Resensie: Bloedsteen deur Irna van Zyl

  • 0

Bloedsteen
Irna van Zyl
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781485904236

Dinge rafel vinnig uit wanneer ’n man speuradjudant Storm van der Merwe se ma op Londen se Paddington-stasie voor ’n trein stamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot haar oor toe in ’n moordsaak gedompel: Beebee Bukelwa Babu, die bekende Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ’n luukse hotel op Hermanus. Haar twee beste vriendinne weet dalk die beste wie iets teen haar het; maar dan is daar ook die kwessie van die slaappille wat by haar lyk gevind word, en die ooglopende selfdood vertraag die ondersoek.

Hermanus se strate brand; die optogte lê die dorp lam en al wat wetstoepasser is, moet bontstaan om die oproeriges in bedwang te bring en Storm kry maar min hulp met haar ondersoek.

En dan is daar die misterieuse charismatiese profeet wat aanmekaar Storm se lewe versuur en die skares tot ’n histerie oprui en met sy politiese slagspreuke die land van melk en heuning beloof.

Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ’n teiken. En daar is die man wat wil-wil bekend lyk, wat oral opduik.

Die storie strek van Londen se stasies en strate tot Antwerpen se diamantbeurs; van Port Nolloth se kuslyn waar diamantduikers nog hoopvol hul geluk in die stormsee waag; tot Storm se geliefde Hermanus, waar sy en haar drie honde ’n baie saai daaglikse bestaan voer.

Dis Van Zyl se derde speurroman. Lesers het Storm van der Merwe in die vorige twee, Moordvis en Gifbeker, leer ken: "haar skouerlengte kurktrekkerhare sluier oor haar oë", die ongewone afhanklikheid van soetgoed en koolhidrate: dik gebotterde brood met heuning, Marmite en kaassmeer; die warm slaptjips met sout en asyn. Drie lepels suiker in haar koffie. En dan die twee geoorloofde sigarette met haar whisky in die aand. Die vinger in die keel as die skuld te groot word.

Gewoontes wat haar staande hou, maar haar ook kasty oor haar swakheid en gebrek aan selfdissipline.

Elke hoofkarakter in ’n speurverhaal moet mos maar sy of haar swakhede hê. En agter elke karakter lê ’n lang geskiedenis waarmee hulle net nie kan vrede maak nie.

Haar geliefde oudkollega, Andreas Moerdyk, is met afgeremde klere en al – maar darem minus die snor – terug in die nuutste moordsaak. Hul paadjies kruis op ’n interessante manier. Hy is nou ’n privaatspeurder wat gehuur word om ’n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor.

Dit was my eerste kennismaking met een van Van Zyl se boeke. Ek was skrikkerig dat ek ’n groot agterstand sou hê omdat ek nie die karakters uit die vorige boeke ken nie, maar gelukkig weef sy die agtergrondstorie slim deur die spanning, en teen die middel van die boek is die karakters en hul vooraf lewens baie bekend.

Oor die algemeen is dit ’n lekkerleesboek: Die skrywer se jare as joernalis het haar skryfwerk ’n heerlike diepte en ritme gegee wat jou die boek nie kan laat neersit nie.

En met die staat van inperking was die geleentheid om saam met Storm na Londen en Antwerpen te reis, selfs net langs die see te stap, nogal welkom!

Daar is baie interessante kinkels in die boek en die slot word baie goed bymekaar gebring. Maar tog is dit nie vir my "vlot en toonsuiwer – SA-krimi op sy beste" soos Mike Nicol op die voorblad aandui nie. Ons is só bevoorreg om ongelooflike Suid-Afrikaanse krimiskrywers te hê wat die kuns absoluut vervolmaak het en in verskeie tale oorsee stof skop in ander internasionale skrywers se oë.

Ek moet met ’n ander resensent, Nadine Petrick,  saamstem wat in haar resensie oor Gifbeker geskryf het: "Die inligting oor kuskos, sampioene en foraging is interessant en leersaam, maar het later effe oordadig gevoel. Meer moord en minder mushroom(!), het ek later gedink." In Bloedsteen is hierdie opmerking net so van toepassing, maar hier met betrekking tot Storm se obsessie met kos. Ek verstaan die leser moet Storm se "swakheid" in ag neem, want haar verslawing is nie soos baie ander speurfigure s’n drank of dwelms of dobbel nie, maar carbs. Maar die oordadige verwysing daarna het my later óór paragrawe laat lees.

En die idee van die pastoor is goed, maar daar is onbeantwoorde vrae.

Ek voel ook die wrede moordenaar wat sommer vir die grap ’n onbekende tannie in die hospitaal doodmaak, troeteldiere afmaai en lid van die Americans was, raak agtelosig en sag (dalk bloot verveeld) teen die einde, wanneer teikens sommer net in die veld gelos word, wetende dat hulle sal oorleef. Of miskien is dit die manier om te verseker dat hy saam met die hoofkarakters in die volgende roman gebruik kan word. Wie weet?

Die boek is ook beskikbaar in Engels as Blood stone.

Lees ook:

"Meestal bou ek ’n karakter met pen op papier" – Irna van Zyl gesels oor Bloedsteen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top