en omdat wat hulle skryf my so boei. Maar ek lees baie wyer as dit. Aan die begin van die inperking het ek American dirt deur Jeanine Cummins gelees en gedink dis uitstekend. Ek het ’n Amerikaanse spanningskrywer, Kirsten Lepionka, ontdek. Tans lees ek Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls en het so pas André Krüger se Geen engel nie gelees. Ek het ook baie gehou van Deborah Steinmair se domestic noir As jy van moord droom.

Lees ook:

Boekbekendstellings in die tyd van die koronavirus: twee dae voor afsondering

Resensie: Bloedsteen deur Irna van Zyl

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top