Bloedsteen
Irna van Zyl
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781485904236
25 Maart 2020:
Gister vroegoggend, ’n halfuur voor die dokter se spreekkamer oopmaak, staan ons met my 81-jarige skoonma voor die deur vir ’n griepinspuiting. Van die vyftig inentings wat die dokter die vorige dag ontvang het, is daar net twee oor. En hulle word bewaar vir diegene wat dit die nodigste het. Skoonma kwalifiseer. Ons nie.
Om die tyd te verwyl tot die dokter kom, ry ons na die Woolies by die Engen-garage. Sal ons dit waag om in te gaan?
Ek is die dapper muis wat my beursie gryp. Dis nog taamlik vroeg en daar’s min mense binne; almal staan ’n goeie twee meter uitmekaar. Ek vat hier en daar iets raak: brood, tamaties – voel skuldig omdat ek twee pakkies in my mandjie sit – slaaiblare, kaas en ’n lasagne vir die wis en die onwis, al eet ons nie dikwels pasta nie. Drie blikkies tuna. Vuuraanstekers.
In die tou is ’n man met ’n masker voor sy gesig. Ek let op die kassier het nie handskoene aan nie. Sal ek liewer self my pakkies inpak? Ek grawe in my sak vir handreiniger.
Dis die begin van dag twee voor afsondering. Die dag waarop ons ’n video van my splinternuwe boek in ons sitkamer sou skiet, maar nadat die onderhoudvoerder gekanselleer het, het ek ook besluit dis beter om nie nou nóg twee mense in ons huis toe te laat nie. Ons leef immers al langer as ’n week in afsondering en die besoek aan die winkel en die dokter was uitsonderings. Plus: skoonma kom vir drie weke intrek, ons moet haar beskerm.
’n Week tevore, op die dag wat die enigste Engelse bekendstelling van my boeke Bloedsteen en Blood Stone sou plaasvind, het ek en Mike Nicol, pleks van in The Book Lounge in Kaapstad, in die veiligheid van ons sitkamers gesit met ons vingers op ons selfone se knoppies en ons laptops ingestel op ’n chatroom sodat die organiseerder van die bekendstelling, The Reading List se Jennifer Malec, “aflyn” met ons kon kommunikeer. Soos Mike gesê het – ek en hy is saam XXX jaar oud, gaan ons hierdie ding kan laat werk? Dis ’n eerste virtuele boekbekendstelling en die enigste van die meer as agt geleenthede wat vir die volgende twee maande beplan was en nou almal gekanselleer is. Sedertdien is elke ander alternatiewe plan ook deur die virus een vir een van die tafel afgevee soos krabbelstukke wat onder die vloerplanke inval.
So hoe gemaak om die mismoedigheid van die deur af weg te hou?
“Probeer skryf ’n damn goeie boek in die volgende 21 dae,” sê my geliefde.
Nou dít, weet ons almal, is beslis soveel makliker gesê as gedaan. In die eerste plek voel dit vir my asof ek probeer swanger raak met ’n volgende baba voordat ek behoorlik geboorte geskenk het aan die huidige een. Dis die een kant van die saak. Die ander is die geraas. Die geraas in my kop, veroorsaak deur ’n mate van angs vir die onbekende, nuuskierigheid oor elke moontlike brokkie nuus oor die koronavirus, ’n saktyd vir ’n boekeblad in ’n tydskrif wat dalk nooit gaan verskyn nie en natuurlik sosiale media. By voorbaat vra ek sommer om verskoning vir elke liewe mens wat tot absolute verveling gedryf word deur my pogings om ’n gehoor op Facebook, Twitter en Instagram te bereik.
Intussen maak die boekwinkels toe. Die koerante waarin my resensies waarskynlik in die volgende drie weke verskyn, gaan met beperkte oplae op straat verskyn. Gelukkig groei die aantal aanlyn lesers. Praat van veranderende gewoontes.
Helaas en desondanks. Voor die besoek aan die dokter het ek my doelwitte vir die volgende drie weke neergeskryf. Een daarvan is om die manuskrip waaraan ek nou al ’n ruk lank stuk-stuk tussen die redigering van Bloedsteen gewerk het, te voltooi. Die ander is nog ’n opwindende skryfprojek of twee waarmee ek ’n begin wil maak. Die derde is ’n artikel vir LitNet. Én vir Die Burger. Én vir VISI-tydskrif.
So hier gaan ons. Net die tyd sal ons leer wat gebeur. Insluitende met my liewe derde misdaadroman, Bloedsteen, waarvan Mike Nicol op die voorblad so mooi geskryf het: “Vlot en toonsuiwer – SA-krimi op sy beste.”
Veilig, veiliger, veiligste vir almal oor die volgende weke.




Kommentaar
Die wêreld beleef sy grootste krisis ooit, maar julle is besorg oor – van alle dinge – boekbekendstellings. Get real, people.